Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

“Die man [is] die hoof van die vrou”

“Die man [is] die hoof van die vrou”

“Die man [is] die hoof van die vrou.” – 1 KOR. 11:3.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet ’n suster wat wil trou, haarself vra?

ALLE Christene is onder die volmaakte hoofskap van Jesus Christus. Maar wanneer ’n Christenvrou trou, kom sy onder die hoofskap van ’n onvolmaakte man. Dit is nie altyd maklik nie. ’n Suster wat wil trou, moet haarself vra: ‘Watter bewyse is daar dat hierdie broer ’n goeie gesinshoof sal wees? Stel hy geestelike dinge eerste in sy lewe? As hy dit nie doen nie, wat laat my dink dat hy ’n goeie geestelike hoof sal wees nadat ons getroud is?’ En ’n suster moet haarself ook vra: ‘Watter eienskappe het ek wat sal bydra tot die geluk van ons huwelik? Is ek geduldig en vrygewig? Het ek ’n sterk verhouding met Jehovah?’ (Pred. 4:9, 12). As ’n vrou goeie besluite maak voordat sy getroud is, kan dit haar help om ’n suksesvolle en gelukkige huwelik te hê.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Miljoene Christensusters stel ’n uitstekende voorbeeld deur gehoorsaam te wees aan hulle man en hulle gesag te respekteer. Hulle moet geprys word hiervoor! Ons is baie bly om Jehovah saam met hierdie getroue vrouens te dien! In hierdie artikel sal ons die antwoorde op die volgende drie vrae bespreek: (1) Wat is party uitdagings wat vrouens het? (2) Hoekom kies ’n vrou om gehoorsaam aan haar man te wees? (3) Wat kan Christenmans en -vrouens leer oor gehoorsaamheid en oor respek vir gesag uit die voorbeeld van Jesus, Abigail en Maria, die vrou van Josef en die ma van Jesus?

WATTER UITDAGINGS HET CHRISTENVROUENS?

3. Hoekom het alle getroude paartjies probleme?

3 Die huwelik is ’n volmaakte geskenk van God, maar mense is nie volmaak nie (1 Joh. 1:8). Daarom waarsku God se Woord getroude paartjies dat hulle “probleme [sal] ondervind” (1 Kor. 7:28). Kyk na net ’n paar uitdagings wat ’n vrou dalk sal hê.

4. Hoekom kan ’n vrou dalk dink dat dit vernederend is om gehoorsaam te wees aan haar man en om sy gesag te respekteer?

4 As gevolg van haar agtergrond, dink ’n vrou dalk dat dit vernederend sal wees om gehoorsaam te wees aan haar man en om sy gesag te respekteer. Marisol, wat in die Verenigde State bly, sê: “Waar ek grootgeword het, is daar die heeltyd vir vrouens gesê dat hulle in alles gelyk aan mans moet wees. Ek weet dat Jehovah die hoofskapreëling ingestel het en dat vrouens hulle man se gesag moet respekteer. Al sluit hierdie reëling in dat vrouens gerespekteer moet word, is dit nog steeds moeilik om die regte beskouing van hoofskap te hê.”

5. Watter verkeerde idees het party mans oor vrouens?

5 ’n Ander uitdaging is dat ’n vrou dalk getroud is met ’n man wat dink dat vrouens minder belangrik is as mans. ’n Suster met die naam Ivon, wat in Suid-Amerika bly, sê: “Waar ons bly, eet die mans eerste en dan die vrouens. Meisies moet kook en skoonmaak, maar seuns word deur hulle ma en susters bedien, en daar word vir hulle gesê dat hulle ‘die koning van die huis’ is.” ’n Suster met die naam Yingling, wat in Asië bly, sê: “In my taal is daar ’n gesegde wat die gedagte oordra dat vrouens nie slim hoef te wees of vaardighede hoef te hê nie. Hulle moet al die huistakies doen, maar hulle mag nie vir hulle man hulle opinies gee nie.” ’n Man wat deur hierdie idees beïnvloed word, maak die lewe vir sy vrou moeilik. Hy volg Jesus nie na nie en hy maak Jehovah hartseer. – Ef. 5:28, 29; 1 Pet. 3:7.

