Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 53

Jong broers – Word volwasse Christenmans

Jong broers – Word volwasse Christenmans

“Wees [sterk] en wys dat jy ’n man is.” – 1 KON. 2:2.

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat moet ’n Christenman doen om suksesvol te wees?

 KONING Dawid het vir Salomo gesê: “Wees [sterk] en wys dat jy ’n man is” (1 Kon. 2:​1-3). Daardie raad is belangrik vir alle Christenmans van vandag. Om suksesvol te wees, moet hulle leer om God se wette te gehoorsaam en om Bybelbeginsels toe te pas in alle aspekte van hulle lewens (Luk. 2:52). Hoekom is dit so belangrik vir jong broers om volwasse Christenmans te word?

2-3. Hoekom is dit vir ’n jong broer belangrik om ’n volwasse Christen te word?

2 ’n Christenman vervul baie belangrike rolle in die gesin en in die gemeente. Jong broers, julle het sekerlik al gedink aan die verantwoordelikhede wat julle dalk in die toekoms kan hê. Jy het dalk die doelwit om ’n voltydse dienaar, ’n bedieningskneg en later ’n gemeentelike ouerman te word. Jy wil dalk ook trou en kinders hê (Ef. 6:4; 1 Tim. 3:1). Om hierdie doelwitte te bereik en suksesvol te wees, moet jy ’n volwasse Christen word. b

3 Wat kan jou help om ’n volwasse Christen te word? Daar is belangrike vaardighede wat jy moet aanleer. So wat kan jy nou doen om voor te berei vir en om ’n sukses te maak van enige toekomstige rolle wat jy dalk sal moet vervul?

STAPPE OM ’N VOLWASSE CHRISTEN TE WORD

As jy Jesus se uitstekende eienskappe navolg, kan dit jou help om ’n volwasse Christenman te word (Sien paragraaf 4)

4. Waar kan jy goeie voorbeelde vind om na te volg? (Sien ook prent.)

4 Kies goeie voorbeelde om na te volg. Die Bybel is vol goeie voorbeelde wat jong mans kan navolg. Daardie mans van die verlede was lief vir God en het verskillende verantwoordelikhede gehad om vir sy volk te sorg. Jy kan ook goeie voorbeelde vind onder die volwasse Christenmans in jou eie gesin en in jou gemeente (Heb. 13:7). En jy het die volmaakte voorbeeld van Jesus Christus (1 Pet. 2:21). Terwyl jy hierdie voorbeelde mooi bestudeer, dink aan die eienskappe wat jy in hierdie mans bewonder (Heb. 12:​1, 2). Besluit dan hoe jy hierdie mans sal navolg.

5. Hoe kan jy denkvermoë ontwikkel, en hoekom is dit belangrik? (Psalm 119:9)

5 Ontwikkel en “bewaar . . . denkvermoë” (Spr. 3:21). ’n Man met denkvermoë dink mooi oor sy opsies voordat hy optree. So werk hard daaraan om daardie vermoë te ontwikkel en te behou. Hoekom? Hierdie wêreld is vol jong mans wat gelei word deur hulle eie idees of wat toelaat dat emosies hulle optrede beheer (Spr. 7:7; 29:11). Die media kan ook ’n sterk invloed op jou hê. Maar hoe kan jy denkvermoë ontwikkel? Begin deur Bybelbeginsels te leer en te dink oor hoekom dit goed is vir jou. Gebruik dan daardie beginsels om jou te help om besluite te maak wat Jehovah gelukkig sal maak. (Lees Psalm 119:9.) As jy hierdie belangrike vaardigheid ontwikkel, sal dit jou baie help om ’n volwasse Christenman te word (Spr. 2:​11, 12; Heb. 5:14). Kyk hoe denkvermoë jou in die volgende twee situasies sal help: (1) wanneer jy met susters te doen het en (2) wanneer jy besluite maak oor jou persoonlike voorkoms.

