Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy hierdie jaar se nommers van Die Wagtoring goed deurgelees? Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

Wat beteken dit om jou denkwyse te verander? (Rom. 12:2)

Dit behels meer as om net ’n hele paar goeie dinge te doen. Dit sluit in dat ons ondersoek wie ons is en dat ons veranderinge maak sodat ons ons lewe so na as moontlik aan God se standaarde kan bring. – w23.01, bl. 8-9.

Hoe kan ons wys dat ons gebalanseerd is wanneer ons kyk na wêreldgebeure?

Ons stel daarin belang om te sien hoe huidige wêreldgebeure profesieë vervul. In plaas daarvan om te raai wat sal gebeur, wat verdeeldheid kan veroorsaak, sal dit goed wees om ons besprekings te baseer op dit wat deur Jehovah se organisasie gepubliseer is (1 Kor. 1:10). – w23.02, bl. 16.

Hoe verskil Jesus se doop van dié van sy volgelinge?

Jesus was in ’n nasie gebore wat aan God toegewy is, en daarom was dit nie vir hom nodig om hom aan Jehovah toe te wy, soos wat ons moet doen nie. Jesus was volmaak en sonder sonde. Dit was nie vir hom nodig om berou te toon oor sy sondes nie. – w23.03, bl. 5.

Hoe kan ons ander help om by vergaderinge te antwoord?

Ons kan ons antwoorde kort hou en ander toelaat om te antwoord. Ons kan dit ook vermy om oor te veel punte te praat. Daar sal dan meer punte wees waarop ander kan antwoord. – w23.04, bl. 23.

Waarna verwys “die Weg van Heiligheid” in Jesaja 35:8?

Die figuurlike pad het eers verwys na die Jode se roete van Babilon na hulle tuisland. Wat van in meer onlangse tye? Honderde jare voor 1919 was voorbereidingswerk gedoen – die vertaling en druk van Bybels, onder andere. God se volk reis op “die Weg van Heiligheid” na ’n geestelike paradys, wat na Koninkrykseëninge lei. – w23.05, bl. 15-19.

Op watter twee figuurlike persone is die raad in Spreuke hoofstuk 9 gebaseer?

Spreuke praat van “’n dwase vrou” wie se uitnodiging tot “die Graf” lei en van “ware wysheid”, wat as ’n man uitgebeeld word, wie se uitnodiging tot “die weg van verstandigheid” en tot die lewe lei (Spr. 9:​1, 6, 13, 18). – w23.06, bl. 22-24.

Hoe kan God se nederigheid en redelikheid duidelik gesien word in sy handelinge met Lot?

Jehovah het vir Lot gesê om uit Sodom na die bergstreek te vlug. Toe Lot gesmeek het om eerder na Soar te gaan, het God hom toegelaat om dit te doen. – w23.07, bl. 21.

Wat kan ’n vrou doen as haar man na pornografie kyk?

Sy moet onthou dat dit nie haar skuld is nie. Sy moet fokus op haar verhouding met God en nadink oor Bybelverslae van vrouens wat deur moeilike tye gegaan het en wat deur hom vertroos is. Sy kan haar maat help om situasies te vermy wat hom in die versoeking kan laat kom. – w23.08, bl. 14-17.

Hoe kan begrip ons help om sagmoedig te wees wanneer ons oortuigings bevraagteken word?

Ons kan die vraag of die uitdaging beskou as ’n manier om uit te vind wat die persoon dink of waarin hy belangstel. Dan is ons beter voorbereid om op ’n sagmoedige manier te reageer. – w23.09, bl. 17.

Wat kan ons by Maria leer oor hoe ander ons kan versterk?

Toe Maria uitvind dat sy die ma van die Messias sou wees, het ander haar versterk. Gabriël en Elisabet het vir Maria skriftuurlike aanmoediging gegee. Ons kan ook deur ons broers en susters versterk word. – w23.10, bl. 15.

Hoe sal Jehovah dalk ons gebede beantwoord?

Hy belowe om na ons gebede te luister en in gedagte te hou hoe dit met sy doel verband hou (Jer. 29:12). Hy sal gebede vir soortgelyke dinge dalk op verskillende maniere beantwoord, maar hy sal ons altyd ondersteun. – w23.11, bl. 21-22.

Romeine 5:2 praat van “hoop”, so hoekom word dit weer in vers 4 bespreek?

Wanneer ’n persoon die goeie nuus hoor, verkry hy dalk die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Maar wanneer hy deur moeilike tye gaan, volhard en God se goedkeuring ondervind, word sy hoop heel moontlik sterker en persoonliker. – w23.12, bl. 12-13.