Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

LIED 3 U gee ons hoop en krag

Jou trane is kosbaar vir Jehovah

Jou trane is kosbaar vir Jehovah

“Bewaar tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek opgeteken nie?”PS. 56:8.

DOEL

Hoe Jehovah ons pynlike emosies ten volle verstaan en ons die nodige vertroosting sal gee.

1-2. Watter situasies kan veroorsaak dat ons trane stort?

 ONS almal het al die een of ander tyd trane gestort. Wanneer ons situasies ondervind wat ons baie gelukkig maak, stort ons dalk trane van vreugde. Dalk het jy gehuil toe iets belangriks of iets spesiaals met jou gebeur het – byvoorbeeld, toe jou kind gebore is, toe jy aan ’n goeie herinnering gedink het of toe jy ’n goeie vriend gesien het wat jy jare laas gesien het.

2 Maar dikwels huil ons as gevolg van die pyn wat ons diep in ons hart voel. Byvoorbeeld, ons huil dalk wanneer iemand ons diep teleurstel. Ons stort dalk trane wanneer ons intense pyn ondervind as gevolg van ’n verskriklike siekte of wanneer ons treur oor die dood van ’n geliefde. Op sulke tye voel ons dalk soos die profeet Jeremia gevoel het toe Jerusalem deur die Babiloniërs verower is. Jeremia het gesê: “Die trane stroom uit my oë . . . Ek huil heeltyd, sonder ophou.” – Klaagl. 3:​48, 49.

3. Hoe voel Jehovah wanneer hy sy knegte sien huil? (Jesaja 63:9)

3 Jehovah weet hoe baie trane ons al gestort het as gevolg van ontstellende situasies. Die Bybel verseker ons dat hy bewus is van elke pynlike situasie wat sy knegte deurmaak, en hy hoor ons wanneer ons hom smeek om ons te help (Ps. 34:15). Maar Jehovah sien en hoor ons nie net nie. Soos ’n liefdevolle ouer word hy diep geraak wanneer hy sy kinders sien huil, en hy is gretig om hulle te help. – Lees Jesaja 63:9.

4. Watter Bybelvoorbeelde sal ons bespreek, en wat sal ons oor Jehovah leer?

4 In sy Woord sê Jehovah vir ons hoe hy gereageer het toe sy knegte trane gestort het. Ons kan dit sien deur te kyk na die voorbeelde van Hanna, Dawid en koning Hiskia. Wat het hulle laat trane stort? Hoe het Jehovah op hulle hulpgeroep gereageer? En hoe kan hulle voorbeeld ons vertroos wanneer ons trane stort omdat ons bedroef is, verraai is of hopeloos voel?

TRANE VAN DROEFHEID

5. Hoe het Hanna se situasie haar laat voel?

5 Hanna het ’n hele paar probleme ondervind wat veroorsaak het dat sy trane van droefheid stort. Een van hierdie probleme was dat haar man ’n ander vrou, Peninna, gehad het, en sy het Hanna gehaat. Asof dit nie erg genoeg was nie, het Hanna geen kinders gehad nie, terwyl Peninna ’n hele paar kinders gehad het (1 Sam. 1:​1, 2). Peninna het Hanna onophoudelik uitgetart omdat sy nie kinders kon hê nie. Hoe sou jy in so ’n situasie gevoel het? Hanna was so ontsteld dat “sy gehuil het en nie geëet het nie”, en sy het “bitter hartseer” geword. – 1 Sam. 1:​6, 7, 10.

6. Wat het Hanna gedoen om vertroosting te vind?

6 Hoe het Hanna vertroosting gevind? Iets wat haar gehelp het, is die feit dat sy na die middelpunt van ware aanbidding, die tabernakel, gegaan het. Daar, moontlik iewers naby die ingang van die voorhof van die tabernakel, het sy “tot Jehovah begin bid en kon [sy] nie ophou huil nie”. Sy het Jehovah gesmeek: “Kyk hoe swaar kry u diensmeisie [en dink] aan my” (1 Sam. 1:10b, 11). Hanna het haar gevoelens in gebed voor Jehovah uitgestort. Dit het Jehovah sekerlik diep geraak om die trane van hierdie kosbare dogter van hom te sien!

