Volg Jehovah se hegte vriende na
“Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.”—PSALM 25:14.
LIEDERE: 106, 118
1-3. (a) Waarom kan ons seker wees dat ons God se vriende kan word? (b) Watter persone sal ons in hierdie artikel bespreek?
IN DIE Bybel word Abraham God se vriend genoem (Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Hy is die enigste persoon in die Bybel wat spesifiek God se vriend genoem word. Beteken dit dat Abraham die enigste mens is wat ooit Jehovah se vriend geword het? Nee. Die Bybel toon dat ons almal hierdie voorreg kan geniet.
2 God se Woord bevat baie verslae van getroue manne en vroue wat Jehovah gevrees het, geloof in hom gestel het en sy hegte vriende geword het. (Lees Psalm 25:14.) Hulle is deel van die “groot wolk van getuies” waarvan Paulus gepraat het. Hulle was almal God se vriende.—Hebreërs 12:1.
3 Kom ons kyk na drie van Jehovah se vriende wat in die Bybel beskryf word: (1) Rut, die lojale jong weduwee van Moab, (2) Hiskia, ’n getroue koning van Juda en (3) Maria, die nederige moeder van Jesus. Wat kan ons leer uit die manier waarop elkeen van hulle God se vriend geword het?
SY HET LOJALE LIEFDE GETOON
4, 5. Watter moeilike besluit moes Rut neem, en waarom was dit so moeilik? (Sien prent aan begin van artikel.)
4 Naomi en haar skoondogters, Rut en Orpa, het die lang pad van Moab na Israel aangepak. Orpa het langs die pad besluit om terug te keer na haar tuiste in Moab. Maar Naomi was vasbeslote om na haar tuisland, Israel, terug te keer. Wat het Rut besluit om te doen? Sy moes ’n baie moeilike besluit neem. Sou sy terugkeer na haar tuiste in Moab om saam met haar familie te wees, of sou sy saam met Naomi, haar skoonma, na Betlehem reis?—Rut 1:1-8, 14.
5 Rut se familie het in Moab gewoon. Sy kon na hulle toe terugkeer, en hulle sou waarskynlik vir haar sorg. Sy het die mense, die taal en die kultuur van Moab geken. Naomi kon nie vir Rut belowe dat sy enige van hierdie voordele in Betlehem sou hê nie. En Naomi was bekommerd dat sy nie vir haar ’n man of ’n tuiste sou vind nie. Daarom het Naomi vir haar gesê om terug te keer na Moab. Soos ons gesien het, het Orpa “na haar volk en haar gode toe teruggekeer” (Rut 1:9-15). Maar Rut het besluit om nie na haar volk en haar valse gode toe terug te keer nie.
6. (a) Watter wyse keuse het Rut gemaak? (b) Waarom het Boas gesê dat Rut toevlug gesoek het onder Jehovah se vlerke?
6 Rut het blykbaar by haar man of by Naomi van Jehovah geleer. Sy het geleer dat Jehovah nie soos die gode van Moab is nie. Sy het Jehovah liefgehad en het geweet dat hy haar liefde en haar aanbidding verdien. Daarom het Rut ’n wyse keuse gemaak. Sy het vir Naomi gesê: “U volk sal my volk wees, en u God my God” (Rut 1:16). Dit raak ons hart wanneer ons dink aan Rut se liefde vir Naomi. Maar Rut se liefde vir Jehovah is selfs indrukwekkender. Dit het Boas ook beïndruk, en hy het haar later geprys omdat sy ‘toevlug gesoek het onder Jehovah se vleuels’, oftewel vlerke. (Lees Rut 2:12.) Boas se woorde herinner ons moontlik aan hoe ’n kuikentjie beskerming soek onder sy ouer se vlerke (Psalm 36:7; 91:1-4). Jehovah het Rut op ’n soortgelyke manier liefdevol beskerm en haar vir haar geloof beloon. Rut het nooit enige rede gehad om spyt te wees oor haar besluit nie.
7. Wat kan diegene help wat huiwerig is om hulle lewe aan Jehovah toe te wy?
7 Baie mense leer van Jehovah, maar kies om nie toevlug by hom te soek nie. Hulle is huiwerig om hulle lewe aan hom toe te wy en gedoop te word. As jy ook so voel, moet jy jou afvra waarom jy huiwerig is. Almal dien die een of ander god (Josua 24:15). Die wyse keuse sou wees om die ware God te dien. Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, toon jy dat jy geloof het dat hy vir jou ’n toevlug sal wees. En hy sal jou help om aan te hou om hom te dien ondanks enige probleme wat jy het. Dit is wat God vir Rut gedoen het.
