Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om Jehovah met vreugde te dien

Hou aan om Jehovah met vreugde te dien

DINK aan die gelukkigste dag van jou lewe. Was dit toe jy getrou het of toe jou eerste kind gebore is? Of was dit die dag toe jy gedoop is? Jy beskou jou doopdag waarskynlik as die belangrikste en vreugdevolste dag van jou lewe. En dink net hoe bly jou broers en susters daardie dag was toe hulle sien hoe jy bewys dat jy God met jou hele hart, siel, verstand en met al jou krag liefhet!—Markus 12:30.

Jou diens aan Jehovah het jou heel moontlik baie vreugde verskaf sedert jy gedoop is. Maar party verkondigers het van die vreugde verloor wat hulle eers gehad het. Waarom het dit gebeur? Watter redes het ons om aan te hou om Jehovah met vreugde te dien?

WAAROM PARTY HULLE VREUGDE VERLOOR HET

Die Koninkryksboodskap verskaf ons baie vreugde. Waarom? Omdat Jehovah belowe dat die Koninkryk binnekort ’n einde aan hierdie goddelose wêreld sal maak en God se nuwe wêreld tot stand sal bring. Sefanja 1:14 sê: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.” Maar as ons meen dat ons langer moet wag as wat ons gedink het, kan ons die vreugde verloor wat ons eers gehad het. Dit kan ons traag laat word in ons diens aan God.—Spreuke 13:12.

Wanneer ons tyd saam met ons broers en susters deurbring, spoor dit ons aan om Jehovah met vreugde te bly dien. Die goeie gedrag van Jehovah se knegte het ons moontlik na ware aanbidding aangetrek en ons gehelp om God vreugdevol te begin dien (1 Petrus 2:12). Maar wat kan gebeur wanneer een van ons broers of susters tereggewys word omdat hy of sy nie God se gebooie gehoorsaam het nie? Dit kan party in die gemeente ontmoedig en veroorsaak dat hulle hulle vreugde verloor.

Materialisme kan ook daartoe lei dat ons ons vreugde verloor. Hoe so? Satan se wêreld probeer ons oortuig dat ons dinge moet koop wat ons nie werklik nodig het nie. Laat ons die volgende woorde van Jesus dus in gedagte hou: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). Ons kan Jehovah nie met vreugde dien en terselfdertyd die wêreld ten volle probeer gebruik nie.

WEES VREUGDEVOL IN JEHOVAH SE DIENS

Om Jehovah te dien, is nie ’n swaar las vir diegene wat hom liefhet nie (1 Johannes 5:3). Hou Jesus se woorde in gedagte: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Dit is verkwikkend om ’n ware Christen te wees en dit verskaf ons vreugde. Ons het beslis goeie redes om vreugdevol te wees in ons diens aan Jehovah. Kom ons bespreek nou drie van hierdie redes.—Habakuk 3:18.

Ons dien ons Lewegewer, die gelukkige God (Handelinge 17:28; 1 Timoteus 1:11). Ons besef dat ons ons lewe aan ons Skepper verskuldig is. Laat ons dus aanhou om hom met vreugde te dien, ongeag hoeveel jaar verloop het sedert ons gedoop is.

Héctor behou sy vreugde deur sy Koninkrykshoop helder voor oë te hou en bedrywig te bly

Neem die voorbeeld van Héctor, wat Jehovah 40 jaar lank as ’n reisende opsiener gedien het. Selfs in sy “grysheid”, oftewel op sy oudag, geniet hy dit steeds om Jehovah te dien (Psalm 92:12-14). Omdat Héctor se vrou gesondheidsprobleme gekry het, kan hy nie meer soveel in God se diens doen nie, maar hy het nie sy vreugde verloor nie. Hy sê: “Dit is hartseer om te sien hoe my vrou se gesondheid agteruitgaan en dit is moeilik om vir haar te sorg, maar ek het nie toegelaat dat dit my van my vreugde in my diens aan die ware God beroof nie. Die wete dat ek my lewe verskuldig is aan Jehovah, wat die mens met ’n doel geskep het, is vir my oorgenoeg rede om hom innig lief te hê en heelhartig te dien. Ek probeer om bedrywig te bly in die predikingswerk en om die Koninkrykshoop helder voor oë te hou sodat ek nie my vreugde sal verloor nie.”

