Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 50

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

Ouers – Help jou kind om sy geloof te versterk

Ouers – Help jou kind om sy geloof te versterk

“Bewys [aan julleself] wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.”ROM. 12:2.

DOEL

Praktiese voorstelle oor hoe ouers goeie kommunikasie met hulle kind kan behou en hom kan help om sy geloof in God en in die Bybel te versterk.

1-2. Hoe moet ouers reageer wanneer ’n kind vrae vra oor ons Bybelse oortuigings?

 BAIE sal saamstem dat dit ’n voltydse werk is om ’n ouer te wees. As jy ’n ouer is, werk jy sekerlik hard om die geloof van jou kind te versterk, en dit maak Jehovah bly (Deut. 6:​6, 7). Soos jou kind grootword, begin hy dalk ernstige vrae vra oor ons Bybelse oortuigings, insluitende die Bybel se sedelike standaarde.

2 Aan die begin is jy dalk bekommerd oor jou kind se vrae. Jy beskou sulke vrae dalk selfs as ’n tree terug wanneer dit by sy geloof kom. Maar in werklikheid, soos kinders ouer word, moet hulle vrae vra om hulle eie oortuigings te vorm (1 Kor. 13:11). So daar is geen rede om bang te wees nie. Jy kan alle opregte vrae wat jou kind oor ons oortuigings vra, beskou as geleenthede om hom te help om sy denkvermoë te ontwikkel.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ouers hulle kind of kinders kan help om (1) sterk geloof in God en die Bybel te ontwikkel, (2) waardering vir die Bybel se sedelike standaarde op te bou en (3) hulle oortuigings te verdedig. Terwyl ons dit doen, sal ons ook kyk na positiewe aspekte van kinders se vrae en party gesinsaktiwiteite wat ouers die geleentheid kan gee om oor Christelike oortuigings te praat.

HELP JOU KIND OM STERK GELOOF IN GOD EN DIE BYBEL TE ONTWIKKEL

4. Watter vrae het ’n kind dalk, en hoekom?

4 Christenouers besef dat geloof in God nie iets is wat ’n kind erf nie. Jy is nie gebore met geloof in Jehovah nie. Dit is ook die geval met jou kind. Met verloop van tyd sukkel ’n kind dalk met vrae soos: ‘Hoe weet ek dat daar ’n God is? Kan ek regtig glo wat die Bybel sê?’ Om die waarheid te sê, die Bybel moedig ons eintlik aan om ons “denkvermoë” te gebruik en om “seker [te maak] van alles” (Rom. 12:1; 1 Tess. 5:21). Maar hoe kan jy jou kind help om sy geloof te versterk?

5. Wat kan ouers doen om hulle kind te help om geloof in die Bybel te ontwikkel? (Romeine 12:2)

5 Moedig jou kind aan om die waarheid aan homself te bewys. (Lees Romeine 12:2.) Wanneer jou kind vrae vra, maak gebruik van die geleentheid om vir hom te wys hoe om die antwoorde te vind deur navorsingshulpe te gebruik, soos die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. In die Navorsingsgids, onder die onderwerp “Die Bybel”, kan hy kyk onder “Deur God geïnspireer” om bewyse te vind dat die Bybel nie net ’n goeie boek is wat deur mense geskryf is nie. Dit is eerder “die woord van God” (1 Tess. 2:13). Byvoorbeeld, hy kan navorsing doen oor die eertydse Assiriese stad Nineve. In die verlede het party Bybelgeleerdes gesê dat die stad Nineve nooit bestaan het nie. Maar teen die 1850’s is die ruïnes van hierdie stad opgegrawe, wat bewys dat die Bybel se verslag akkuraat is (Sef. 2:​13-15). Vir inligting oor hoe die vernietiging van Nineve Bybelprofesie vervul het, kan hy die artikel “Het jy geweet?” lees in Die Wagtoring van November 2021. As hy dit wat hy uit ons publikasies leer, vergelyk met wat hy uit ensiklopedieë en ander gerespekteerde bronne leer, sal dit jou kind help om sy geloof te versterk in wat die Bybel sê.