7. Watter vertroosting het Hanna ontvang deur haar hart voor Jehovah uit te stort?

7 Hoe het Hanna gevoel nadat sy haar hart voor Jehovah in gebed uitgestort het en versekering van die hoëpriester Eli ontvang het? Die verslag sê: “Die vrou het weggegaan en geëet, en sy was nie meer hartseer nie” (1 Sam. 1:​17, 18). Al het haar ontstellende situasie nog nie verander nie, het Hanna verlig gevoel. Sy het die gewig van haar emosionele las aan Jehovah oorgegee. Hy het gesien hoe ontsteld sy is, haar gehoor huil en haar later geseën deur haar toe te laat om kinders te hê. – 1 Sam. 1:​19, 20; 2:21.

8-9. In ooreenstemming met Hebreërs 10:​24, 25, hoekom moet ons ons bes doen om Christelike vergaderinge by te woon? (Sien ook prent.)

8 Lesse vir ons. Ondervind jy ’n moeilike situasie wat veroorsaak dat jy trane van droefheid stort? Dalk treur jy oor die dood van ’n familielid of ’n vriend. Op sulke tye is dit net normaal om alleen te wil wees. Maar soos Hanna vertroosting en aanmoediging gevind het deur na die tabernakel te gaan, kan jy vertroosting vind deur Christelike vergaderinge by te woon – al voel jy nie op jou beste nie. (Lees Hebreërs 10:​24, 25.) Terwyl ons by die vergaderinge na vertroostende Bybelverse luister, kan Jehovah ons help om negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes te vervang. Dit kan ons help om ons emosies te beheer, al verbeter ons situasie nie onmiddellik nie.

9 By ons vergaderinge vertroos ons broers en susters ons en hulle wys vir ons hoe baie hulle ons liefhet. En ons voel beter wanneer ons by hulle is (1 Tess. 5:​11, 14). Dink aan die ondervinding van ’n spesiale pionierbroer wie se vrou gesterf het. Hy het gesê: “Ek stort nog steeds trane. Soms sit ek in ’n hoekie en huil net. Maar ons vergaderinge is ’n ware bron van aanmoediging. Die pragtige woorde van my broers en susters vertroos my regtig. Maak nie saak hoe angstig, of bekommerd, ek voel voordat ek by die vergadering aankom nie, ek voel altyd beter wanneer ek daar is.” Wanneer ons by ons vergaderinge is, kan Jehovah ons broers en susters gebruik om ons te help.

Ons medegelowiges kan ons vertroos (Sien paragraaf 8-9)


10. Hoe kan ons Hanna se voorbeeld navolg wanneer ons verskriklik hartseer is?

10 Hanna het ook vertroosting gevind deur haar hart voor Jehovah in gebed uit te stort. Jy kan ook ‘al jou bekommernisse aan Jehovah oorgee’, met die vertroue dat hy sal luister (1 Pet. 5:7). ’n Suster wie se man in ’n gewapende rooftog doodgemaak is, het vertel: “Dit het gevoel asof my hart in klein stukkies gebreek is en dat dit nooit sou genees nie. Maar wanneer ek ook al tot my liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, gebid het, het dit my vertroos. Soms kon ek nie die regte woorde vind nie, maar hy het my verstaan. Wanneer ek ’n emosionele wrak was, het ek vir vrede gebid. Ek kon voel hoe ’n kalmte oor my hart en verstand kom en dan kon ek aangaan.” Wanneer jy Jehovah vertel hoe angstig jy is, word hy diep geraak deur jou trane van droefheid, en hy verstaan die pyn in jou hart. Al is die oorsaak van jou angstigheid nog daar, kan Jehovah jou seer hart vertroos en jou help om ’n mate van vrede te voel (Ps. 94:19; Fil. 4:​6, 7). En hy sal jou getroue volharding seën. – Heb. 11:6.

