Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 50

Geloof en werke kan tot regverdigheid lei

Geloof en werke kan tot regverdigheid lei

“[Volg] die geloof [na] wat ons vader Abraham gehad het.” – ROM. 4:12.

LIED 119 Ons moet geloof hê

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Watter vraag vra ons dalk wanneer ons aan Abraham se geloof dink?

 AL HET baie mense al van Abraham gehoor, weet die meeste eintlik min oor hom. Maar jy weet baie oor Abraham. Jy weet byvoorbeeld dat Abraham al “die vader . . . van almal wat geloof het,” genoem is (Rom. 4:11). Maar jy wonder dalk: ‘Kan ek Abraham se voetstappe volg en die soort geloof hê wat hy gehad het?’ Ja, jy kan.

2. Hoekom is dit belangrik om Abraham se voorbeeld te bestudeer? (Jakobus 2:​22, 23)

2 Een manier hoe ons geloof soos dié van Abraham kan ontwikkel, is deur sy voorbeeld te bestudeer. Abraham het altyd gedoen wat God hom beveel het. Hy het na ’n ver land getrek, dekades lank in tente gebly en was bereid om sy geliefde seun Isak op te offer. Hierdie dinge wys dat hy sterk geloof gehad het. As gevolg van Abraham se geloof en werke het hy God se goedkeuring en vriendskap verkry. (Lees Jakobus 2:​22, 23.) Jehovah wil hê dat ons almal – insluitende jy – daardie selfde seëninge moet geniet. Daarom het hy die Bybelskrywers Paulus en Jakobus geïnspireer om na Abraham se voorbeeld te verwys. Kom ons fokus op sy voorbeeld, soos dit bespreek word in Romeine hoofstuk 4 en Jakobus hoofstuk 2. Albei hoofstukke verwys na ’n wonderlike stelling wat oor Abraham gemaak is.

3. Uit watter Bybelvers het Paulus en Jakobus aangehaal?

3 Paulus en Jakobus het uit Genesis 15:6 aangehaal, wat sê: “[Abraham] het geloof in Jehovah gestel, en daarom het Hy hom as regverdig beskou.” Regverdigheid verwys basies na die toestand waarin ’n persoon deur God as aanvaarbaar, selfs onberispelik, beskou word. Dit is so wonderlik dat ’n onvolmaakte, sondige mens deur God as regverdig of onberispelik beskou kan word! Jy wil beslis hê dat God jou as regverdig moet beskou, en dit is moontlik. Om uit te vind hoe dit van ons gesê kan word, moet ons verstaan hoekom dit van Abraham gesê kon word.

GELOOF IS NOODSAAKLIK VIR REGVERDIGHEID

4. Wat keer dat mense as regverdig beskou word?

4 In sy brief aan die Romeine het Paulus gesê dat alle mense sondaars is (Rom. 3:23). Hoe kan enige iemand dan as regverdig of onberispelik beskou word en God se goedkeuring verkry? Om alle opregte Christene te help om daardie vraag te beantwoord, het Paulus Abraham se voorbeeld gebruik.

5. Op grond waarvan het Jehovah Abraham regverdig verklaar? (Romeine 4:​2-4)

5 Jehovah het Abraham regverdig verklaar terwyl hy in die land Kanaän gebly het. Hoekom kon Jehovah Abraham regverdig verklaar? Was dit omdat Abraham heeltemal gehoorsaam was aan die Wet van Moses? Beslis nie (Rom. 4:13). Daardie Wet is aan die nasie Israel gegee meer as 400 jaar nadat God Abraham regverdig verklaar het. So op grond waarvan het God Abraham dan regverdig verklaar? In Sy onverdiende goedheid het Jehovah Abraham regverdig verklaar as gevolg van sy geloof. – Lees Romeine 4:​2-4.

6. Hoe verklaar Jehovah ’n sondaar regverdig?

6 Paulus het gesê dat ’n persoon wat geloof in God stel, “weens sy geloof as regverdig beskou word” (Rom. 4:5). Paulus het bygevoeg: “Net so het Dawid gepraat van die mens wat gelukkig is omdat hy sonder werke deur God as regverdig beskou word. Dawid het gesê: ‘Gelukkig is die mense wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is. Gelukkig is die mens aan wie se sonde Jehovah nie sal dink nie’” (Rom. 4:​6-8; Ps. 32:​1, 2). God vergewe of bedek die sondes van dié wat geloof in hom stel. Hy vergewe hulle heeltemal en dink nie meer aan hulle sondes nie. Hy beskou sulke persone as regverdig op grond van hulle geloof.

7. In watter sin was getroue aanbidders regverdig?

7 Al was Abraham, Dawid en ander getroue aanbidders van God regverdig verklaar, was hulle nog steeds onvolmaakte sondaars. Maar as gevolg van hulle geloof het God hulle as regverdig beskou, veral wanneer hulle vergelyk word met dié wat nie geloof in hom gehad het nie (Ef. 2:12). Paulus maak dit in sy brief aan die Romeine duidelik dat geloof noodsaaklik is om ’n persoonlike verhouding met God te hê. Dit was waar in die geval van Abraham en Dawid, en dit is ook in ons geval waar.

