Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

LIED 97 God se Woord is lewegewend

’n Wonderdadige voorsiening van brood

’n Wonderdadige voorsiening van brood

“Ek is die brood van die lewe. Enigiemand wat na my toe kom, sal nooit honger word nie.”JOH. 6:35.

DOEL

Ondersoek die verslag in Johannes hoofstuk 6, wat vertel hoe Jesus brood en vis vir ’n groot skare vermeerder het, en leer lesse daaruit.

1. Hoe belangrik was brood vir mense in Bybeltye?

 BROOD was ’n stapelvoedsel vir baie in Bybeltye (Gen. 14:18; Luk. 4:4). Om die waarheid te sê, dit was so belangrik dat die Bybel soms “brood” gebruik om na kos oor die algemeen te verwys (Matt. 6:11). Brood was ook ’n belangrike deel van twee van Jesus se welbekende wonderwerke (Matt. 16:​9, 10). Ons vind een van daardie verslae in Johannes hoofstuk 6. Terwyl ons hierdie verslag hersien, sal ons na lesse soek wat ons vandag kan toepas.

2. In watter situasie het ’n behoefte aan kos ontstaan?

2 Nadat Jesus se apostels klaar was met ’n predikingsreis, het Jesus hulle saam met hom in ’n boot oor die See van Galilea geneem sodat hulle kon rus (Mark. 6:​7, 30-32; Luk. 9:10). Hulle het by ’n afgeleë plek in die gebied van Betsaida aangekom. Maar kort daarna het duisende mense daar aangekom om Jesus te sien. Hy het hulle nie geïgnoreer nie. Hy het liefdevol tyd geneem om hulle oor die Koninkryk te leer en om die siekes te genees. Omdat dit begin laat word het, het die dissipels gewonder waar al daardie mense iets sou kry om te eet. Party van hulle het dalk ’n bietjie kos by hulle gehad, maar die meeste van hulle sou in die dorpies moes ingaan om kos te koop (Matt. 14:15; Joh. 6:​4, 5). Wat sou Jesus doen?

’N WONDERWERK OM BROOD TE VOORSIEN

3. Hoe het Jesus gereageer op die behoeftes van die skare? (Sien ook prent.)

3 Jesus het vir sy apostels gesê: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet” (Matt. 14:16). Dit was ’n probleem omdat daar omtrent 5 000 mans was. En insluitende die vrouens en kinders, was daar dalk 15 000 mense wat kos moes kry (Matt. 14:21). Andreas het gesê: “Hier is ’n seuntjie wat vyf brode [of garsbrode] en twee vissies het. Maar wat is dit nou onder so baie mense?” (Joh. 6:9; vtn.). Garsbrood is oor die algemeen deur die armes en ander geëet, en die vissies was dalk gesout en gedroog. Maar die hoeveelheid wat die seuntjie gehad het, sou nie genoeg wees om so baie te voed nie – of sou dit?

Jesus het in die mense se geestelike en fisiese behoeftes voorsien (Sien paragraaf 3)


4. Wat kan ons leer uit Johannes 6:​11-13? (Sien ook prente.)

4 Omdat Jesus gasvry teenoor die skare wou wees, het hy vir die mense gesê om in groepe op die gras te gaan sit. (Mark. 6:​39, 40; lees Johannes 6:​11-13.) Ons lees dat Jesus ’n dankgebed aan sy Vader gedoen het vir die brood en die vis. Dit was heel gepas om dankie te sê vir God, wat in werklikheid die Bron van die kos was. Dit is ’n goeie herinnering vir ons om Jesus se voorbeeld te volg deur te bid voordat ons eet, of ons nou alleen of tussen mense is. Jesus het toe die kos laat uitdeel en die mense het geëet en was versadig. Daar was selfs oorskietstukke, en Jesus wou nie hê dat dit gemors moet word nie. Daarom het hy die oorskietstukke laat bymekaarmaak om moontlik later gebruik te word. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel wanneer dit kom by hoe ons die dinge wat ons het, wyslik kan gebruik. As jy ’n ouer is, kan jy hierdie verslag met jou kinders hersien en bespreek watter lesse ons kan leer oor gebed, gasvryheid en vrygewigheid.

