Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 52

Jong susters – Word volwasse Christenvrouens

Jong susters – Word volwasse Christenvrouens

“Vrouens moet ook . . . matig in gewoontes, getrou in alles [wees].” – 1 TIM. 3:11.

LIED 133 Aanbid Jehovah in jou jeug

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat moet ons doen om volwasse Christene te word?

 DIT verbaas ons om te sien hoe vinnig ’n kind ’n volwassene word. Dit lyk asof dit outomaties gebeur. Maar om ’n volwasse Christen te word, gebeur glad nie outomaties nie (1 Kor. 13:11; Heb. 6:1). b Om daardie doelwit te bereik, het ons ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah nodig. Ons het ook sy heilige gees nodig terwyl ons eienskappe ontwikkel wat hom gelukkig maak, praktiese vaardighede aanleer en voorberei vir toekomstige verantwoordelikhede. – Spr. 1:5.

2. Wat leer ons uit Genesis 1:​27, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Toe Jehovah mense gemaak het, het hy mans en vrouens gemaak. (Lees Genesis 1:27.) Mans en vrouens is natuurlik fisies anders, maar hulle verskil ook op ander maniere. Byvoorbeeld, Jehovah het mans en vrouens gemaak om spesifieke rolle te vervul, en daarom het hulle eienskappe en vaardighede nodig wat hulle sal help om hulle verskillende toewysings uit te voer (Gen. 2:18). In hierdie artikel sal ons bespreek wat ’n jong suster kan doen om ’n volwasse Christenvrou te word. In die volgende artikel sal ons bespreek wat jong broers kan doen.

ONTWIKKEL EIENSKAPPE WAT JEHOVAH GELUKKIG MAAK

As jy die eienskappe van getroue vrouens soos Rebekka, Ester en Abigail navolg, sal dit jou help om ’n volwasse Christenvrou te word (Sien paragraaf 3-4)

3-4. Waar kan jong susters goeie voorbeelde vind om na te volg? (Sien ook prent.)

3 Die Bybel noem baie goeie vrouens wat lief was vir Jehovah en hom gedien het. (Sien die artikel “Vroue in die Bybel – Wat kan ons by hulle leer? op jw.org.) Hulle was, soos ons temateks sê, “matig in gewoontes” en “getrou in alles”. En susters kan in hulle eie gemeente voorbeelde van volwasse Christenvrouens vind wat hulle kan navolg.

4 Jong susters, ken julle enige susters wat ’n goeie voorbeeld stel wat julle kan navolg? Skenk aandag aan hulle goeie eienskappe, en kyk dan hoe jy daardie selfde eienskappe kan openbaar. In die volgende paragrawe sal ons drie belangrike eienskappe bespreek wat susters moet ontwikkel.

5. Hoekom is nederigheid baie belangrik vir ’n volwasse Christenvrou?

5 Nederigheid is ’n belangrike eienskap wat volwasse Christene moet hê. As ’n vrou nederig is, sal sy ’n goeie verhouding met Jehovah en met ander geniet (Jak. 4:6). Byvoorbeeld, ’n vrou wat lief is vir Jehovah, kies nederig om die hoofskapreëling wat haar hemelse Vader ingestel het, te ondersteun (1 Kor. 11:3). Daardie beginsel het spesifieke toepassings in die gemeente en in die gesinsreëling. c

6. Wat kan jong susters by Rebekka leer oor nederigheid?

6 Dink aan Rebekka se voorbeeld. Sy was ’n wyse vrou wat regdeur haar lewe moedige besluite geneem het en geweet het wanneer en hoe om op te tree (Gen. 24:58; 27:​5-17). Maar sy was respekvol en onderdanig (Gen. 24:​17, 18, 65). As jy Jehovah se reëlings nederig ondersteun soos Rebekka, sal jy ’n positiewe invloed op jou gesin en op die gemeente hê.

