STUDIEARTIKEL 50
“Jy sal saam met my in die Paradys wees”
“Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.” – LUK. 23:43.
LIED 145 God se belofte van die Paradys
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Wat het Jesus kort voordat hy gesterf het vir ’n misdadiger langs hom gesê? (Lukas 23:39-43)
JESUS en die twee misdadigers langs hom het gely terwyl hulle stadig gesterf het (Luk. 23:32, 33). Albei misdadigers het Jesus gespot, so hulle was duidelik nie sy dissipels nie (Matt. 27:44; Mark. 15:32). Maar een van hulle het sy gesindheid verander. Hy het gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u Koninkryk kom.” Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.” (Lees Lukas 23:39-43.) Daar is geen bewyse dat hierdie misdadiger die boodskap aanvaar het oor “die Koninkryk van die hemel”, wat Jesus gedurende sy bediening verkondig het nie. En Jesus het nooit gesê dat die man in daardie Koninkryk sou wees nie (Matt. 4:17). Jesus het van die toekomstige aardse Paradys gepraat. Hoekom kan ons dit sê?
2. Wat wys dat die berouvolle misdadiger ’n Jood was?
2 Die berouvolle misdadiger was waarskynlik ’n Jood. Daardie misdadiger het vir die ander een gesê: “Het jy geen vrees vir God nie? Jy het dan nou dieselfde oordeel ontvang!” (Luk. 23:40). Die Jode het een God aanbid, maar mense van die nasies het in baie gode geglo (Eks. 20:2, 3; 1 Kor. 8:5, 6). As daardie misdadigers mense van die nasies was, sou die misdadiger heel moontlik gevra het: “Het jy geen vrees vir gode nie?” En Jesus was nie na mense van die nasies gestuur nie, maar na “die verlore skape van die huis van Israel” (Matt. 15:24). God het aan die Israeliete geopenbaar dat hy die dooies sou opwek. Die berouvolle misdadiger het dalk hiervan geweet, en sy woorde wys dat hy aangeneem het dat Jehovah Jesus sou opwek om in God se Koninkryk te regeer. Die man het waarskynlik gehoop dat God hom ook sou opwek.
3. Waaraan het die berouvolle misdadiger heel moontlik gedink toe Jesus van die Paradys gepraat het? Verduidelik. (Genesis 2:15)
3 Omdat die berouvolle misdadiger ’n Jood was, sou hy geweet het van Adam en Eva en die Paradys wat Jehovah vir hulle gemaak het. So die misdadiger het heel moontlik geglo dat die Paradys waarvan Jesus gepraat het, ’n pragtige tuin hier op die aarde sou wees. – Lees Genesis 2:15.
4. Wat moet Jesus se woorde aan een van die misdadigers ons beweeg om oor na te dink?
4 Jesus se woorde aan die misdadiger moet ons beweeg om na te dink oor hoe die lewe in die Paradys sal wees. Ons kan eintlik iets leer oor die Paradys uit die vreedsame heerskappy van koning Salomo. En ons kan verwag dat Jesus, die een wat groter as Salomo is, saam met sy medeheersers sal werk om die aarde ’n wonderlike paradys te maak (Matt. 12:42). Dit is duidelik dat die “ander skape” moet belangstel in wat hulle moet doen om te kwalifiseer om vir ewig in die Paradys te lewe. – Joh. 10:16.
HOE SAL DIE LEWE IN DIE PARADYS WEES?
5. Hoe dink jy sal die lewe in die Paradys wees?
5 Hoe dink jy sal die lewe in die Paradys wees? Dalk dink jy aan ’n pragtige park soos die tuin van Eden (Gen. 2:7-9). Jy onthou dalk Miga se profesie dat God se volk “elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom [sal] sit” (Miga 4:3, 4). Jy onthou dalk ook verse in die Bybel wat sê dat daar ’n oorvloed kos sal wees (Ps. 72:16; Jes. 65:21, 22). So dalk sien jy jouself in ’n pragtige tuin waar jy by ’n tafel vol heerlike kos sit. Jy dink dalk aan hoe die skoon reuk van plante en blomme in die lug hang. En jy hoor heel moontlik die gelag van familie en vriende – insluitende dié wat opgewek is – wat mekaar se geselskap geniet. Al hierdie dinge is nie net ’n droom nie. Ons kan seker wees dat al hierdie dinge op die aarde sal gebeur. Maar in die Paradys sal ons ook werk doen wat ons sal geniet.
