Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 52

Help ander om moeilike tye te verduur

Help ander om moeilike tye te verduur

Moenie die goeie terughou van dié wat dit nodig het as dit vir jou moontlik is om te help nie.” – SPR. 3:27.

LIED 103 Herders — Gawes in mense

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe beantwoord Jehovah dikwels sy knegte se gebede?

 HET jy geweet dat Jehovah jou kan gebruik om iemand se opregte gebed te beantwoord? Jy kan help of jy nou ’n ouerman, ’n bedieningskneg, ’n pionier of ’n verkondiger in die gemeente is. Jy kan ook help of jy nou jonk of oud is en of jy nou ’n broer of ’n suster is. Wanneer iemand wat Jehovah liefhet hom vir hulp vra, gebruik ons God dikwels die ouermanne en ander getroue knegte om “’n bron van groot vertroosting” vir daardie persoon te word (Kol. 4:11). Dit is ’n voorreg om Jehovah en ons broers op hierdie manier te dien! Ons kan dit doen wanneer daar ’n siekte uitbreek, ’n ramp is of wanneer ons vervolg word.

HELP ANDER WANNEER DAAR ’N SIEKTE UITBREEK

2. Hoekom kan dit moeilik wees om ander te help wanneer daar ’n siekte uitbreek?

2 Wanneer daar ’n siekte uitbreek, kan dit vir ons moeilik wees om mekaar te help. Byvoorbeeld, ons wil dalk vir ons vriende gaan kuier, maar dit is nie veilig om dit te doen nie. Ons wil dalk dié wat finansieel sukkel, nooi om by ons te kom eet, maar dit is ook nie moontlik nie. Ons wil dalk ander help, maar dit kan moeilik wees as ons eie familielede swaarkry. Maar ons wil ons broers help, en Jehovah is bly wanneer ons doen wat ons kan om hulle te help (Spr. 3:27; 19:17). Wat kan ons doen?

3. Wat leer ons uit die voorbeeld van die ouermanne in Desi se gemeente? (Jeremia 23:4)

3 Wat ouermanne kan doen. As jy ’n ouerman is, moet jy die skape goed leer ken. (Lees Jeremia 23:4.) Desi, ’n suster wat in die vorige artikel aangehaal is, sê: “Die ouermanne in my velddiensgroep het in die verlede saam met my en ander in die bediening gewerk en saam met ons gekuier.” b Dit het dit vir daardie ouermanne makliker gemaak om Desi te help nadat die COVID-19-pandemie uitgebreek het en party van haar familielede gesterf het as gevolg van die virus.

4. Hoekom kon die ouermanne Desi help, en wat is die les?

4 Desi verduidelik: “Omdat die ouermanne alreeds my vriende was, was dit vir my maklik om vir hulle te sê hoe ek voel en waaroor ek bekommerd is.” Wat is die les vir ouermanne? Kyk mooi na dié wat onder julle sorg is voordat daar ’n krisis is. Wees ’n vriend vir hulle. As daar ’n siekte uitbreek wat keer dat jy hulle persoonlik kan besoek, reik op ander maniere uit. Desi sê: “Soms het ’n hele paar verskillende ouermanne my op dieselfde dag gebel of vir my boodskappe gestuur. Die verse wat hulle met my gedeel het, het my hart geraak, al het ek daardie verse goed geken.”

5. Hoe kan ouermanne uitvind wat die broers en susters nodig het en hulle help?

5 Een manier hoe jy kan uitvind wat jou broers en susters nodig het, is deur vir hulle taktvolle vrae te vra (Spr. 20:5). Het hulle genoeg kos, medikasie en ander voorraad? Is daar ’n moontlikheid dat hulle hulle werk kan verloor, of selfs hulle huis? Het hulle hulp nodig om aansoek te doen vir ’n staatstoelaag? Desi het materiële hulp van haar broers en susters gekry. Maar dit was die emosionele en geestelike ondersteuning van die ouermanne wat haar veral gehelp het om deur haar moeilike tye te kom. Sy sê: “Die ouermanne het saam met my gebid. Al kan ek nie onthou presies wat hulle gesê het nie, onthou ek hoe ek gevoel het. Dit was Jehovah se manier om vir my te sê: ‘Jy is nie alleen nie.’” – Jes. 41:10, 13.

