Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah het my gehelp om suksesvol te wees in sy diens

Jehovah het my gehelp om suksesvol te wees in sy diens

Ek het vir die offisier gesê dat ek reeds in die tronk was omdat ek nie wou veg nie. Ek het hom gevra: “Gaan jy my weer daardeur laat gaan?” Dit was die tweede keer dat ek beveel is om aan te sluit by die Weermag van die Verenigde State.

EK IS in 1926 gebore in Crooksville, Ohio, in die Verenigde State. My pa en ma was nie godsdienstig nie, maar hulle het gesê dat ons, hulle agt kinders, kerk toe moet gaan. Ek het na die Metodistekerk gegaan. Toe ek 14 was, het die predikant my ’n prys gegee omdat ek ’n jaar lank elke Sondag in die kerk was.

Margaret Walker (tweede suster links) het my gehelp om die waarheid te leer

Omtrent daardie tyd het Margaret Walker, ’n buurvrou wat een van Jehovah se Getuies was, my ma begin besoek en met haar oor die Bybel gepraat. Eendag het ek besluit om by hulle studie aan te sluit. Omdat my ma gedink het dat ek sou inmeng, het sy my uit die huis gejaag. Maar ek het steeds probeer om na hulle besprekings te luister. Ná nog ’n paar besoeke het Margaret my gevra: “Weet jy wat God se naam is?” Ek het geantwoord: “Almal weet wat dit is—dis God.” Sy het gesê: “Gaan haal jou Bybel en soek Psalm 83:18 op.” Ek het dit gedoen en gesien dat God se naam Jehovah is. Ek het na my vriende toe gehardloop en vir hulle gesê: “Wanneer julle vanaand by die huis kom, moet julle in Psalm 83:18 in die Bybel gaan kyk wat God se naam is.” ’n Mens kan maar sê dat ek onmiddellik begin preek het.

Ek het die Bybel gestudeer en is in 1941 gedoop. Kort daarna is ek gevra om ’n gemeentelike boekstudie te hou. Ek het my ma en my broers en susters aangespoor om saam te kom, en hulle almal het die boekstudie wat ek gehou het, begin bywoon. Maar my pa het nie belanggestel nie.

TEENSTAND BY DIE HUIS

Ek het meer verantwoordelikheid in die gemeente ontvang, en ek het baie boeke versamel wat deur Jehovah se Getuies gepubliseer is. Eendag het my pa na my boeke gewys en gesê: “Sien jy al daardie goed? Ek wil dit uit hierdie huis hê, en jy kan saam met dit gaan.” Ek het die huis verlaat en gaan woon in die nabygeleë Zanesville, Ohio, maar ek het dikwels na my tuisdorp gegaan om my gesinslede aan te moedig.

My pa het my ma probeer keer om die vergaderinge by te woon. Wanneer sy op pad was vergadering toe, het hy haar soms vinnig agternagesit en haar weer by die huis ingetrek. Maar dan het sy net by die ander deur uitgehardloop en vergadering toe gegaan. Ek het vir my ma gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Hy sal moeg word om agter Ma aan te hardloop.” Later het my pa haar nie meer probeer keer nie, en sy het vergaderinge vryelik bygewoon.

Toe die Teokratiese Bedieningskool in 1943 begin het, het ek studentetoesprake in my gemeente begin hou. Die raad wat ek ná my toesprake ontvang het, het my gehelp om ’n beter spreker te word.

NEUTRALITEIT TYDENS DIE OORLOG

In 1944, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is ek beveel om by die weermag aan te sluit. Ek het by Fort Hayes in Columbus, Ohio, aangemeld, ’n liggaamlike ondersoek gehad en papierwerk voltooi. Ek het ook vir die amptenare gesê dat ek nie ’n soldaat sal word nie. Hulle het my huis toe laat gaan. Maar ’n paar dae later het ’n offisier by my huis opgedaag en vir my gesê: “Corwin Robison, ek het ’n lasbrief om jou in hegtenis te neem.”

Ek het twee weke later in die hof verskyn, en die regter het gesê: “As dit van my afgehang het, sou ek jou lewenslank tronk toe gestuur het. Is daar iets wat jy wil sê?” Ek het geantwoord: “Edelagbare, ek moes as ’n bedienaar geklassifiseer gewees het. Elke stoep is my preekstoel, en ek het die goeie nuus van die Koninkryk al aan baie mense verkondig.” Die regter het vir die jurie gesê: “Julle is nie hier om te besluit of hierdie jong man ’n bedienaar is of nie. Julle is hier om te besluit of hy by die weermag aangesluit het of nie.” Binne ’n halfuur het die jurie besluit dat ek skuldig is. Die regter het my vir vyf jaar tronk toe gestuur in Ashland, Kentucky.

