Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die losprys—’n “Volmaakte geskenk” van die Vader

Die losprys—’n “Volmaakte geskenk” van die Vader

“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van . . . die Vader.”—JAK. 1:17.

LIEDERE: 148, 109

1. Watter seëninge word deur die losprys moontlik gemaak?

DIE losprysoffer van Jesus Christus maak baie seëninge moontlik. Die losprys maak dit moontlik vir al Adam se kinders wat regverdigheid liefhet, om uiteindelik deel van God se gesin te word. Die losprys maak dit ook vir ons moontlik om vir ewig te lewe en gelukkig te wees. Christus se losprys maak egter nie net ’n geseënde toekoms vir die gehoorsame mensdom moontlik nie. Jesus se bereidwilligheid om te sterf en die feit dat hy Jehovah se regverdigheid gehandhaaf het, hou verband met sake van universele belang.—Heb. 1:8, 9.

2. (a) Watter belangrike sake word in Jesus se gebed genoem? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ongeveer twee jaar voordat Jesus gesterf en die losprys voorsien het, het hy sy dissipels geleer om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Om ons waardering vir die losprys te vergroot, sal ons nou bespreek hoe dit verband hou met die heiliging van God se naam, die heerskappy van God se Koninkryk en die vervulling van God se voorneme.

“LAAT U NAAM GEHEILIG WORD”

3. Wat sluit Jehovah se naam in, en hoe het Satan hierdie heilige naam belaster?

3 Jesus se eerste versoek in die modelgebed is dat God se naam geheilig moet word. Jehovah se naam sluit die volle omvang van sy heerlikheid, majesteit en heiligheid in. Jesus het Jehovah in ’n ander gebed “Heilige Vader” genoem (Joh. 17:11). Aangesien Jehovah heilig is, is alle beginsels en wette wat van hom af kom, ook heilig. Ten spyte hiervan het Satan God se reg om standaarde vir mense te stel op ’n slinkse wyse in die tuin van Eden bevraagteken. Deur leuens oor Jehovah te vertel, het Satan God se heilige naam belaster.—Gen. 3:1-5.

4. Hoe het Jesus bygedra tot die heiliging van God se naam?

4 Jesus was egter waarlik lief vir Jehovah se naam (Joh. 17:25, 26). Jesus het bygedra tot die heiliging van God se naam. (Lees Psalm 40:8-10.) Deur Jesus se volmaakte lewenswyse op die aarde het hy bewys dat dit redelik en regverdig van Jehovah is om standaarde vir sy intelligente skepsele te stel. Selfs toe Satan Jesus ’n pynlike dood laat sterf het, het Jesus volkome lojaal gebly aan sy hemelse Vader. Deur lojaal te bly, het Jesus bewys dat ’n volmaakte mens volkome gehoorsaam kan bly aan God se regverdige standaarde.

5. Hoe kan ons bydra tot die heiliging van God se naam?

5 Hoe kan ons toon dat ons lief is vir Jehovah se naam? Deur ons gedrag. Jehovah vereis dat ons heilig moet wees. (Lees 1 Petrus 1:15, 16.) Dit beteken dat ons slegs Jehovah aanbid en dat ons hom met ons hele hart gehoorsaam. Selfs wanneer ons vervolg word, doen ons ons bes om volgens sy regverdige beginsels en wette te lewe. Ons laat ons lig skyn deur middel van regverdige dade en verheerlik sodoende Jehovah se naam (Matt. 5:14-16). As heilige mense bewys ons deur die manier waarop ons lewe dat Jehovah se wette goed is en dat Satan se aantygings vals is. Wanneer ons foute maak, toon ons ware berou en hou ons op om dinge te doen wat oneer op Jehovah se naam bring.—Ps. 79:9.

6. Waarom kan Jehovah ons as regverdig beskou, selfs al is ons onvolmaak?

6 Op grond van Christus se offerande vergewe Jehovah die sondes van diegene wat geloof beoefen. Jehovah aanvaar dié wat hulle aan hom toewy as sy aanbidders. Gesalfde Christene word deur Jehovah regverdig verklaar as sy kinders, en die “ander skape” word regverdig verklaar as sy vriende (Joh. 10:16; Rom. 5:1, 2; Jak. 2:21-25). Die losprys maak dit dus nou al vir ons moontlik om ’n regverdige posisie voor ons Vader te hê en by te dra tot die heiliging van sy naam.