6. Wat sal ons in die Paradys doen? (Sien prent.)
6 Jehovah het ons geskep met die vermoë om ons werk te geniet (Pred. 2:24). Ons sal veral besig wees gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy. Dié wat die groot verdrukking oorleef en die miljoene wat opgewek gaan word, sal klere nodig hê, sowel as kos en ’n plek om te bly. Om daardie dinge te voorsien, sal ons baie werk hê om te doen maar dit sal werk wees wat ons sal geniet. Net soos Adam en Eva die aarde moes bewerk, sal ons die voorreg hê om die aarde ’n paradys te maak. Dink ook hoe lekker dit sal wees om die miljoene mense wat opgewek word en wat min oor Jehovah en sy doel vir die mens weet, te leer en om getroues wat lank voor Jesus se tyd gelewe het, te help om meer te leer!
7. Waarvan kan ons seker wees, en hoekom?
7 Ons kan seker wees dat die lewe in die toekomstige Paradys vreedsaam, voorspoedig en goed georganiseerd sal wees. Hoekom? Omdat Jehovah ons alreeds ’n voorsmakie gegee het van hoe die lewe onder sy Seun se heerskappy sal wees. Ons kan dit sien in die verslag van koning Salomo se heerskappy.
KONING SALOMO SE HEERSKAPPY – ’N VOORSMAKIE VAN DIE PARADYS
8. Hoe het die woorde in Psalm 37:10, 11, 29 waar geword nadat koning Dawid dit neergeskryf het? (Sien “Vrae van lesers” in hierdie nommer.)
8 Koning Dawid was geïnspireer om te skryf hoe die lewe sou wees wanneer ’n toekomstige wyse en getroue koning op die troon sou sit. (Lees Psalm 37:10, 11, 29.) Ons lees dikwels Psalm 37:11 vir ander wanneer ons oor die toekomstige Paradys praat. Ons het goeie rede om dit te doen omdat Jesus daardie vers in sy Bergpredikasie aangehaal het, wat wys dat dit in die toekoms sal waar word (Matt. 5:5). Maar Dawid se woorde het ook gewys hoe die lewe sou wees in koning Salomo se dag. Toe Salomo oor Israel regeer het, het God se volk spesiale vrede en voorspoed geniet in ’n land “wat oorloop van melk en heuning”. God het gesê: “As julle aanhou om my wetsbepalings te volg . . . , sal [ek] vir julle vrede gee in die land, en julle sal gaan lê sonder dat enigiemand julle bang maak” (Lev. 20:24; 26:3, 6). Daardie beloftes het waar geword toe Salomo regeer het (1 Kron. 22:9; 29:26-28). En Jehovah het hulle belowe dat goddelose mense “nie daar [sou] wees nie” (Ps. 37:10). So die woorde in Psalm 37:10, 11, 29 het in die verlede waar geword, en dit sal ook in die toekoms waar word.
9. Wat het die koningin van Skeba oor koning Salomo se heerskappy gesê?
9 Die koningin van Skeba het gehoor van die vrede en voorspoed wat die Israeliete onder Salomo se heerskappy geniet het. Sy het van ’n ver land na Jerusalem gereis om die situasie self te sien (1 Kon. 10:1). Nadat sy Salomo se koninkryk geïnspekteer het, het sy gesê: “Hulle het my nie eers die helfte vertel nie! . . . Gelukkig is u manne en gelukkig is u knegte wat heeltyd voor u staan en na u wysheid luister!” (1 Kon. 10:6-8). Maar die toestande onder Salomo se heerskappy was maar net ’n voorsmakie van wat Jehovah vir mense sal doen wanneer Sy Seun, Jesus, regeer.
