Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

Ons kan vir ewig lewe

Ons kan vir ewig lewe

“Die gawe wat God gee, is die ewige lewe.” – ROM. 6:23.

LIED 147 Die belofte van ewige lewe

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Watter uitwerking het dit op ons wanneer ons nadink oor Jehovah se belofte van die ewige lewe?

 JEHOVAH belowe dat dié wat hom gehoorsaam “die ewige lewe” sal hê (Rom. 6:23). Wanneer ons nadink oor wat Jehovah vir ons bied, word ons liefde vir hom beslis sterker. Dink net: Ons hemelse Vader is so lief vir ons dat hy vir ons hierdie geskenk bied sodat ons nooit van hom geskei sal word nie.

2. Hoe help die belofte van die ewige lewe ons?

2 God se belofte van die ewige lewe help ons om die probleme wat ons nou het, te verduur. Selfs al dreig ons vyande om ons dood te maak, sal ons nie ophou om Jehovah te dien nie. Hoekom nie? Een rede is omdat ons weet dat as ons getrou aan Jehovah sterf, hy ons uit die dood sal opwek met die hoop om nooit weer te sterf nie (Joh. 5:28, 29; 1 Kor. 15:55-58; Heb. 2:15). Hoekom kan ons seker wees dat dit vir ons moontlik is om vir ewig te lewe? Kyk na die volgende redes.

JEHOVAH LEWE VIR EWIG

3. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah vir ons die vermoë kan gee om vir ewig te lewe? (Psalm 102:12, 24, 27)

3 Ons weet dat Jehovah vir ons die vermoë kan gee om vir ewig te lewe omdat hy die Bron van lewe is en omdat hy vir ewig lewe (Ps. 36:9). Hier is ’n paar Bybelverse wat bewys dat Jehovah nog altyd bestaan het en altyd sal bestaan. Psalm 90:2 sê dat Jehovah “van ewigheid tot ewigheid” is. Psalm 102 sê iets soortgelyks. (Lees Psalm 102:12, 24, 27.) En die profeet Habakuk het oor ons hemelse Vader geskryf en gesê: “Bestaan u nie al vir ewig nie, o Jehovah? O my God, my Heilige, u sterf nie.” – Hab. 1:12.

4. Moet dit ons bekommer as dit vir ons moeilik is om te verstaan dat Jehovah nog altyd bestaan het? Verduidelik.

4 Is dit vir jou moeilik om te verstaan dat Jehovah nog altyd bestaan het? (Jes. 40:28). Jy is nie die enigste persoon wat dit moeilik vind nie. Elihu het van God gesê: “Ons kan nie verstaan hoe oud hy is nie” (Job 36:26). Maar net omdat ons nie iets verstaan nie beteken nie dat dit nie waar is nie. Byvoorbeeld, ons verstaan dalk nie heeltemal hoe elektrisiteit werk nie, maar beteken dit dat dit nie bestaan nie? Glad nie! Net so, sal ons as mense dalk nooit heeltemal verstaan hoe dit moontlik is dat Jehovah nog altyd bestaan het en altyd sal bestaan nie. Maar dit beteken nie dat God nie vir ewig lewe nie. Die Skepper is nie beperk deur wat ons kan of nie kan verstaan nie (Rom. 11:33-36). En hy het bestaan voordat enige iets in die heelal bestaan het, insluitende dinge soos die son en sterre. Jehovah verseker ons dat hy “die Maker van die aarde deur sy krag” is. Ja, hy het bestaan voordat hy “die hemel uitgespan het” (Jer. 51:15; Hand. 17:24). Wat is nog ’n rede hoekom ons seker kan wees dat dit vir ons moontlik is om vir ewig te lewe?

ONS IS GESKEP OM VIR EWIG TE LEWE

5. Watter hoop het die eerste mensepaartjie gehad?

5 Alle lewende dinge wat Jehovah op die aarde geskep het, sou uiteindelik sterf behalwe mense. Hy het vir hulle die unieke hoop gegee om nooit te sterf nie. Maar Jehovah het Adam gewaarsku: “Jy mag nie eet van die boom van die kennis van wat goed en wat sleg is nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy beslis sterf” (Gen. 2:17). As Adam en Eva aan Jehovah gehoorsaam was, sou hulle nie gesterf het nie. Dit is redelik om te glo dat Jehovah hulle uiteindelik sou toelaat om van “die boom van die lewe” te eet. Dit sou beteken dat hulle sy versekering het dat hulle “vir ewig [sou] lewe”. b – Gen. 3:22.

6-7. (a) Wat wys nog dat mense nie veronderstel is om te sterf nie? (b) Aan watter belangstellings sal jy graag meer tyd wil spandeer? (Sien prente.)

