Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Noag, Daniël en Job se gehoorsaamheid en geloof na

Volg Noag, Daniël en Job se gehoorsaamheid en geloof na

“Noag, Daniël en Job [sou] weens hulle regverdigheid hulle eie siel verlos.” — ESEG. 14:14.

LIED: 89, 119

1, 2. (a) Hoekom is die voorbeelde van Noag, Daniël en Job vir ons aanmoedigend? (b) In watter omstandighede het Esegiël die woorde in Esegiël 14:14 geskryf?

HET jy probleme met jou gesondheid, finansies of word jy dalk vervolg? Is dit vir jou soms moeilik om jou vreugde in Jehovah se diens te behou? As jy so voel, kan die voorbeelde van Noag, Daniël en Job jou aanmoedig. Hulle was onvolmaak en het dieselfde probleme gehad as wat ons het. Hulle lewe was soms in gevaar. Maar hulle het lojaal aan Jehovah gebly, en in sy oë is hulle voorbeelde van gehoorsaamheid en geloof. — Lees Esegiël 14:12-14.

2 Esegiël het die woorde in ons temateks in Babilonië in 612 VHJ geskryf (Eseg. 1:1; 8:1). * Jerusalem sou kort daarna in 607 VHJ vernietig word. Net ’n paar mense het die eienskappe van Noag, Daniël en Job gehad en sou die vernietiging oorleef (Eseg. 9:1-5). Dit het Jeremia, Barug, Ebed-Meleg en die Regabiete ingesluit.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Net so in ons dag sal slegs mense wat regverdig is in Jehovah se oë — mense soos Noag, Daniël en Job — die vernietiging van hierdie wêreld oorleef (Op. 7:9, 14). Kom ons kyk hoekom Jehovah hierdie manne gebruik het as voorbeelde van regverdigheid. Ons gaan elkeen bespreek en kyk na (1) watter uitdagings hulle gehad het en (2) hoe ons hulle gehoorsaamheid en geloof kan navolg.

NOAG — GEHOORSAAM EN GETROU VIR MEER AS 900 JAAR

4, 5. Watter uitdagings het Noag gehad, en hoekom is sy volharding so besonders?

4 Uitdagings wat Noag gehad het. Toe Noag se oupagrootjie Henog gelewe het, was mense alreeds baie goddeloos. Hulle het selfs “skokkende dinge” oor Jehovah gesê (Jud. 14, 15). Daar was al hoe meer geweld. En in Noag se dag was “die aarde . . . vol geweld”. Goddelose engele het aarde toe gekom en vir hulleself menseliggame gemaak. Hulle het met vrouens getrou en kinders gehad wat wreed en gewelddadig was (Gen. 6:2-4, 11, 12). Maar Noag was anders. “Noag het guns in die oë van Jehovah gevind . . . Hy was onberispelik onder sy tydgenote. Noag het met die ware God gewandel.” — Gen. 6:8, 9.

5 Wat vertel hierdie woorde ons van Noag? Eerstens, dink net hoe lank Noag voor die Vloed Jehovah getrou gedien het. Dit was nie net vir 70 of 80 jaar nie, dit was vir amper 600 jaar! (Gen. 7:11). En tweedens, daar was nie ’n gemeente, soos ons vandag het, wat hom kon aanmoedig nie. En dit lyk of selfs sy eie broers en susters hom nie geestelik ondersteun het nie. *

6. Hoe het Noag gewys dat hy baie moed gehad het?

6 Noag wou nie net ’n goeie lewe lei nie. Hy was ook ’n “prediker van regverdigheid” wat moedig vir ander van sy geloof vertel het (2 Pet. 2:5). Die apostel Paulus het geskryf: “Deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel” (Heb. 11:7). Daar is geen twyfel dat mense hom gespot, vervolg of selfs gedreig het om hom seer te maak nie. Maar hy het nie ‘vir mense gebewe’ nie (Spr. 29:25). Hy het eerder die moed gehad wat Jehovah vir sy getroue knegte gee.

