LEWENSVERHAAL
Ek het nooit ophou leer nie
EK DANK Jehovah vir die voorreg om hom as my “Groot Onderrigter” te hê (Jes. 30:20). Hy leer sy aanbidders deur middel van sy Woord, die Bybel, sy wonderlike skepping en sy organisasie. En hy gebruik ook ons geestelike broers en susters om ons te help. Al is ek amper 100 jaar oud, hou ek aan om op al hierdie maniere by Jehovah se onderrigting baat te vind. Kom ek verduidelik hoe.
Ek is in 1927 in ’n klein dorpie naby Chicago, Illinois, VSA, gebore. My pa en ma het vyf kinders gehad – Jetha, Don, ek, Karl en Joy. Ons was almal vasbeslote om Jehovah met ons hele hart te dien. Jetha het in 1943 die tweede klas van Gilead bygewoon. Don, Karl en Joy het onderskeidelik in 1944, 1947 en 1951 na Bethel in Brooklyn, New York, gegaan. Hulle goeie voorbeeld, sowel as my ouers s’n, het my baie beïndruk.
ONS GESIN LEER DIE WAARHEID
My pa en ma was mense wat die Bybel gelees het, en hulle was lief vir God. Hulle het ons ook geleer om God lief te hê. Maar my pa het sy respek vir die kerk verloor nadat hy ’n soldaat in Europa gedurende die Eerste Wêreldoorlog was. My ma was baie dankbaar dat hy lewend terug huis toe gekom het, en daarom het sy gesê: “Karl, kom ons gaan kerk toe soos voorheen.” My pa het geantwoord: “Ek sal saam met jou soontoe loop, maar ek gaan nie in nie.” Sy het gevra: “Hoekom nie?” Hy het geantwoord: “Gedurende die oorlog het geestelike leiers wat aan dieselfde godsdiens behoort het, maar aan teenoorgestelde kante van die oorlog was, die soldate en hulle wapens geseën! Het God die soldate aan albei kante ondersteun?”
Later, terwyl my ma by die kerk was, het twee Getuies van Jehovah na ons huis toe gekom. Hulle het my pa twee boeke met die naam Lig aangebied, wat die boek Openbaring bespreek het. My pa het belanggestel en het die boeke aanvaar. Toe my ma die boeke sien, het sy dit begin lees. Eendag het sy ’n kennisgewing in die plaaslike koerant gesien wat belangstellendes genooi het na ’n Bybelstudie met die hulp van die Lig-boeke. Sy het besluit om te gaan. Toe sy daar aankom, het ’n ouer vrou die deur oopgemaak. My ma het een van die boeke vir haar gewys en gevra: “Studeer julle dit hier?” Die vrou het gesê: “Ja, liefie, kom in.” Die volgende week het my ma ons saam met haar geneem, en daarna het ons elke week gegaan.
By een vergadering het die persoon wat die leiding geneem het, my gevra om Psalm 144:15 te lees, wat sê dat dié wat Jehovah aanbid, gelukkig is. Hierdie vers het my beïndruk, sowel as twee ander verse – 1 Timoteus 1:11, wat sê dat Jehovah “die gelukkige God” is, en Efesiërs 5:1, wat ons aanmoedig om “navolgers van God” te word. Ek het besef dat ek gelukkig moet wees om my Skepper te dien en dat ek hom moet dank vir die eer om dit te doen. Ek het hierdie twee dinge regdeur my lewe probeer doen.
Die naaste gemeente was 32 kilometer van ons huis af in Chicago. Nietemin het ons dit bygewoon, en my kennis van die Bybel het gegroei. Ek onthou dat die persoon wat die leiding geneem het, eenkeer vir Jetha gevra het om te antwoord. Terwyl ek na haar geluister het, het ek gedink: ‘Ek het dit geweet. Ek kon my hand opgesteek het om te antwoord.’ Ek het begin voorberei en geantwoord. Nog belangriker, ek het, soos my twee broers en twee susters, nader aan Jehovah gekom. Ek is in 1941 gedoop.
