Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

Geniet ’n hoop sonder teleurstelling

Geniet ’n hoop sonder teleurstelling

“Hoop lei nie tot teleurstelling nie.” – ROM. 5:5.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom het Abraham aanhou hoop vir ’n seun?

 JEHOVAH het sy vriend Abraham belowe dat al die nasies van die aarde deur middel van sy nageslag geseën sou word (Gen. 15:5; 22:18). Omdat Abraham sterk geloof in God gehad het, was hy oortuig dat God se belofte sou waar word. Maar toe Abraham amper 100 jaar oud was en sy vrou 90 was, het daardie getroue paartjie nog steeds nie ’n seun gehad nie (Gen. 21:​1-7). Tog sê die Bybel dat “[Abraham] op grond van hoop geloof gehad [het] dat hy die vader van baie nasies sou word, volgens wat gesê is” (Rom. 4:18). Jy weet dat Abraham se hoop vervul is. Hy het toe die pa vir die seun geword waarvoor hy baie lank gehoop het, Isak. Wat was die grondslag vir Abraham se vertroue?

2. Hoekom was Abraham oortuig dat Jehovah se belofte sou waar word?

2 As gevolg van sy sterk persoonlike verhouding met Jehovah was Abraham “heeltemal daarvan oortuig dat . . . wat [God] belowe het”, sou waar word (Rom. 4:21). Jehovah het Abraham goedgekeur en hom regverdig verklaar as gevolg van sy geloof (Jak. 2:23). Soos Romeine 4:18 wys, was daar ’n verband tussen Abraham se geloof en sy hoop. Kom ons kyk nou na wat die apostel Paulus oor hoop sê, soos opgeteken is in hoofstuk 5 van Romeine.

3. Wat verduidelik Paulus oor hoop?

3 Paulus verduidelik hoekom ons seker kan wees dat ons “hoop . . . nie tot teleurstelling [lei] nie” (Rom. 5:5). Hy help ons ook om te verstaan hoe ons Christelike hoop sterker kan word. Terwyl ons die proses ondersoek wat Paulus in Romeine 5:​1-5 noem, dink aan jou eie ondervinding. As jy dit doen, sal jy heel moontlik besef dat jou Christelike hoop met verloop van tyd sterker geword het. Ons bespreking sal ook wys hoe jy jou hoop selfs sterker kan laat word as wat dit nou is. Kom ons bespreek eers ’n wonderlike hoop wat volgens Paulus nie tot teleurstelling sal lei nie.

ONS WONDERLIKE HOOP

4. Wat word in Romeine 5:​1, 2 bespreek?

4 Lees Romeine 5:​1, 2. Paulus het daardie woorde aan die gemeente in Rome geskryf. Die broers en susters daar het geleer oor Jehovah en Jesus, het geloof beoefen en het Christene geword. Daarom het God hulle “weens geloof regverdig verklaar”, en hy het hulle met heilige gees gesalf. Ja, hulle kon uitsien na ’n vaste, wonderlike hoop.

5. Watter hoop het gesalfdes?

5 Paulus het later aan gesalfde Christene in Efese geskryf oor die hoop wat God hulle gegee het. Hulle sou “’n erfenis vir die heiliges” ontvang (Ef. 1:18). En Paulus het ook vir die Kolossense gesê waar hulle hoop vervul sou word. Hy het dit “die hoop wat in die hemel op julle wag” genoem (Kol. 1:​4, 5). So die hoop wat gesalfde Christene het, is dat hulle tot ewige lewe in die hemel opgewek sal word, waar hulle saam met Christus sal regeer. – 1 Tess. 4:​13-17; Op. 20:6.

Broer F.W. Franz het gesê dat gesalfde Christene volle vertroue het in hulle hoop (Sien paragraaf 6)

6. Wat het een gesalfde broer gesê oor sy hoop?

6 Daardie hoop is vir gesalfde Christene kosbaar. Een van hulle, broer Frederick Franz, het in 1991 gesê hoe hy oor hierdie hoop voel: “Ons hoop is seker, en dit sal vir elkeen van die 144 000 lede van die klein kuddetjie ten volle vervul word in ’n mate wat ons verstand te bowe gaan.” Nadat broer Franz God vir baie jare getrou gedien het, het hy gesê: “[Ons] het nie ons waardering vir daardie hoop verloor nie. . . . Ons waardeer dit des te meer hoe langer ons daarvoor moet wag. Dit is die moeite werd om daarvoor te wag, al moet ons ’n miljoen jaar wag. Ek stel ons hoop nou meer as ooit tevore op prys.”

7-8. Watter hoop het die meeste mense? (Romeine 8:​20, 21)

7 Die meeste mense wat Jehovah vandag aanbid, het ’n ander hoop. Dit is die hoop wat Abraham gehad het – ewige lewe op aarde onder God se Koninkryk (Heb. 11:​8-10, 13). Paulus het oor hierdie wonderlike hoop geskryf. (Lees Romeine 8:​20, 21.) Waarna het jy die meeste uitgesien toe jy eers geleer het van die Bybel se belofte vir die toekoms? Was dit die feit dat jy eendag volmaak sal wees en nie meer sal sondig nie? Of was jy opgewonde om uit te vind dat jou geliefdes wat gesterf het weer op ’n paradysaarde sal lewe? Dit het jou baie gegee om na uit te sien “op grond van die hoop”.

