Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 50

Luister na die stem van die goeie herder

Luister na die stem van die goeie herder

“Hulle sal na my stem luister.” – JOH 10:16.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is een rede hoekom Jesus dalk sy volgelinge met skape vergelyk het?

JESUS het sy verhouding met sy volgelinge vergelyk met die spesiale band tussen ’n herder en sy skape (Joh. 10:14). Dit is ’n baie goeie vergelyking. Die skape ken hulle herder en luister na sy stem. ’n Toeris het dit met sy eie oë gesien. Hy sê: “Ons wou foto’s neem van ’n paar skape, en ons het probeer om hulle te kry om nader aan ons te kom. Maar hulle het nie na ons toe gekom nie, want hulle het nie ons stemme geken nie. Toe het ’n herderseuntjie gekom, en hy het hulle skaars geroep, toe volg hulle hom.”

2-3. (a) Hoe wys Jesus se volgelinge dat hulle na sy stem luister? (b) Wat sal ons in hierdie en in die volgende artikel bespreek?

2 Die ondervinding van daardie toeris herinner ons aan wat Jesus oor sy skape – sy dissipels – gesê het. Hy het gesê: “Hulle sal na my stem luister” (Joh. 10:16). Maar Jesus is in die hemel. So hoe kan ons na hom luister? ’n Belangrike manier hoe ons na ons Meester se stem luister, is deur die dinge toe te pas wat hy ons geleer het. – Matt. 7:24, 25.

3 In hierdie en in die volgende artikel sal ons ’n paar van die dinge bespreek wat Jesus ons geleer het. Soos ons sal sien, het Jesus ons geleer dat daar sekere dinge is wat ons moet ophou om te doen en dat daar ander dinge is wat ons moet doen. Ons gaan eers na twee spesifieke dinge kyk wat die goeie herder vir ons sê om op te hou doen.

“HOU OP OM ANGSTIG EN GESPANNE TE WEES”

4. Volgens Lukas 12:29, wat kan veroorsaak dat ons “angstig en gespanne” word?

4 Lees Lukas 12:29. Jesus het vir sy volgelinge gesê om “op [te hou] om angstig en gespanne te wees” oor die dinge wat hulle nodig het om aan die lewe te bly. Ons weet dat Jesus se raad altyd wys is en dat dit altyd werk. Ons wil dit toepas, maar soms is dit vir ons moeilik om te doen. Hoekom?

5. Hoekom word party dalk angstig oor hulle materiële behoeftes?

 5 Party word dalk angstig oor hulle materiële behoeftes – kos, klere en ’n plek om te bly. Hulle bly dalk in ’n land waar baie mense arm is en waar dit moeilik is om werk te kry. Dit is dalk vir hulle moeilik om genoeg geld te maak om vir hulle familie te sorg. Of dalk het die broodwinner gesterf en het die res van die familie nie geld vir die dinge wat hulle nodig het nie. Die COVID-19-pandemie het dalk veroorsaak dat hulle hulle werk verloor (Pred. 9:11). As so iets met ons gebeur het, hoe kan ons Jesus se raad volg om op te hou om angstig te wees?

Moenie toelaat dat angstigheid oor materiële behoeftes jou geestelik laat sink nie. Vertrou op Jehovah (Sien paragraaf 6-8) *

6. Verduidelik wat eenkeer met die apostel Petrus gebeur het.

6 Eenkeer was die apostel Petrus en die ander apostels in ’n boot op die See van Galilea gedurende ’n windstorm toe hulle Jesus op die see sien loop. Petrus het gesê: “Here, as dit u is, beveel my om oor die water na u toe te kom.” Nadat Jesus vir hom gesê het om te kom, het Petrus uit die boot uitgeklim en “oor die water geloop en na Jesus toe gegaan.” Kyk wat volgende gebeur het. “Toe hy na die windstorm kyk, het hy bang geword. En toe hy begin sink, het hy uitgeroep: ‘Here, red my!’” Jesus het sy hand uitgesteek en hom gered. Dit is belangrik om te onthou dat Petrus op onstuimige water kon loop solank as wat hy op Jesus gefokus het. Maar toe Petrus na die storm kyk, het hy bang geword en begin twyfel, en toe het hy begin sink. – Matt. 14:24-31.

