Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

Vind vrede gedurende ’n krisis

Vind vrede gedurende ’n krisis

“Moenie dat julle harte bekommerd of bang word nie.” – JOH. 14:27.

LIED 112 Jehovah, God van vrede

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat is “die vrede van God,” en hoe kan dit ons help as ons dit het? (Filippense 4:6, 7)

 DAAR is ’n soort vrede wat mense in hierdie wêreld glad nie ken nie. Dit is “die vrede van God,” dit wil sê die kalmte wat ’n mens ondervind wanneer jy ’n kosbare verhouding met ons hemelse Vader het. Wanneer ons die vrede van God het, voel ons veilig. (Lees Filippense 4:6, 7.) Ons geniet hegte vriendskappe met ander wat hom liefhet. En ons geniet ’n sterk, persoonlike verhouding met “die God van vrede” (1 Tess. 5:23). Wanneer ons ons Vader ken, hom vertrou en hom gehoorsaam, kan die vrede van God ons angstige hart kalmeer wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan.

2. Hoekom kan ons seker wees dat dit moontlik is om die vrede van God te hê?

2 Is dit regtig moontlik om die vrede van God te vind wanneer ons ’n krisis ondervind, soos wanneer daar ’n siekte uitbreek, daar ’n ramp of burgerlike onrus is of wanneer ons vervolg word? Enige een van hierdie ernstige probleme kan ons baie bang maak. Maar Jesus het die volgende raad vir sy volgelinge gegee: “Moenie dat julle harte bekommerd of bang word nie” (Joh. 14:27). Baie van ons broers en susters het Jesus se raad gevolg. Met Jehovah se hulp is dit vir hulle moontlik om vrede te vind terwyl hulle deur baie moeilike tye gaan.

HOE OM VREDE TE VIND WANNEER SIEKTES UITBREEK

3. Hoe kan ’n epidemie of ’n pandemie ons vrede wegneem?

3 ’n Epidemie of ’n pandemie kan amper elke deel van ’n mens se lewe drasties verander. Kyk na die impak wat COVID-19 op baie mense gehad het. In een studie het meer as die helfte van die mense gesê dat hulle gesukkel het om gedurende hierdie pandemie te slaap. Daar was ook ’n groot toename in angstigheid, depressie, alkohol- en dwelmmisbruik, sowel as gesinsgeweld, en meer mense het probeer selfmoord pleeg. As daar ’n siekte uitbreek waar jy bly, hoe kan jy minder angstig voel en die vrede van God geniet?

4. Hoekom bring die feit dat ons weet van Jesus se profesie oor die laaste dae vir ons vrede?

4 Jesus het voorspel dat daar gedurende die laaste dae vreeslike siektes “op die een plek ná die ander” sou wees (Luk. 21:11). Hoe bring die feit dat ons dit weet vir ons vrede? Ons is nie verbaas wanneer siektes uitbreek nie. Ons besef dat hierdie dinge gebeur net soos Jesus gesê het dit sou. Daarom het ons goeie rede om die raad te volg wat Jesus gegee het aan dié wat gedurende die tyd van die einde lewe: “Moenie bang wees nie.” – Matt. 24:6.

Om na oudio-opnames van die Bybel te luister, kan jou help om innerlike vrede te hê wanneer daar ’n siekte uitbreek (Sien paragraaf 5)

5. (a) Waarvoor moet ons bid wanneer daar ’n siekte uitbreek, volgens Filippense 4:8, 9? (b) Hoe kan dit jou help wanneer jy na die oudio-opnames van die Bybel luister?

5 Wanneer daar ’n siekte uitbreek, kan dit ons baie bekommerd en bang laat voel. Dit het gebeur met ’n suster met die naam Desi. b Nadat haar oom, neef en dokter almal aan COVID-19 gesterf het, was sy bang dat sy die virus sou kry en haar bejaarde ma sou aansteek. As gevolg van die pandemie was sy bekommerd dat sy haar werk sou verloor, en sy het nie geweet waar sy geld sou kry om kos te koop en haar huurgeld te betaal nie. Sy was so bekommerd oor hierdie dinge dat sy nie saans kon slaap nie. Maar Desi het haar vrede teruggekry. Hoe? Sy het spesifiek gebid dat Jehovah haar help om kalm te bly en om positiewe dinge te dink. (Lees Filippense 4:8, 9.) Sy het gehoor hoe Jehovah met haar “praat” deur oudio-opnames van die Bybel. Sy sê: “Die lesers se kalm stemme het my gekalmeer en my herinner aan Jehovah se genade.” – Ps. 94:19.