6 Dit is interessant dat party navorsers sê dat daar wetenskaplike bewyse is dat ons brein die kapasiteit het om baie meer inligting te stoor as wat ons gedurende ons lewe kan bymekaarmaak. In 2010 het ’n artikel in die tydskrif Scientific American Mind gesê dat ons brein omtrent 2,5 miljoen gigagreep inligting kan stoor. Dit is dieselfde hoeveelheid as drie miljoen uur (meer as 300 jaar) van TV-programme. En ons brein kan heel moontlik baie meer inligting as dit stoor. Maar dit wys dat Jehovah ons brein ontwerp het om baie meer inligting te hanteer as wat ons in net 70 of 80 jaar kan bymekaarmaak. – Ps. 90:10.

7 Jehovah het ons ook geskep met ’n sterk begeerte om te bly lewe. Die Bybel sê dat God “die ewigheid in [mense se] hart gesit” het (Pred. 3:11). Dit is een rede hoekom ons die dood as ’n vyand sien (1 Kor. 15:26). Sê nou ons word ernstig siek. Aanvaar ons dit net en gee ons op? Nee. Gewoonlik gaan ons dokter toe en soms gebruik ons medikasie om die siekte te behandel. Om die waarheid te sê, ons doen alles wat ons kan om nie te sterf nie. En wanneer iemand vir wie ons lief is, sterf, of daardie persoon nou jonk of oud is, voel ons vir ’n lang ruk baie hartseer (Joh. 11:32, 33). Ons liefdevolle Skepper sou beslis nie vir ons die begeerte en die vermoë gegee het om vir ewig te lewe as hy nie wou hê dat mense vir ewig moes lewe nie. Maar daar is selfs meer redes om te glo dat ons vir ewig kan lewe. Kom ons kyk na ’n paar dinge wat Jehovah in die verlede gedoen het en wat hy nou doen wat wys dat hy nie sy oorspronklike doel verander het nie.

Met die ewige lewe wat vir ons voorlê, geniet ons dit om te dink aan die dinge wat ons in die toekoms sal kan doen (Sien paragraaf 7) c

JEHOVAH SE DOEL HET NIE VERANDER NIE

8. Wat leer ons uit Jesaja 55:11 oor Jehovah se doel vir ons?

8 Al het Adam en Eva gesondig en die dood aan hulle kinders oorgedra, het Jehovah nie sy doel vir ons verander nie. (Lees Jesaja 55:11.) Sy doel is nog steeds dat getroue mense vir ewig lewe. So ’n gevolgtrekking is duidelik wanneer ons kyk na die dinge wat Jehovah gesê en gedoen het om sy doel te bereik.

9. Wat het God belowe? (Daniël 12:2, 13)

9 Jehovah het belowe dat hy die dooies sal opwek en vir hulle die geleentheid sal gee om vir ewig te lewe (Hand. 24:15; Tit. 1:1, 2). Die getroue man Job was seker dat Jehovah dié wat gesterf het, baie graag wil opwek (Job 14:14, 15). Die profeet Daniël het geweet dat mense die hoop het om opgewek te word met die kans om vir ewig te lewe. (Ps. 37:29; lees Daniël 12:2, 13.) Jode in Jesus se dag het ook geweet dat Jehovah “die ewige lewe” vir sy getroue knegte kon gee (Luk. 10:25; 18:18). Jesus het baie keer van hierdie belofte gepraat, en hy is self deur sy Vader opgewek. – Matt. 19:29; 22:31, 32; Luk. 18:30; Joh. 11:25.

Waarvan verseker die opstanding wat Elia gedoen het jou? (Sien paragraaf 10)

10. Wat bewys opstandings van die verlede? (Sien prent.)

10 Jehovah is die Lewegewer en het die krag om mense weer lewend te maak. Hy het die profeet Elia die krag gegee om die seun van die weduwee van Sarfat op te wek (1 Kon. 17:21-23). Die profeet Elisa het later met God se hulp die seun van ’n Sunammitiese vrou opgewek (2 Kon. 4:18-20, 34-37). Hierdie en ander opstandings bewys dat Jehovah die krag het om mense weer lewend te maak. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy bewys dat sy Vader vir hom daardie krag gegee het (Joh. 11:23-25, 43, 44). Jesus is nou in die hemel en “alle gesag in die hemel en op die aarde” is aan hom gegee. En daarom is hy in ’n posisie om die belofte te vervul dat “almal wat in die gedenkgrafte is,” opgewek sal word met die hoop om vir ewig te lewe. – Matt. 28:18; Joh. 5:25-29.

11. Hoe maak die losprys dit vir ons moontlik om vir ewig te lewe?

11 Hoekom het Jehovah sy geliefde seun toegelaat om ’n pynlike dood te sterf? Jesus het die antwoord gegee toe hy gesê het: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Deur sy Seun as ’n losprys te gee om ons sondes te bedek, maak God dit vir ons moontlik om die ewige lewe te verkry (Matt. 20:28). Die apostel Paulus het hierdie belangrike deel van God se doel opgesom toe hy geskryf het: “Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, kom die opstanding van die dooies ook deur ’n mens. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.” – 1 Kor. 15:21, 22.