7. Wat kan ons uit Petrus se voorbeeld leer?

7 Ons kan uit Petrus se voorbeeld leer. Toe Petrus uit die boot geklim het, het hy nie gedink dat hy angstig sou word as gevolg van die storm nie en dat hy sou begin sink nie. Hy wou tot by sy Meester loop. Maar hy het nie op sy doelwit gefokus gebly nie. Ons kan nou wel nie op water loop nie, maar ons het baie probleme wat ons geloof kan toets. As ons nie gefokus bly op Jehovah en sy beloftes nie, kan ons geestelik begin sink. Dit maak nie saak watter figuurlike storms ons ondervind nie, ons moet gefokus bly op Jehovah en sy vermoë om ons te help. Hoe kan ons dit doen?

8. Wat kan ons help om nie te angstig te raak oor ons materiële behoeftes nie?

8 In plaas daarvan om angstig te raak oor ons probleme, moet ons op Jehovah vertrou. Onthou dat ons liefdevolle Vader, Jehovah, belowe dat hy sal voorsien wat ons nodig het as ons geestelike dinge eerste stel (Matt. 6:32, 33). Hy het nog altyd daardie belofte gehou (Deut. 8:4, 15, 16; Ps. 37:25). As Jehovah vir die voëls en die blomme sorg, dan hoef ons glad nie angstig te wees oor wat ons gaan eet of aantrek nie! (Matt. 6:26-30; Fil. 4:6, 7). Net soos liefde ouers motiveer om vir hulle kinders te sorg, motiveer liefde ons hemelse Vader om vir sy knegte te sorg. Ja, ons kan seker wees dat Jehovah vir ons sal sorg!

9. Wat kan ons uit die ondervinding van een paartjie leer?

9 Kyk na ’n ondervinding wat wys hoe Jehovah in ons materiële behoeftes kan voorsien. ’n Paartjie in voltydse diens het meer as ’n uur lank in hulle ou kar gery om ’n paar susters wat in ’n vlugtelingkamp bly, op te tel om hulle na die vergadering toe te neem. Die broer sê: “Ná die vergadering het ons die susters genooi om by ons te kom eet, maar toe besef ons dat ons niks het om vir hulle te gee nie.” Wat sou die paartjie doen? Die broer sê verder: “Toe ons by die huis aankom, was daar twee groot sakke vol kos voor ons deur. Ons weet nie wie dit daar gesit het nie. Jehovah het voorsien.” ’n Tydjie later het die paartjie se kar gebreek. Hulle het dit vir velddiens nodig gehad, maar hulle het nie geld gehad om dit reg te maak nie. Hulle het die kar na ’n garage toe gevat om te sien hoeveel dit gaan kos om dit reg te maak. Toe het ’n man daar aangekom en gevra: “Wie se kar is dit?” Die broer het gesê dat dit sy kar is en dat dit reggemaak moet word. Die man het gesê: “Dit maak nie saak nie. My vrou soek hierdie soort kar en presies hierdie kleur. Hoeveel wil jy daarvoor hê?” Die broer het daar weggestap met genoeg geld om ’n ander kar te koop. Hy het gesê: “Ek kan nie eers verduidelik hoe ons teen die einde van daardie dag gevoel het nie. Ons het geweet dat dit nie per toeval was nie. Dit was Jehovah se hand.”

10. Hoe moedig Psalm 37:5 ons aan om nie angstig te wees oor ons materiële behoeftes nie?

10 Wanneer ons na die goeie herder luister en ophou om te angstig te wees oor materiële behoeftes, kan ons seker wees dat Jehovah vir ons sal sorg. (Lees Psalm 37:5; 1 Pet. 5:7.) Dink aan die situasies wat in  paragraaf 5 genoem was. Jehovah het dalk tot nou toe ’n gesinshoof of ’n werkgewer gebruik om te voorsien wat ons elke dag nodig het. As die gesinshoof dit nie meer kan doen nie of as ons ons werk verloor, sal Jehovah vir ons op ’n ander manier sorg. Ons kan seker wees daarvan. Kom ons kyk nou na nog iets wat die goeie herder vir ons sê om op te hou doen.