6. Wat moet vrouens doen om hulle persoonlike verhouding met Jehovah te versterk?

6 Soos ons in die vorige artikel gesien het, verwag Jehovah dat Christenmans geestelik, emosioneel en materieel vir hulle gesin moet sorg (1 Tim. 5:8). Maar getroude susters moet tyd opsysit om God se Woord elke dag te lees, daaroor na te dink en uit die hart te bid. Dit kan moeilik wees. Vrouens is besig, so hulle voel dalk dat hulle nie die tyd of energie het om hierdie dinge te doen nie. Maar dit is belangrik dat hulle tyd hiervoor maak. Hoekom? Want Jehovah wil hê dat elkeen van ons ’n persoonlike verhouding met hom moet opbou en sterk hou. – Hand. 17:27.

7. Wat sal dit vir ’n vrou makliker maak om haar man te respekteer en te gehoorsaam?

7 ’n Vrou sal dalk hard moet werk om haar onvolmaakte man te respekteer en om gehoorsaam aan hom te wees. Maar dit sal vir haar makliker wees as sy verstaan hoekom die Bybel sê dat sy dit moet doen.

HOEKOM KIES ’N VROU OM HAAR MAN SE GESAG TE RESPEKTEER?

8. Hoekom kies ’n Christenvrou volgens Efesiërs 5:22-24 om haar man se gesag te respekteer?

8 ’n Christenvrou kies om haar man se gesag te respekteer, want dit is wat Jehovah van haar verwag. (Lees Efesiërs 5:22-24.) Sy vertrou haar hemelse Vader en sy weet dat hy haar liefhet en dat hy haar nooit sal vra om iets te doen wat nie goed is vir haar nie. – Deut. 6:24; 1 Joh. 5:3.

9. Wat gebeur wanneer ’n Christensuster haar man se gesag respekteer?

9 Die wêreld moedig vrouens aan om Jehovah se standaarde te ignoreer en om die hoofskapreëling as iets vernederends te sien. Maar mense wat sulke idees versprei, ken nie ons liefdevolle God nie. Jehovah sal nooit sy kosbare dogters vra om iets te doen wat hulle sal verneder nie. ’n Suster wat hard werk om Jehovah te gehoorsaam deur haar man se gesag te respekteer, help haar gesin om vrede te hê (Ps. 119:165). Dit sal haar man gelukkig maak, dit sal haar gelukkig maak en dit sal die kinders gelukkig maak.

10. Watter lesse kan ons uit Carol se kommentare leer?

10 ’n Vrou wat gehoorsaam is aan haar onvolmaakte man en sy gesag respekteer, wys dat sy Jehovah, die een wat die hoofskapreëling ingestel het, liefhet en respekteer. Carol, wat in Suid-Amerika bly, sê: “Ek weet dat my man foute sal maak. Ek weet ook dat die manier hoe ek op sy foute reageer, wys hoe baie my vriendskap met Jehovah vir my beteken. So ek probeer om my man se gesag te respekteer omdat ek my hemelse Vader gelukkig wil maak.”

11. Wat help ’n suster met die naam Aneese om te vergewe, en wat kan ons uit haar kommentare leer?

11 Dit kan vir ’n vrou moeilik wees om gehoorsaam te wees aan haar man en om sy gesag te respekteer as sy voel dat haar gevoelens en bekommernisse nie vir hom belangrik is nie. Maar kyk wat ’n getroude suster met die naam Aneese doen wanneer dit gebeur. Sy sê: “Ek probeer om nie kwaad te bly nie. Ek hou in gedagte dat ons almal foute maak. My doelwit is, om soos Jehovah, vryelik te vergewe. Wanneer ek vergewe, kry ek my innerlike vrede terug” (Ps. 86:5). ’n Vrou wat vryelik vergewe, sal dit heel waarskynlik makliker vind om haar man se gesag te respekteer.

