Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Werk jy goed saam met ander?

Werk jy goed saam met ander?

“EK [HET] as ’n meesterwerker saam met hom gewerk. . . . Ek was die hele tyd vreugdevol voor hom” (Spr. 8:30). Dit is hoe die Bybel God se Seun beskryf terwyl hy saam met sy Vader gewerk het voordat hy na die aarde toe gekom het. En let op hoe Jesus gevoel het terwyl hy saam met God gewerk het. Die teks sê hy was “vreugdevol voor hom”.

In die hemel het Jesus eienskappe aangeleer wat hom gehelp het om goed saam met ander te werk. En daarom kon hy later, toe hy op die aarde was, ’n goeie voorbeeld stel vir die mense saam met wie hy gewerk het. Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer? As ons Jesus se voorbeeld ondersoek, kan dit ons help om drie beginsels te identifiseer wat ons kan help om goed saam met ander te werk. Hierdie beginsels sal ons help om eenheid onder ons broers en susters te bevorder.

Net soos Jehovah en Jesus, moet jy jou ondervinding en kennis met ander deel

BEGINSEL 1: ‘BETOON EER AAN MEKAAR’

Iemand wat goed saam met ander werk, is nederig en hy probeer nie om ander te beïndruk of om die aandag op homself te vestig nie. Dit is iets wat Jesus by sy Vader geleer het. Al is dit net Jehovah wat verdien om die Skepper genoem te word, het hy die aandag gevestig op die rol wat sy Seun gespeel het. God het byvoorbeeld gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld” (Gen. 1:26). Daardie woorde het Jesus seker laat besef hoe nederig Jehovah is. ​–Ps. 18:35.

Toe Jesus op die aarde was, het hy ook gewys dat hy nederig is. Toe mense hom geprys het, het hy die eer gegee aan die Een wat dit verdien het (Mark. 10:17,18; Joh. 7:15, 16). Jesus het altyd seker gemaak dat daar vrede tussen hom en sy dissipels was, en hy het hulle as sy vriende en nie as sy slawe beskou nie (Joh. 15:15). Hy het selfs hulle voete gewas om hulle te leer om nederig te wees (Joh. 13:5, 12-14). Net soos Jesus, wil ons die mense saam met wie ons werk, waardeer, en ons sal nie ons belange bo hulle s’n stel nie. Baie meer kan uitgerig word wanneer ons ‘eer aan mekaar betoon’ en nie bekommerd is oor wie die eer gaan kry nie. – Rom. 12:10.

’n Nederige persoon besef dat ‘dit tot sukses lei as daar baie raadgewers is’ (Spr. 15:22). Maak nie saak hoeveel ondervinding of watter vermoëns ons het nie, ons moet onthou dat niemand alles weet nie. Selfs Jesus het erken dat daar dinge is wat hy nie weet nie (Matt. 24:36). En hy het belanggestel in wat sy onvolmaakte dissipels weet en dink (Matt. 16:13-16). Dit is geen wonder dat mense op hulle gemak gevoel het terwyl hulle saam met Jesus gewerk het nie! Wanneer ons nederig is en besef dat ons nie alles weet nie en wanneer ons na die idees van ander luister, bevorder ons vrede, en dan sal ons saam suksesvol wees.

Dit is veral vir ouermanne belangrik om Jesus se voorbeeld na te volg wanneer hulle met mekaar saamwerk. Hulle moet in gedagte hou dat die heilige gees enige een van hulle kan motiveer om iets te sê wat die liggaam van ouermanne kan help om ’n goeie besluit te neem. As ouermanne seker maak dat almal gedurende ouermanvergaderinge vry voel om te sê wat hulle dink, sal hulle besluite neem wat die hele gemeente sal help.

BEGINSEL 2: “LAAT JULLE REDELIKHEID BEKEND WORD”

Iemand wat goed saam met ander werk, is redelik en aanpasbaar. Jesus het baie keer gesien hoe redelik sy Vader is. Byvoorbeeld, Jehovah het hom gestuur om die mensdom te red, al het hulle die doodsvonnis verdien.​–Joh. 3:16.