7. Hoe kan jong susters Ester se beskeidenheid navolg?

7 Beskeidenheid is nog ’n eienskap wat alle volwasse Christene nodig het. Die Bybel sê dat “wysheid . . . by dié [is] wat beskeie is” (Spr. 11:2). Ester was ’n beskeie, getroue kneg van God. Omdat sy beskeie was, het sy nie trots geword toe sy koningin geword het nie. Sy het na die raad geluister van haar ouer neef Mordegai en dit gevolg (Est. 2:​10, 20, 22). Jy kan ook beskeie wees deur goeie raad te soek en dit toe te pas. – Tit. 2:​3-5.

8. Hoe sal beskeidenheid ’n suster help om wyse keuses te maak wanneer dit kom by kleredrag en voorkoms volgens 1 Timoteus 2:​9, 10?

8 Ester het op nog ’n manier gewys dat sy beskeie is. Sy was “mooi en aantreklik,” maar sy het nie dinge gedoen sodat almal haar sou raaksien nie (Est. 2:​7, 15). Hoe kan Ester se voorbeeld ’n Christenvrou help? Een manier word beklemtoon in 1 Timoteus 2:​9, 10. (Lees.) Die apostel Paulus het vir Christenvrouens gesê om op ’n manier aan te trek wat wys dat hulle beskeie is en gesonde verstand het. Die Griekse woorde wat hier gebruik word, wys dat ’n Christenvrou se kleredrag altyd respekvol moet wees en moet wys dat sy aan die gevoelens en opinies van ander dink. Ons bewonder ons volwasse Christensusters omdat hulle beskeie aantrek!

9. Wat kan ons uit Abigail se voorbeeld leer?

9 Goeie oordeel is nog ’n eienskap wat alle volwasse susters moet ontwikkel. Wat is goeie oordeel? Dit is die vermoë om te weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd en dan te kies om die regte ding te doen. Dink aan die voorbeeld van Abigail. Haar man het ’n slegte besluit geneem wat tot ernstige gevolge vir sy hele huishouding sou lei. Abigail het onmiddellik iets gedoen. Haar goeie oordeel het lewens gered (1 Sam. 25:​14-23, 32-35). Goeie oordeel help ons ook om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. En dit help ons om gebalanseerd te wees wanneer ons persoonlike belangstelling in ander toon. – 1 Tess. 4:11.

LEER PRAKTIESE VAARDIGHEDE AAN

Hoe het dit jou gehelp om te leer om goed te lees en te skryf? (Sien paragraaf 11)

10-11. Hoe kan jy jouself en ander help deur goed te lees en te skryf? (Sien ook prent.)

10 ’n Christenvrou moet praktiese vaardighede aanleer. Party vaardighede wat ’n meisie aanleer wanneer sy jonk is, sal haar regdeur haar lewe help. Kyk na ’n paar voorbeelde.

11 Leer om goed te lees en te skryf. In party kulture word om te lees en te skryf nie gesien as belangrike vaardighede wat ’n vrou moet aanleer nie. Maar dit is belangrike vaardighede vir elke Christen (1 Tim. 4:13). d So moenie toelaat dat enige struikelblok jou keer om te leer om goed te lees en te skryf nie. Hoe sal jy beloon word? Sulke vaardighede sal jou dalk help om ’n werk te kry en te behou. Jy sal ’n beter student en onderrigter van God se Woord word. En die beste van alles is dat jy nader aan Jehovah sal kom terwyl jy sy Woord lees en daaroor nadink. – Jos. 1:8; 1 Tim. 4:15.

12. Hoe kan Spreuke 31:26 jou help om te leer om goed te kommunikeer?

12 Leer om goed te kommunikeer. Christene moet goed kan kommunikeer. In hierdie verband gee die dissipel Jakobus hierdie goeie raad: “Elkeen moet gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jak. 1:19). Wanneer jy mooi luister terwyl ander praat, wys jy “empatie” vir hulle (1 Pet. 3:8). As jy nie seker is of jy verstaan wat iemand sê of hoe hy voel nie, vra gepaste vrae. Neem dan ’n oomblik om te dink voordat jy praat (Spr. 15:​28, vtn.). Vra jouself: ‘Is wat ek nou gaan sê waar en opbouend? Is dit taktvol en liefdevol?’ Leer by volwasse susters wat goed kan kommunikeer. (Lees Spreuke 31:26.) Skenk aandag aan die manier hoe hulle praat. Hoe beter jy hierdie vaardigheid aanleer, hoe beter sal jou verhoudings met ander wees.

