Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

Hou aan ‘om na hom te luister’

Hou aan ‘om na hom te luister’

“Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom.” – MATT. 17:5.

LIED 54 “Dit is die weg”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat het Jehovah vir drie van Jesus se apostels gesê om te doen, en hoe het hulle gereageer? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

NÁ DIE Pasga in die jaar 32 HJ, het die apostels Petrus, Jakobus en Johannes ’n ongelooflike visioen gesien. Op ’n hoë berg (dalk die berg Hermon) het Jesus se voorkoms voor hulle verander. “Sy gesig het geskyn soos die son, en sy bo-klere het skitterend geword soos die lig” (Matt. 17:1-4). Teen die einde van die visioen het die apostels God hoor sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom” (Matt. 17:5). Die drie apostels se hele lewenswyse het gewys dat hulle na Jesus geluister het. Ons wil hulle voorbeeld navolg.

2 In die vorige artikel het ons geleer dat om na Jesus se stem te luister, beteken om op te hou om sekere dinge te doen. In hierdie artikel sal ons twee dinge bespreek wat Jesus gesê het ons moet doen.

“GAAN IN DEUR DIE NOU POORT”

3. Wat moet ons volgens Matteus 7:13, 14 doen?

3 Lees Matteus 7:13, 14. Let op dat Jesus twee verskillende poorte noem wat na twee verskillende paaie lei – ’n breë pad en ’n smal pad. Daar is nie ’n derde pad nie. Ons moet een van die twee paaie kies. Dit is die belangrikste besluit wat ons ooit sal maak – ons ewige lewe hang daarvan af.

4. Hoe sal jy die breë pad beskryf?

4 Ons moet in gedagte hou wat die verskille tussen die twee paaie is. Daar is baie mense op die breë pad omdat dit makliker is om daarop te reis. Ongelukkig besluit baie mense om op daardie pad te bly en om die dinge te doen wat almal op daardie pad doen. Hulle besef nie dat dit Satan die Duiwel is wat mense wil kry om hierdie pad te kies en dat sy pad ’n doodloopstraat is nie. – 1 Kor. 6:9, 10; 1 Joh. 5:19.

5. Wat het party gedoen om die nou pad te vind en om daarop te begin reis?

5 Maar anders as die breë pad is die ander pad nou, en Jesus het gesê dat min mense dit sou vind. Hoekom? Wel, in die volgende vers waarsku Jesus sy volgelinge teen valse profete (Matt. 7:15). Volgens party is daar duisende godsdienste, en die meeste van hulle sê dat hulle vir mense die waarheid leer. Daarom is miljoene mense so mismoedig of verward dat hulle nie eers probeer om die pad na die lewe te vind nie. Maar daardie pad kan gevind word. Jesus het gesê: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31, 32). Jy moet geprys word, want jy het gekies om nie te doen wat die meeste mense doen nie. Jy het eerder na die waarheid gesoek. Jy het God se Woord ernstig begin studeer om uit te vind wat God van jou verwag, en jy het na Jesus se leringe geluister. Jy het byvoorbeeld geleer dat Jehovah verwag dat jy die leringe van valse godsdienste moet verwerp en dat jy moet ophou om vakansiedae te vier wat ’n heidense oorsprong het. Jy het ook geleer dat dit soms moeilik sal wees om te doen wat Jehovah verwag en om op te hou om dinge te doen waarvan hy nie hou nie (Matt. 10:34-36). Dit was miskien nie vir jou maklik om die nodige veranderinge te maak nie. Maar jy het nie opgegee nie omdat jy lief is vir jou hemelse Vader en sy hart wil bly maak. Dink net hoe trots hy is op jou! – Spr. 27:11.

HOE OM OP DIE NOU PAD TE BLY

God se raad en standaarde help ons om op die nou pad te bly (Sien paragraaf 6-8) *

6. Volgens Psalm 119:9, 10, 45 en 133, wat kan ons help om op die nou pad te bly?

6 Wat kan ons help om op die nou pad te bly? Dink aan die volgende voorbeeld: ’n Reling naby die rand van ’n smal bergpas kan ’n bestuurder en sy voertuig beskerm. Die reling is daar om bestuurders veilig te hou – om hulle te help om nie te na aan die rand of selfs oor die rand te gaan nie. Min bestuurders sal kla dat die reling vir hulle beperkend is! Jehovah se standaarde in die Bybel is soos daardie reling. Dit help ons om op die nou pad te bly. – Lees Psalm 119:9, 10, 45, 133.

7. Hoe moet jongmense die nou pad beskou?

7 Jongmense, voel julle soms asof Jehovah se standaarde vir julle te beperkend is? Dit is hoe Satan wil hê julle moet voel. Hy wil hê julle moet fokus op die dinge wat die mense op die breë pad doen en op hoe lekker dit lyk. Hy wil byvoorbeeld hê dat jy moet dink dat jy uitmis wanneer jy sien wat jou skoolmaats en mense op die Internet doen. Satan wil hê jy moet dink dat Jehovah se standaarde keer dat jy die lewe ten volle geniet. * Maar hou in gedagte: Satan wil nie hê dat die mense op sy pad moet sien wat aan die einde van die pad op hulle wag nie. Maar Jehovah wil hê jy moet weet hoe wonderlik jou lewe sal wees as jy op die pad na die lewe bly. – Ps. 37:29; Jes. 35:5, 6; 65:21-23.