Die broer wat ’n deel doen, is bly om die aanmoedigende kommentare te hoor van die baie broers wat by die vergadering is en van ’n siek broer wat deur middel van videoverbinding moet deelneem (Sien paragraaf 6)

6. Wat kan baie in die gemeente doen om ander te help? (Sien prent.)

6 Wat ander kan doen. Ons verwag dat die ouermanne die leiding moet neem. Maar Jehovah nooi ons almal om ander aan te moedig en te help (Gal. 6:10). Selfs al doen ons iets kleins om iemand te help wat siek is, kan dit hulle baie aanmoedig. ’n Kind kan vir ’n broer ’n kaartjie stuur of vir hom ’n prentjie teken om hom aan te moedig. ’n Jong volwassene kan vir ’n suster takies of inkopies doen. Ander in die gemeente kan dalk ’n maaltyd vir iemand wat siek is, kook en dit by hulle huis aflewer. Wanneer ’n siekte wydverspreid is, het almal in die gemeente natuurlik aanmoediging nodig. Dalk kan ons ná die vergadering ’n rukkie langer bly om met die broers en susters te gesels, of dit nou in persoon of deur videoverbinding is. En die ouermanne het ook aanmoediging nodig. Party Getuies het ’n dankiesê-kaartjie gestuur vir die ouermanne, wat dikwels besiger as ooit is wanneer daar ’n siekte uitbreek. Dit is baie goed wanneer ons ons deel doen om aan te hou “om mekaar aan te moedig en mekaar op te bou”! – 1 Tess. 5:11.

HELP ANDER WANNEER DAAR ’N RAMP IS

7. Wat kan ’n uitdaging wees ná ’n ramp?

7 ’n Ramp kan ’n persoon se lewe in ’n oogwink verander. Party mense verloor hulle besittings, hulle huis of selfs hulle geliefdes. Ons Christenbroers en -susters is nie beskerm teen sulke tragiese dinge nie. Wat kan ons doen om te help?

8. Wat kan ouermanne en gesinshoofde doen voordat daar ’n ramp is?

8 Wat ouermanne kan doen. Ouermanne, help julle broers om voorbereid te wees voordat daar ’n ramp is. Maak seker dat almal in die gemeente weet wat om te doen om veilig te bly en hoe om die ouermanne te kontak. Margaret, wat in die vorige artikel aangehaal is, sê: “Ons ouermanne het ons in ’n plaaslike behoeftes-deel gewaarsku dat die veldbrandseisoen nog nie verby is nie. Hulle het gesê dat ons onmiddellik moet reageer as die owerhede ons beveel om ons huise te verlaat of as die situasie gevaarlik word.” Daardie inligting het op net die regte tyd gekom, want vyf weke later het ’n lewensgevaarlike veldbrand uitgebreek. Gesinshoofde kan gedurende gesinsaanbidding bespreek wat elke gesinslid moet doen. As jy en jou kinders voorbereid is, sal dit vir julle makliker wees om kalm te bly as daar ’n ramp is.

9. Hoe kan ouermanne voor en ná ’n ramp saamwerk?

9 As jy ’n groepopsiener is, moet jy nie wag totdat daar ’n ramp is voordat jy seker maak dat jy die regte kontakbesonderhede van almal in jou velddiensgroep het nie. Maak ’n lys en hou dit op datum. Dan sal jy elke verkondiger kan kontak om te sien wat hy nodig het as daar ’n ramp is. Stuur hierdie inligting onmiddellik aan die koördineerder van die liggaam van ouermanne, wat dan die kringopsiener sal kontak. Wanneer hierdie broers saamwerk, kan dit ’n groot verskil maak. Ná die brand het Margaret se kringopsiener vir 36 uur nie geslaap nie. Hy was besig om die werk van die ouermanne te organiseer terwyl hulle 450 broers en susters wat hulle huise moes verlaat, probeer kontak het en vir hulle probeer sorg het (2 Kor. 11:27). Op hierdie manier kon hulle almal help wat ’n plek nodig gehad het om te bly.