“LAAT U KONINKRYK KOM”

7. Watter seëninge kan ons onder Koninkryksheerskappy geniet as gevolg van die losprys?

7 Jesus se volgende versoek tot God in die modelgebed was: “Laat u koninkryk kom.” Hoe hou die losprys verband met God se Koninkryk? Die losprys maak die insameling moontlik van 144 000 wat saam met Christus in die hemel as konings en priesters sal dien (Op. 5:9, 10; 14:1). God se Koninkryk, wat uit Jesus en sy medeheersers bestaan, sal die voordele van die losprys oor ’n tydperk van duisend jaar ten behoewe van gehoorsame mense aanwend. Die aarde sal in ’n paradys omskep word en alle getroue mense sal volmaak word. Die hemelse en aardse deel van God se gesin sal dan ten volle verenig wees (Op. 5:13; 20:6). Jesus sal die slang se kop vermorsel en alle tekens van Satan se opstand in die heelal uitwis.—Gen. 3:15.

8. (a) Hoe het Jesus sy dissipels gehelp om te besef dat God se Koninkryk belangrik is? (b) Hoe toon ons dat ons die Koninkryk ondersteun?

8 Toe Jesus op die aarde was, het hy sy dissipels gehelp om te besef dat God se Koninkryk belangrik is. Jesus het onmiddellik na sy doop “die goeie nuus van die koninkryk van God” wyd en syd verkondig (Luk. 4:43). In Jesus se laaste woorde aan sy dissipels voordat hy na die hemel teruggekeer het, het hy hulle die opdrag gegee om getuies van hom te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:6-8). Deur middel van die Koninkrykspredikingswerk het mense regoor die aarde die geleentheid om van die losprys te leer en onderdane van God se Koninkryk te word. Ons toon dat ons die Koninkryk ondersteun deur Christus se broers op aarde te help om die opdrag uit te voer om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig.—Matt. 24:14; 25:40.

“LAAT U WIL GESKIED”

9. Waarom kan ons die vertroue hê dat Jehovah sy voorneme vir die mensdom sal vervul?

9 Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Laat u wil geskied”? Jehovah is die Skepper. Wanneer hy sê dat iets gaan gebeur, sal dit beslis gebeur (Jes. 55:11). Hy sal nie toelaat dat Satan se opstand Sy voorneme vir die mensdom in die wiele ry nie. Dit was van die begin af Jehovah se wil dat die aarde met die volmaakte kinders van Adam en Eva gevul word (Gen. 1:28). As Adam en Eva gesterf het sonder om kinders te hê, sou God se voorneme om die aarde met hulle nageslag te vul, onvervuld gebly het. Jehovah het Adam en Eva dus toegelaat om kinders te hê nadat hulle gesondig het. Deur middel van die losprys gee God elkeen wat geloof beoefen die geleentheid om volmaaktheid te bereik en vir ewig te lewe. Jehovah is lief vir mense en dit is sy wil dat gehoorsame mense die lewe wat hy vir hulle wou hê, moet geniet.

10. Hoe kan die losprys mense wat gesterf het, tot voordeel strek?

10 Wat van die miljoene mense wat gesterf het sonder dat hulle die kans gehad het om Jehovah te leer ken en te dien? Die losprys maak die opstanding van die dooies moontlik. Ons liefdevolle hemelse Vader sal hulle uit die dode opwek en hulle die geleentheid gee om van sy voorneme te leer en die ewige lewe te verkry (Hand. 24:15). Jehovah wil nie hê dat mense moet sterf nie; hy wil hê dat hulle moet lewe. As die Bron van lewe word hy die Vader van almal wat ’n opstanding ontvang (Ps. 36:9). Hoe gepas is dit dus dat Jesus ons geleer het om te bid: “Ons Vader in die hemele” (Matt. 6:9). Jehovah het Jesus ’n belangrike rol in die opstanding van die dooies gegee (Joh. 6:40, 44). In die paradys sal Jesus sy rol vervul as “die opstanding en die lewe”.—Joh. 11:25.

11. Wat is God se wil vir die “groot menigte”?

11 Jehovah se vrygewigheid is nie beperk tot net ’n paar bevoorregte mense nie, want Jesus het gesê: “Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en suster en moeder” (Mark. 3:35). Dit is God se wil dat ’n “groot menigte” wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en tale, sy aanbidders word. Diegene wat geloof in Christus se losprys beoefen en die wil van God doen, kan deel wees van die groep mense wat uitroep: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.”—Op. 7:9, 10.