6. Hoe sal persoonlike studie en gemeentelike vergaderinge jou help?

6 Wanneer daar ’n siekte uitbreek, sal dit nie altyd vir jou moontlik wees om die dinge te doen wat jy gewoonlik sou doen nie. Maar moenie toelaat dat dit met jou persoonlike studie of vergaderingbywoning inmeng nie. Die ondervindinge in ons publikasies en video’s sal jou herinner dat jou broers en susters hulle integriteit behou, al het hulle soortgelyke uitdagings (1 Pet. 5:9). Vergaderinge sal jou help om aan positiewe Bybelgedagtes te dink. Dit sal jou ook geleenthede gee om ander aan te moedig en om aangemoedig te word (Rom. 1:11, 12). Wanneer jy dink oor hoe Jehovah sy aanbidders ondersteun het toe hulle siek, bang of eensaam was, sal dit jou geloof versterk en sal dit jou oortuig dat hy jou ook sal ondersteun.

7. Watter les kan jy by die apostel Johannes leer?

7 Reik uit na jou broers en susters. Wanneer daar ’n siekte uitbreek, moet ons dalk fisiese afstand behou selfs wanneer ons saam met ons broers en susters is. Wanneer dit gebeur, voel jy dalk soos die apostel Johannes. Hy wou sy vriend Gajus in persoon sien (3 Joh. 13, 14). Maar Johannes het besef dat hy Gajus vir ’n ruk lank nie sou kon sien nie. Daarom het Johannes gedoen wat hy kon; hy het vir Gajus ’n brief geskryf. As dit nie altyd vir jou moontlik is om jou broers en susters in persoon te besoek nie, kan jy hulle probeer kontak deur hulle te bel, video-oproepe te maak of vir hulle teksboodskappe te stuur. Wanneer jy in kontak bly met jou broers en susters sal jy nie so alleen voel nie en kalmer wees. Kontak die ouermanne as jy baie angstig voel, en aanvaar hulle liefdevolle aanmoediging. – Jes. 32:1, 2.

HOE OM VREDE TE VIND WANNEER DAAR ’N RAMP IS

8. Hoe kan ’n ramp jou vrede wegneem?

8 As jy al ooit ’n oorstroming, ’n aardbewing of ’n brand ondervind het, sal jy dalk daarna nog vir ’n lang ruk baie angstig voel. As jy geliefdes in die dood verloor het of as jou besittings vernietig was, het jy dalk baie hartseer, hopeloos of selfs kwaad gevoel. Dit beteken nie dat jy materialisties is of dat jy min geloof het nie. Jy het deur ’n moeilike tyd gegaan, en party verwag dalk dat jy negatief sal reageer (Job 1:11). Maar al gaan jy deur moeilike tye, kan jy nog steeds vrede vind. Hoe?

9. Wat het Jesus gesê om ons vir rampe voor te berei?

9 Onthou wat Jesus voorspel het. Party mense dink dat hulle nooit ’n ramp sal ondervind nie, maar ons weet dat daar in ons tyd meer rampe sal wees wat ons dalk kan affekteer. Jesus het vir sy volgelinge gesê dat daar “groot aardbewings” en ander rampe sou wees voordat die einde kom (Luk. 21:11). Hy het ook voorspel dat daar “al hoe meer wetteloosheid” sou wees, wat ons vandag sien gebeur, soos misdaad, geweld en terroriste-aanvalle (Matt. 24:12). Jesus het nooit gesê dat hierdie tragedies net mense sou affekteer wat deur Jehovah verlaat is nie. Om die waarheid te sê, baie van Jehovah se getroue knegte is al deur rampe geraak (Jes. 57:1; 2 Kor. 11:25). Jehovah sal ons dalk nie deur ’n wonderwerk teen alle rampe beskerm nie, maar hy sal vir ons gee wat ons ook al nodig het om kalm te bly en om vrede te hê.

10. Hoe wys dit dat ons geloof het as ons nou vir ’n ramp voorberei? (Spreuke 22:3)

10 Dit sal vir ons makliker wees om kalm te bly in ’n noodgeval as ons vooraf beplan het hoe ons gaan reageer. Maar wys dit dat ons min geloof in Jehovah het as ons vir ’n ramp voorberei? Glad nie. Om die waarheid te sê, om vir ’n ramp voor te berei, wys dat ons wel geloof het in sy vermoë om vir ons te sorg. Hoe so? God se Woord moedig ons aan om vir moontlike rampe voor te berei. (Lees Spreuke 22:3.) En deur middel van artikels in tydskrifte, gemeentelike vergaderinge en aankondigings het God se organisasie ons oor en oor aangemoedig om vir ’n noodgeval voor te berei. c Vertrou ons Jehovah? As dit die geval is, sal ons daardie raad nou volg – voordat ’n ramp ons tref.