Vra jouself: ‘Volg ek Jesus se voorbeeld na deur te bid voordat ek eet?’ (Sien paragraaf 4)


5. Hoe het die mense gereageer op wat Jesus daardie dag gedoen het, en hoe het hy gereageer?

5 Die mense was beïndruk deur die manier hoe Jesus onderrig het en deur sy wonderwerke. Hulle het geweet dat Moses belowe het dat God ’n spesiale profeet sou stuur, en daarom het hulle dalk gewonder: ‘Is Jesus dalk die een?’ (Deut. 18:​15-18). As dit die geval was, het dit miskien gelyk asof hy ’n uitstekende heerser sou wees en dalk brood aan die hele nasie sou kon voorsien. Daarom wou die skare Jesus “gryp en hom koning . . . maak” (Joh. 6:​14, 15). As Jesus dit sou toelaat, sou hy deelneem aan die politiek van die Jode, wat onder Romeinse heerskappy was. Het hy? Nee. Ons lees dat Jesus dadelik opgetree het en ‘weggegaan het na die berg toe’. So ten spyte van druk van ander het hy nie by die politiek betrokke geraak nie. Dit is ’n baie belangrike les vir ons!

6. Hoe kan ons wys dat ons Jesus se voorbeeld wil navolg? (Sien ook prent.)

6 Ander sal ons natuurlik nie vra om brood te vermeerder of om die siekes wonderdadig te genees nie, en hulle sal ook nie probeer om ons ’n koning of ’n nasionale heerser te maak nie. Maar hulle sal ons dalk aanmoedig om betrokke te raak by die politiek deur te stem vir of om ons ondersteuning te gee aan iemand wat hulle voel dinge sal verbeter. Maar Jesus se voorbeeld is duidelik. Hy het geweier om by politieke sake betrokke te raak en het selfs later gesê: “My Koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Joh. 17:14; 18:36). Dit is goed as Christene vandag Jesus se denke en dade navolg. Ons ondersteun, getuig oor en bid vir daardie Koninkryk (Matt. 6:10). Kom ons gaan terug na die verslag oor Jesus se wonderdadige voorsiening van brood en kyk wat ons nog kan leer.

Jesus het ’n voorbeeld vir sy volgelinge gestel deur nie by die politiek van die Jode of van die Romeine betrokke te raak nie (Sien paragraaf 6)


“WAT DIE WONDERWERK MET DIE BRODE BETEKEN”

7. Wat het Jesus en die apostels gedoen? (Johannes 6:​16-20)

7 Nadat Jesus die skare kos gegee het, het hy sy apostels met ’n boot laat terugkeer na Kapernaum, en hy het weggegaan na die berg toe en op hierdie manier die skare se pogings om hom koning te maak, vermy. (Lees Johannes 6:​16-20.) Terwyl die apostels geseil het, was daar ’n storm met ’n baie sterk wind, wat groot golwe veroorsaak het. Toe het Jesus na hulle toe gekom en op die water geloop. En hy het die apostel Petrus genooi om ook op die water te loop (Matt. 14:​22-31). Die oomblik toe Jesus in die boot klim, het die wind gaan lê. Die dissipels was verbaas en het gesê: “U is werklik God se Seun” (Matt. 14:33). a Maar hulle het nie die verband gesien tussen hierdie wonderwerk en wat vroeër met die skare gebeur het nie. Let op wat Markus oor dieselfde gebeurtenis geskryf het: “[Die apostels] was stomgeslaan, want hulle het nie begryp wat die wonderwerk met die brode beteken het nie, en hulle het dit nog steeds moeilik gevind om te verstaan” (Mark. 6:​50-52). Die dissipels het nie verstaan dat Jehovah Jesus die krag gegee het om baie meer te doen as om brood te voorsien nie. Maar kort daarna het Jesus self oor die wonderwerk met die brode gepraat en ons nog ’n les geleer.