WANNEER IEMAND WAT JY VERTROU, JOU VERRAAI

11. Hoe het die moeilike situasies wat Dawid deurgemaak het, hom laat voel?

11 Gedurende sy lewe het Dawid ’n hele paar moeilike situasies deurgemaak wat hom laat trane stort het. Daar was baie mense wat hom gehaat het, en hy is selfs verraai deur mense wat hy vertrou het (1 Sam. 19:​10, 11; 2 Sam. 15:​10-14, 30). Op een stadium het hy geskryf: “Ek het moeg geword omdat ek so baie sug. Die hele nag laat ek my bed swem in die trane. My rusbank is oorstroom deur my gehuil.” Hoekom het Dawid so gevoel? “Weens al my vyande”, het hy verduidelik (Ps. 6:​6, 7). Toe ander Dawid baie sleg behandel het, was hy so ontsteld dat hy nie kon ophou huil nie.

12. Waarvan was Dawid oortuig soos ons kan sien in Psalm 56:8?

12 Al was Dawid se lewe baie moeilik, was hy oortuig dat Jehovah hom liefhet. Hy het geskryf: “Jehovah sal hoor hoe ek huil” (Ps. 6:8). By ’n ander geleentheid het Dawid die pragtige woorde gesê wat ons lees in Psalm 56:8. (Lees.) Daardie woorde skets ’n pragtige prentjie van Jehovah se liefdevolle sorg. Dawid het gevoel asof Jehovah sy trane in ’n leersak bewaar of dit in ’n boek opteken. Dawid was seker dat Jehovah sy pyn raakgesien het en onthou het. Dawid was oortuig dat sy liefdevolle hemelse Vader nie net bewus was van die dinge wat hy deurgemaak het nie, maar ook van hoe dit hom geraak het.

13. Wat kan ons vertroos wanneer ander ons teleurstel? (Sien ook prent.)

13 Lesse vir ons. Is jou hart gebreek omdat iemand wat jy vertrou het, jou diep teleurgestel het of verraai het? Miskien is jou hart seer omdat iemand met wie jy uitgegaan het of jou huweliksmaat jou verlaat het, of dalk het iemand vir wie jy lief is, opgehou om Jehovah te dien. ’n Broer wie se vrou egbreuk gepleeg het en hom verlaat het, het gesê: “Ek was geskok en kon dit nie glo nie. Ek het waardeloos, hartseer en kwaad gevoel.” As iemand jou verraai het of jou diep teleurgestel het, kan dit jou vertroos om te weet dat Jehovah jou nooit sal verlaat nie. Die broer het gesê: “Ek het besef dat menseverhoudings kan misluk, maar Jehovah is ons Rots. Maak nie saak wat gebeur nie, hy is altyd daar. Hy sal sy lojales nie verlaat nie” (Ps. 37:28). Onthou ook dat Jehovah jou baie liewer het as wat enige mens kan. Wanneer iemand vir wie jy lief is, jou verraai het, is dit baie pynlik, maar Jehovah is nog steeds lief vir jou, en hy gee om vir jou (Rom. 8:​38, 39). Die punt is: Maak nie saak hoe ’n persoon jou behandel het nie, jou hemelse Vader is lief vir jou.

Die boek Psalms verseker ons daarvan dat Jehovah naby dié is wie se hart gebreek is (Sien paragraaf 13)


14. Watter versekering gee Psalm 34:18 ons?

14 As jy verraai is, kan jy vertroos word deur Dawid se woorde in Psalm 34:18. (Lees.) Een naslaanwerk sê dat “dié wat mismoedig is”, kan verwys na “dié wat niks goeds het om na uit te sien nie”. Hoe help Jehovah dié wat so voel omdat iemand hulle diep teleurgestel het? Soos ’n liefdevolle ouer wat ’n ontstelde kind vashou en vertroos, is Jehovah “naby” ons – vol meegevoel en gereed om ons te help as ons hartseer is omdat iemand ons verraai of verlaat het. Hy is gretig om ons te vertroos as ons hart gebreek is en ons waardeloos voel. En hy gee ons baie dinge om na uit te sien wat ons help om die moeilike tye wat ons nou deurmaak, te verduur. – Jes. 65:17.