7. Watter uitdagings het Noag gehad terwyl hy die ark gebou het?

7 Nadat Noag God meer as 500 jaar lank getrou gedien het, het Jehovah vir hom gesê om ’n ark te bou om die mense en diere te red (Gen. 5:32; 6:14). Hierdie projek moes vir Noag baie moeilik gelyk het, en dit was nie net die bouwerk nie. Noag het sekerlik geweet dat mense hom selfs meer sou spot en teëstaan. Maar Noag het geloof in Jehovah gehad en was gehoorsaam. “Hy het net so gedoen.” — Gen. 6:22.

8. Hoe het Noag op Jehovah vertrou om vir hom en sy gesin te sorg?

8 Nog ’n uitdaging wat Noag gehad het, was om vir sy vrou en kinders te sorg. Voor die Vloed moes mense hard werk om genoeg kos te hê vir hulle gesinne, en Noag moes dit ook gedoen het (Gen. 5:28, 29). En tog het hy nie op materiële dinge gefokus nie, maar eerder op God. Al het Noag 40 of 50 jaar lank aan die ark gebou, het hy nooit sy geestelike fokus verloor nie. En hy het Jehovah 350 jaar ná die Vloed nog steeds bly dien (Gen. 9:28). Noag is ’n uitstekende voorbeeld van gehoorsaamheid en geloof!

9, 10. (a) Hoe kan ons Noag se gehoorsaamheid en geloof navolg? (b) Hoe voel Jehovah oor dié wat doen wat reg is?

9 Hoe ons Noag se gehoorsaamheid en geloof kan navolg. Ons doen dit wanneer ons Jehovah se regverdigheid verdedig, ons geen deel van Satan se wêreld is nie en wanneer ons Jehovah eerste in ons lewe stel (Matt. 6:33; Joh. 15:19). Die wêreld sal natuurlik nie van ons hou wanneer ons hierdie dinge doen nie. Byvoorbeeld, omdat ons God se wette oor seks en die huwelik gehoorsaam, sê mense negatiewe dinge oor ons in die media. (Lees Maleagi 3:17, 18.) Net soos Noag, vrees ons Jehovah en nie mense nie. Ons weet dat dit net Jehovah is wat ons die ewige lewe kan gee. — Luk. 12:4, 5.

10 Maar wat van jou? Sal jy aanhou om ‘met die ware God te wandel’ al spot of kritiseer mense jou? Vertrou jy dat Jehovah vir jou en jou gesin sal sorg, al is dit moeilik om kos op die tafel te sit? As jy aanhou om die gehoorsaamheid en geloof van Noag na te volg, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah vir jou sal sorg. — Fil. 4:6, 7.

DANIËL — GEHOORSAAM EN GETROU IN ’N GODDELOSE STAD

11. Watter groot uitdagings het Daniël en sy drie vriende in Babilon gehad? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 Uitdagings wat Daniël gehad het. Daniël was ’n gevangene in Babilon, ’n stad wat vol afgodediens en spiritisme was. Die Babiloniërs het ook nie van die Jode gehou nie en het hulle en hulle God, Jehovah, gespot (Ps. 137:1, 3). Dit moes getroue Jode soos Daniël baie seergemaak het! Almal se oë was op Daniël en sy drie vriende — Hananja, Misael en Asarja — omdat hulle opgelei sou word om vir die koning van Babilon te werk. Daar was selfs vir hulle gesê wat hulle moes eet. Dit het ’n probleem geword, want Daniël wou hom nie “verontreinig met die lekkernye van die koning” nie. — Dan. 1:5-8, 14-17.

12. (a) Watter goeie eienskappe het Daniël gehad? (b) Hoe het Jehovah oor Daniël gevoel?

12 Daniël het nog ’n uitdaging gehad, wat miskien nie soos een gelyk het nie. Hy het besonderse eienskappe gehad, en daarom het hy spesiale voorregte gekry (Dan. 1:19, 20). Nogtans het Daniël nie trots geword of gedink dat hy altyd reg is nie. Hy het nederig gebly en Jehovah die eer vir sy sukses gegee (Dan. 2:30). Toe Daniël nog ’n jong man was, het Jehovah gesê dat hy ’n goeie voorbeeld van regverdigheid is, en word hy selfs saam met Noag en Job genoem. God het Daniël beslis vertrou! Daniël het sy hele lewe lank gehoorsaam en getrou gebly. Toe Daniël al amper ’n 100 jaar oud was, het God se engel vir hom gesê: “O Daniël, besonder geliefde man.” — Dan. 10:11.