8 Of ons nou verwag om ewige lewe in die hemel of op die aarde te geniet, ons het ’n wonderlike hoop wat ons ’n rede gee om bly te wees. En ons vreugdevolle hoop kan selfs sterker word. Wat Paulus volgende skryf, verduidelik hoe dit kan gebeur. Kom ons bespreek wat hy geskryf het oor ons hoop. As ons dit doen, sal dit ons meer oortuig dat ons hoop aanhoudend sterker sal word en ons nooit sal teleurstel nie.

HOE HOOP STERKER WORD

Alle Christene kan verwag dat hulle deur die een of ander moeilike tyd sal gaan (Sien paragraaf 9-10)

9-10. Soos Paulus se voorbeeld wys, wat kan Christene verwag? (Romeine 5:3) (Sien ook prente.)

9 Lees Romeine 5:3. Paulus het genoem dat ons hoop dalk sterker sal word wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit verbaas ons dalk. Maar alle volgelinge van Christus kan verwag dat hulle deur moeilike tye sal gaan. Kyk na Paulus se voorbeeld. Hy het vir dié in Tessalonika gesê: “Toe ons by julle was, het ons julle vooraf gesê dat ons deur moeilike tye sal gaan, en dit is ook wat gebeur het” (1 Tess. 3:4). En hy het aan die Korintiërs geskryf: “Broers, ons wil hê dat julle moet weet van die moeilike tye wat ons . . . deurgemaak het . . . Ons het selfs gedink dat ons gaan sterf.” – 2 Kor. 1:8; 11:​23-27.

10 Vandag kan Christene ook verwag om deur die een of ander moeilike tyd te gaan (2 Tim. 3:12). Wat van jou? Het jy al deur moeilike tye gegaan omdat jy geloof in Jesus stel en hom volg? Jou vriende en familielede het jou dalk gespot. Hulle het jou dalk selfs wreed behandel. Het jou vasbeslotenheid om in alles eerlik te wees vir jou probleme by die werk veroorsaak? (Heb. 13:18). Het jy teenstand van die regering ondervind omdat jy jou hoop met ander gedeel het? Maar maak nie saak deur watter moeilike tyd ons dalk gaan nie, Paulus het gesê dat ons bly moet wees. Hoekom?

11. Hoekom moet ons vasbeslote wees om enige moeilike tyd te verduur?

11 Ons kan bly wees selfs wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan omdat ons weet dat dit ons kan help om ’n belangrike eienskap te ontwikkel. Soos Romeine 5:3 sê, lei “swaarkry tot volharding”. Alle Christene sal deur moeilike tye gaan, so alle Christene moet volharding hê. Ons moet vasbeslote wees om te volhard, maak nie saak deur watter moeilike tye ons dalk gaan nie. Net dan sal ons die vervulling van ons hoop kan sien. Ons wil nie soos dié wees wat Jesus in gedagte gehad het toe hy gepraat het oor saad wat op ’n rotsagtige plek geval het nie. Hulle het eers die woord met vreugde aanvaar, maar nadat “verdrukking of vervolging” ontstaan het, het hulle gestruikel (Matt. 13:​5, 6, 20, 21). Dit is waar dat teenstand of moeilike tye nie maklik is nie, maar as ons dit verduur, sal ons daarby baat vind en aanhou om Jehovah getrou te dien. Op watter manier?

12. Hoe vind ons baat wanneer ons moeilike tye verduur?

12 Die dissipel Jakobus het gesê wat die voordele daarvan is wanneer ons volhard gedurende moeilike tye. Hy het geskryf: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks te kort skiet nie” (Jak. 1:​2-4). So, Jakobus sê dat volharding ’n werk het om te doen, ’n doel. Dit kan jou help om meer geduld te ontwikkel, om meer geloof te hê en om meer op God te vertrou. Maar ons vind op nog ’n ander belangrike manier baat wanneer ons volhard gedurende moeilike tye.

13-14. Wat gebeur wanneer ons volhard, en hoe hou dit verband met hoop? (Romeine 5:4)

13 Lees Romeine 5:4. Paulus noem dat volharding tot “’n goedgekeurde toestand” lei. Jou volharding bring Jehovah se goedkeuring. Dit beteken nie dat Jehovah bly is wanneer jy moeilike tye of probleme ondervind nie. Jy is die een wat God se goedkeuring het. Jou volharding lei tot ’n goedgekeurde toestand. Wat ’n wonderlike seëning! – Ps. 5:12.

