Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word gelei deur God se beskouing van alkohol

Word gelei deur God se beskouing van alkohol

JY WAARDEER beslis Jehovah se verskillende geskenke, insluitende jou vrye wil om te besluit hoe jy hierdie geskenke dalk sal geniet. Volgens die Bybel is wyn ’n geskenk van God, en dit sê selfs: “Kos bring plesier, en wyn maak die lewe aangenaam” (Pred. 10:19; Ps. 104:15). Maar jy het dalk al gesien dat party mense probleme met alkohol ontwikkel het. En mense regoor die wêreld het verskillende opinies en standaarde oor die gebruik van alkohol. So wat kan Christene help om wyse besluite te maak wanneer dit kom by die gebruik van alkohol?

Maak nie saak waar ons bly of in watter kultuur ons grootgemaak is nie, as ons toelaat dat ons denke en besluite deur God se beskouing gelei word, sal dit ons definitief bevoordeel en tot ’n gelukkiger lewe lei.

Soos jy dalk al opgelet het, drink baie mense in die wêreld dikwels en baie. Party gebruik alkohol dalk omdat dit hulle ontspanne laat voel. Ander drink om hulle probleme te vergeet. En op party plekke dink mense dat iemand wat baie alkohol drink, volwasse of manlik is.

Maar Christene het wyse leiding van hulle liefdevolle Skepper. Byvoorbeeld, hy het vir ons vertel van die verskriklike gevolge wat dit het as jy te veel drink. Ons het dalk al die gedetailleerde beskrywing in Spreuke 23:​29-35 gelees van ’n dronk persoon en party van die gevolge daarvan. a Daniel, ’n Christenouerman in Europa, onthou hoe sy lewe was voordat hy ’n ware Christen geword het. Hy sê: “Ek het voorheen te veel alkohol gedrink, en dit het veroorsaak dat ek slegte besluite maak. As gevolg daarvan het ek verskriklike dinge ondervind, en ek is nog steeds ontsteld wanneer ek daaraan dink.”

Hoe kan Christene wyse besluite oor alkohol maak en die probleme vermy wat kom wanneer iemand te veel drink? Ons moet toelaat dat ons besluite en dade deur God se beskouing gelei word.

Kom ons kyk na wat die Bybel oor die gebruik van alkohol sê, en hoekom party mense drink.

DIE BYBEL SE STANDAARDE

God se Woord veroordeel nie die matige gebruik van alkohol nie. Om die waarheid te sê, die Bybel erken dat dit lekker kan wees om wyn te drink. Ons lees: “Eet jou kos met blydskap, en drink jou wyn met ’n vrolike hart” (Pred. 9:7). Jesus het nou en dan wyn gedrink, en ander getroue knegte van Jehovah het ook. – Matt. 26:​27-29; Luk. 7:34; 1 Tim. 5:23.

Maar God se Woord wys dat daar ’n duidelike verskil is tussen om ’n bietjie alkohol te drink en om dronk te word. Dit sê reguit: “Moenie dronk word van wyn . . . nie” (Ef. 5:18). En dit sê selfs dat “dronkaards [nie] God se Koninkryk [sal] erf nie” (1 Kor. 6:10). Ja, Jehovah veroordeel dit wanneer iemand te veel drink en wanneer iemand dronk word. Ons maak nie besluite oor alkohol gebaseer op ons kultuur nie; ons baseer eerder ons besluit op God se beskouing.

Party voel dat hulle groot hoeveelhede alkohol kan drink sonder om dronk te word. Maar dit is baie gevaarlik. Die Bybel maak dit duidelik dat ’n man (of ’n vrou) wat “aan baie wyn verslaaf” is, sedelik en geestelik van die regte pad kan afdwaal (Tit. 2:3; Spr. 20:1). Jesus het selfs gewaarsku dat om “te veel te drink” kan keer dat iemand by God se nuwe wêreld ingaan (Luk. 21:​34-36). So wat kan ’n Christen help om die slaggate te vermy wat maklik ontstaan wanneer iemand alkohol drink?

DINK OOR HOEKOM JY DRINK EN WANNEER OF HOEVEEL JY DRINK

Dit is gevaarlik vir iemand om toe te laat dat die kultuur waarin hy grootgeword het sy beskouing van alkohol bepaal. Christene doen wyslik wat Jehovah gelukkig maak wanneer dit kom by hulle eet- en drinkgewoontes. Die Bybel herinner ons: “Of julle . . . nou eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Hier is ’n paar vrae en Bybelbeginsels om aan te dink:

Drink ek alkohol sodat ek by ander kan inpas? Eksodus 23:2 sê: “Jy mag nie agter die meerderheid aangaan . . . nie.” Hier het Jehovah die Israeliete gewaarsku om nie mense na te volg wat nie sy goedkeuring het nie. Daardie raad geld ook vir Christene van vandag. As ons toelaat dat ander mense ons denke en besluite oor alkohol beïnvloed, kan ons geleidelik ophou om volgens Jehovah se standaarde te lewe en ons verhouding met hom verloor. – Rom. 12:2.

Drink ek alkohol om te wys hoe sterk ek is? In party kulture is dit algemeen en aanvaarbaar om dikwels en baie alkohol te drink (1 Pet. 4:3). Maar kyk na die wyse woorde in 1 Korintiërs 16:13: “Bly wakker, staan vas in die geloof, wees moedig, word sterk.” Kan alkohol regtig ’n persoon help om sterk te word? Dit doen eintlik die teenoorgestelde. Alkohol kan ’n persoon se vermoë om reguit te dink en om goeie besluite te maak, maklik verswak. So om baie alkohol te drink, bewys nie dat iemand sterk is nie; dit bewys eerder dat hy swak is. Jesaja 28:7 beskryf die een wat afdwaal weens alkohol as iemand wat struikel en nie in staat is om die regte besluite te maak nie.