13. Hoe kon Daniël dalk ’n seën vir die Jode gewees het?

13 Omdat Jehovah Daniël geseën het, het Daniël ’n baie belangrike amptenaar in Babilon en die Medo-Persiese ryk geword (Dan. 1:21; 6:1, 2). Dalk het Jehovah Daniël hierdie belangrike posisie gegee sodat Daniël Jehovah se volk kon help, net soos hy met Josef in Egipte en Ester en Mordegai in Persië gedoen het (Dan. 2:48). * Dink net hoe dit die Joodse gevangenes, insluitende Esegiël, moes vertroos het om te sien hoe Jehovah Daniël gebruik het om hulle te help!

Dié wat lojaal aan Jehovah bly, is vir hom kosbaar (Sien paragraaf 14, 15)

14, 15. (a) Hoe is ons omstandighede soortgelyk aan Daniël s’n? (b) Wat kan ouers vandag by Daniël se ouers leer?

14 Hoe ons Daniël se gehoorsaamheid en geloof kan navolg. Ons lewe in ’n wêreld wat vol onsedelikheid en valse aanbidding is as gevolg van die invloed van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Die Bybel noem dit “’n woonplek . . . van demone” (Op. 18:2). Ons is soos vreemdelinge in hierdie wêreld. Mense kan sien dat ons anders is, en daarom spot hulle ons (Mark. 13:13). Maar laat ons, net soos Daniël, nader aan Jehovah kom. Wanneer ons nederig is, op Jehovah vertrou en hom gehoorsaam, sal ons ook kosbaar in sy oë wees. — Hag. 2:7.

15 Ouers kan uit die voorbeeld van Daniël se ouers leer. Hoe so? As ’n jong seun in Juda, was daar baie goddelose mense om hom. Maar Daniël het lief geword vir Jehovah. Dit het nie sommer vanself gebeur nie. Sy ouers moes hom van Jehovah geleer het (Spr. 22:6). Selfs Daniël se naam, wat “God is my regter” beteken, wys dat sy ouers Jehovah baie liefgehad het (Dan. 1:6). Ouers, wees geduldig met julle kinders wanneer julle hulle van Jehovah leer (Ef. 6:4). Bid ook saam met hulle en vir hulle. Wanneer jy jou bes doen om hulle Bybelwaarhede te leer, sal Jehovah julle seën. — Ps. 37:5.

JOB — GEHOORSAAM EN GETROU IN GOEIE EN SLEGTE TYE

16, 17. Watter uitdagings het Job in verskillende tye van sy lewe ervaar?

16 Uitdagings wat Job gehad het. Job het goeie en slegte tye in sy lewe ervaar. Hy was eers “die grootste van al die Oosterlinge” (Job 1:3). Hy was ryk, en almal het hom geken en gerespekteer (Job 29:7-16). Maar Job het nooit gedink dat hy beter as ander is of dat hy God nie nodig het nie. Jehovah het hom eerder “my kneg” genoem en gesê dat hy “’n onberispelike en regskape man [is], wat God vrees en afwyk van die kwaad”. — Job 1:8.

17 In ’n baie kort tydjie het Job se lewe drasties verander. Hy het alles verloor en het so depressief geword dat hy wou sterf. Ons weet dat Satan die een was wat Job se probleme veroorsaak het. Hy het gesê dat Job God net om selfsugtige redes dien. (Lees Job 1:9, 10.) Jehovah het nie hierdie goddelose aantyging geïgnoreer nie. Jehovah het Job die geleentheid gegee om sy lojaliteit te bewys en om te wys dat sy aanbidding uit die hart gekom het en nie selfsugtig was nie.

18. (a) Wat leer jy uit Job se voorbeeld van getrouheid? (b) Wat leer ons oor Jehovah uit die manier hoe hy Job behandel het?