“HY HET JEHOVAH BLY AANKLEEF”
8. Beskryf Hiskia se agtergrond.
8 Hiskia se agtergrond was baie anders as Rut s’n. Hy was deel van ’n nasie wat aan God toegewy was. Maar nie al die Israeliete het getrou gebly nie. Hiskia se vader, koning Agas, was goddeloos. Hy het ’n gebrek aan respek vir God se tempel 2 Konings 16:2-4, 10-17; 2 Kronieke 28:1-3.
getoon en het die volk oorreed om ander gode te aanbid. Agas het selfs party van Hiskia se broers lewendig verbrand as offerandes aan ’n valse god. Hiskia het verskriklike kinderjare gehad!—9, 10. (a) Waarom kon Hiskia maklik verbitterd geword het? (b) Waarom moet ons nie verbitterd teenoor God word nie? (c) Waarom moet ons nie dink dat ons agtergrond bepaal watter soort persoon ons sal word nie?
9 Agas se slegte voorbeeld kon veroorsaak het dat sy seun Hiskia verbitterd of kwaad vir Jehovah geword het. Vandag voel party wat baie minder beproewinge as Hiskia deurgemaak het dat hulle goeie rede het om “woedend vir Jehovah” of verbitterd teenoor sy organisasie te word (Spreuke 19:3). Ander meen dat hulle slegte gesinsagtergrond kan veroorsaak dat hulle ’n slegte lewe lei of dieselfde foute as hulle ouers maak (Esegiël 18:2, 3). Maar is dit werklik die geval?
10 Hiskia se lewe bewys dat die antwoord op hierdie vraag nee is! Daar is nooit ’n goeie rede om kwaad te word vir Jehovah nie. Hy veroorsaak nie dat slegte dinge met mense gebeur nie (Job 34:10). Dit is wel so dat ouers hulle kinders kan leer om goeie of slegte dinge te doen (Spreuke 22:6; Kolossense 3:21). Maar dit beteken nie dat ons gesinsagtergrond bepaal watter soort persoon ons sal word nie. Waarom nie? Omdat Jehovah ons die gawe van wilsvryheid gegee het, wat beteken dat ons kan kies om te doen wat goed of wat sleg is (Deuteronomium 30:19). Hoe het Hiskia hierdie kosbare gawe gebruik?
11. Waarom was Hiskia een van Juda se beste konings?
11 Al was sy vader een van die slegste konings in Juda, het Hiskia een van die beste konings geword. (Lees 2 Konings 18:5, 6.) Hy het gekies om nie sy vader se slegte voorbeeld te volg nie. Hy het eerder gekies om noukeurig te luister na Jehovah se profete, soos Jesaja, Miga en Hosea. Hy het noukeurig aandag geskenk aan hulle raad en teregwysing. Dit het hom beweeg om baie van die probleme reg te stel wat sy vader veroorsaak het. Hy het die tempel gereinig, God gevra om die volk se sondes te vergewe en het die afgode in die hele land vernietig (2 Kronieke 29:1-11, 18-24; 31:1). Toe die Assiriese koning Sanherib later gedreig het om Jerusalem aan te val, het Hiskia groot moed en geloof geopenbaar. Hy het die vertroue gehad dat Jehovah sy volk sou beskerm en versterk (2 Kronieke 32:7, 8). Hiskia het later hoogmoedig geword, maar toe Jehovah hom teregwys, het Hiskia hom verneder (2 Kronieke 32:24-26). Dit is duidelik dat Hiskia ’n wonderlike voorbeeld is wat ons kan navolg. Hy het nie toegelaat dat sy gesinsagtergrond sy lewe verwoes nie. Hy het eerder getoon dat hy Jehovah se vriend is.
12. Hoe het baie vandag bewys dat hulle Jehovah se vriende is, soos Hiskia?
12 Die wêreld is vandag wreed en liefdeloos, en baie kinders word sonder liefdevolle ouers groot (2 Timoteus 3:1-5). Al kom baie Christene van vandag uit ’n moeilike gesinsagtergrond, het hulle gekies om ’n vriendskap met Jehovah op te bou. Soos Hiskia toon hulle dat ’n mens se gesinsagtergrond nie hoef te bepaal watter soort persoon jy in die toekoms sal wees nie. God het ons die gawe van wilsvryheid gegee, en ons kan kies om hom te dien en te eer, soos Hiskia gedoen het.
“KYK! JEHOVAH SE SLAVIN!”
13, 14. Waarom kon Maria se toewysing te moeilik gelyk het, maar hoe het sy op Gabriël se woorde gereageer?