10. Hoe is Jesus beter as Salomo?
10 Jesus is in elke opsig beter as Salomo. Salomo was ’n onvolmaakte man wat ernstige foute gemaak het wat uiteindelik probleme vir God se volk veroorsaak het. Maar Jesus is ’n volmaakte Heerser wat geen foute maak nie (Luk. 1:32; Heb. 4:14, 15). Jesus het verskriklike moeilike toetse geslaag wat Satan oor hom gebring het. Christus het bewys dat hy nooit sal sondig of enige iets sal doen wat sleg sal wees vir sy lojale onderdane nie. Dit is regtig ’n voorreg om hom as ons Koning te hê.
11. Wie sal Jesus help regeer?
11 Jesus sal 144 000 medeheersers hê wat saam met hom sal werk om vir alle mense te sorg en om Jehovah se doel vir die aarde te vervul (Op. 14:1-3). Hulle het baie probleme en moeilike tye deurgemaak toe hulle mans en vrouens was, so hulle sal medeheersers wees wat simpatie sal hê. Wat sal hulle doen?
WATTER ROL SAL DIE GESALFDES SPEEL?
12. Watter werk sal Jehovah vir die 144 000 gee?
12 Die werk wat Jesus en sy medeheersers het om te doen, is baie groter as die werk wat Salomo gehad het. Daardie Israelitiese koning moes vir miljoene mense in net een land sorg. Maar dié wat in God se Koninkryk regeer, sal help om vir miljarde mense regoor die wêreld te sorg. Jehovah het werklik vir die 144 000 ’n groot voorreg gegee!
13. Watter spesiale verantwoordelikheid het Jesus se medeheersers?
13 Soos Jesus, sal die 144 000 as konings en priesters dien (Op. 5:10). Onder die Wet van Moses was die priesters hoofsaaklik verantwoordelik om die volk se fisiese gesondheid te beskerm terwyl hulle seker gemaak het dat hulle geestelik gesond is. Die Wet was “’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge,” so dit is redelik om te dink dat Jesus se medeheersers sal help om te sorg vir die fisiese en geestelike behoeftes van God se volk (Heb. 10:1). Ons sal moet wag en sien presies hoe hierdie konings en priesters met onderdane van die Koninkryk wat op die aarde is, sal kommunikeer. Wat Jehovah ook al reël, ons kan seker wees dat dié op die aarde in die toekomstige Paradys die leiding sal kry wat hulle nodig het. – Op. 21:3, 4.
WAT MOET DIE “ANDER SKAPE” DOEN OM TE KWALIFISEER OM IN DIE PARADYS TE LEWE?
14. Wat is die verhouding tussen die “ander skape” en Christus se broers?
14 Jesus het dié wat saam met hom sal regeer ’n “klein kuddetjie” genoem (Luk. 12:32). Hy het ook van ’n tweede groep gepraat wat hy die “ander skape” genoem het. Hierdie twee groepe is een verenigde kudde (Joh. 10:16). Hierdie twee groepe werk alreeds saam, en hulle sal voortgaan om saam te werk terwyl die aarde in ’n paradys verander word. Teen daardie tyd sal die “klein kuddetjie” natuurlik al in die hemel wees, en die “ander skape” sal die hoop hê om vir ewig op die aarde te lewe. Maar daar is dinge wat die “ander skape” nou moet doen om te kwalifiseer om in die Paradys te lewe.
15. (a) Hoe werk die “ander skape” saam met Christus se broers? (b) Hoe kan jy die voorbeeld van die broer in die apteek navolg? (Sien prent.)
15 Die berouvolle misdadiger het gesterf voordat hy die geleentheid gehad het om sy waardering vir Christus te wys. Maar ons as die “ander skape” het nou baie geleenthede om te wys hoe ons oor Jesus voel. Byvoorbeeld, ons wys ons liefde vir hom deur die manier hoe ons sy geesgesalfde broers behandel. Jesus het gesê dat hy die skape daarvolgens sal oordeel (Matt. 25:31-40). Ons kan Christus se broers ondersteun deur hulle ywerig in die predikings- en dissipelmaakwerk te help (Matt. 28:18-20). Dit is hoekom ons goed gebruik wil maak van die Bybelstudiehulpe wat hulle vir ons gee, soos die Geniet die lewe vir ewig!-boek. As jy nog nie ’n Bybelstudie met iemand hou nie, hoekom maak jy dit nie ’n doelwit om vir soveel mense as wat jy kan ’n Bybelstudie aan te bied nie?