JEHOVAH BESKERM MY IN DIE TRONK

Ek was die eerste twee weke in ’n tronk in Columbus, Ohio, en ek het die eerste dag in my sel gebly. Ek het tot Jehovah gebid: “Ek kan nie vyf jaar lank in ’n sel bly nie. Ek weet nie wat om te doen nie.”

Die volgende dag het die wagte my toegelaat om buitentoe te gaan. Ek het tot by ’n lang, frisgeboude gevangene geloop, en ons het by ’n venster gestaan en uitkyk. Hy het my gevra: “Hoekom is jy hier, Kortetjie?” Ek het gesê: “Ek is een van Jehovah se Getuies.” Hy het gesê: “Regtig? Hoekom is jy dan hier?” Ek het geantwoord: “Jehovah se Getuies gaan nie oorlog toe nie en maak nie mense dood nie.” Toe het hy gesê: “Hulle het jou in die tronk gegooi omdat jy nie mense wil doodmaak nie. Hulle gooi ander ouens in die tronk juis omdat hulle mense doodmaak. Maak dit sin?” Ek het gesê: “Nee, dit maak nie sin nie.”

Toe het hy gesê: “Ek was 15 jaar lank in ’n ander tronk, en daar het ek van julle boekies gelees.” Toe ek dit hoor, het ek gebid: “Jehovah, help my om hierdie man aan my kant te kry.” Op daardie oomblik het die gevangene, wie se naam Paul was, gesê: “Skree net as enige van hierdie ouens aan jou raak. Ek sal hulle op hulle plek sit.” Terwyl ek daar was, het ek dus geen probleme met die 50 gevangenes in daardie gedeelte van die tronk gehad nie.

Ek is een van die Getuies wat in Ashland, Kentucky, in die tronk gegooi is weens my neutraliteit

Toe ek oorgeplaas is na die tronk in Ashland, het ek ’n paar ervare broers ontmoet wat reeds daar was. Hulle het my en ander gehelp om na aan Jehovah te bly. Hulle het ons ’n weeklikse Bybelleesgedeelte gegee, en ons het vrae en antwoorde voorberei vir vergaderinge wat ons Bible Bees genoem het. Ons was in ’n groot sel met beddens al langs die mure. Daar was ’n broer wat ons gebied georganiseer het. Hy het vir my gesê: “Robison, jy is verantwoordelik vir bed so en so. Enigiemand wat daardie bed kry, is jou gebied. Maak seker dat jy vir hom getuig voordat hy hier weggaan.” Sodoende het ons op ’n georganiseerde manier gepreek.

WAT EK BUITE DIE TRONK GEVIND HET

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1945 geëindig, maar ek was nog ’n geruime tyd daarna in die tronk. Ek was bekommerd oor my gesin, want my pa het vir my gesê: “As ek van jou ontslae kan raak, kan ek die res hanteer.” Toe ek vrygelaat is, het ’n aangename verrassing op my gewag. Sewe van my gesinslede het vergaderinge bygewoon en een van my susters is gedoop, ten spyte van my pa se teenstand.

In die bediening saam met Demetrius Papageorge, ’n gesalfde broer wat Jehovah in 1913 begin dien het

Toe die Koreaanse Oorlog in 1950 begin het, is ek ’n tweede keer beveel om by die weermag aan te sluit. Ek moes weer by Fort Hayes aanmeld. Nadat hulle my vaardighede getoets het, het ’n offisier vir my gesê: “Jy het een van die hoogste tellings in jou groep.” Ek het gesê: “Dis goed en wel, maar ek gaan nie by die weermag aansluit nie.” Ek het 2 Timoteus 2:3 aangehaal en gesê: “Ek is reeds ’n soldaat van Christus.” Ná ’n lang stilte het hy gesê: “Jy kan maar gaan.”

Kort daarna het ek die Bethelvergadering bygewoon by ’n streekbyeenkoms in Cincinnati, Ohio. Broer Milton Henschel het vir ons vertel dat Bethel broers nodig het wat hard vir die Koninkryk wil werk. Ek het vir Betheldiens aansoek gedoen en is aanvaar. Ek het in Augustus 1954 in Brooklyn begin dien, en ek is nog steeds in Bethel.