10. Hoekom is herderswerk vir ouermanne belangrik? (Johannes 21:15)

10 Om geestelike en emosionele hulp te voorsien, is deel van die werk wat Christenouermanne doen (1 Pet. 5:2). Wanneer daar ’n ramp is, moet die ouermanne eers seker maak dat elke broer en suster veilig is en kos en klere het sowel as ’n plek het om te bly. Maar baie maande ná ’n ramp sal die broers nog steeds geestelike en emosionele ondersteuning nodig hê. (Lees Johannes 21:15.) Harold, wat op ’n Takkomitee dien en wat al met baie broers en susters gesels het wat deur rampe geraak was, sê: “Dit neem tyd om te herstel. Hulle lewens begin dalk weer normaal voel, maar herinneringe aan ’n geliefde wat gesterf het, ’n kosbare erfstuk of ’n gevaarlike situasie waarin hulle was, kan nog lank by hulle bly. Hierdie herinneringe kan hulle van vooraf weer hartseer laat voel. Dit is nie ’n gebrek aan geloof nie, maar ’n normale menslike reaksie.”

11. Watter hulp sal gesinne dalk nog vir ’n ruk ná ’n ramp nodig hê?

11 Ouermanne pas die raad toe om te “huil saam met mense wat huil” (Rom. 12:15). Party broers het dalk versekering nodig dat Jehovah en hulle Christenbroers hulle nog liefhet. Ouermanne sal gesinne wil help om by hulle geestelike roetine te bly, insluitende gebed, studie, vergaderingbywoning en ’n deelname aan die predikingswerk. Ouermanne kan ouers ook aanmoedig om hulle kinders te help om op dinge te fokus wat geen ramp kan vernietig nie. Ouers, herinner julle kinders daaraan dat Jehovah altyd hulle Vriend sal wees en dat hy altyd daar sal wees vir hulle. En verduidelik aan hulle dat hulle altyd deel van ’n wêreldwye familie van broers en susters sal wees wat gereed is om hulle te help. – 1 Pet. 2:17.

Kan jy aanbied om te help nadat daar ’n ramp in jou gebied was? (Sien paragraaf 12) e

12. Wat kan ander doen om met noodleniging te help? (Sien prent.)

12 Wat ander kan doen. As daar ’n ramp naby jou is, vra die ouermanne hoe jy kan help. Dalk kan jy tydelike verblyf aanbied vir dié wat hulle huise moes verlaat of vir konstruksievrywilligers. Jy kan dalk kos en voorrade neem vir verkondigers wat dit nodig het. As daar ’n ramp ver van jou af is, kan jy nog steeds help. Hoe? Bid vir dié wat daardeur geraak is (2 Kor. 1:8-11). Jy kan die noodlenigingswerk finansieel ondersteun deur ’n donasie vir die wêreldwye werk te maak (2 Kor. 8:2-5). As jy kan reis na ’n plek waar daar ’n ramp was, vra die ouermanne wat jy kan doen om te help. As jy genooi word om dit te doen, sal jy heel moontlik opleiding ontvang sodat jy gebruik kan word waar en wanneer jy die nodigste is.

HELP BROERS OM VERVOLGING TE VERDUUR

13. Watter uitdagings het ons broers in lande waar ons werk verbied is?

13 In lande waar ons werk verbied is, maak vervolging die lewe nog moeiliker. Broers in daardie lande het nog steeds geldprobleme, word nog steeds siek en verloor nog steeds geliefdes in die dood. Maar omdat die werk verbied is, kan ouermanne dalk nie dié wat aanmoediging nodig het, gaan besoek nie of vryelik met hulle kommunikeer nie. Dit is wat met Andrei, wat in die vorige artikel genoem is, gebeur het. ’n Suster in sy velddiensgroep het finansieel gesukkel. Toe was sy in ’n karongeluk. Sy het ’n hele paar operasies nodig gehad en kon nie werk nie. Ten spyte van die beperkings en die pandemie, het die broers gedoen wat hulle kon om haar te help, en Jehovah het gesien wat hulle doen.