13 Baie jare nadat Hiskia gelewe het, het ’n nederige jong vrou met die naam Maria ’n spesiale vriendskap met Jehovah en ’n unieke toewysing gehad. Sy sou swanger word, geboorte gee aan God se Seun en hom grootmaak! Jehovah was ongetwyfeld lief vir Maria en het haar beslis vertrou om haar so ’n wonderlike voorreg te gee. Maar hoe het sy gereageer toe sy vir die eerste keer van hierdie toewysing gehoor het?
14 Ons praat dikwels van die groot voorreg wat Maria ontvang het. Maar watter vrese het sy dalk gehad? Byvoorbeeld, die engel Gabriël het gesê dat sy swanger sou word sonder om geslagsomgang met ’n man te hê. Maar Gabriël het nie aangebied om aan haar familie en bure te verduidelik hoe sy swanger sou word nie. Wat sou hulle dink? Hoe sou sy Josef oortuig dat sy nie ontrou aan hom was nie? Boonop het sy die groot verantwoordelikheid gehad om God se Seun as ’n mens groot te maak! Ons weet nie wat al Maria se vrese was nie, maar ons weet wel wat sy gedoen het nadat Gabriël met haar gepraat het. Lukas 1:26-38.
Sy het gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring.”—15. Waarom was Maria se geloof merkwaardig?
15 Maria se geloof was werklik merkwaardig! Sy was bereid om te doen wat van haar gevra is, net soos ’n slavin. Sy het die vertroue gehad dat Jehovah na haar sou omsien en haar sou beskerm. Waarom het Maria sulke sterk geloof gehad? Ons word nie met geloof gebore nie. Geloof is iets wat ons moet opbou, en ons moet God vra om ons pogings te seën (Galasiërs 5:22; Efesiërs 2:8). Maria het haar ingespan om haar geloof te versterk. Hoe weet ons dit? Kom ons kyk na hoe sy geluister het en waaroor sy gepraat het.
16. Wat toon dat Maria ’n goeie luisteraar was?
16 Hoe Maria geluister het. Die Bybel sê dat ons “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Maria was ’n goeie luisteraar. Die Bybel toon dat sy noukeurig geluister het na die dinge wat sy gehoor het, veral na die dinge wat sy omtrent Jehovah geleer het. Sy het tyd gemaak om oor hierdie belangrike dinge na te dink. ’n Voorbeeld hiervan was toe Jesus gebore is en herders vir Maria vertel het wat ’n engel vir hulle gesê het. Later, toe Jesus 12 jaar oud was, het hy iets gesê wat Maria verbaas het. In albei gevalle het Maria geluister, onthou wat sy gehoor het en goed daaroor nagedink.—Lees Lukas 2:16-19, 49, 51.
17. Wat kan ons omtrent Maria leer uit die dinge waaroor sy gepraat het?
17 Waaroor Maria gepraat het. Daar is nie baie van Maria se woorde in die Bybel opgeteken nie. ’n Groot deel van haar woorde word gevind in Lukas 1:46-55. Hierdie woorde toon dat Maria die Hebreeuse Geskrifte baie goed geken het. Hoe so? Maria se woorde is soortgelyk aan die woorde wat Hanna, Samuel se moeder, in haar gebed gebruik het (1 Samuel 2:1-10). Dit wil voorkom of Maria sowat 20 keer in hierdie gedeelte uit die Skrif aangehaal het. Dit is duidelik dat sy daarvan gehou het om oor die waarhede te praat wat sy by haar grootste Vriend, Jehovah, geleer het.
18. Hoe kan ons Maria se geloof navolg?
18 Soos Maria, ontvang ons soms ’n toewysing van Jehovah wat ons meen vir ons te moeilik is. Kom ons volg haar voorbeeld deur die toewysing nederig te aanvaar en die vertroue te hê dat Jehovah ons sal help. Ons kan Maria se geloof ook navolg deur noukeurig na Jehovah te luister en na te dink oor wat ons oor hom en sy voorneme geleer het. Dan sal ons ander vreugdevol kan vertel wat ons geleer het.—Psalm 77:11, 12; Lukas 8:18; Romeine 10:15.
19. Waarvan kan ons seker wees as ons die uitsonderlike voorbeelde van geloof in die Bybel navolg?
19 Dit is duidelik dat Rut, Hiskia en Maria, net soos Abraham, Jehovah se vriende was. Hulle was deel van die “groot wolk van getuies” wat ook die voorreg gehad het om God se vriende te word. Mag ons aanhou om sulke uitsonderlike voorbeelde van geloof na te volg (Hebreërs 6:11, 12). As ons dit doen, kan ons uitsien na ’n groot beloning—ons kan vir ewig Jehovah se vriende wees!