Ek het nog altyd baie werk by Bethel gehad. Ek het ’n paar jaar lank omgesien na die stoomketels in die drukkery en kantoorgeboue, en ek het ook masjiene en slotte reggemaak. Ek het ook by Byeenkomssale in die stad New York gewerk.

By die stoomketels in die kantoorgeboue by die Brooklynse Bethel

Ek geniet die programme by Bethel, soos oggendaanbidding en die gesin se Wagtoring-studie, asook om saam met die gemeente die predikingswerk te doen. Om die waarheid te sê, enige Getuiegesin behoort hierdie dinge gereeld te doen. As ouers en kinders die dagteks saam bespreek, Gesinsaanbidding gereeld hou, aan gemeentelike vergaderinge deelneem en die goeie nuus ywerig verkondig, sal almal in die gesin waarskynlik na aan Jehovah bly.

Ek het baie vriende by Bethel en in die gemeente gemaak. Party was gesalfdes en is al hemel toe. Ander was nie gesalfdes nie. Al Jehovah se knegte is natuurlik onvolmaak, insluitende Betheliete. Wanneer ek ’n meningsverskil met ’n broer het, probeer ek altyd vrede maak. Ek dink aan Matteus 5:23, 24 en aan wat ons moet doen wanneer meningsverskille ontstaan. Dit is nie maklik om te sê: “Ek is jammer” nie, maar dit is hoe die meeste meningsverskille opgelos word.

MY DIENS LEWER GOEIE RESULTATE OP

Weens my ouderdom is dit nou vir my moeilik om die predikingswerk van deur tot deur te doen, maar ek gee nie moed op nie. Ek het ’n bietjie Mandaryns geleer en geniet dit om op straat met Chinese mense te gesels. Party oggende laat ek 30 tot 40 tydskrifte by belangstellendes.

Ek getuig vir Chinese mense in Brooklyn, New York

Ek het selfs ’n herbesoek in China gedoen! Eendag het ’n vriendelike jong meisie vir my geglimlag terwyl sy advertensies vir ’n vrugtestalletjie uitgedeel het. Ek het ook geglimlag en Die Wagtoring en Ontwaak! in Chinees vir haar aangebied. Sy het dit geneem en vir my gesê dat haar naam Katie is. Daarna het sy elke keer wanneer sy my gesien het, met my kom gesels. Ek het haar die name van vrugte en groente in Engels geleer, en sy het die woorde herhaal. Ek het ook Bybeltekste aan haar verduidelik, en sy het die Leer Bybel-boek geneem. Maar ná ’n paar weke het sy verdwyn.

Maande later het ek tydskrifte aangebied vir ’n ander meisie wat advertensies uitgedeel het, en sy het dit geneem. Die volgende week het sy haar selfoon vir my gegee en gesê: “Jy moet met China praat.” Ek het gesê: “Ek ken niemand in China nie.” Maar omdat sy aangedring het, het ek die foon geneem en gesê: “Hallo, dis Robison.” Die stem aan die ander kant het gesê: “Robby, dis Katie. Ek is weer in China.” Ek het gesê: “China?” Katie het geantwoord: “Ja. Robby, die meisie wat jou die foon gegee het, is my suster. Jy het my soveel goeie dinge geleer. Leer haar ook soos jy my geleer het.” Ek het gesê: “Katie, ek sal my bes doen. Dankie dat jy my laat weet het waar jy is.” Kort daarna het ek vir die laaste keer met Katie se suster gepraat. Ek hoop dat hierdie twee meisies meer oor Jehovah leer, waar hulle ook al is.

Ek dien Jehovah al 73 jaar lank, en ek is bly dat hy my gehelp het om neutraal te bly en getrou te bly in die tronk. My broers en susters het my vertel dat hulle aangemoedig is omdat ek nie moed opgegee het toe my pa my teëgestaan het nie. My ma en ses van my broers en susters is uiteindelik gedoop. Selfs my pa se gesindheid het ’n bietjie verander, en hy het ’n paar vergaderinge bygewoon voordat hy gesterf het.

As dit God se wil is, sal my familielede en vriende wat gesterf het, opgewek word in die nuwe wêreld. Dink net hoeveel vreugde ons sal ervaar wanneer ons Jehovah vir ewig saam met ons geliefdes aanbid! *—Sien voetnoot.

^ par. 32 Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, het Corwin Robison getrou aan Jehovah gesterf.