6. Hoe sal denkvermoë ’n jong broer help om respek vir susters te wys?

6 Denkvermoë sal jou help om respek vir vrouens te wys. Dit is normaal en gepas vir ’n jong broer om daarin belang te stel om ’n verhouding met ’n Christensuster te begin. Maar ’n jong man met denkvermoë sal niks sê of skryf of doen wat haar sal laat dink dat hy met haar wil uitgaan as hy nie met haar wil trou nie (1 Tim. 5:​1, 2). As hy met ’n suster uitgaan, sal hy haar goeie reputasie beskerm deur nooit alleen saam met haar te wees sonder ’n goeie chaperone nie. – 1 Kor. 6:18.

7. Hoe sal denkvermoë ’n jong broer help wanneer hy keuses maak wanneer dit kom by kleredrag en voorkoms?

7 Nog ’n manier hoe ’n jong man wys dat hy goeie denkvermoë ontwikkel het, is deur goeie keuses te maak wanneer dit kom by kleredrag en voorkoms. Nuwe modes word baie keer ontwerp en bevorder deur mense wat geen respek vir Jehovah het nie of wat onsedelike lewens lei. Hulle onsedelike denke kan gesien word in klerestyle wat styf is of wat mans soos vrouens laat lyk. Wanneer ’n jong man wat leer om ’n volwasse Christen te word, kies wat om te dra, sal hy gelei word deur Bybelbeginsels en deur goeie voorbeelde in die gemeente. Hy kan homself vra: ‘Wys my keuses dat ek goeie oordeel het en dat ek ander respekteer? Maak die manier hoe ek aantrek dit vir ander maklik om te glo dat ek God regtig dien?’ (1 Kor. 10:​31-33; Tit. 2:6). ’n Jong man met denkvermoë sal nie net die respek van sy broers en susters wen nie, maar ook dié van sy hemelse Vader.

8. Hoe kan ’n jong broer leer om betroubaar te wees?

8 Wees betroubaar. ’n Jong man wat betroubaar is, kom al sy verantwoordelikhede deeglik na (Luk. 16:10). Dink aan die volmaakte voorbeeld van Jesus. Hy was nooit nalatig of onverantwoordelik nie. Hy het eerder die toewysings uitgevoer wat Jehovah hom gegee het, selfs wanneer dit moeilik was om dit te doen. Hy was lief vir mense – veral vir sy dissipels – en hy het gewilliglik sy lewe vir hulle gegee (Joh. 13:1). Volg Jesus na en werk hard om enige toewysing uit te voer wat jy kry. As jy nie seker is hoe om dit te doen nie, wees nederig en vra volwasse broers om jou te help. Moet nooit daarmee tevrede wees om net die absolute minimum te doen nie (Rom. 12:11). Voer eerder jou toewysing uit en doen dit “vir Jehovah en nie vir mense nie” (Kol. 3:23). Jy is natuurlik nie volmaak nie, so wees nederig en erken enige foute wat jy maak. – Spr. 11:2.

LEER PRAKTIESE VAARDIGHEDE AAN

9. Hoekom moet ’n jong broer praktiese vaardighede aanleer?

9 Om ’n volwasse Christenman te word, sal jy praktiese vaardighede moet aanleer. Dit sal jou help om verantwoordelikhede in die gemeente te aanvaar, om ’n sekulêre werk te behou, om jouself of ’n gesin te onderhou en om gesonde verhoudings met ander te hê. Kyk na ’n paar van hierdie noodsaaklike vaardighede.

As jy goed lees en skryf, sal dit jou en die gemeente help (Sien paragraaf 10-11)

10-11. Hoe sal dit ’n jong broer en die gemeente help as hy leer om goed te lees en te skryf? (Psalm 1:​1-3) (Sien ook prent.)

10 Leer om goed te lees en te skryf. Die Bybel sê dat ’n gelukkige en suksesvolle man God se Woord elke dag lees en daaroor nadink. (Lees Psalm 1:​1-3.) Deur die Bybel elke dag te lees, sal hy leer hoe Jehovah dink, wat hom sal help om reguit te dink en om goed te redeneer (Spr. 1:​3, 4). Sulke mans is nodig in die gemeente. Hoekom?