Jesus was aanpasbaar wanneer dit nodig of moontlik was. Onthou hoe Jesus ’n Fenisiese vrou gehelp het, al was hy net na die Israeliete toe gestuur (Matt. 15:22-28). Hy was ook redelik in wat hy van sy dissipels verwag het. Nadat sy goeie vriend Petrus hom in die openbaar ontken het, was Jesus bereid om hom te vergewe. Later het hy vir Petrus belangrike verantwoordelikhede gegee (Luk. 22:32; Joh. 21:17; Hand. 2:14; 8:14-17; 10:44, 45). Jesus se voorbeeld wys duidelik dat ons ons ‘redelikheid bekend moet laat word’ deur aanpasbaar te wees. – Fil. 4:5.

As ons redelik is, sal dit ons help om aanpasbaar te wees sodat ons in vrede met verskillende soorte mense kan werk. Jesus het die mense wat om hom was, so goed behandel dat sy jaloerse vyande hom daarvan beskuldig het dat hy “’n vriend van belastinggaarders en sondaars” is (Matt. 11:19). Kan ons soos Jesus goed saam met mense werk wat anders as ons is? Louis, ’n broer wat as ’n reisende opsiener en by Bethel gedien het en wat saam met mense van verskillende agtergronde gewerk het, sê: “Ek vergelyk elke groep mense saam met wie ek gewerk het met ’n muur wat met klippe van verskillende groottes gebou word. Deur die klippe rond te skuif, kan jy ’n muur bou wat gelyk is. Ek het ook probeer om self aanpassings te maak sodat die muur gelyk kan wees.” Wat ’n pragtige gesindheid!

Iemand wat goed saam met ander werk, hou nie inligting terug net sodat hy beheer oor ander kan hê nie

Wanneer kan ons goed saam met die broers en susters in ons gemeente werk? Ons kan dit doen wanneer ons velddiens saam met hulle doen. Ons werk dalk saam met ’n verkondiger wat ander gesinsverantwoordelikhede as ons het of wat van ’n ander ouderdomsgroep is. Kan ons aanpas by hulle pas of aan die vorm van die bediening deelneem waarvan hulle hou sodat hulle die bediening meer kan geniet?

BEGINSEL 3: WEES “BEREID OM TE DEEL”

Iemand wat goed saam met ander werk, is “bereid om te deel” (1 Tim. 6:18). Terwyl Jesus saam met sy Vader gewerk het, het hy seker gesien dat Jehovah nie dinge vir hom wegsteek nie. Toe Jehovah “die hemele gemaak het,” was Jesus daar en het hy baie by hom geleer (Spr. 8:27). Later het Jesus met graagte vir sy dissipels alles vertel “wat [hy] by [sy] Vader gehoor het” (Joh. 15:15). Ons kan ook Jehovah se voorbeeld navolg deur ons kennis en ondervinding met ons broers en susters te deel. Ons sal nooit inligting wil terughou net sodat ons beheer oor ander kan hê nie. Ons sal eerder bly wees om die dinge wat ons geleer het, met ander te deel.

Ons kan ook die mense saam met wie ons werk, aanmoedig. Raak dit nie ons hart wanneer iemand ons harde werk raaksien en ons prys nie? Jesus het dié wat saam met hom gewerk het, geprys vir die goeie wat hy in hulle gesien het. (Vergelyk Matteus 25:19-23; Lukas 10:17-20.) Hy het selfs vir hulle gesê dat hulle “nog groter werke [sou] doen” as wat hy gedoen het (Joh. 14:12). Op die aand voor sy dood het hy vir sy getroue apostels gesê: “Julle het . . . in al my moeilike tye by my gebly” (Luk. 22:28). Dink net hoe Jesus se woorde hulle hart moes geraak het en hulle gemotiveer het! As ons die mense saam met wie ons werk, prys, sal hulle gelukkiger en moontlik meer produktief wees.

JY KAN GOED SAAM MET ANDER WERK

’n Broer met die naam Kayode sê: “’n Mens hoef nie perfek te wees om goed saam met ander te werk nie. Maar iemand wat goed saam met ander werk, maak mense gelukkig en help hulle om te voel dat die werk nie ’n las is nie.” Is jy so ’n persoon? Miskien kan jy vir ’n paar broers of susters vra hoe dit vir hulle is om saam met jou te werk. As hulle dit geniet om saam met jou te werk, net soos Jesus se dissipels dit geniet het om saam met hom te werk, dan kan jy soos die apostel Paulus sê: “Ons is medewerkers vir julle vreugde.” ​- 2 Kor. 1:24.