Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wie is “die engele wat uitgekies is” in 1 Timoteus 5:21?

Die apostel Paulus het aan sy mede-ouerman Timoteus geskryf: “Ek beveel jou ernstig voor God en Christus Jesus en die engele wat uitgekies is: Gehoorsaam hierdie instruksies sonder om bevooroordeeld of partydig te wees.” – 1 Tim. 5:21.

Eerstens kan ons bespreek na watter engele dit nie verwys nie. Hierdie engele is duidelik nie deel van die 144 000 nie. Toe Paulus aan Timoteus geskryf het, het die opstanding van gesalfde Christene tot lewe in die hemel nog nie begin nie. Die apostels en ander gesalfdes het toe nog nie geesskepsele geword nie, so “die engele wat uitgekies is”, kon nie na hulle verwys nie. – 1 Kor. 15:​50-54; 1 Tess. 4:​13-17; 1 Joh. 3:2.

“Die engele wat uitgekies is”, kan ook nie verwys na die engele wat ongehoorsaam was gedurende die tyd van die Vloed nie. Daardie engele het kant gekies met Satan en demone geword en was vyande van Jesus (Gen. 6:2; Luk. 8:​30, 31; 2 Pet. 2:4). In die toekoms sal hulle 1 000 jaar lank in ’n afgrond wees, en daarna sal hulle saam met die Duiwel vernietig word. – Jud. 6; Op. 20:​1-3, 10.

So “die engele wat uitgekies is”, moes engele in die hemel gewees het wat saam met “God en Christus Jesus” werk.

Daar is duisende der duisende getroue engele (Heb. 12:​22, 23). Ons moenie dink dat elkeen van hulle dieselfde toewysing op dieselfde tyd het nie (Op. 14:​17, 18). Byvoorbeeld, Jehovah het net een engel gevra om 185 000 Assiriese soldate dood te maak (2 Kon. 19:35). ’n Aantal engele het dalk die toewysing om “alle struikelblokke en wettelose mense [bymekaar te maak] en hulle uit [Jesus se] Koninkryk [te] verwyder” (Matt. 13:​39-41). Ander engele het dalk die toewysing gekry om die gesalfdes bymekaar te maak (Matt. 24:31). En ander is beveel ‘om ons te beskerm oral waar ons gaan’. – Ps. 91:11; Matt. 18:10; vergelyk Matteus 4:11; Lukas 22:43.

“Die engele wat uitgekies is” in 1 Timoteus 5:21 was heel moontlik engele wat spesiale toewysings gekry het in verband met God se volk. In die konteks het Paulus wyse raad gegee oor ouermanne, wat deur die gemeente gerespekteer moet word. Paulus het gesê dat die ouermanne nie “bevooroordeeld” of “partydig” moet wees nie en nie besluite moet maak sonder om eers mooi daaroor te dink nie. ’n Baie belangrike rede vir hulle om Paulus se geïnspireerde raad te volg, is dat hulle “voor God en Christus Jesus en die engele wat uitgekies is”, optree. So dit is duidelik dat party engele toewysings in verband met die gemeente kry, soos om beskerming te voorsien, toesig oor die predikingswerk te hou en aan Jehovah verslag te lewer. – Matt. 18:10; Op. 14:6.