Ware krag kom van Jehovah en vereis dat ons wakker bly en vasstaan in die geloof (Ps. 18:32). Ons doen dit deur gevare te vermy en nie besluite te maak wat ons verhouding met Jehovah sal beskadig nie. Jesus het sulke krag gewys toe hy op die aarde was, en baie mense het hom gerespekteer omdat hy moedig was en vasbeslote was om te doen wat reg is.

Gebruik ek alkohol as ’n manier om van my probleme te vergeet? ’n Psalmis is geïnspireer om te skryf: “Toe sorge my oorweldig het, het u [Jehovah] my vertroos en gekalmeer” (Ps. 94:19). As probleme jou onderkry, vertrou op Jehovah vir hulp, nie op alkohol nie. ’n Goeie manier om dit te doen, is deur meer tot Jehovah te bid. En baie het gevind dat dit hulle gehelp het toe hulle praktiese raad by ’n volwasse vriend in die gemeente gevra het. Eintlik kan dit ’n persoon minder vasbeslote maak om te doen wat reg is as hy alkohol drink om sy probleme te hanteer (Hos. 4:11). Daniel, wat vroeër genoem is, het erken: “Ek het gesukkel met angstigheid en skuldgevoelens. Ek het gedrink om die situasie te hanteer, maar dit het meer probleme veroorsaak, en ek het vriendskappe en selfrespek verloor.” Wat het Daniel uiteindelik gehelp? “Ek het besef dat ek Jehovah nodig het, nie alkohol nie. Ek kon uiteindelik my probleme hanteer en dit oorkom,” het hy erken. Die feit is dat Jehovah altyd daar is om ons te help, al lyk ons situasie dalk hopeloos. – Fil. 4:​6, 7; 1 Pet. 5:7.

As jy soms alkohol drink, kan jy kyk of jy enige aanpassings moet maak wanneer dit kom by hoe dikwels of hoe baie jy drink. Vra jouself: ‘Het ’n familielid of ’n goeie vriend gesê dat hy bekommerd is oor my drinkgewoontes?’ As dit die geval is, kan dit ’n teken wees dat jy ’n gewoonte of probleem ontwikkel waarvan jy nie bewus is nie. ‘Drink ek meer as gewoonlik?’ Dit kan die situasie wees met iemand wat dalk nie aan alkohol verslaaf is nie, maar wat in daardie rigting kan beweeg. ‘Is dit vir my moeilik om vir ’n paar dae of langer sonder alkohol te wees?’ As dit die geval is, het om te drink dalk ’n diepgewortelde gewoonte of ’n verslawing geword. Dit kan beteken dat professionele hulp nodig sal wees om die probleem te oorkom.

Omdat alkoholgebruik baie probleme kan veroorsaak, het party Christene gekies om nie enige alkohol te drink nie. Ander kies dalk om nie te drink nie bloot omdat hulle nie van die smaak hou nie. As een van jou vriende so ’n keuse maak, kan jy wys dat jy liefdevol is deur sy besluit te respekteer sonder om hom te kritiseer.

Of jy het dalk gesien dat dit wys is om ’n paar persoonlike perke te stel. ’n Christen stel dalk ’n beperking op hoeveel hy sal drink. Of hy maak dalk ’n persoonlike reël oor hoe dikwels hy sal drink, dalk een keer ’n week of matig gedurende maaltye. Ander het dalk perke gestel op die soort alkohol wat hulle sal drink, soos om wyn of bier in matigheid te drink, maar geen sterk drank nie, nie eens in gemengde drankies nie. Sodra ’n persoon duidelike perke gestel het wanneer dit kom by sy drinkgewoontes, sal dit vir hom makliker wees om daarby te bly. En ’n volwasse Christen hoef nie skaam te wees as hy so ’n keuse gemaak het en vasbeslote daarby bly nie.

Nog iets om in gedagte te hou, is die gevoelens van ander. Romeine 14:21 sê: “Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie.” Hoe kan jy hierdie raad toepas? Wys broederlike liefde. As jy voel dat dit iemand dalk kan aanstoot gee as jy alkohol drink, sal liefde jou nie beweeg om nie te drink nie? Op daardie manier wys jy dat jy dink aan die gevoelens van ander en dit respekteer en hulle voordeel soek, nie jou eie nie. – 1 Kor. 10:24.

En die regering het dalk wette oor alkohol waaraan ’n Christen gehoorsaam sal wil wees. Daardie wette sê dalk dat jy ’n sekere ouderdom moet wees voordat jy alkohol kan drink of die wette verbied mense dalk om te drink en dan te bestuur of sekere masjiene te gebruik. – Rom. 13:​1-5.

Jehovah het ons baie wonderlike geskenke gegee, en een daarvan is die vryheid om te besluit hoe ons hierdie geskenke sal gebruik. Dit sluit in dat ons kan kies wat ons sal eet en wat ons sal drink. Mag ons keuses wys dat ons hierdie vryheid waardeer deur dit te gebruik om ons hemelse Vader gelukkig te maak.

a Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming sê dat die korttermynrisiko’s van oormatige alkoholgebruik die volgende insluit: moord, selfmoord, seksuele aanranding, mishandeling deur ’n maat, gevaarlike seksuele gedrag en miskrame.