12. Hoe sal die Koninkryk help om Jehovah se doel vir ons te bereik?

12 Jesus het sy volgelinge geleer om te bid dat God se Koninkryk moet kom en dat God se wil op die aarde moet plaasvind (Matt. 6:9, 10). Deel van God se doel is dat mense vir ewig op die aarde moet lewe. Om dit te bereik, het Jehovah sy Seun aangestel as Koning van die Messiaanse Koninkryk. God is besig om 144 000 mense van die aarde bymekaar te maak om saam met Jesus te werk om God se wil te vervul. – Op. 5:9, 10.

13. Wat doen Jehovah nou, en hoe is jy daarby betrokke?

13 Jehovah maak nou “’n groot menigte” mense bymekaar en lei hulle op om onder die heerskappy van sy Koninkryk te lewe (Op. 7:9, 10; Jak. 2:8). Al lewe ons vandag in ’n wêreld wat verdeeld is deur haat en oorlog, werk hierdie groep mense hard om alle soorte haat te oorkom. Hulle is alreeds besig om op ’n simboliese manier van hulle swaarde ploegskare te maak (Miga 4:3). In plaas daarvan om aan oorloë deel te neem wat soveel dood veroorsaak, help hulle mense om “die werklike lewe” te vind deur hulle te leer oor die ware God en sy doel vir die mens (1 Tim. 6:19). Familielede draai dalk teen hulle of hulle kry dalk finansieel swaar omdat hulle God se Koninkryk ondersteun, maar Jehovah maak seker dat hulle die dinge het wat hulle nodig het (Matt. 6:25, 30-33; Luk. 18:29, 30). Hierdie feite verseker ons dat God se Koninkryk ’n werklikheid is en dat dit sal aanhou om Jehovah se doel te vervul.

’N PRAGTIGE TOEKOMS LÊ VOOR

14-15. Hoe sal Jehovah se belofte om die dood vir ewig te vernietig, uiteindelik vervul word?

14 Jesus is nou die Koning van God se Koninkryk in die hemel, en hy sal al die beloftes vervul wat Jehovah gemaak het (2 Kor. 1:20). Vanaf 1914 is Jesus besig om sy vyande te onderwerp (Ps. 110:1, 2). Hy en dié wat saam met hom regeer, sal binnekort goddelose mense vernietig. – Op. 6:2.

15 Gedurende Jesus se Duisendjarige Heerskappy sal hy die dooies opwek en gehoorsame mense help om volmaak te word. Ná die finale toets sal dié wat deur Jehovah as regverdig geoordeel word “die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe” (Ps. 37:10, 11, 29). En “die laaste vyand, die dood, sal vernietig word”. – 1 Kor. 15:26.

16. Wat moet die belangrikste rede wees hoekom ons Jehovah dien?

16 Soos ons gesien het, is ons hoop om vir ewig te lewe, gebaseer op God se Woord. Daardie hoop kan ons help om lojaal te bly gedurende hierdie moeilike laaste dae. Maar om Jehovah gelukkig te maak, moet ons gemotiveer word deur meer as net ’n begeerte om te bly lewe. Die hoofrede hoekom ons lojaal aan Jehovah en Jesus bly, is omdat ons hulle baie liefhet (2 Kor. 5:14, 15). Daardie liefde motiveer ons om hulle na te volg en om die hoop wat ons het, met ander te deel (Rom. 10:13-15). Terwyl ons leer om onselfsugtig en vrygewig te wees, word ons die soort mense wat Jehovah vir ewig as sy vriende wil hê. – Heb. 13:16.

17. Watter persoonlike verantwoordelikheid het ons? (Matteus 7:13, 14)

17 Sal ons onder dié wees wat die ewige lewe verkry? Jehovah het vir ons daardie geleentheid gegee. Dit hang nou van ons af om op die pad te bly wat tot die lewe lei. (Lees Matteus 7:13, 14.) Hoe sal die lewe wees wanneer ons vir ewig lewe? Ons sal die antwoord op daardie vraag in die volgende artikel bespreek.

LIED 141 Die lewenswonderwerk

a Sien jy uit daarna om vir ewig te lewe? Jehovah het ons belowe dat ons eendag vir ewig sal kan lewe sonder om ooit bekommerd te wees dat ons gaan sterf. Hierdie artikel sal net ’n paar van die redes ondersoek hoekom ons heeltemal oortuig kan wees dat Jehovah sy belofte sal nakom.

b Sien die venster “ ‘Vir ewig’ in die Bybel”.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Bejaarde broer dink aan party dinge wat hy vir ewig in die toekoms kan geniet.