WAT IS DIE VERBAND TUSSEN GELOOF EN WERKE?

8-9. Tot watter verkeerde gevolgtrekking het party mense gekom uit Paulus en Jakobus se briewe, en hoekom?

8 Godsdiensleiers stry al honderde jare lank oor die verhouding tussen geloof en werke. Party godsdiensleiers leer dat jy net in die Here Jesus Christus moet glo om gered te word. Jy het hulle dalk al hoor sê: “Aanvaar Jesus en word gered.” Godsdiensleiers haal dalk selfs Paulus se woorde aan dat iemand “sonder werke deur God as regverdig beskou word” (Rom. 4:6). Maar ander sê dat jy gered kan word as jy plekke besoek wat deur die kerk as heilig beskou word en as jy goeie dade doen. Hulle haal dalk Jakobus 2:24 aan: “’n Mens [sal] regverdig verklaar . . . word deur werke en nie net deur geloof nie.”

9 As gevolg van hierdie verskillende oortuigings het party godsdiensskrywers tot die gevolgtrekking gekom dat Paulus en Jakobus nie saamgestem het oor die onderwerp van geloof en werke nie. Party godsdiensleiers gee te kenne dat Paulus geglo het dat ’n mens regverdig genoem word deur geloof sonder werke, maar dat Jakobus geleer het dat werke noodsaaklik is om God se goedkeuring te hê. ’n Godsdiensprofessor het gesê: “Jakobus het nie verstaan hoekom Paulus beklemtoon het dat iemand [regverdig verklaar word] deur geloof alleen en nie deur werke nie.” Maar Jehovah het Paulus en Jakobus geïnspireer om te skryf wat hulle geskryf het (2 Tim. 3:16). So daar moet ’n redelike verduideliking wees vir die verskil tussen wat Paulus en Jakobus gesê het. Ons moet kyk na die konteks van hulle briewe om wat hulle gesê het, beter te verstaan.

Paulus het vir Joodse Christene in Rome gesê dat geloof nodig is, nie werke van die Wet van Moses nie (Sien paragraaf 10) b

10. Watter “werke” het Paulus hoofsaaklik bespreek? (Romeine 3:​21, 28) (Sien ook prent.)

10 Op watter “werke” het Paulus in Romeine 3 en 4 gefokus? Hy het hoofsaaklik verwys na “werke van die wet”, die wet van Moses, wat op die berg Sinai gegee is. (Lees Romeine 3:​21, 28.) Dit lyk asof party Joodse Christene in Paulus se dag gesukkel het om te aanvaar dat hulle nie meer volgens die Wet van Moses moes lewe nie en nie meer die werke moes doen wat deur daardie Wet vereis was nie. Daarom het Paulus Abraham se voorbeeld gebruik om te bewys dat ’n regverdige standpunt voor God nie die gevolg is van “werke van die wet” nie. Paulus het eerder verduidelik dat ons geloof nodig het. Dit is aanmoedigend omdat dit ons leer dat geloof in God en in Christus in werklikheid tot God se goedkeuring kan lei.

Jakobus het Christene aangemoedig om hulle geloof deur “werke” te wys, soos deur goeie dinge sonder partydigheid te doen (Sien paragraaf 11-12) c

11. Watter soort “werke” het Jakobus beklemtoon?

11 Aan die ander kant is die “werke” wat in Jakobus hoofstuk 2 bespreek word, nie die “werke van die wet” wat Paulus genoem het nie. Jakobus verwys na die werke of aktiwiteite wat Christene in hulle daaglikse lewe doen. Sulke werke wys of ’n Christen opregte geloof in God het of nie. Kyk na twee voorbeelde wat Jakobus gebruik het.

12. Hoe het Jakobus die verband tussen geloof en werke verduidelik? (Sien ook prent.)

12 In die eerste voorbeeld het Jakobus verduidelik dat Christene onpartydig moet wees wanneer hulle met ander te doen het. Hy het hierdie punt geïllustreer met die geval van ’n man wat ’n ryk persoon voorgetrek het maar neergesien het op ’n arm persoon. Jakobus het gesê dat so ’n man dalk sê dat hy geloof het, maar waar is sy werke wat daarmee ooreenstem? (Jak. 2:​1-5, 9). As ’n tweede voorbeeld het Jakobus iemand genoem wat ‘’n broer of ’n suster gesien het wat nie klere of kos het nie’ maar nie praktiese hulp voorsien het nie. Selfs as daardie persoon sê dat hy geloof het, het sy dade gewys dat hy nie geloof het nie. Soos Jakobus geskryf het “is geloof sonder werke . . . dood”. – Jak. 2:​14-17.