JEHOVAH LEER ONS BY STREEKBYEENKOMSTE
Ek onthou veral die streekbyeenkoms in 1942 in Cleveland, Ohio. Ons gesin het in tente saam met ander gesinne gebly naby die plek waar die streekbyeenkoms gehou is. Broers en susters van meer as 50 ander plekke in die Verenigde State het deur middel van telefoonverbinding ingeskakel. Die Tweede Wêreldoorlog was op daardie stadium aan die gang, en teenstand teen Jehovah se Getuies het al hoe meer geword. In die aande het ek gesien hoe groepe broers hulle karre geparkeer het sodat hulle ligte weg van die tente gewys het. Almal het saamgestem dat iemand van elke kar deur die nag moes wag hou. As daar enige teken van moeilikheid was, moes die broers hulle hoofligte aansit om die aanvallers te verblind en hulle toeters druk. Ander kon dan kom om hulle te help. Ek het besef: ‘Jehovah se volk is vir alles goed voorbereid!’ Niks slegs het gebeur nie. En omdat ek veilig gevoel het, kon ek slaap.
Jare later, toe ek oor daardie streekbyeenkoms nagedink het, het ek besef dat my ma nooit gewys het dat sy angstig of bang was nie. Sy het heeltemal op Jehovah en sy organisasie vertrou. Ek sal nooit haar goeie voorbeeld vergeet nie.
Nie lank voor daardie streekbyeenkoms nie het my ma as ’n gewone pionier begin dien. Daarom het sy spesiale aandag gegee aan die toesprake wat oor voltydse diens gegaan het. Op pad huis toe het sy gesê: “Ek wil graag aanhou pionier, maar ek kan dit nie doen en goed na die huishouding omsien nie.” Sy het toe gevra of ons haar sou help. Ons het ja gesê, en daarom het sy elkeen van ons een of twee kamers gegee om voor ontbyt skoon te maak. Nadat ons skool toe gegaan het, het sy seker gemaak dat die huis skoon was en dan in die bediening uitgegaan. Sy was ’n besige vrou, maar sy het nooit haar kinders afgeskeep nie. Wanneer ons vir middagete huis toe gekom het en ná skool, was sy altyd daar vir ons. Party dae ná skool het ons saam met haar in die bediening uitgegaan, wat ons gehelp het om te verstaan wat dit beteken om ’n pionier te wees.
EK BEGIN MET VOLTYDSE DIENS
Ek het begin pionier toe ek 16 jaar oud was. Al was my pa nog nie ’n Getuie nie, het hy belanggestel in hoe dit met my bediening gaan. Een aand het ek vir hom gesê dat ek nog nie iemand gekry het wat ’n Bybelstudie wil hê nie, al het ek baie
hard probeer. Ná ’n rukkie het ek gevra: “Wil Pa saam met my studeer?” Hy het vir ’n tydjie daaroor nagedink en toe geantwoord: “Ek kan nie aan ’n goeie rede dink om dit nie te doen nie.” Ja, my pa was my eerste Bybelstudie. Dit was vir my baie spesiaal!Ons het die boek “Die waarheid sal julle vrymaak” studeer. Soos ons met die studie aangegaan het, het ek besef dat my pa my gehelp het om ’n beter student en onderrigter te word. Byvoorbeeld, een aand nadat ons ’n paragraaf gelees het, het hy gesê: “Ek sien wat die boek sê. Maar hoe weet jy dat die boek reg is?” Ek was nie voorbereid om sy vraag te beantwoord nie, en daarom het ek gesê: “Ek kan dit nie nou aan Pa bewys nie, maar ek behoort die antwoord teen ons volgende studie te hê.” En ek het. Ek het tekste gekry wat die punt wat ons bespreek het, bewys het. Daarna het ek geleer om navorsing te doen sodat ek beter voorbereid kon wees vir ons studie. Dit het my en my pa gehelp om albei geestelik te groei. Hy het die dinge wat hy geleer het, toegepas en is in 1952 gedoop.
EK HET AANHOU LEER BY BETHEL
Ek was 17 toe ek die huis verlaat het. Min of meer dieselfde tyd het Jetha a ’n sendeling geword en is Don Bethel toe. Hulle albei was lief vir hulle toewysings, en dit het my baie aangemoedig. Daarom het ek vir Bethel en Gileadskool aansoek gedoen en die saak in Jehovah se hande gelos. Die uiteinde? Ek is in 1946 Bethel toe genooi.
Oor die jare het ek baie verskillende toewysings by Bethel gehad, so ek kon baie nuwe dinge leer. Ek is al 75 jaar lank in Bethel, en gedurende daardie tyd het ek geleer hoe om boeke te help maak en hoe om boekhouwerk te doen. Ek het ook geleer oor die invoer- en uitvoerbedryf. Maar wat ek die meeste geniet, is al die geestelike onderrigting wat Bethel deur middel van oggendaanbidding en Bybelgebaseerde lesings voorsien.