8. Wat kan jongmense uit Olaf se voorbeeld leer?

8 Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Olaf. * Sy skoolmaats het druk op hom geplaas om seks te hê. Toe hy verduidelik het dat Jehovah se Getuies volgens die Bybel se hoë sedelike standaarde lewe, het party meisies in sy klas dit as ’n uitdaging gesien en hom probeer kry om seks met hulle te hê. Maar Olaf het opgestaan vir wat reg is. En dit was nie die enigste druk wat hy ondervind het nie. Olaf sê: “My onderwysers het my probeer oortuig om universiteit toe te gaan. Hulle het vir my gesê dat ek nie suksesvol in die lewe sou wees as ek nie universiteit toe gaan nie.” Wat het Olaf gehelp om nie in te gee nie? Hy sê: “Ek het sterk vriendskappe met die broers en susters in my gemeente gevorm. Hulle het soos my familie geword. En ek het die Bybel ernstiger begin studeer. Hoe meer ek gestudeer het, hoe meer oortuig het ek geword dat dit die waarheid is. En dit het my meer vasbeslote gemaak om Jehovah te dien.”

9. Wat moet ons doen as ons op die nou pad wil bly?

9 Satan wil hê dat jy die pad na die lewe moet verlaat. Hy wil hê dat jy die pad moet kies “wat na vernietiging lei”, waarop die meeste mense is (Matt. 7:13). Maar ons sal op die nou pad bly as ons aanhou om na Jesus te luister en aanhou om daardie pad as ’n beskerming te beskou. Kom ons bespreek nou nog iets wat Jesus gesê het ons moet doen.

MAAK VREDE MET JOU BROER

10. Volgens Matteus 5:23, 24, wat het Jesus gesê moet ons doen?

10 Lees Matteus 5:23, 24. Jesus het geweet hoe belangrik diereoffers vir die Jode was. En daarom het hy die voorbeeld gebruik van iemand wat by die tempel was en op die punt gestaan het om ’n dier aan die priester as ’n offer te gee. As die persoon op daardie oomblik onthou het dat sy broer iets teen hom het, moes hy die offer net daar los en weggaan. Hoekom? Wat kon belangriker wees as ’n offer aan Jehovah? Jesus het gesê: “Maak eers vrede met jou broer.”

Sal jy Jakob se voorbeeld navolg, wat nederig was en vrede gemaak het met sy broer? (Sien paragraaf 11-12) *

11. Wat het Jakob gedoen om vrede met Esau te maak?

11 Ons kan belangrike lesse uit Jakob se voorbeeld leer oor hoe om vrede te maak. Omtrent 20 jaar nadat Jakob sy geboorteland verlaat het, het God vir hom deur middel van ’n engel gesê om na sy geboorteland terug te gaan (Gen. 31:11, 13, 38). Maar daar was ’n probleem. Sy ouer broer, Esau, wou hom doodmaak (Gen. 27:41). Jakob was “baie bang en angstig” omdat hy gedink het dat sy broer miskien nog kwaad is vir hom (Gen. 32:7). Wat het Jakob gedoen om vrede te maak met sy broer? Eerstens het hy ernstig oor die saak gebid. Toe het hy vir Esau ’n groot geskenk gestuur (Gen. 32:9-15). Uiteindelik, toe die broers mekaar sien, het Jakob die inisiatief geneem om eer aan Esau te betoon. Hy het nie net een of twee keer voor Esau neergebuig nie, maar sewe keer! Jakob was nederig en respekvol en het vrede met sy broer gemaak. – Gen. 33:3, 4.

12. Wat leer ons uit Jakob se voorbeeld?

12 Ons kan baie leer uit hoe Jakob homself voorberei het om Esau te ontmoet en uit hoe hy Esau behandel het. Hy het nederig vir Jehovah gevra om hom te help. Toe het hy in ooreenstemming met sy gebede opgetree deur te doen wat hy kon om vrede met sy broer te maak. Toe Jakob Esau ontmoet, het hy nie met hom gestry oor wie reg en wie verkeerd was nie. Jakob se doel was om vrede te maak met sy broer. Hoe kan ons Jakob se voorbeeld navolg?

HOE OM VREDE TE MAAK MET ANDER

13-14. Wat moet ons doen as ons ’n broer of ’n suster seergemaak het?

13 As ons op die pad na die lewe wil bly, moet ons seker maak dat daar vrede tussen ons en ons broers is (Rom. 12:18). Wat moet ons doen as ons besef dat ons ’n broer of ’n suster seergemaak het? Soos Jakob, moet ons ernstig tot Jehovah bid. Ons kan hom vra om ons te help om vrede met ons broer te maak.