8-9. Hoekom het die skare Jesus probeer vind? (Johannes 6:​26, 27)

8 Die skare wat deur Jesus gevoed is, het gefokus op die bevrediging van hulle fisiese behoeftes en begeertes. Hoe so? Die volgende dag het hulle gesien dat Jesus en sy apostels weg is. Die skare het toe in bote geklim wat uit Tiberias daar aangekom het en na Kapernaum gegaan om Jesus te vind (Joh. 6:​22-24). Het hulle dit hoofsaaklik gedoen om meer oor die Koninkryk te leer? Nee. Hulle het hoofsaaklik gedink aan hulle fisiese behoefte aan brood. Hoe weet ons dit?

9 Kyk wat gebeur het toe die skare Jesus naby Kapernaum gevind het. Jesus het openlik gesê dat dit hulle prioriteit was om hulle tydelike fisiese behoeftes te bevredig. Hy het erken dat hulle “die brood geëet het en versadig geword het” met “voedsel wat sleg word”. Hy het hulle aangemoedig om eerder te werk vir “voedsel . . . wat ewige lewe gee”. (Lees Johannes 6:​26, 27.) Jesus het gesê dat sy Vader sulke voedsel sou voorsien. Die idee dat voedsel tot ewige lewe kon lei, het hulle sekerlik verbaas! Watter voedsel kon dit moontlik doen, en hoe kon Jesus se luisteraars dit ontvang?

10. Oor watter “werke van God” moes die mense leer?

10 Daardie Jode het heel moontlik gevoel dat hulle sekere dinge of werke moet doen om te kwalifiseer om sulke voedsel te ontvang. Hulle het dalk gedink aan die “werke” van die Wet van Moses. Maar Jesus het vir hulle gesê: “God wil hê dat julle geloof beoefen in die een wat hy gestuur het” (Joh. 6:​28, 29). Om geloof in God se verteenwoordiger te beoefen, is noodsaaklik om “die ewige lewe [te] hê”. Om die waarheid te sê, Jesus het voorheen hieroor gepraat (Joh. 3:​16-18, 36). En hy sou later meer sê oor hoe ons die ewige lewe kan kry. – Joh. 17:3.

11. Hoe het die Jode gewys dat hulle nog steeds daarop gefokus was om met brood versadig te word? (Psalm 78:​24, 25)

11 Daardie Jode het nie geglo dat hulle geloof in Jesus moet beoefen nie. Hulle het hom gevra: “Wat doen u dan as ’n teken, sodat ons dit kan sien en u kan glo?” (Joh. 6:30). Hulle het genoem dat hulle voorvaders in Moses se dag manna ontvang het, wat met brood vergelyk kon word. (Neh. 9:15; lees Psalm 78:​24, 25.) Dit is duidelik dat hulle nog steeds daarop gefokus het om versadig te word met letterlike brood. Hulle het nie eers vir Jesus gevra wat hy bedoel het toe hy daarna gepraat het van “die ware brood uit die hemel” nie, wat soos lewegewende manna uit die hemel is (Joh. 6:32). Hulle was so gefokus op hulle fisiese behoeftes dat hulle die geestelike waarhede wat Jesus met hulle probeer deel het, geïgnoreer het. Wat kan ons uit hierdie verslag leer?

ONS HOOFFOKUS

12. Hoe het Jesus gewys wat die belangrikste is?

12 Hier is ’n belangrike les vir ons in Johannes hoofstuk 6. Ons hooffokus moet ons geestelike behoeftes wees. Onthou dat Jesus daardie punt gemaak het toe hy deur Satan versoek is (Matt. 4:​3, 4). En in die Bergpredikasie het hy ons geleer hoe belangrik dit vir ons is om ’n goeie verhouding met God te hê (Matt. 5:3). So, ons kan onsself afvra: ‘Wys die manier hoe ek lewe dat my geestelike behoefte vir my belangriker is as my fisiese begeertes?’

