Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

LIED 147 Die belofte van ewige lewe

Die ewige lewe vir jou – Maar hoe?

Die ewige lewe vir jou – Maar hoe?

“Elkeen wat die Seun erken en geloof in hom beoefen, [sal] die ewige lewe . . . hê.”JOH. 6:40.

DOEL

Hoe die gesalfdes en die ander skape baat vind by Jesus Christus se offerande.

1. Hoe voel party dalk daaroor om vir ewig te lewe?

 BAIE mense probeer gesond eet en gereeld oefen om gesond te bly. Nogtans verwag hulle nie om vir ewig te lewe nie. Om daarvoor te hoop, kan onrealisties klink en is dalk nie iets wat ’n mens wil hê nie omdat dit nie lekker is om oud te word nie. Maar Jesus het op ’n positiewe manier van “die ewige lewe” gepraat, soos gesien kan word in Johannes 3:16 en 5:24.

2. Wat sê Johannes hoofstuk 6 oor die ewige lewe? (Johannes 6:​39, 40)

2 Eendag het Jesus ’n wonderwerk gedoen om brood en vis aan duisende mense te voorsien. a Dit was wonderlik, maar wat hy die volgende dag gesê het, het hulle selfs meer verbaas. Die skare het hom gevolg na Kapernaum, naby die kus van Galilea, waar hy vir hulle gesê het dat mense opgewek kon word en die ewige lewe kon geniet. (Lees Johannes 6:​39, 40.) Dink aan wat dit vir jou vriende en geliefdes wat gesterf het, beteken. Jesus se woorde verseker jou dat baie wat gesterf het, opgewek kan word en dat jy en jou geliefdes die ewige lewe kan geniet. Maar Jesus se verdere woorde in Johannes hoofstuk 6 was al vir baie moeilik om te verstaan. Kom ons ondersoek wat Jesus gesê het.

3. Wat het Jesus oor homself geopenbaar in Johannes 6:51?

3 Die skare in Kapernaum het ’n verband gesien tussen die brood wat Jesus onlangs aan hulle voorsien het en die manna wat Jehovah aan hulle voorvaders voorsien het. Om die waarheid te sê, die Bybel noem daardie manna “brood uit die hemel” (Ps. 105:40; Joh. 6:31). Jesus het die manna gebruik as die grondslag vir wat hy hulle volgende geleer het. Al was die manna ’n wonderdadige voorsiening van God, het dié wat dit geëet het, op die ou end gesterf (Joh. 6:49). In teenstelling daarmee het Jesus homself “die ware brood uit die hemel”, “die brood van God” en “die brood van die lewe” genoem (Joh. 6:​32, 33, 35). Jesus het ’n belangrike verskil tussen die manna en homself beklemtoon. Hy het gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As enigiemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe.” (Lees Johannes 6:51.) Daardie Jode was stomgeslaan. Hoe kon Jesus sê dat hy uit die hemel neergedaal het as “die brood” wat beter is as die wonderdadige manna wat God aan hulle voorvaders gegee het? Jesus het ’n interessante leidraad gegee toe hy gesê het: “Die brood wat ek sal gee, is . . . my vlees.” Wat het hy bedoel? Dit is belangrik dat ons moet verstaan wat hy bedoel het omdat die antwoord wys hoe die ewige lewe vir ons en ons geliefdes moontlik is. Kom ons kyk wat Jesus bedoel het.

LEWENDE BROOD EN SY VLEES

4. Hoekom was party geskok deur wat Jesus gesê het?

4 Party van dié wat na Jesus geluister het, was geskok toe hy gesê het dat hy sy “vlees [sal gee] sodat die wêreld kan lewe”. Het hulle gedink dat hy sy letterlike vlees vir hulle sou gee om te eet, wat ’n vorm van kannibalisme sou wees? (Joh. 6:52). Toe het Jesus hulle selfs meer geskok deur te sê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” – Joh. 6:53.

5. Hoekom kan ons seker wees dat Jesus nie bedoel het dat mense sy letterlike bloed sou moes drink nie?

5 In Noag se dag het God mense verbied om bloed te eet (Gen. 9:​3, 4). Jehovah het daardie bevel in sy Wet aan Israel herhaal. Enige iemand wat bloed geëet het, moes “doodgemaak word” (Lev. 7:27). Jesus het die Jode geleer om al God se wette te gehoorsaam (Matt. 5:​17-19). So hy sou nooit vir daardie Jode gesê het om sy letterlike vlees te eet of om die bloed in sy are te drink nie. Maar met hierdie treffende stelling het Jesus die mense eintlik geleer hoe om lewe te kry – “die ewige lewe”. – Joh. 6:54.

6. In watter sin moet ons Jesus se woorde oor sy vlees en sy bloed verstaan?

6 Wat was Jesus se punt? Dit is duidelik dat Jesus in ’n figuurlike sin gepraat het, soos hy vroeër gedoen het toe hy vir ’n Samaritaanse vrou gesê het: “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nooit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Joh. 4:​7, 14). b Jesus het nie gesê dat die Samaritaanse vrou die ewige lewe sou kry deur net ’n bietjie water van ’n spesifieke put te drink nie. Net so het hy nie gesê dat die skare met wie hy in Kapernaum gepraat het vir ewig sou lewe as hulle sy letterlike vlees geëet het en sy letterlike bloed gedrink het nie.