Jehovah het die losprysoffer voorsien, wat dit vir ons moontlik maak om ’n vreugdevolle lewe te hê. “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ja, ons sondes kan vergewe word en ons kan die ewige lewe hê as ons geloof beoefen in God se liefdevolle gawe van die losprys. Dit is waarlik ’n uitstekende rede om dankbaar te wees! En ons dankbaarheid vir die losprys sal ons beweeg om Jehovah vreugdevol te dien.

Jesús het sy lewe vereenvoudig en het Jehovah jare lank vreugdevol gedien

’n Broer met die naam Jesús, wat in Mexiko gewoon het, het gesê: “Ek was ’n werkslaaf en het soms vyf agtereenvolgende skofte gewerk, al was dit nie verpligtend nie. Ek het dit gedoen net om meer geld te maak. Toe het ek omtrent Jehovah geleer en dat hy sy geliefde Seun vir die mensdom gegee het. Ek wou hom baie graag dien. Ek het dus my lewe aan Jehovah toegewy, en ná 28 jaar by die maatskappy het ek besluit om te bedank en die voltydse diens te betree.” Dit is hoe Jesús Jehovah met vreugde begin dien het.

Ons lei ’n sedelike rein lewe, en dit maak ons gelukkig. Onthou jy hoe jou lewe was voordat jy Jehovah leer ken het? Die apostel Paulus het die Christene in Rome daaraan herinner dat hulle “slawe van die sonde was”, maar dat hulle “slawe van die regverdigheid geword” het. Omdat hulle ’n rein lewe gelei het, kon hulle na die ewige lewe uitsien (Romeine 6:17-22). Ons volg ook Jehovah se standaarde, en daarom is ons vry van die hartseer wat ’n onsedelike of gewelddadige lewenswyse meebring. Wat ’n rede tot vreugde!

“Die gelukkigste jare van my lewe was in Jehovah se diens.”—Jaime

Beskou die geval van Jaime, wat ’n ateïs, evolusionis en ook ’n bokser was. Jaime het Christelike vergaderinge begin bywoon en is geraak deur die liefde wat hy daar gesien het. Omdat Jaime sy vorige lewenswyse wou laat vaar, het hy Jehovah gevra om hom te help om aan Hom te glo. “Ek het stadig maar seker besef dat daar ’n liefdevolle Vader en barmhartige God bestaan”, sê Jaime. “Gehoorsaamheid aan Jehovah se regverdige standaarde het my beskerm. As ek nie verander het nie, sou ek dalk my lewe verloor het, soos van my voormalige vriende wat boksers was. Die gelukkigste jare van my lewe was in Jehovah se diens.”

MOENIE MOED OPGEE NIE!

Hoe moet ons voel terwyl ons vir die einde van hierdie goddelose wêreld wag? Onthou, ons doen God se wil en ons sien uit na die ewige lewe. “Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie” (Galasiërs 6:8, 9). Laat ons met Jehovah se hulp volhard, ons inspan om die eienskappe aan te kweek wat ons nodig het om die “groot verdrukking” te oorleef en aanhou om Jehovah met vreugde te dien.—Openbaring 7:9, 13, 14; Jakobus 1:2-4.

Ons kan die volle vertroue hê dat Jehovah ons volharding sal seën omdat hy bewus is van ons werk en die liefde wat ons vir hom en sy naam toon. As ons aanhou om hom met vreugde te dien, sal ons soos die psalmis Dawid wees, wat gesê het: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly, en my heerlikheid is geneig om vreugdevol te wees. Ook sal my vlees in veiligheid woon.”—Psalm 16:8, 9.