Om vooruit te beplan kan jou help om ’n ramp te oorleef (Sien paragraaf 11) d

11. Wat leer jy uit Margaret se voorbeeld?

11 Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Margaret. Sy was beveel om haar huis te verlaat nadat ’n veldbrand in haar gebied uitgebreek het. Omdat so baie mense op dieselfde tyd probeer vlug het, was daar te veel karre op die paaie, en niemand kon beweeg nie. Daar was baie swart rook in die lug, en Margaret was ’n ruk lank in haar kar vasgevang. Maar sy het dit oorleef omdat sy voorbereid was. Sy het ’n kaart in haar beursie gehou wat sy kon gebruik om ’n ander roete te vind om uit haar gebied te kom. Sy het selfs voor die tyd daardie roete gebruik sodat sy dit in ’n noodgeval maklik kon volg. Omdat Margaret voorbereid was, het sy die ondervinding oorleef.

12. Hoekom volg ons die instruksies wat ons kry om ons veilig te hou?

12 Om ons en ander veilig te hou, sal die owerhede ons dalk vra om teen ’n sekere tyd by die huis te wees, om te ontruim of om ander praktiese stappe te neem. Party mense vat lank om te reageer of hulle stel dit uit omdat hulle aan hulle besittings wil vashou. Hoe reageer Christene? Die Bybel sê vir ons: “Onderwerp julle ter wille van die Here aan elke menslike instelling, of dit nou aan ’n koning is, wat die hoogste posisie het, of aan goewerneurs, wat deur die koning gestuur is” (1 Pet. 2:13, 14). God se organisasie gee ons ook riglyne om ons veilig te hou. Ons word gereeld daaraan herinner om ons huidige kontakbesonderhede vir die ouermanne te gee sodat hulle ons gedurende ’n noodgeval kan kontak. Het jy dit al gedoen? Ons sal dalk ook gevra word om op dieselfde plek te bly, om te ontruim en om noodvoorraad te kry, of ons sal dalk riglyne kry oor hoe en wanneer om ander te help. As ons nie gehoorsaam is nie, kan ons ons lewe en die ouermanne se lewens in gevaar stel. Onthou dat hierdie getroue mans oor ons waak (Heb. 13:17). Margaret het gesê: “Ek glo vas dat dit my lewe gered het omdat ek die riglyne van die ouermanne en die organisasie gevolg het.”

13. Wat het baie Christene wat hulle huise moes verlaat vreugde en vrede gegee?

13 Baie broers en susters wat hulle huise moes verlaat as gevolg van ’n ramp, oorlog of burgerlike onrus het hulle bes gedoen om by hulle nuwe situasie aan te pas en om onmiddellik weer aan teokratiese aktiwiteite deel te neem. Hulle hou aan om “die goeie nuus van die woord bekend [te maak]”, soos die vroeë Christene wat as gevolg van vervolging verstrooi was (Hand. 8:4). Die predikingswerk help hulle om op die Koninkryk te fokus eerder as op hulle moeilike omstandighede. As gevolg daarvan het hulle hulle vreugde en vrede behou.

HOE OM VREDE TE VIND WANNEER ONS VERVOLG WORD

14. Hoe kan vervolging ons vrede wegneem?

14 Wanneer ons vervolg word, kan ons baie dinge verloor wat gewoonlik vir ons vrede gee. Ons is gelukkig en tevrede wanneer ons vryelik saam ontmoet, openlik preek en wanneer ons die dinge doen wat ons gewoonlik doen sonder om bang te wees dat ons gearresteer gaan word. As ons nie daardie dinge kan doen nie, sal ons dalk angstig word en bang wees vir wat volgende gaan gebeur. Hierdie gevoelens is normaal. Maar ons moet versigtig wees. Jesus het gesê dat vervolging sy volgelinge kan laat struikel (Joh. 16:1, 2). So hoe kan ons ons vrede behou wanneer ons vervolg word?