VERSKILLE TUSSEN TWEE GELEENTHEDE

7. Wat sê party oor Jesus se woorde in Johannes 6:53?

7 Party godsdienstige mense sê dat Jesus in Johannes 6:53 eintlik verduidelik het wat mense by die Here se Aandmaal sou moes doen omdat hy by daardie geleentheid soortgelyke woorde gebruik het (Matt. 26:​26-28). Hulle sê dat almal wat die Here se Aandmaal bywoon, van die brood en die wyn moet gebruik wat rondgestuur word onder dié wat dit bywoon. Is dit reg? Dit is belangrik dat ons moet uitvind wat die antwoord is omdat miljoene mense regoor die wêreld elke jaar saam met ons bymekaarkom vir daardie geleentheid. Ons sal kyk na ’n paar verskille tussen wat gesê word in Johannes 6:53 en wat Jesus by die Here se Aandmaal gesê het.

8. Wat is ’n paar verskille tussen die twee geleenthede? (Sien ook prente.)

8 Kom ons kyk na twee verskille tussen hierdie geleenthede. Eerstens, wanneer en waar het Jesus die woorde in Johannes 6:​53-56 gesê? Hy het hierdie dinge in die jaar 32 HJ in Galilea gesê. Dit was omtrent ’n jaar voordat hy die Here se Aandmaal in Jerusalem ingestel het. Tweedens, met wie het hy gepraat? Die meeste van sy luisteraars in Galilea het meer daarin belanggestel om hulle tydelike fisiese behoeftes te bevredig as om hulle geestelike behoeftes te bevredig (Joh. 6:26). Om die waarheid te sê, toe Jesus iets gesê het wat hulle gesukkel het om te verstaan, het hulle vinnig hulle geloof in hom verloor. Selfs party van sy dissipels het opgehou om hom te volg (Joh. 6:​14, 36, 42, 60, 64, 66). Vergelyk daardie gebeurtenis met wat omtrent ’n jaar later in 33 HJ gebeur het toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het. Op daardie geleentheid was sy 11 lojale apostels saam met hom, al het hulle nie alles heeltemal verstaan wat hy hulle geleer het nie. Maar anders as die meeste van dié in Galilea, was sy getroue apostels oortuig dat Jesus die Seun van God is wat uit die hemel neergedaal het (Matt. 16:16). Jesus het hulle geprys: “Julle het . . . in al my moeilike tye by my gebly” (Luk. 22:28). Hierdie verskille wys dat Jesus nie in Johannes 6:53 probeer verduidelik het wat by die Here se Aandmaal sou gebeur nie. En daar is verdere bewyse.

Johannes hoofstuk 6 vertel wat Jesus vir ’n skare Jode in Galilea gesê het (links). ’n Jaar later het hy met sy klein groep lojale apostels in Jerusalem gepraat (regs) (Sien paragraaf 8)


JY IS BETROKKE

9. Op watter groep is Jesus se woorde by die Here se Aandmaal van toepassing?

9 Gedurende die Here se Aandmaal het Jesus ongesuurde brood vir sy apostels gegee en vir hulle gesê dat dit sy liggaam verteenwoordig. Toe het hy die wyn vir hulle gegee en gesê dat dit die “bloed van die verbond” verteenwoordig (Mark. 14:​22-25; Luk. 22:20; 1 Kor. 11:24). Dit is betekenisvol. Die nuwe verbond is gemaak met “die huis van [geestelike] Israel” – wat “in die Koninkryk van God” sal wees – en nie met die mensdom oor die algemeen nie (Heb. 8:​6, 10; 9:15). Die apostels het dit nie op daardie stadium verstaan nie, maar hulle sou kort daarna met heilige gees gesalf word en deel word van die nuwe verbond om ’n plek saam met Jesus in die hemel te hê. – Joh. 14:​2, 3.

10. Wat is nog ’n verskil tussen wat Jesus gedurende die Here se Aandmaal gesê het en wat hy in Galilea gesê het? (Sien ook prent.)

10 Let op dat Jesus gedurende die Here se Aandmaal gefokus het op die “klein kuddetjie”. Daardie klein groep het begin met sy getroue apostels wat fisies saam met hom in daardie vertrek was (Luk. 12:32). Hulle en ander wat in daardie groep sou wees, moes van die twee embleme gebruik – die brood en die wyn. Dit is hulle wat ’n plek saam met Jesus in die hemel sal ontvang. So dit is nog ’n verskil tussen die Here se Aandmaal en wat vroeër in Galilea gebeur het, want wat Jesus by die Here se Aandmaal vir sy apostels gesê het, is net op ’n klein groep mense van toepassing. Maar wat hy in Galilea gesê het, is op ’n onbeperkte hoeveelheid mense van toepassing.