14. Hoe kan ouermanne die voorbeeld stel deur op Jehovah te vertrou?

14 Wat ouermanne kan doen. Andrei het gebid en gedoen wat hy kon. Hoe het Jehovah gereageer? Hy het verskillende broers en susters wat meer kon doen om haar te help, gebruik. Party het die suster na mediese afsprake geneem. Ander het geld gegee om haar te help. Jehovah het hulle gemotiveer om te doen wat hulle kon, en hy het hulle verenigde en moedige pogings geseën (Heb. 13:16). Ouermanne, wanneer die werk beperk is, moet julle ander vra om julle te help (Jer. 36:5, 6). En die belangrikste is, vertrou op Jehovah. Hy kan julle help om vir ons broers en susters te sorg.

15. Hoe kan ons verenig bly met ons broers wanneer ons vervolg word?

15 Wat ander kan doen. Wanneer ons werk verbied is, moet ons dalk in kleiner groepe met ons broers assosieer. So dit is belangriker as ooit tevore om in vrede met mekaar te lewe. Veg teen Satan, nie teen mekaar nie. Wanneer jou broer foute maak, moet jy dit oorsien, of probeer om probleme vinnig op te los (Spr. 19:11; Ef. 4:26). Wees gewillig om mekaar te help (Tit. 3:14). Die hulp wat die suster van ander gekry het, het ’n positiewe uitwerking op die velddiensgroep gehad. Hulle het nader aan mekaar gekom, soos ’n familie. – Ps. 133:1.

16. Hoe kan ons ons broers en susters help wat vervolg word, volgens Kolossense 4:3, 18?

16 Duisende van ons Christenbroers en -susters dien Jehovah, al beperk die regering hulle werk. Party van hulle word tronk toe gestuur vir hulle geloof. Ons kan vir hulle bid, sowel as vir hulle families en vir dié wat hulle eie vryheid in gevaar stel om hierdie broers en susters geestelik en fisies te help en om hulle in die hof te verdedig. c (Lees Kolossense 4:3, 18.) Moet nooit die krag van jou gebede onderskat nie! – 2 Tess. 3:1, 2; 1 Tim. 2:1, 2.

Hoe kan jy jou gesin nou vir vervolging voorberei? (Sien paragraaf 17)

17. Hoe kan jy nou vir vervolging voorberei?

17 Jy en jou gesin kan nou vir vervolging voorberei (Hand. 14:22). Probeer om nie aan al die slegte dinge te dink wat kan gebeur nie. Versterk eerder jou vriendskap met Jehovah, en help jou kinders om dieselfde te doen. As jy soms angstig voel, stort jou hart voor God uit (Ps. 62:7, 8). Bespreek as ’n gesin al die redes hoekom julle op hom kan vertrou. d As daar ’n ramp is, sal jou persoonlike voorbereiding en jou vertroue in Jehovah jou kinders help om moed en vrede te hê.

18. Watter toekoms wag op ons?

18 Die vrede van God laat ons veilig voel (Fil. 4:6, 7). Deur middel daarvan kalmeer Jehovah ons hart, al is daar vandag siektes, rampe en vervolging wat ons kan affekteer. Hy gebruik hardwerkende ouermanne om vir ons te sorg. En hy gee ons almal die voorreg om mekaar te help. Die vrede wat ons nou geniet, sal ons voorberei vir groter uitdagings wat voorlê, selfs die “groot verdrukking” (Matt. 24:21). Gedurende daardie tyd sal ons ons vrede moet behou en ander moet help om dieselfde te doen. Maar daarna sal ons nie verskriklike probleme hê wat ons angstig maak nie. Ons sal uiteindelik geniet wat Jehovah nog altyd vir ons wou hê – ware vrede wat vir ewig sal hou. – Jes. 26:3, 4.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

a Jehovah gebruik dikwels sy getroue knegte om dié te help wat deur moeilike tye gaan. Hy kan jou gebruik om jou broers en susters aan te moedig. Kom ons kyk hoe ons kan help wanneer ander hulp nodig het.

b Party name is verander.

c As persone briewe skryf vir broers en susters wat in die tronk is, is dit nie vir die takkantoor of vir dié by die wêreldhoofkwartier moontlik om hierdie briewe vir hulle aan te stuur nie.

d Sien die artikel “Berei nou voor vir vervolging” in Die Wagtoring van Julie 2019.

e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie bring kos vir ’n gesin wat tydelik iewers bly ná ’n ramp.