11 Ons broers en susters maak staat op bekwame mans vir Bybelgebaseerde onderrigting en raad (Tit. 1:9). As jy goed kan lees en skryf, sal jy goeie, geloofversterkende toesprake en antwoorde kan voorberei. Jy sal ook betekenisvolle notas kan maak terwyl jy studeer en terwyl jy luister na toesprake by gemeentelike vergaderinge en byeenkomste. Hierdie notas sal jou help om jou eie geloof te versterk en om ander aan te moedig.

12. Wat sal jou help om te leer hoe om goed te kommunikeer?

12 Leer om goed te kommunikeer. ’n Christenman moet leer om goed te kommunikeer. ’n Man wat goed kommunikeer, luister na en verstaan die gedagtes en gevoelens van ander (Spr. 20:5). Hy kan leer om ’n ander persoon se stemtoon, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te lees. Jy kan nie leer om dit te doen sonder om tyd met ander te spandeer nie. As jy die heeltyd deur middel van elektroniese hulpmiddele kommunikeer, soos e-posse en teksboodskappe, kan jou vermoë om in persoon met mense te kommunikeer, verswak. So, probeer om maniere te vind om in persoon met ander te gesels. – 2 Joh. 12.

Dit is goed om ’n vaardigheid aan te leer wat jou sal help om ’n werk te kry (Sien paragraaf 13)

13. Wat moet ’n jong man nog leer? (1 Timoteus 5:8) (Sien ook prent.)

13 Leer om jouself te onderhou. ’n Volwasse Christenman moet homself en sy huisgesin kan onderhou. (Lees 1 Timoteus 5:8.) In party lande leer jong broers dalk by hulle pa of ’n ander familielid hoe om ’n sekere soort werk te doen. In ander lande leer ’n jong man dalk ’n ambag of hoe om ’n sekere soort werk te doen terwyl hy op hoërskool is. Wat ook al die geval is, dit is goed om ’n vaardigheid aan te leer wat jou sal help om ’n werk te kry (Hand. 18:​2, 3; 20:34; Ef. 4:28). Probeer om die reputasie te kry van iemand wat hard werk en wat dinge klaarmaak waarmee hy begin het. As jy dit doen, is die kanse groter dat jy ’n werk sal kry en dit sal behou. Die eienskappe en vaardighede wat ons bespreek het, is ook belangrik vir ’n Christenman sodat hy toekomstige rolle kan vervul. Kom ons kyk na party van daardie rolle.

BEREI VOOR VIR TOEKOMSTIGE ROLLE

14. Hoe kan ’n jong broer voorberei om ’n voltydse dienaar te word?

14 Voltydse dienaar. Baie volwasse Christenmans begin op ’n jong ouderdom met die voltydse bediening. Pionierdiens help ’n jong man om te leer hoe om goed met verskillende mense te werk. Dit help hom ook om ’n redelike begroting op te stel en daarby te bly (Fil. 4:​11-13). ’n Goeie manier om met voltydse diens te begin, is deur te hulppionier. Baie dien ’n ruk lank as ’n hulppionier, wat hulle help om gereed te wees om met die gewone pionierdiens te begin. Pionierdiens kan die deur oopmaak tot ander vorme van voltydse diens, insluitende om as ’n konstruksiekneg of ’n Betheliet te dien.

15-16. Hoe kan ’n jong broer kwalifiseer om in die gemeente te dien?

15 Bedieningskneg of ouerman. Christenmans moet die doelwit hê om te kwalifiseer om hulle broers en susters as gemeentelike ouermanne te dien. Die Bybel sê dat mans wat vir hierdie rol uitreik, “’n goeie werk [begeer]” (1 Tim. 3:1). Voordat ’n broer as ’n ouerman dien, moet hy kwalifiseer om as ’n bedieningskneg te dien. Bedieningsknegte help ouermanne op baie praktiese maniere. Ouermanne en bedieningsknegte dien hulle broers en susters nederig en neem ywerig deel aan die bediening. Jong broers kan kwalifiseer om as bedieningsknegte te dien selfs wanneer hulle nog in hulle laat tienerjare is. En ’n bekwame bedieningskneg in sy vroeë 20’s kan as ’n ouerman aangestel word.