6. Hoe kan ouers hulle kind se denkvermoë stimuleer? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)

6 Stimuleer jou kind se denkvermoë. Ouers het verskillende geleenthede om interessante gesprekke met hulle kind te hê oor die Bybel of oor geloof in God. Julle kry dalk sulke geleenthede wanneer julle ’n museum, ’n botaniese tuin of ’n uitstalling by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies besoek. Byvoorbeeld, wanneer julle ’n toer by ’n museum doen, of dit nou in persoon of virtueel is, kan jy jou kind se aandag vestig op geskiedkundige gebeure of artefakte wat sy oortuiging kan versterk dat die Bybel akkuraat is. Weet jou kind dat God se persoonlike naam op ’n 3 000-jaar-oue stuk klip verskyn wat bekend staan as die Moabitiese Steen? Die oorspronklike Moabitiese Steen word vertoon in die Louvre-museum in Parys, Frankryk. ’n Replika van die Moabitiese Steen word ook vertoon by “Die Bybel en God se naam”-uitstalling by die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York. Die Moabitiese Steen wys dat koning Mesa van Moab teen Israel in opstand gekom het. Dit is in ooreenstemming met wat die Bybel sê (2 Kon. 3:​4, 5). Wanneer jou kind met sy eie oë bewyse sien dat die Bybel betroubaar en akkuraat is, sal sy geloof sterker word. – Vergelyk 2 Kronieke 9:6.

Kan jy jou kind se denkvermoë stimuleer deur dinge te bespreek wat in museums gevind word? (Sien paragraaf 6)


7-8. (a) Wat kan ons leer uit die pragtige patrone wat ons in die natuur sien? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.) (b) Watter vrae kan jou kind help om sy geloof in ’n Skepper te versterk?

7 Moedig jou kind aan om na te dink oor die natuur. Terwyl julle in die platteland stap of in die tuin werk, vestig jou kind se aandag op die interessante patrone wat in die natuur gesien kan word. Hoekom? Hierdie patrone bewys dat ’n baie intelligente persoon dit moes ontwerp het. Byvoorbeeld, spiraalpatrone word al jare lank deur wetenskaplikes bestudeer. Biofisikus Nicola Fameli verduidelik dat jy ’n sekere reeks nommers ontdek wanneer jy die aantal spirale in die natuur tel. Hierdie nommers word die Fibonacci-reeks genoem. Spiraalpatrone kan in baie dinge gesien word, soos die vorm van party sterrestelsels, die patroon van nautilus-skulpe, die blare van plante en die koppe van sonneblomme. a

8 Soos jou kind meer in sy wetenskapklas op skool leer, sal hy ontdek dat wette die vorm van baie dinge bepaal. Byvoorbeeld, elke sneeuvlokkie word gevorm volgens meetkundige patrone wat as fraktale bekend staan. Fraktaalpatrone word ook in ander dinge in die natuur gevind. Maar wie het hierdie pragtige patrone ontwerp? Wanneer jou kind diep nadink oor die wonderlike dinge wat Jehovah gemaak het, sal dit hom heel moontlik help om sterk geloof te ontwikkel dat God alle dinge gemaak het (Heb. 3:4). Op een of ander stadium kan jy hom hierdie vraag vra: “As God ons geskep het, sou dit nie redelik wees om tot die slotsom te kom dat hy ons ook sedelike leiding gegee het oor hoe om gelukkig te wees nie?” Jy kan dan verduidelik dat sulke waardevolle leiding in die Bybel gevind word.

NASA, ESA, and the Hubble Heritage (STScl/AURA)-ESA/Hubble Collaboration

Wie het die pragtige patrone in die natuur ontwerp? (Sien paragraaf 7-8)


BOU WAARDERING VIR DIE BYBEL SE SEDELIKE STANDAARDE OP

9. Wat kan veroorsaak dat ’n kind die waarde van die Bybel se sedelike standaarde bevraagteken?

9 As jou kind die waarde van die Bybel se sedelike standaarde bevraagteken, probeer om uit te vind wat die onderliggende redes vir die vrae is. Stem hy regtig nie saam met die Bybel se sedelike standaarde nie? Of is die probleem net dat hy nie weet hoe om sy Christelike waardes te verdedig wanneer hy met ander praat nie? In albei gevalle kan jy jou kind help om die Bybel se sedelike standaarde te waardeer deur die boek Geniet die lewe vir ewig! te studeer. b