’n Vrou wat geleer het om ’n huishouding te bestuur, kan baie goeie dinge in haar gesin en in die gemeente doen (Sien paragraaf 13)

13. Hoe kan jy leer om ’n huishouding te bestuur? (Sien ook prent.)

13 Leer om ’n huishouding te bestuur. Op baie plekke doen vrouens die meeste van die huiswerk. Jou ma of ’n ander bekwame suster kan jou dalk help om die nodige vaardighede aan te leer. ’n Suster met die naam Cindy sê: “Een van die waardevolste geskenke wat my ma my gegee het, was om my te leer dat harde werk jou gelukkig maak. Om vaardighede aan te leer soos om te kook, skoon te maak, naaldwerk en inkopies te doen, het my lewe makliker gemaak en dit vir my moontlik gemaak om meer in Jehovah se diens te doen. Ma het my ook geleer hoe om gasvry te wees, en dit het my gehelp om wonderlike broers en susters te ontmoet wie se voorbeelde ek kon navolg” (Spr. 31:​15, 21, 22). ’n Flukse, gasvrye vrou wat geleer het hoe om ’n huishouding te bestuur, kan baie goeie dinge in haar gesin en in die gemeente doen. – Spr. 31:​13, 17, 27; Hand. 16:15.

14. Wat leer jy uit Crystal se ondervinding, en waarop moet jy fokus?

14 Leer om selfstandig te wees. Om selfstandig te wees, is ’n belangrike doelwit vir alle volwasse Christene (Fil. 4:11). ’n Suster met die naam Crystal sê: “My ouers het my gehelp om te kies watter vakke ek op hoërskool sou doen sodat ek praktiese vaardighede sou aanleer. My pa het my aangemoedig om rekeningkunde te doen, en dit het my baie gehelp.” Buiten om vaardighede aan te leer wat nodig is om ’n sekulêre werk te kry, moet jy probeer leer hoe om ’n begroting op te stel en daarby te bly (Spr. 31:​16, 18). Fokus op geestelike doelwitte deur onnodige skuld te vermy en deur tevrede te wees met ’n eenvoudige lewenstyl. – 1 Tim. 6:8.

BEREI VOOR VIR TOEKOMSTIGE ROLLE

15-16. Hoekom is ongetroude susters so kosbaar? (Markus 10:​29, 30)

15 Wanneer jy geestelike eienskappe ontwikkel en kosbare vaardighede aanleer, sal jy beter voorbereid wees vir toekomstige rolle. Kyk na ’n paar voorbeelde van wat jy kan doen.

16 Jy kan vir ’n ruk lank ongetroud bly. In ooreenstemming met Jesus se woorde kies party vrouens om nie te trou nie, al word die ongetroude lewe nie in hulle kultuur aangemoedig nie (Matt. 19:​10-12). Ander bly dalk ongetroud as gevolg van omstandighede. Wees verseker dat Jehovah en Jesus nie op ongetroude Christene neersien nie. Regoor die wêreld het ongetroude susters ’n positiewe invloed op die gemeente. Hulle liefde vir en opregte belangstelling in ander motiveer hierdie Christenvrouens om geestelike susters en geestelike ma’s vir baie te word. – Lees Markus 10:​29, 30; 1 Tim. 5:2.

17. Hoe kan ’n jong suster nou voorberei om met die voltydse diens te begin?

17 Jy kan ’n voltydse dienaar word. Christenvrouens doen die meeste van die predikingswerk regoor die wêreld (Ps. 68:11). Kan jy nou beplan om met die voltydse diens te begin? Jy kan as ’n pionier, ’n konstruksievrywilliger of ’n Betheliet dien. Bid oor jou doelwit. Praat met ander wat so ’n doelwit bereik het, en vind uit wat jy moet doen om te kwalifiseer. Maak dan ’n realistiese plan. As jy jou doelwit bereik, sal dit jou baie opwindende geleenthede in Jehovah se diens gee.