13. Hoe het Jakobus sy punt oor geloof in aksie verduidelik? (Jakobus 2:​25, 26)

13 Jakobus het na Ragab verwys as ’n positiewe voorbeeld van geloof in aksie. (Lees Jakobus 2:​25, 26.) Sy het van Jehovah gehoor en het erken dat hy die Israeliete ondersteun (Jos. 2:​9-11). Sy het haar geloof deur haar dade gewys – sy het twee Israelitiese spioene beskerm toe hulle lewens in gevaar was. As gevolg daarvan is hierdie onvolmaakte, nie-Israelitiese vrou regverdig verklaar, net soos Abraham. Die voorbeeld wat sy gestel het, beklemtoon hoe belangrik dit is om deur ons dade te wys dat ons geloof het.

14. Hoe stem Paulus en Jakobus se briewe met mekaar ooreen?

14 Die twee Bybelskrywers Paulus en Jakobus het geloof en werke maar net op twee verskillende maniere verduidelik. Paulus het vir die Joodse Christene gesê dat hulle nooit Jehovah se goedkeuring kon kry deur net werke van die Wet van Moses te doen nie. Jakobus het beklemtoon dat alle Christene hulle geloof moet wys deur goeie dinge vir ander te doen.

Beweeg jou geloof jou om werke te doen wat Jehovah goedkeur? (Sien paragraaf 15)

15. Wat is ’n paar maniere hoe ons kan wys dat ons geloof het? (Sien ook prente.)

15 Jehovah sê nie dat ons presies moet doen wat Abraham gedoen het as ons regverdig verklaar wil word nie. Om die waarheid te sê, daar is baie maniere hoe ons ons geloof deur ons werke kan wys. Ons kan nuwes in die gemeente verwelkom, broers en susters help wat dit regtig nodig het en goeie dinge vir ons familielede doen, wat alles dinge is wat God sal goedkeur en sal seën (Rom. 15:7; 1 Tim. 5:​4, 8; 1 Joh. 3:18). Een van die belangrikste maniere hoe ons kan wys dat ons geloof het, is deur die goeie nuus ywerig met ander te deel (1 Tim. 4:16). Ons almal kan deur ons dade wys dat ons geloof het dat Jehovah se beloftes sal waar word en dat sy manier van dinge doen die beste is. En as ons dit doen, kan ons die volle vertroue hê dat God ons as regverdig sal beskou en ons sy vriende sal noem.

HOOP IS NOODSAAKLIK VIR GELOOF

16. Hoe het hoop verband gehou met Abraham se geloof?

16 Romeine hoofstuk 4 beklemtoon nog ’n belangrike les wat ons by Abraham kan leer: die belangrikheid van hoop. Jehovah het belowe dat “baie nasies” deur Abraham geseën sou word. Dink net wat ’n wonderlike hoop Abraham gehad het! (Gen. 12:3; 15:5; 17:4; Rom. 4:17). Maar selfs toe Abraham 100 jaar oud en Sara 90 was, is die beloofde seun nog nie gebore nie. Uit ’n menslike oogpunt het dit onmoontlik gelyk vir Abraham en Sara om ’n seun te hê. Dit was ’n ware toets vir Abraham. “Tog [het hy] op grond van hoop geloof gehad dat hy die vader van baie nasies sou word” (Rom. 4:​18, 19). En uiteindelik het dit waarvoor Abraham gehoop het, waar geword. Hy het toe die pa van Isak geword, die seun waarvoor hy so lank gehoop het. – Rom. 4:​20-22.

17. Hoe weet ons dat ons as God se vriende regverdig beskou kan word?

17 Ons kan God se goedkeuring hê en as sy vriende regverdig beskou word, soos Abraham. Dit is wat Paulus beklemtoon het toe hy geskryf het: “Die woorde ‘is hy as regverdig beskou’, is nie net vir [Abraham] geskryf nie, maar ook vir ons, wat as regverdig beskou sal word omdat ons in Hom glo wat Jesus . . . opgewek het” (Rom. 4:​23, 24). Soos Abraham moet ons geloof en werke sowel as hoop hê. Paulus bespreek ons hoop verder in Romeine hoofstuk 5, wat ons in die volgende artikel sal bespreek.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

a Ons wil God se goedkeuring hê en deur hom as regverdig beskou word. Deur middel van Paulus en Jakobus se briewe sal hierdie artikel bespreek hoe dit moontlik is en hoe ons geloof en ons werke daarby betrokke is om Jehovah se goedkeuring te verkry.

b BESKRYWING VAN PRENT: Paulus het Joodse Christene aangemoedig om op geloof te fokus, nie op “werke van die wet” nie, soos om ’n blou garing op jou kleed te dra, die Pasga te vier en rituele te volg soos om hande te was.

c BESKRYWING VAN PRENT: Jakobus het mense aangemoedig om geloof te wys deur goeie dinge vir ander te doen, soos om die armes te help.