14 Onthou dat Abraham toetse getrou verduur het en God se goedkeuring geniet het. Jehovah het hom as Sy vriend beskou en hom as regverdig beskou (Gen. 15:6; Rom. 4:​13, 22). Dieselfde kan van ons gesê word. God baseer nie sy goedkeuring op die hoeveelheid werk wat ons in sy diens doen of op die voorregte wat ons geniet nie. Jehovah keur ons goed wanneer ons getrou volhard. En maak nie saak wat ons ouderdom, omstandighede of vermoëns is nie, ons almal kan volhard. Verduur jy nou ’n moeilike tyd en bly jy lojaal aan Jehovah? As dit die geval is, onthou dat jy God se goedkeuring het. As ons besef dat ons God se goedkeuring het, kan dit ’n kragtige uitwerking op ons hê. Dit kan ons hoop versterk.

’N STERKER HOOP

15. Wat het Paulus in Romeine 5:​4, 5 gesê, en hoekom vind party dit dalk moeilik om te verstaan?

15 Soos Paulus verduidelik het, verkry ons Jehovah se goedkeuring as ons getrou volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan. Kyk hoe Paulus voortgaan met sy bespreking: “Die goedgekeurde toestand lei tot hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie” (Rom. 5:​4, 5). Party vind dit dalk moeilik om te verstaan. Hoekom? Omdat Paulus vroeër, soos opgeteken in Romeine 5:​2, gesê het dat daardie Christene in Rome alreeds ’n hoop gehad het, “die hoop . . . om heerlikheid van God te ontvang”. Daarom vra iemand dalk: ‘As daardie Christene alreeds ’n hoop gehad het, hoekom noem Paulus hoop later in sy bespreking?’

Met verloop van tyd het jy sekerder geword dat jou hoop vervul sal word. Jy sien meer as ooit daarna uit en waardeer dit meer (Sien paragraaf 16-17)

16. Hoe begin hoop in ’n persoon groei? (Sien ook prente.)

16 Ons kan verstaan wat Paulus bedoel het wanneer ons in gedagte hou dat hoop iets is wat groei. Dink hieraan: Onthou jy toe jy eers gehoor het van die wonderlike hoop in God se Woord? Jy het dalk op daardie stadium gedink dat die idee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe maar net ’n droom is. Maar terwyl jy Jehovah beter leer ken het en meer oor die Bybel se beloftes geleer het, het jy meer oortuig geword dat hierdie hoop ’n werklikheid sou word.

17. Hoe hou jou hoop aanhou groei selfs ná jou toewyding en doop?

17 Selfs ná jou toewyding en doop het jou hoop aanhou groei terwyl jy meer oor Jehovah geleer het en geestelik volwasse geword het (Heb. 5:13–6:1). Jy het heel moontlik ondervind wat genoem word in Romeine 5:​2-4. Jy het verskillende moeilike tye deurgemaak, maar jy het dit verduur, en Jehovah het gewys dat jy sy goedkeuring het. Omdat jy God se goedkeuring het, het jy nou ’n selfs groter rede om te verwag dat jy die dinge sal ontvang wat hy belowe het. Jou hoop het sterker geword as wat dit eers was. Dit is vir jou werkliker, persoonliker. Dit raak jou dieper – dit beïnvloed elke aspek van jou lewe en verander hoe jy jou familie behandel, hoe jy besluite maak en selfs hoe jy jou tyd gebruik.

18. Watter waarborg gee Jehovah?

18 Die apostel voeg ’n baie belangrike punt by oor die hoop wat jy het nadat jy God se goedkeuring ontvang. Hy verseker jou dat jou hoop vervul sal word. Hoekom kan jy so seker wees? Paulus noem hierdie geïnspireerde waarborg aan Christene: “Die hoop lei nie tot teleurstelling nie, want die heilige gees, wat aan ons gegee is, het ons harte gevul met die liefde van God” (Rom. 5:5). Jy het alle rede om seker te wees van daardie hoop – jou hoop.

19. Waarvan kan jy seker wees wanneer dit kom by jou hoop?

19 Dink na oor Jehovah se belofte aan Abraham en oor hoe God hom goedgekeur het en hom as Sy vriend beskou het. Abraham het nie verniet gehoop nie. Die Bybel sê: “Nadat Abraham geduldig gewag het, het hy hierdie belofte ontvang” (Heb. 6:15; 11:​9, 18; Rom. 4:​20-22). Hy was beslis nie teleurgestel nie. Jy kan net so seker wees dat jou hoop vervul sal word as jy getrou bly. Jou hoop is werklik; dit is ’n rede om bly te wees, jy sal nie teleurgestel word nie! (Rom. 12:12). Paulus het geskryf: “Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vul omdat julle op hom vertrou, sodat julle hoop oorvloedig kan wees met die krag van die heilige gees.” – Rom. 15:13.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons Christelike hoop vir die toekoms is en hoekom ons seker kan wees dat dit vervul sal word. Romeine hoofstuk 5 sal ons help om te sien hoe die hoop wat ons nou het, verskil van die hoop wat ons gehad het toe ons eers die waarheid geleer het.