18 Satan het Job oor en oor wreed aangeval en Job laat dink dat Jehovah daarvoor verantwoordelik is (Job 1:13-21). Daarna het drie mans, wat gemaak het of hulle Job se vriende is, wrede dinge vir hom gesê. Hulle het gesê dat God hom gestraf het en dat hy gekry het wat hy verdien! (Job 2:11; 22:1, 5-10). Maar Job het lojaal gebly. Hy het soms dwase dinge gesê, maar Jehovah het verstaan hoe Job gevoel het (Job 6:1-3). God het gesien dat Job baie depressief was, maar dat Job Hom nooit verlaat het nie, al het Satan hom soos ’n boelie bly aanval. Nadat hierdie aanvalle verby was, het Jehovah Job dubbel soveel gegee as wat hy voorheen gehad het, en hy het nog 140 jaar lank gelewe (Jak. 5:11). Gedurende hierdie tyd het hy Jehovah getrou gedien. Hoe weet ons dit? Job was al baie jare dood toe Esegiël die woorde van ons temateks geskryf het.

19, 20. (a) Hoe kan ons Job se gehoorsaamheid en geloof navolg? (b) Hoe kan ons soos God medelye vir ander hê?

19 Hoe ons Job se gehoorsaamheid en geloof kan navolg. Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, ons wil altyd seker maak dat Jehovah die belangrikste Persoon in ons lewe is. Ons moet altyd op hom vertrou en hom met ons hele hart gehoorsaam. Ons het selfs meer rede om dit te doen as wat Job gehad het! Ons weet baie meer van Satan en sy aanvalle (2 Kor. 2:11). Omdat ons die verhaal van Job het, weet ons hoekom God toelaat dat ons swaarkry. Daniël se profesie help ons om te verstaan dat God se Koninkryk ’n werklike regering is wat deur Jesus Christus regeer word (Dan. 7:13, 14). En ons weet dat hierdie Koninkryk binnekort alle swaarkry vir ewig sal wegvat.

20 Job se ondervinding leer ons ook dat ons medelye moet hê vir ons broers en susters wat deur moeilike tye gaan. Soos Job sê hulle ook dalk dinge wat hulle nie bedoel nie (Pred. 7:7). Maar ons moet hulle nie oordeel nie. Ons wil eerder vir hulle wys dat ons verstaan en vir hulle omgee. Op hierdie manier volg ons ons genadige en liefdevolle Vader, Jehovah, na. — Ps. 103:8.

JEHOVAH “SAL JULLE STERK MAAK”

21. Hoe herinner die woorde van 1 Petrus 5:10 ons aan wat met Noag, Daniël en Job gebeur het?

21 Al het Noag, Daniël en Job in verskillende tye en omstandighede gelewe, het hulle volhard ten spyte van die uitdagings wat hulle gehad het. Wat met hulle gebeur het, herinner ons aan wat die apostel Petrus gesê het: “Nadat julle ’n klein rukkie gely het, sal die God van alle onverdiende goedhartigheid . . . self julle opleiding voltooi; hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.” — 1 Pet. 5:10.

22. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

22 Die woorde in 1 Petrus 5:10 verseker ons dat Jehovah sy knegte standvastig en sterk sal maak. Hierdie woorde geld ook vir God se knegte vandag. Ons almal wil graag hê dat Jehovah ons moet sterk maak, en ons wil getrou bly in ons aanbidding. Daarom wil ons Noag, Daniël en Job se gehoorsaamheid en geloof navolg! In die volgende artikel gaan ons sien dat hierdie manne lojaal aan Jehovah gebly het omdat hulle hom werklik geken het. Hulle het “alles verstaan” wat hy van hulle verwag het (Spr. 28:5). En ons kan dieselfde doen.

^ par. 2 Esegiël was in 617 VHJ as ’n gevangene na Babilonië gevat. Hy het die woorde in Esegiël 8:1–19:14 in 612 VHJ, of “in die sesde jaar” van sy gevangenskap, geskryf.

^ par. 5 Noag se pa Lameg het geloof in God gehad, maar het vyf jaar voor die Vloed gesterf. As Noag se ma en broers en susters gelewe het voordat die Vloed begin het, het hulle dit nie oorleef nie.

^ par. 13 Jehovah het Daniël se drie vriende dalk vir dieselfde rede belangrike posisies gegee. — Dan. 2:49.