13. (a) Hoekom is dit nie verkeerd om kos te geniet nie? (b) Aan watter waarskuwing moet ons aandag skenk? (1 Korintiërs 10:​6, 7, 11)

13 Dit is nie verkeerd om te bid vir die dinge wat ons nodig het en om hierdie dinge te geniet nie (Luk. 11:3). Harde werk wat ons in staat stel om “te eet en te drink”, maak ons gelukkig en kom “van die ware God” (Pred. 2:24; 8:15; Jak. 1:17). Maar ons moet materiële dinge op hulle regte plek hou. Die apostel Paulus het dit beklemtoon toe hy aan Christene geskryf het wat na aan die einde van die Joodse stelsel van dinge gelewe het. Hy het verwys na gebeure uit Israel se verlede, insluitende wat naby die berg Sinai gebeur het. Hy het Christene gewaarsku om “nie skadelike dinge [te] begeer net soos [die Israeliete] dit begeer het nie”. (Lees 1 Korintiërs 10:​6, 7, 11.) Die Israeliete het toegelaat dat hulle verlange na voedsel selfs Jehovah se wonderdadige voorsienings in “skadelike dinge” verander (Num. 11:​4-6, 31-34). En terwyl hulle ’n goue kalf aanbid het, het hulle geëet, gedrink en feesgevier (Eks. 32:​4-6). Paulus het na hulle ondervinding verwys as ’n waarskuwing vir Christene wat voor die einde van die Joodse stelsel van dinge in 70 HJ gelewe het. Ons lewe nou na aan die einde van hierdie wêreld, so dit is baie belangrik dat ons moet aandag skenk aan Paulus se waarskuwing.

14. Wat kan ons in die nuwe wêreld verwag wanneer dit by kos kom?

14 Toe Jesus van “ons brood vir hierdie dag” gepraat het, het hy verwys na die tyd wanneer God se wil “op die aarde, net soos in die hemel”, sal plaasvind (Matt. 6:​9-11). Waaraan laat dit jou dink? Die Bybel wys dat God se wil op die aarde goeie kos insluit. In ooreenstemming met Jesaja 25:​6-8 sal daar ’n oorvloed goeie kos wees om onder Jehovah se Koninkryk te geniet. Psalm 72:16 voorspel: “Daar sal volop graan op die aarde wees. Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” Sien jy daarna uit om van daardie graan te gebruik om jou gunsteling soort brood te maak of om nuwe resepte te probeer? Jy kan ook daarna uitsien om jou eie wingerde te plant en die wyn te geniet (Jes. 65:​21, 22). En jy sal nie die enigste een wees nie.

15. Wat sal dié wat opgewek word, leer? (Johannes 6:35)

15 Lees Johannes 6:35. Wat lê voor vir dié wat van die brood en die vis geëet het wat Jesus voorsien het? In die komende opstanding sal jy dalk van hulle ontmoet. Al het hulle in die verlede nie geloof beoefen nie, sal hulle dalk opgewek word (Joh. 5:​28, 29). Hulle sal die betekenis van Jesus se woorde moet leer: “Ek is die brood van die lewe. Enigiemand wat na my toe kom, sal nooit honger word nie.” Hulle sal geloof in Jesus se losprysoffer moet ontwikkel, geloof dat hy sy lewe vir hulle gegee het. Op daardie tyd sal daar ’n program van geestelike onderrigting wees vir dié wat opgewek word en enige kinders wat dan gebore word. Ons sal dit baie geniet om ’n aandeel te hê aan daardie onderrigtingsprogram! Ons sal dit meer geniet as om letterlike brood te eet. Ja, geestelike dinge sal die hoogtepunt wees.

16. Wat sal ons volgende ondersoek?

16 Ons het gekyk na ’n deel van die verslag in Johannes hoofstuk 6, maar Jesus het nog baie meer gehad om ons te leer oor “die ewige lewe”. Die Jode met wie Jesus gepraat het, moes daaraan aandag skenk, en ons moet ook. Ons sal Johannes hoofstuk 6 in die volgende artikel verder bespreek.

LIED 20 Die gawe van u Seun

a Vir meer inligting oor hierdie opwindende verslag sien Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe, bl. 131 en Volg hulle geloof na, bl. 185.