12. Hoe toon die modelgebed wat Jehovah se voorneme is vir die gehoorsame mensdom?

12 Jesus se versoeke in die modelgebed toon wat Jehovah se voorneme vir die gehoorsame mensdom is. In ooreenstemming met hierdie gebed wil ons ons bes doen om Jehovah se naam te heilig (Jes. 8:13). Jesus se naam beteken “Jehovah is redding”, en ons redding, deur middel van die losprys, bring eer op Jehovah se naam. Die gehoorsame mensdom sal deur middel van God se Koninkryk die voordele van die losprys ontvang. Ja, die modelgebed gee ons die versekering dat niks kan keer dat God se wil volbring word nie.—Ps. 135:6; Jes. 46:9, 10.

TOON JOU WAARDERING VIR DIE LOSPRYS

13. Waarom word ons gedoop?

13 ’n Belangrike manier waarop ons waardering vir die losprys toon, is deur ons aan Jehovah toe te wy en te laat doop. Ons doop wys “ons behoort aan Jehovah” (Rom. 14:8). Wanneer ons gedoop word, vra ons God vir ’n goeie gewete (1 Pet. 3:21). Jehovah reageer op hierdie versoek op grond van Christus se reinigende bloed. Ons het die volle vertroue dat hy ons alles sal gee wat hy belowe het.—Rom. 8:32.

Hoe toon ons ons waardering vir die losprys? (Sien paragraaf 13, 14)

14. Waarom moet ons ons naaste liefhê?

14 Wat is nog ’n manier waarop ons ons waardering vir die losprys kan toon? Alles wat Jehovah doen, doen hy uit liefde. Hy wil dus hê dat al sy aanbidders ook liefde moet openbaar (1 Joh. 4:8-11). As ons ons naaste liefhet, toon ons dat ons “kinders” wil wees “van [ons] Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:43-48). Die gebod om ons naaste lief te hê, is die tweede grootste gebod (Matt. 22:37-40). ’n Belangrike manier waarop ons liefde aan ons naaste betoon, is deur die opdrag te gehoorsaam om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Wanneer ons liefde aan ons medemens betoon, weerspieël ons God se heerlikheid. Trouens, liefde vir God word “in ons tot volmaaktheid gebring” wanneer ons gehoorsaam is aan die gebod om ander, veral ons broers, lief te hê.—1 Joh. 4:12, 20.

DIE LOSPRYS BRING “TYE VAN VERKWIKKING”

15. (a) Watter seëninge ontvang ons nou van Jehovah? (b) Watter seëninge sal ons in die toekoms geniet?

15 Wanneer ons geloof in die losprys beoefen, kan ons sondes ten volle vergewe word. God se Woord gee vir ons die versekering dat ons sondes “uitgewis” kan word. (Lees Handelinge 3:19-21.) Soos ons vroeër bespreek het, neem Jehovah sy geesgesalfde knegte as kinders aan op grond van die losprys (Rom. 8:15-17). Wat die “ander skape” betref, is dit asof Jehovah ’n aannemingsdokument opgestel het met ons naam daarop. Nadat ons volmaaktheid bereik het en die finale toets geslaag het, sal dit Jehovah baie bly maak om die dokument as’t ware te teken en ons as sy geliefde aardse kinders aan te neem (Rom. 8:20, 21; Op. 20:7-9). Jehovah sal altyd lief wees vir sy kosbare kinders. Die voordele van die losprys sal vir ewig voortduur (Heb. 9:12). Hierdie geskenk sal nooit sy waarde verloor nie. Geen mens of mag kan dit van ons wegneem nie.

16. Hoe maak die losprys dit vir ons moontlik om waarlik vry te wees?

16 Daar is niks wat die Duiwel kan doen om te verhoed dat diegene wat waarlik berouvol is, uiteindelik deel word van Jehovah se gesin nie. Jesus het aarde toe gekom en “eens en vir altyd” gesterf. Die losprys is dus betaal (Heb. 9:24-26). Dit maak die veroordeling wat Adam oor ons gebring het, tot niet. Danksy Christus se offerande is ons bevry van slawerny aan hierdie wêreld onder Satan se beheer en lewe ons nie meer in vrees vir die dood nie.—Heb. 2:14, 15.

17. Wat beteken Jehovah se liefde vir jou?

17 God se beloftes is geheel en al betroubaar. Net soos Jehovah se natuurwette nooit faal nie, sal Jehovah ons nooit faal nie. Hy verander nie (Mal. 3:6). Jehovah gee ons veel meer as net die gawe van lewe. Hy gee ons sy liefde. “Ons het self die liefde wat God in ons geval het, leer ken en geglo. God is liefde” (1 Joh. 4:16). Die hele aarde sal in ’n pragtige paradys omskep word, en almal op die aarde sal God se liefde weerspieël. Dan sal al God se getroue knegte in die hemel en op die aarde sê: “Aan ons God die seën en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte vir ewig en altyd. Amen.”—Op. 7:12.