16 Hoe kan jy vir hierdie rolle kwalifiseer? Daar is nie ’n formule nie. Maar onthou dat al hierdie nodige kwalifikasies op die Bybel gebaseer is, en op liefde vir Jehovah, jou gesin en die gemeente (1 Tim. 3:​1-13; Tit. 1:​6-9; 1 Pet. 5:​2, 3). Probeer om elke kwalifikasie te verstaan. Vra Jehovah om jou te help om te voldoen aan hierdie kwalifikasies. c

Jehovah wil hê dat ’n man sy vrou en kinders moet liefhê en dat hy fisies, emosioneel en, die belangrikste van alles, geestelik vir hulle moet sorg (Sien paragraaf 17)

17. Hoe kan ’n jong broer voorberei om ’n huweliksmaat en ’n gesinshoof te word? (Sien ook prent.)

17 Huweliksmaat en gesinshoof. Soos Jesus gesê het, bly party volwasse Christenmans ongetroud (Matt. 19:12). Maar as jy kies om te trou, sal jy die addisionele rolle van huweliksmaat en gesinshoof hê (1 Kor. 11:3). Jehovah verwag dat ’n man sy vrou moet liefhê en na haar fisiese, emosionele en geestelike behoeftes moet omsien (Ef. 5:​28, 29). Die eienskappe en vaardighede wat vroeër in hierdie artikel bespreek is, soos om denkvermoë te ontwikkel, vrouens te respekteer en betroubaar te wees, sal jou help as ’n huweliksmaat. Jy sal goed voorbereid wees om jou rolle as ’n huweliksmaat en ’n gesinshoof te vervul.

18. Hoe kan ’n jong broer voorberei om ’n pa te word?

18 Pa. Nadat jy getrou het, sal jy dalk ’n pa word. Wat kan jy by Jehovah leer oor hoe om ’n goeie pa te wees? Daar is baie lesse (Ef. 6:4). Jehovah het openlik vir sy Seun, Jesus, gesê dat hy hom liefhet en dat hy hom goedgekeur het (Matt. 3:17). As jy ’n pa word, maak seker dat jy jou kinders gereeld verseker dat jy hulle liefhet. Prys hulle dikwels vir die goeie dinge wat hulle doen. Pa’s wat Jehovah se voorbeeld navolg, help hulle kinders om volwasse Christenmans en -vrouens te word. Jy kan nou vir hierdie rol voorberei deur liefdevol te sorg vir ander in jou gesin en in die gemeente en deur te leer om vir hulle te sê dat jy hulle liefhet en waardeer (Joh. 15:9). Dit sal jou help om jou moontlik toekomstige rolle te vervul as ’n huweliksmaat en ’n pa. Intussen sal jy vir Jehovah kosbaar wees en ’n groot hulp vir jou gesin en die gemeente wees.

WAT SAL JY NOU DOEN?

Baie jong mans wat uit die Bybel geleer is en wat toegepas het wat hulle geleer het, het volwasse Christene geword (Sien paragraaf 19-20)

19-20. Wat sal jong broers help om volwasse Christenmans te word? (Sien prent op voorblad.)

19 Jong broers, jy sal nie outomaties ’n volwasse Christenman word nie. Jy moet goeie voorbeelde kies om na te volg, denkvermoë ontwikkel, betroubaar wees, praktiese lewensvaardighede aanleer en vir toekomstige rolle voorberei.

20 Jy sal dalk soms oorweldig voel wanneer jy dink aan die werk wat op jou wag. Maar jy kan suksesvol wees. Onthou dat Jehovah jou baie graag wil help (Jes. 41:​10, 13). Jou broers en susters in die gemeente sal jou natuurlik ook help. Wanneer jy jou volle potensiaal bereik as ’n volwasse Christenman, sal jy jou lewe geniet en tevrede wees. Jong broers, ons is lief vir julle! Mag Jehovah julle ryklik seën terwyl julle nou daaraan werk om volwasse Christenmans te word. – Spr. 22:4.

LIED 65 Gaan vooruit!

a Volwasse mans is nodig in die Christengemeente. In hierdie artikel sal ons kyk hoe julle jong broers volwasse Christenmans kan word.

b Sien “Wat dit beteken” in die vorige artikel.

c Sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, hfst. 5-6.