“HOU OP OM TE OORDEEL”

Ons kan ophou om ander te oordeel as ons op hulle goeie eienskappe fokus (Sien paragraaf 11, 14-16) *

11. Volgens Matteus 7:1, 2, wat het Jesus vir ons gesê om op te hou doen, en hoekom kan dit moeilik wees?

11 Lees Matteus 7:1, 2Jesus het geweet dat onvolmaakte mense baie keer op die foute van ander fokus. Dit is hoekom hy gesê het: “Hou op om te oordeel.” Ons probeer dalk hard om nie ons broers en susters te oordeel nie. Maar ons almal is onvolmaak. As ons sien dat ons soms krities is, wat moet ons doen? Luister na Jesus en werk hard om op te hou om te oordeel.

12-13. Hoe kan Jehovah se voorbeeld ons help om op te hou om ander te oordeel?

12 As ons nadink oor Jehovah se voorbeeld, kan dit ons help. Hy fokus op die goeie in mense. Dink aan wat hy gedoen het toe koning Dawid ernstige foute gemaak het. Byvoorbeeld, hy het egbreuk gepleeg met Batseba en hy het selfs haar man laat doodmaak (2 Sam. 11:2-4, 14, 15, 24). Dawid het nie net homself seergemaak nie, maar hy het ook sy familie, insluitende sy ander vrouens, seergemaak (2 Sam. 12:10, 11). By ’n ander geleentheid het Dawid nie op Jehovah vertrou toe hy Israel se leërmag laat registreer het nie, iets wat Jehovah hom nie gevra het om te doen nie. Dawid het dit dalk gedoen omdat hy trots was op hoe groot sy leërmag was en omdat hy daarop staatgemaak het vir beskerming. Wat was die resultaat? Omtrent 70 000 Israeliete het doodgegaan as gevolg van ’n vreeslike siekte! – 2 Sam. 24:1-4, 10-15.

13 As jy in daardie tyd in Israel gelewe het, wat sou jy van Dawid gedink het? Sou jy gedink het dat hy nie Jehovah se genade verdien nie? Jehovah het nie so gedink nie. Hy het gefokus op hoe getrou Dawid regdeur sy lewe was en op die feit dat hy berouvol was. En daarom het Jehovah Dawid vergewe vir hierdie ernstige sondes. Jehovah het geweet dat Dawid baie lief was vir hom en dat hy wou doen wat reg is. Is jy nie dankbaar dat ons God op die goeie in ons fokus nie? – 1 Kon. 9:4; 1 Kron. 29:10, 17.

14. Wat kan Christene help om op te hou om ander te oordeel?

14 Jehovah verwag nie dat ons volmaak moet wees nie, en ons moet ook nie verwag dat ander volmaak moet wees nie. Ons moet eerder na die goeie in hulle soek. Dit is gewoonlik baie maklik om ander se foute raak te sien en om hulle te kritiseer. Maar alhoewel ’n geestelike persoon dalk die foute van ander raaksien, sal hy nog steeds goed met hulle kan saamwerk. ’n Diamant wat nog nie gesny is nie, is nie baie mooi nie, maar ’n wyse persoon weet dat wanneer daardie diamant gesny word, dit baie mooi en kosbaar sal wees. Net soos Jehovah en Jesus, moet ons nie fokus op mense se foute nie. Ons moet eerder op hulle goeie eienskappe fokus.

15. Wat kan ons nog help om ander nie te oordeel nie?

15 Behalwe om op ander se goeie eienskappe te fokus, wat kan ons nog help om ander nie te oordeel nie? Probeer dink aan hoe hulle lewe is. Dink aan hierdie voorbeeld. Eendag by die tempel het Jesus gesien hoe ’n arm weduwee twee muntstukkies van baie min waarde by die skatkis ingooi. Hy het nie gevra: “Hoekom het sy nie meer ingegooi nie?” In plaas daarvan om te fokus op hoeveel die weduwee ingegooi het, het Jesus gedink aan hoekom sy dit gedoen het en aan wat haar omstandighede was. En hy het haar geprys omdat sy gedoen het wat sy kon. – Luk. 21:1-4.

