Het jy geweet?
Hoe bevestig argeologie die rol van Belsasar van Babilon?
BYBELKRITICI het jare lank beweer dat koning Belsasar, wat in die boek Daniël genoem is, nooit bestaan het nie (Dan. 5:1). Hulle het sy bestaan bevraagteken omdat argeoloë geen bewyse kon vind dat hy ooit gelewe het nie. Maar dit het in 1854 verander. Hoekom?
In daardie jaar het ’n Britse konsul met die naam J.G. Taylor die ruïnes verken van die eertydse stad Ur, in wat nou suidelike Irak is. Daar het hy in ’n groot toring ’n hele paar kleisilinders ontdek. Die silinders is elkeen omtrent 10 cm lank en is gegraveer met spykerskrif. Die skrif op een van die silinders sluit ’n gebed in vir die lang lewe van koning Nabonidus en sy oudste seun, Belsasar. Selfs kritici moes saamstem dat hierdie ontdekking bewys dat Belsasar wel bestaan het.
Maar die Bybel sê nie net dat Belsasar bestaan het nie, maar ook dat hy ’n koning was. Weer eens was kritici skepties. Die 19de-eeuse Engelse wetenskaplike William Talbot het byvoorbeeld geskryf dat sommige beweer dat “Bel-sar-ussur [Belsasar] ’n medeheerser met Nabonidus, sy pa, was. Maar daar is glad nie enige bewyse daarvan nie”.
Maar hierdie saak was reggestel toe die skrif op ander kleisilinders gewys het dat Belsasar se pa, koning Nabonidus, vir jare op ’n slag van die hoofstad af weg was. Wat het gebeur terwyl hy weg was? Die Encyclopaedia Britannica sê: “Wanneer Nabonidus in ’n ander land was, het hy die koningskap en die grootste deel van sy leërmag aan Belsasar toevertrou.” So Belsasar het eintlik gedurende daardie tyd as ’n medeheerser in Babilon gedien. Daarom het die argeoloog en taalgeleerde Alan Millard gesê dat dit reg is dat “die boek Daniël Belsasar ‘koning’ noem”.
Maar die belangrikste bewys vir God se knegte dat die boek Daniël betroubaar en deur God geïnspireer is, word natuurlik in die Bybel self gevind. – 2 Tim. 3:16.