Dié wat van die brood en die wyn gebruik, is ’n klein groep, maar enige iemand kan geloof in Jesus beoefen en die ewige lewe kry (Sien paragraaf 10)


11. Wat het Jesus in Galilea gesê wat wys dat hy nie na ’n beperkte groep verwys het nie?

11 Toe Jesus in 32 HJ in Galilea was, het hy hoofsaaklik met Jode gepraat wat brood by hom wou hê. Maar hy het hulle aandag gevestig op iets wat hulle baie meer sou help as letterlike kos. Hy het ’n voorsiening geïdentifiseer waardeur hulle die ewige lewe kon kry. En Jesus het gesê dat dié wat gesterf het, op die laaste dag opgewek kon word en vir ewig kon lewe. Hy het nie verwys na net ’n paar, ’n beperkte aantal, wat gekies is, soos wat hy later gedurende die Here se Aandmaal gedoen het nie. In Galilea het hy eerder gefokus op ’n seëning wat aan alle mense beskikbaar sou wees. Om die waarheid te sê, hy het gesê: “As enigiemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe. Die brood wat ek sal gee, is . . . my vlees sodat die wêreld kan lewe.” – Joh. 6:51. c

12. Wat is nodig om die ewige lewe te kry?

12 Jesus het nie vir die Jode in Galilea gesê dat elke persoon wat al ooit gelewe het of ooit gebore sou word, hierdie seëning sou kry nie. Slegs dié wat ‘van hierdie brood eet,’ dié wat geloof beoefen, sal baat vind. Baie naamchristene voel dat hulle gered sal word as hulle net “in [Jesus] glo” en hom as hulle persoonlike redder beskou (Joh. 6:​29, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar party in die skare wat aan die begin in hom geglo het, het hom verlaat. Hoekom?

13. Wat is nodig om ’n ware dissipel van Jesus te wees?

13 Die meeste van daardie mense in die skare het Jesus net gevolg omdat hy vir hulle gegee het wat hulle wou hê. Hulle wou hê dat hy hulle moes genees, vir hulle kos moes gee en vir hulle die dinge moes sê wat hulle graag wou hoor. Maar Jesus het gewys dat meer van sy ware dissipels vereis sou word. Hy het nie na die aarde toe gekom net om mense se vleeslike begeertes te bevredig nie. Hulle moes sy uitnodiging aanvaar om na hom toe te “kom” deur alles wat hy hulle geleer het, te aanvaar en te gehoorsaam. – Joh. 5:40; 6:44.

14. Wat moet ons doen om baat te vind by Jesus se vlees en bloed?

14 Jesus het die skare geleer dat hy dit vir hulle moontlik sal maak om vir ewig te lewe deur sy vlees en bloed op te offer. Hulle moes geloof beoefen in daardie waarheid. Sulke geloof was noodsaaklik vir daardie Jode, en dit is nog steeds vandag noodsaaklik (Joh. 6:40). Ja, as ons wil baat vind by Jesus se vlees en bloed, soos genoem word in Johannes 6:​53, moet ons geloof in daardie losprys beoefen. Daardie moontlikheid is beskikbaar aan ’n onbeperkte hoeveelheid mense. – Ef. 1:7.

15-16. Watter belangrike dinge het ons uit Johannes hoofstuk 6 geleer?

15 In Johannes hoofstuk 6 het ons baie dinge geleer wat vir ons almal baie belangrik en aanmoedigend is. Dit maak dit duidelik dat Jesus baie vir mense omgee. Terwyl hy in Galilea was, het hy die siekes genees, mense oor die Koninkryk geleer en seker gemaak dat mense se basiese behoefte aan kos bevredig is (Luk. 9:11; Joh. 6:​2, 11, 12). Nog belangriker, hy het mense geleer dat hy “die brood van die lewe” is. – Joh. 6:​35, 48.

16 Dié wat hy die “ander skape” genoem het, gebruik nie van die brood en die wyn by die Here se Aandmaal nie, en hulle moet ook nie (Joh. 10:16). Maar hulle vind nog steeds baat by die vlees en bloed van Jesus Christus. Hulle doen dit deur geloof te beoefen in die losprysoffer van Jesus en die wonderlike dinge wat dit moontlik maak (Joh. 6:53). Maar dié wat van die brood en die wyn moet gebruik, wys dat hulle deel is van die nuwe verbond en die hoop het om in die hemelse Koninkryk te regeer. So, of ons nou deel is van die gesalfdes of van die ander skape, ons kan baie dinge leer uit die verslag in Johannes hoofstuk 6. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons geloof moet beoefen en sodoende die ewige lewe kan kry.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

a Johannes 6:​5-35 word in die vorige artikel bespreek.

b Die water waarvan Jesus gepraat het, verteenwoordig Jehovah se voorsiening vir die ewige lewe.

c Johannes hoofstuk 6 gebruik woorde wat vertaal kan word as “enigiemand” en “elkeen” in verband met dié wat vir ewig kan lewe. – Joh. 6:​35, 40, 47, 54, 56-58.