10. Hoe kan jy jou kind help om oor sy persoonlike verhouding met Jehovah te dink?

10 Moedig jou kind aan om sy persoonlike verhouding met Jehovah te waardeer. Wanneer jy die Bybel met jou kind studeer, gebruik die vrae en prente in die boek Geniet die lewe vir ewig! om te verstaan hoe hy voel oor verskeie dinge (Spr. 20:5). Byvoorbeeld, les 8 vergelyk Jehovah met ’n liefdevolle vriend wat ons herinneringe gee wat ons kan beskerm en bevoordeel. Nadat julle 1 Johannes 5:3 bespreek het, kan jy vra: “Omdat ons weet dat Jehovah so ’n goeie Vriend is, hoe moet ons voel oor wat hy vir ons sê om te doen?” Dit lyk dalk soos ’n eenvoudige vraag, maar dit kan jou kind help om God se wette as ’n bewys van Sy liefde te beskou. – Jes. 48:​17, 18.

11. Hoe kan jy jou kind help om die waarde van Bybelbeginsels te waardeer? (Spreuke 2:​10, 11)

11 Bespreek hoe die toepassing van Bybelbeginsels ons bevoordeel. Wanneer julle die Bybel of die dagteks saam lees, bespreek hoe Bybelbeginsels julle gesin al gehelp het. Byvoorbeeld, sien jou kind die voordele daarvan om hard te werk en eerlik te wees? (Heb. 13:18). Jy kan ook beklemtoon hoe die toepassing van Bybelbeginsels ons fisies en emosioneel beskerm (Spr. 14:​29, 30). As julle sulke beginsels bespreek, sal dit jou kind heel moontlik help om die Bybel se raad selfs meer te waardeer. – Lees Spreuke 2:​10, 11.

12. Hoe help een pa sy seun om die praktiese waarde van Bybelbeginsels te waardeer?

12 Steve, ’n pa in Frankryk, verduidelik hoe hy en sy vrou hulle tienerseun, Ethan, help om te sien dat Jehovah wette maak omdat hy ons liefhet. Steve sê: “Ons vra hom vrae soos: ‘Hoekom verwag Jehovah dat ons hierdie beginsel moet respekteer? Hoe wys dit dat hy ons liefhet? Wat sal gebeur as jy nie daardie beginsel toepas nie?’” Sulke gesprekke het Ethan gehelp om Jehovah se sedelike standaarde sy eie te maak. Steve voeg by: “Ons wil Ethan graag help om te sien dat die Bybel wysheid bevat wat baie beter is as menslike wysheid.”

13. Hoe kan ouers hulle kind oplei om Bybelbeginsels toe te pas? Gee ’n voorbeeld.

13 Lei jou kind op om Bybelbeginsels toe te pas. Een geleentheid om dit te doen, is wanneer jou kind ’n boek moet lees as deel van ’n skoolprojek. Die boek bevorder dalk die idee dat ons karakters wat onsedelike dinge doen of woede-uitbarstings het, moet navolg. Jy kan jou kind aanmoedig om te dink oor die dade van die karakters in die lig van Bybelbeginsels (Spr. 22:​24, 25; 1 Kor. 15:33; Fil. 4:8). Dit sal hom dalk help om vir sy onderwyser en medestudente te getuig wanneer hulle die boek in die klas bespreek.

BEREI JOU KIND VOOR OM SY OORTUIGINGS TE VERDEDIG

14. Watter onderwerp kan vir ’n jong Christen intimiderend wees, en hoekom?

14 Jong Christene het dalk soms te min selfvertroue om hulle oortuigings te verdedig. Hulle voel dalk geïntimideerd wanneer die evolusieteorie in die klas bespreek word. Hoekom? Hulle onderwysers sê dalk dat evolusie ’n feit is, nie ’n teorie nie. Wat kan jou kind help om vas oortuig te wees dat wat hy glo, waar is?

15. Wat kan ’n jong Christen help om meer oortuig te word van wat hy glo?

15 Help jou kind om meer oortuig te word van wat hy glo. Jou kind hoef nie skaam te voel omdat hy weet wat die waarheid oor die skepping is nie (2 Tim. 1:8). Hoekom nie? Die feit is dat baie wetenskaplikes ook verstaan dat lewe nie vanself of per toeval ontstaan het nie. Hierdie wetenskaplikes sien bewyse dat ’n intelligente persoon al die komplekse lewende dinge moes geskep het. As gevolg daarvan aanvaar hulle nie die evolusieteorie wat oor die algemeen in skole regoor die wêreld geleer word nie. Jou kind kan sy eie oortuigings versterk deur te dink aan die redes wat ander broers en susters oortuig het om te glo dat lewe geskep is. c