As jy daaraan dink om te trou, moet jy jou maat baie versigtig kies (Sien paragraaf 18)

18. Hoekom moet ’n suster haar man baie versigtig kies? (Sien ook prent.)

18 Jy kies dalk om te trou. Die eienskappe en vaardighede wat ons bespreek het, sal jou help om ’n goeie huweliksmaat te word. As jy daaraan dink om te trou, moet jy jou maat natuurlik baie versigtig kies. Dit is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal neem. Onthou dat die man met wie jy trou, jou hoof sal word (Rom. 7:2; Ef. 5:​23, 33). So vra jouself: ‘Is hy ’n volwasse Christen? Stel hy geestelike dinge eerste in sy lewe? Neem hy wyse besluite? Kan hy sy foute erken? Respekteer hy vrouens? Het hy die vaardighede wat nodig is om my geestelik, materieel en emosioneel te ondersteun? Hanteer hy verantwoordelikheid goed? Byvoorbeeld, watter gemeentelike toewysings het hy en hoe hanteer hy dit?’ (Luk. 16:10; 1 Tim. 5:8). As jy ’n goeie man wil vind, sal jy natuurlik ’n goeie vrou moet wees.

19. Hoekom kan ’n vrou bly wees om “’n helper” vir haar man genoem te word?

19 Die Bybel sê dat ’n goeie vrou “’n helper” en “’n maat” vir haar man is (Gen. 2:18). Maak dit die vrou minder waardevol? Nee! ’n Vrou se rol as ’n helper is eintlik ’n eer vir haar. Om die waarheid te sê, die Bybel beskryf Jehovah baie keer as ’n “helper” (Ps. 54:4; Heb. 13:6). ’n Vrou is ’n ware helper vir haar man wanneer sy hom ondersteun en wanneer sy haar samewerking gee wanneer hy besluite vir die gesin maak. En omdat sy lief is vir Jehovah doen sy wat sy kan om haar man in ’n goeie lig te stel (Spr. 31:​11, 12; 1 Tim. 3:11). Jy kan voorberei vir hierdie toekomstige rol deur jou liefde vir Jehovah te versterk en deur ’n helper vir ander by die huis en in die gemeente te wees.

20. Watter impak kan ’n ma hê?

20 Jy kan ’n ma word. Nadat jy getroud is, sal jy en jou man dalk kinders hê (Ps. 127:3). Daarom is dit wys om vooruit te dink. Die eienskappe en vaardighede wat ons in hierdie artikel bespreek het, sal jou help as jy ’n vrou en ’n ma word. Jou liefde, goedhartigheid en geduld sal bydra tot ’n liefdevolle atmosfeer by die huis waar jou kinders veilig en geliefd sal voel. – Spr. 24:3.

Baie jong vrouens wat uit die Bybel geleer is en toegepas het wat hulle geleer het, het volwasse Christene geword (Sien paragraaf 21)

21. Hoe voel ons oor ons susters, en hoekom? (Sien prent op voorblad.)

21 Susters, ons is lief vir julle vir alles wat julle vir Jehovah en sy volk doen (Heb. 6:10). Julle werk hard om geestelike eienskappe te ontwikkel, om vaardighede aan te leer wat julle lewens en die lewens van dié rondom julle verbeter en om goed voor te berei vir toekomstige rolle. Julle is baie kosbaar vir Jehovah se organisasie!

LIED 137 Getroue vroue, Christensusters

a Julle liewe susters is baie kosbaar in die gemeente. Julle kan Christelike volwassenheid bereik deur eienskappe te ontwikkel wat God gelukkig maak, praktiese vaardighede aan te leer en voor te berei om toekomstige rolle te vervul. Dan sal julle baie seëninge in Jehovah se diens geniet.

b WAT DIT BETEKEN: Iemand wat ’n volwasse Christen geword het, word deur God se gees gelei, nie deur wêreldse wysheid nie. Hy of sy volg Jesus se voorbeeld na, werk hard om ’n sterk verhouding met Jehovah te behou en wys selfopofferende liefde vir ander.

d Vir ’n bespreking oor hoe belangrik dit is om te lees, sien die artikel “Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 1: Lees of kyk?” op jw.org.