14 Ons moet ook tyd maak om onsself te ondersoek. Ons kan onsself die volgende vrae vra: ‘Is ek bereid om my trots te sluk, nederig om verskoning te vra en om vrede te maak? Hoe sal Jehovah en Jesus voel as ek die eerste stap neem om vrede met my broer of suster te maak?’ Ons antwoorde op daardie vrae kan ons motiveer om na Jesus te luister deur nederig te wees en vrede te maak met ons broer of suster. As ons dit doen, sal ons Jakob se voorbeeld navolg.

15. Hoe kan die raad in Efesiërs 4:2, 3 ons help om vrede te maak met ons broer?

15 Dink aan wat kon gebeur het as Jakob trots was en met Esau gestry het oor wie reg was en wie verkeerd was! Dinge kon baie anders uitgedraai het. Ons moet nederig wees wanneer ons met ’n broer of ’n suster vrede probeer maak. (Lees Efesiërs 4:2, 3.) Spreuke 18:19 sê: “Om ’n broer te paai wat aanstoot geneem het, is moeiliker as om ’n sterk stad in te neem, en daar is geskille wat soos die grendels van ’n vesting is.” As ons nederig om verskoning vra, kan dit ons help om by daardie “vesting” in te kom.

16. Waaraan moet ons dink as ons vrede met ons broer wil maak?

16 Ons moet ook mooi dink aan wat ons vir ons broer wil sê en aan hoe ons dit wil sê. Wanneer ons gereed is, moet ons na hom toe gaan met die doel om die pyn uit sy hart te probeer verwyder. Aan die begin sal hy miskien dinge sê wat ons seermaak. Dit sal dan maklik wees om kwaad te word en om onsself te verdedig, maar sal dit ons help om vrede te maak? Beslis nie. Onthou dat vrede belangriker is as wie reg was en wie verkeerd was. – 1 Kor. 6:7.

17. Wat kan ons uit Gilbert se voorbeeld leer?

17 ’n Broer met die naam Gilbert het hard gewerk om ’n vredemaker te wees. Hy sê: “Een van my gesinslede het dit vir my baie moeilik gemaak om met haar oor die weg te kom. Vir meer as twee jaar het ek my bes gedoen om openlik en op ’n kalm manier met haar te praat sodat ek weer ’n goeie verhouding met haar kon hê.” Wat het Gilbert nog gedoen? “Elke keer voordat ek met haar gepraat het, het ek gebid en myself herinner om my nie te vererg as sy lelike dinge vir my sê nie. Ek moes gereed wees om te vergewe. Ek het geleer dat ek nie myself moet probeer verdedig nie, en ek het geweet dat dit my verantwoordelikheid was om vrede te maak.” Wat was die resultate? Gilbert sê: “Vandag het ek ’n goeie verhouding met almal in my gesin.”

18-19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen as ons iemand seergemaak het, en hoekom?

18 Wat moet jy vasbeslote wees om te doen as jy besef dat jy ’n broer of ’n suster seergemaak het? Pas Jesus se raad toe en maak vrede. Praat met Jehovah oor die saak en vertrou op sy heilige gees om jou te help om ’n vredemaker te wees. As jy dit doen, sal jy gelukkig wees en sal jy wys dat jy na Jesus luister. – Matt. 5:9.

19 Ons is dankbaar dat Jehovah ons deur middel van Jesus Christus, “die hoof van die gemeente”, liefdevolle raad gee (Ef. 5:23). Soos die apostels Petrus, Jakobus en Johannes, laat ons vasbeslote wees ‘om na hom te luister’ (Matt. 17:5). In hierdie artikel het ons gekyk na hoe ons vrede kan maak as ons ’n broer of ’n suster seergemaak het. As ons dit doen en op die nou pad na die lewe bly, sal ons nou baie seëninge ontvang en in die toekoms sal ons ewige geluk kry.

LIED 130 Wees vergewensgesind

^ par. 5 Jesus sê vir ons dat ons deur die nou poort moet ingaan wat na die lewe lei. Hy sê ook vir ons dat ons vrede met ons broers en susters moet maak. Hoekom kan dit soms moeilik wees om hierdie raad toe te pas, en hoe kan ons die uitdagings oorkom?

^ par. 7 Sien vraag 6 van die brosjure Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra Hoe kan ek groepsdruk weerstaan?” en die witbord-tekenprent Weerstaan groepsdruk! op www.pr418.com/af. (Kyk onder BYBELLERINGE > TIENERS).

^ par. 8 Party van die name is verander.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: As ons op die nou pad bly en deur die “reling” beskerm word wat God voorsien, sal ons die strikke van pornografie, onsedelike assosiasie en hoër onderwys vermy.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Jakob het herhaaldelik voor sy broer, Esau, neergebuig toe hy probeer het om vrede met hom te maak.