16. Wat kan ons nou doen om voor te berei om ’n onderdaan van God se Koninkryk te wees?
16 Ons hoef nie te wag totdat ons in die Paradys lewe om die soort mens te word wat Jehovah daar wil hê nie. Ons kan nou al hard probeer om eerlik te wees wanneer dit kom by wat ons sê en doen en om ’n gebalanseerde lewe te lei. En ons kan lojaal wees aan Jehovah, aan ons huweliksmaat en aan ons broers en susters. As ons Jehovah nou in hierdie goddelose wêreld gehoorsaam, sal dit vir ons makliker wees om hom in die Paradys te gehoorsaam. Ons kan ook vaardighede en eienskappe ontwikkel om te wys dat ons voorberei om dan te lewe. Sien die artikel “Is jy gereed om die aarde te ontvang?” in hierdie nommer.
17. Moet ons mismoedig voel oor ons vorige sondes? Verduidelik.
17 Ons moet ook probeer om nie skuldig te voel oor ernstige sondes van die verlede nie. Ons wil natuurlik nooit die losprysoffer beskou as ’n verskoning om “opsetlik sonde [te] beoefen” nie (Heb. 10:26-31). Maar ons kan seker wees dat Jehovah ons heeltemal vergewe het as ons opreg berou getoon het oor ’n ernstige sonde, Jehovah en die ouermanne vir hulp gevra het en ons gedrag verander het (Jes. 55:7; Hand. 3:19). Onthou Jesus se woorde aan die Fariseërs: “Ek het nie gekom om regverdige mense te roep nie, maar sondaars” (Matt. 9:13). Die losprysoffer is kragtig genoeg om al ons sondes te bedek.
JY KAN VIR EWIG IN DIE PARADYS LEWE
18. Waaroor sou jy graag met die misdadiger wou praat wat langs Jesus gesterf het?
18 Kan jy jouself in die Paradys sien terwyl jy praat met die misdadiger wat langs Jesus was? Albei van julle sou seker sê hoe baie julle Jesus se offerande waardeer. Jy kan vir hom vra om jou meer te vertel oor wat gedurende die laaste paar ure van Jesus se lewe op die aarde gebeur het en hoe dit gevoel het toe Jesus sy vraag beantwoord. En miskien sal hy vir jou vra hoe dit was om deur die laaste dae van Satan se wêreld te lewe. Dit sal ’n voorreg wees om God se Woord met mense soos daardie man te studeer! – Ef. 4:22-24.
19. Hoekom sal die lewe in die Paradys nie vervelig wees nie? (Sien prent op voorblad.)
19 Die lewe in die Paradys sal nooit vervelig wees nie. Daar sal altyd interessante mense wees om te ontmoet en werk wees wat ons sal geniet. Die beste van alles is dat ons elke dag ons hemelse Vader beter sal kan leer ken en sal geniet wat hy voorsien het. Daar sal altyd meer dinge wees wat ons oor hom en oor sy skepping sal kan leer. Hoe langer ons lewe, hoe dieper sal ons liefde vir God wees. Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah en teenoor Jesus omdat hulle ons die belofte gegee het dat ons vir ewig in die Paradys kan lewe!
LIED 22 Die Koninkryk regeer — Laat dit kom!
a Dink jy dikwels aan hoe die lewe in die Paradys sal wees? Dit is aanmoedigend om dit te doen. Hoe meer ons nadink oor wat Jehovah in die toekoms vir ons sal doen, hoe meer entoesiasties sal ons wees wanneer ons ander oor die nuwe wêreld leer. Hierdie artikel sal help om ons geloof te versterk in Jesus se belofte van ’n toekomstige paradys
b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat hoop om dié te leer wat opgewek word, leer alreeds ander.