Ek het ook by my jonger broer, Karl, geleer wat in 1947 Bethel toe gekom het. Hy was ’n uitstekende student en onderrigter van die Bybel. Ek het hom eenkeer gevra om my te help met ’n toespraak wat ek moes gee. Ek het vir Karl verduidelik dat ek baie inligting gekry het, maar dat ek gesukkel het om dit alles te gebruik. Hy het die oplossing met een vraag vir my gegee: “Joel, wat is jou tema?” Ek het vinnig die punt gesnap – gebruik net die inligting wat nodig is en los die res uit. Ek het nooit hierdie les vergeet nie.
Om in Bethel gelukkig te wees, moet ons ’n volle deelname aan die bediening hê, en dit kan tot aanmoedigende ondervindinge lei. Een ondervinding
wat ek baie goed kan onthou, het vroeg een aand in die Bronx in die stad New York begin. Ek en ’n broer het ’n vrou gaan besoek wat voorheen Die Wagtoring en Ontwaak! aanvaar het. Ons het onsself voorgestel en gesê: “Vanaand help ons mense om opbouende dinge uit die Bybel te leer.” Sy het geantwoord: “As dit oor die Bybel gaan, kom in.” Ons het ’n hele paar tekste oor God se Koninkryk en die komende nuwe wêreld gelees en bespreek. Dit moes haar regtig beïndruk het, want sy het ’n hele paar van haar vriende genooi om die volgende week by ons aan te sluit. Sy en haar man het later getroue knegte van Jehovah geword.EK LEER BY MY VROU
Ek het byna 10 jaar lank vir ’n huweliksmaat gesoek voordat ek my vrou ontmoet het. Wat het my gehelp om ’n goeie vrou te kry? Ek het biddend nagedink oor die vraag: ‘Wat wil ek doen nadat ons trou?’
Net ná die streekbyeenkoms by die Yankee-stadion in 1953 het ek ’n suster met die naam Mary Aniol ontmoet. Sy en Jetha was saam in die tweede klas van Gilead, en sy was my suster se sendelingmaat. Mary het my baie entoesiasties vertel van haar sendingtoewysings op die Karibiese Eilande en oor die Bybelstudies wat sy oor die jare gehou het. Soos ons mekaar beter leer ken het, het ons besef dat ons albei dieselfde geestelike doelwitte het. Ons liefde vir mekaar het sterker geword, en ons is in April 1955 getroud. Mary het op baie maniere gewys dat sy ’n geskenk van Jehovah is en ’n voorbeeld is om na te volg. Sy was gelukkig in watter toewysing sy ook al gekry het. Sy het hard gewerk, opreg vir ander omgegee en altyd God se Koninkryk eerste in haar lewe gestel (Matt. 6:33). Ons het drie jaar lank op die kring gedien, en in 1958 is ons as ’n paartjie Bethel toe genooi.
Ek het baie by Mary geleer. Byvoorbeeld, vroeg in ons huwelik het ons besluit om ons Bybellees saam te doen en omtrent 15 verse op ’n slag te lees. Nadat een van ons ’n gedeelte gelees het, het ons oor die tekste gepraat en dan bespreek hoe ons dit in ons lewe kan toepas. Mary het my baie keer vertel van die dinge wat sy by Gilead of in haar sendingdiens geleer het. Wat ek by haar geleer het, het my gehelp om my toesprake te verbeter en te weet hoe om susters aan te moedig. – Spr. 25:11.
My dierbare Mary is in 2013 oorlede. Maar ek sien daarna uit om haar in die nuwe wêreld te sien! Intussen is ek vasbeslote om aan te hou leer en op Jehovah met my hele hart te vertrou (Spr. 3:5, 6). Dit gee my vertroosting en maak my gelukkig wanneer ek dink oor wat Jehovah se volk in die nuwe wêreld sal doen. Dit sal beslis insluit om nuwe dinge oor en van ons Groot Onderrigter te leer! Ja, ek kan nie genoeg vir hom dankie sê vir alles wat hy vir my tot dusver geleer het en vir al die maniere waarop hy onverdiende goedheid aan my bewys het nie.
a Sien die lewensverhaal van Jetha Sunal in Die Wagtoring van 1 Maart 2003, bl. 23-29.