16. Hoe kan ouers ’n kind help om sy geloof in ’n Skepper te verdedig? (1 Petrus 3:15) (Sien ook prent.)

16 Berei jou kind voor om sy geloof in ’n Skepper te verdedig. (Lees 1 Petrus 3:15.) Dit kan julle help om die artikels op jw.org in die reeks “Jongmense vra – Skepping of evolusie?” saam te bespreek. Bespreek dan die redenasie wat jou kind voel die beste sal werk om ander te help om die waarheid oor die Skepper te verstaan. Herinner hom daaraan dat hy nie met sy skoolmaats hoef te stry nie. Moedig hom aan om op ’n eenvoudige en logiese manier te redeneer as iemand graag oor die onderwerp wil praat. Byvoorbeeld, ’n skoolmaat sê dalk: “Ek glo net in dit wat ek kan sien, en ek het God nog nooit gesien nie.” ’n Jong Christen kan sê: “Sê nou jy loop deur ’n woud ver van enige stad of dorp en jy sien ’n waterput wat met klippe gebou is. Wat sou jy dink? As die feit dat daar ’n put is, duidelik bewys dat ’n intelligente persoon dit gemaak het, hoeveel te meer wanneer dit kom by die bestaan van die heelal!”

Gebruik logiese redenasies wanneer jy met jou skoolmaats praat (Sien paragraaf 16-17) d


17. Hoe kan ouers hulle kind aanmoedig om na geleenthede te soek om Bybelwaarheid met ander te deel? Gee ’n voorbeeld.

17 Moedig jou kind aan om na geleenthede te soek om Bybelwaarheid met ander te deel (Rom. 10:10). Jy kan wat hy doen om oor sy geloof te praat, vergelyk met wat gedoen moet word om ’n musiekinstrument te speel. Aan die begin oefen ’n leerder dalk deuntjies wat maklik is om te speel. Met verloop van tyd word dit makliker om musiek te speel. Net so gebruik ’n jong Christen dalk aan die begin ’n eenvoudige benadering wanneer hy sy geloof met ander deel. Byvoorbeeld, hy kan ’n skoolmaat vra: “Het jy geweet dat ingenieurs dikwels ontwerpe uit die natuur naboots? Kom ek wys vir jou ’n fassinerende video.” Nadat die jong Christen ’n video uit die reeks Is dit ontwerp? gewys het, kan hy sê: “As ’n wetenskaplike die eer kry vir ’n ontwerp wat alreeds in die natuur bestaan, wie verdien die eer vir die oorspronklike?” So ’n eenvoudige benadering is dalk genoeg om ’n jong persoon se belangstelling te stimuleer sodat hy meer sal wil leer.

HOU AAN OM JOU KIND TE HELP OM SY GELOOF TE VERSTERK

18. Hoe kan ouers aanhou om hulle kind se geloof in God te versterk?

18 Ons lewe in ’n wêreld vol mense wat geen geloof in Jehovah het nie (2 Pet. 3:3). So, ouers, terwyl julle die Bybel met julle kind studeer, moedig hom aan om onderwerpe te ondersoek wat sy respek vir God se Woord en sedelike standaarde sal vergroot. Stimuleer sy denkvermoë deur te praat oor indrukwekkende fasette van Jehovah se skepping. Help hom om die wonderlike Bybelprofesieë te waardeer wat alreeds vervul is. En die belangrikste van alles, bid saam met jou kind en vir hom. Wanneer jy dit doen, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah alles wat jy doen om jou kind te help om sy geloof te versterk, sal seën. – 2 Kron. 15:7.

LIED 133 Aanbid Jehovah in jou jeug

a Vir meer inligting sien op jw.org die video Die wonderlike skepping leer ons van God – Patrone.

b As jou kind alreeds klaar is met sy studie van die boek Geniet die lewe vir ewig! kan jy van die lesse in deel 3 en 4 met hom hersien, wat die Bybel se sedelike standaarde bespreek.

c Sien die artikel “Waarom ons glo aan ’n Skepper” in die Ontwaak! van September 2006 en die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe. Vir nog voorbeelde kyk op jw.org na die videoreeks Beskouings oor die oorsprong van lewe.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong Getuie wys vir ’n skoolmaat wat in hommeltuie belangstel, ’n video uit die reeks Is dit ontwerp?