TRANE VAN HOPELOOSHEID

15. Watter situasie het Hiskia ondervind wat hom laat huil het?

15 Toe koning Hiskia van Juda 39 was, het hy uitgevind dat hy ernstig siek is. Die profeet Jesaja het Jehovah se boodskap oorgedra dat Hiskia sou sterf as gevolg van sy siekte (2 Kon. 20:1). Dit het gelyk asof daar geen hoop vir Hiskia is nie. Hiskia was verpletter deur die nuus en het bitterlik gehuil. Hy het Jehovah gesmeek om hom te help. – 2 Kon. 20:​2, 3.

16. Wat het Jehovah vir Hiskia gedoen?

16 Jehovah is geraak deur Hiskia se gebed en sy trane en het liefdevol vir hom gesê: “Ek het jou gebed gehoor. Ek het jou trane gesien. En ek gaan jou gesond maak.” Deur middel van Jesaja het Jehovah genadiglik belowe om sy lewe te verleng en om Jerusalem uit die hande van die Assiriërs te red. – 2 Kon. 20:​4-6.

17. Hoe ondersteun Jehovah ons wanneer ons ernstige gesondheidsprobleme ondervind? (Psalm 41:3) (Sien ook prent.)

17 Lesse vir ons. Ondervind jy ’n gesondheidsprobleem wat hopeloos lyk? Bid tot Jehovah, selfs wanneer jy in trane is. Die Bybel verseker ons dat “die Vader van groot genade en die God van alle vertroosting” ons gedurende al ons moeilike tye sal vertroos (2 Kor. 1:​3, 4). Ons kan nie vandag van Jehovah verwag om al ons probleme te verwyder nie, maar ons kan op hom staatmaak om ons te ondersteun. (Lees Psalm 41:3.) Deur middel van sy heilige gees gee Jehovah ons krag, wysheid en innerlike vrede om dit te hanteer (Spr. 18:14; Fil. 4:13). Hy ondersteun ons ook deur ons Bybelse hoop dat alle siektes verwyder sal word. – Jes. 33:24.

Jehovah sal ons gebede beantwoord deur vir ons krag, wysheid en innerlike vrede te gee (Sien paragraaf 17)


18. Watter teks het jou al gedurende ’n verskriklik moeilike situasie vertroos? (Sien die venster “ Vertroostende woorde om ons trane af te vee”.)

18 Jehovah se woorde het Hiskia vertroos. Ons kan ook vertroosting vind in God se Woord. Jehovah het vertroostende woorde bewaar wat ons kan laat beter voel wanneer ons moeilike situasies ondervind (Rom. 15:4). Toe ’n suster in Wes-Afrika met kanker gediagnoseer is, het sy dikwels gehuil. Sy vertel: “’n Teks wat ek veral vertroostend vind, is Jesaja 26:3. Al het ons amper nooit ten volle beheer oor die moeilike tye wat ons ondervind nie, verseker daardie vers my dat Jehovah ons die soort innerlike vrede kan gee wat ons help om ons reaksie op die moeilike tye te beheer.” Is daar ’n teks wat jy veral vertroostend gevind het wanneer jy situasies ondervind wat verskriklik moeilik, miskien selfs hopeloos, lyk?

19. Watter toekoms lê vir ons voor?

19 Ons lewe diep in die laaste dae, en ons verwag dat die oorsake van trane net sal meer word. Maar soos ons gesien het uit die voorbeelde van Hanna, Dawid en koning Hiskia sien Jehovah die trane wat ons stort. En hy word diep geraak daardeur. Ons trane is regtig kosbaar vir hom. So wanneer ons moeilike situasies ondervind, wil ons beslis ons hart in gebed voor Jehovah uitstort. Ons wil ons nooit van ons liefdevolle broers en susters in die gemeente afsonder nie. En as ons die Bybel lees, sal ons vertroosting van Jehovah ontvang. Ons kan seker wees dat Jehovah ons sal beloon as ons getrou bly volhard. Dit sluit die wonderlike belofte in dat hy met verloop van tyd elke traan wat ons stort omdat ons bedroef is, verraai is en hopeloos voel van ons oë sal afvee (Op. 21:4). Dan sal ons net trane van vreugde stort.

LIED 4 “Jehovah is my Herder”