16. Wat kan jy uit Veronica se ondervinding leer?

16 Die ondervinding van ’n suster met die naam Veronica wys vir ons hoe belangrik dit is om ander se omstandighede in ag te neem. In die gemeente waar sy gedien het, was daar ’n enkelma en haar seun. Veronica erken: “Dit het vir my gelyk asof hulle nie die vergaderinge gereeld bywoon en gereeld velddiens doen nie. As gevolg hiervan het ek nie ’n goeie indruk van hulle gehad nie. Maar toe doen ek velddiens saam met die ma. Sy het vir my vertel van die uitdagings wat sy het omdat haar seun outisties is. Sy het haar bes gedoen om na hulle fisiese en geestelike behoeftes om te sien. Soms moes sy ’n ander vergadering bywoon as gevolg van haar seun se gesondheid. Ek het nie besef dat haar lewe so moeilik was nie. Ek waardeer hierdie suster en ek respekteer haar nou soveel meer vir alles wat sy doen om Jehovah te dien.”

17. Wat sê Jakobus 2:8 vir ons om te doen, en hoe kan ons dit doen?

17 Wat moet ons doen as ons besef dat ons ’n broer of ’n suster geoordeel het? Ons moet onthou dat ons ons broers moet liefhê. (Lees Jakobus 2:8.) Ons moet ook ernstig tot Jehovah bid en hom smeek om ons te help om op te hou om ander te oordeel. Ons kan in ooreenstemming met ons gebede optree deur tyd te spandeer saam met die persoon wat ons gekritiseer het. Dit sal ons dalk die geleentheid gee om hom beter te leer ken. Ons kan hom dalk vra om saam met ons velddiens te doen, of ons kan hom nooi vir ’n ete. Terwyl ons ons broer beter leer ken, kan ons probeer om Jehovah en Jesus se voorbeeld na te volg deur na die goeie in hom te soek. Op hierdie manier wys ons dat ons na die goeie herder se raad luister om op te hou om te oordeel.

18. Hoe kan ons wys dat ons na die goeie herder se stem luister?

18 Net soos skape na die stem van hulle herder luister, luister Jesus se volgelinge na sy stem. As ons hard probeer om op te hou om angstig te wees oor ons materiële behoeftes en om op te hou om ander te oordeel, sal Jehovah en Jesus ons pogings seën. Of ons nou deel is van die “klein kuddetjie” of die “ander skape”, mag ons aanhou om na die stem van die goeie herder te luister en om te doen wat hy sê (Luk. 12:32; Joh. 10:11, 14, 16). In die volgende artikel gaan ons twee dinge bespreek wat Jesus vir sy volgelinge gesê het om te doen.

LIED 101 Werk eensgesind saam

^ par. 5 Toe Jesus gesê het dat sy skape na sy stem sou luister, het hy bedoel dat sy dissipels na sy leringe sou luister en dit in hulle lewe sou toepas. In hierdie artikel gaan ons twee van Jesus se leringe bespreek. Die eerste een is Jesus se opdrag om op te hou om angstig te wees oor materiële dinge, en die tweede een is sy opdrag om op te hou om ander te oordeel. Ons gaan bespreek hoe ons kan toepas wat hy ons geleer het.

^ par. 51 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat sy werk verloor het, het nie genoeg geld om vir sy familie te sorg nie en is op soek na ander blyplek. As hy nie versigtig is nie, kan hy dalk so angstig word dat hy sy fokus verloor en ophou om Jehovah eerste te stel.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer kom laat by die vergadering aan. Maar hy stel ’n goeie voorbeeld in ander aspekte van die lewe. Hy getuig informeel, hy help ’n ouer persoon en hy help om die Koninkryksaal netjies te hou.