15. Hoekom moet ons nie bang wees vir vervolging nie? (Johannes 15:20; 16:33)

15 God se Woord sê vir ons: “Almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:12). ’n Broer met die naam Andrei het gesukkel om daardie feit te aanvaar nadat die werk in sy land verbied was. Hy het gedink: ‘Daar is te veel Getuies hier. Hoe kan die owerheid ons almal arresteer?’ Maar in plaas daarvan dat dit vir Andrei vrede gegee het, het dit hom heeltyd angstig laat voel. Ander broers het die saak in Jehovah se hande gelos en nie hulleself probeer oortuig dat hulle nie gearresteer sou word nie. Hulle het geweet dat hulle dalk gearresteer sou word, maar hulle het nie so angstig soos Andrei gevoel nie. Hy het toe besluit om hulle gesindheid na te volg en om ten volle op Jehovah te vertrou. Kort daarna het hy innerlike vrede gehad, en nou vind hy vreugde, al is daar nog steeds baie uitdagings. Dit kan ook met ons die geval wees. Al het Jesus vir ons gesê dat ons vervolging moet verwag, het hy ons ook verseker dat ons getrou kan bly. – Lees Johannes 15:20; 16:33.

16. Watter riglyne moet ons gehoorsaam wanneer ons vervolg word?

16 Wanneer ons werk verbied of erg beperk is, sal ons dalk instruksies van die takkantoor en die ouermanne ontvang. Dit is bedoel om ons te beskerm, om seker te maak dat ons geestelike kos bly ontvang en om ons te help om sover moontlik aan te hou met die predikingswerk. Doen jou bes om die riglyne te gehoorsaam wat jy ontvang, selfs al verstaan jy nie heeltemal hoekom dit gegee word nie (Jak. 3:17). Moet ook nooit inligting oor ons broers en susters of oor gemeentelike aktiwiteite deel met mense wat nie die reg daarop het nie. – Pred. 3:7.

Wat sal jou help om vrede te hê, al gaan jy deur moeilike tye? (Sien paragraaf 17) e

17. Soos die apostels in die eerste eeu, wat is ons vasbeslote om te doen?

17 Een van die hoofredes hoekom Satan teen God se volk oorlog voer, is omdat hulle “die werk het om van Jesus te getuig” (Op. 12:17). Moenie toelaat dat Satan en sy wêreld jou intimideer nie. Dit maak ons gelukkig en gee ons vrede wanneer ons vir mense preek en hulle onderrig, al word ons teëgestaan. In die eerste eeu toe die Joodse owerhede die apostels beveel het om op te hou preek, het daardie getroue mans gekies om God te gehoorsaam. Hulle het aanhou preek, en daardie werk het hulle gelukkig gemaak (Hand. 5:27-29, 41, 42). Wanneer ons werk beperk is, moet ons natuurlik versigtig wees wanneer ons preek (Matt. 10:16). Maar as ons ons bes doen, sal ons die vrede ondervind wat ’n mens kry wanneer jy Jehovah gelukkig maak en ’n lewensreddende boodskap verkondig.

“DIE GOD VAN VREDE SAL MET JULLE WEES”

18. Wat moet ons onthou oor die Bron van die vrede wat ons nodig het?

18 Wees oortuig dat ons vrede kan hê selfs gedurende die moeilikste tye. Gedurende sulke tye moet ons onthou dat die vrede wat ons nodig het die vrede van God is, dit wil sê die vrede wat net Jehovah kan gee. Vertrou op hom wanneer daar ’n siekte uitbreek, ’n ramp is of wanneer ons vervolg word. Bly na aan sy organisasie. Fokus op die wonderlike toekoms wat op jou wag. Terwyl jy dit doen, sal “die God van vrede . . . met [jou] wees” (Fil. 4:9). In die volgende artikel sal ons kyk hoe ons ons broers en susters wat deur moeilike tye gaan, kan help om die vrede van God te hê.

LIED 38 Hy maak jou sterk

a Jehovah belowe om vrede te gee aan dié wat hom liefhet. Wat is die vrede wat God gee, en hoe kan ons dit vind? Hoe kan “die vrede van God” ons help wanneer daar ’n siekte uitbreek, wanneer daar ’n ramp is of wanneer ons vervolg word? Hierdie artikel sal daardie vrae beantwoord.

b Party name is verander.

c Sien die artikel “Wanneer ’n ramp tref—Hoe lewens gered kan word” in die Ontwaak!, nr. 5 2017.

d BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Suster het vooruitbeplan om haar huis te verlaat.

e BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer wat bly waar ons predikingswerk beperk is, is versigtig terwyl hy aanhou preek.