WAT KAN ONS UIT BYBELVOORBEELDE LEER?

12. Watter voorbeelde kan ons in die Bybel vind?

12 Party voel dalk dat ’n persoon wat gesag respekteer, swak is. Maar dit is glad nie waar nie. In die Bybel is daar baie voorbeelde van sterk en dapper persone wat gesag gerespekteer het. Kom ons kyk wat ons uit Jesus, Abigail en Maria se voorbeeld kan leer.

13. Hoekom aanvaar Jesus Jehovah se gesag? Verduidelik.

13 Jesus respekteer Jehovah se gesag, maar nie omdat hy nie intelligent is of nie vaardighede het nie. Die feit dat Jesus mense op ’n baie eenvoudige en duidelike manier geleer het, wys hoe intelligent hy is (Joh. 7:45, 46). Jehovah het soveel vertroue in Jesus gehad dat Hy hom toegelaat het om saam met Hom te werk toe Hy die heelal geskep het (Spr. 8:30; Heb. 1:2-4). En ná Jesus se opstanding het Jehovah hom “alle gesag in die hemel en op die aarde” gegee (Matt. 28:18). Al is Jesus so intelligent en al het hy baie vaardighede, vertrou hy nog steeds op Jehovah se leiding. Hoekom? Omdat hy sy Vader liefhet. – Joh. 14:31.

14. (a) Wat kan mans uit Jehovah se beskouing van vrouens leer? (b) Wat kan mans uit Spreuke 31 leer?

14 Wat mans kan leer. Jehovah verwag nie dat ’n vrou haar man se gesag moet respekteer omdat hy dink dat vrouens minder belangrik is as mans nie. Jehovah het dit bewys deur mans en vrouens te kies om saam met Jesus te regeer (Gal. 3:26-29). Jehovah het gewys dat hy sy Seun vertrou deur vir hom gesag te gee. Net so sal ’n wyse man sy vrou vertrou deur vir haar ’n mate van gesag te gee. Die Bybel beskryf die soort dinge wat ’n goeie vrou kan doen. Byvoorbeeld, sy maak seker dat takies by die huis gedoen word, sy koop en verkoop grond en sy doen besigheid. (Lees Spreuke 31:15, 16, 18.) Sy is nie ’n slaaf wat nie die reg het om haar opinie te gee nie. Haar man vertrou haar eerder en luister na wat sy te sê het. (Lees Spreuke 31:11, 26, 27.) Wanneer ’n man sy vrou met sulke respek behandel, sal dit haar gelukkig maak om gehoorsaam te wees aan hom en om sy gesag te respekteer.

Wat kan vrouens leer by Jesus se respek vir Jehovah se gesag? (Sien paragraaf 15)

15. Wat kan vrouens uit Jesus se voorbeeld leer?

15 Wat vrouens kan leer. Ten spyte van alles wat Jesus bereik het, het hy nie gevoel dat dit vernederend is om Jehovah se gesag te aanvaar nie (1 Kor. 15:28; Fil. 2:5, 6). Net so sal ’n goeie vrou wat Jesus se voorbeeld navolg, nie voel dat dit vernederend is om haar man se gesag te aanvaar nie. Sy sal haar man ondersteun, nie net omdat sy hom liefhet nie, maar veral omdat sy Jehovah liefhet en respekteer.

Abigail kniel voor Dawid nadat sy vir hom en sy manne kos gestuur het. Sy smeek hom om nie wraak te neem nie, sodat hy nie bloedskuldig word nie (Sien paragraaf 16)

16. Watter uitdagings het Abigail gehad volgens 1 Samuel 25:3, 23-28? (Sien prent op voorblad.)

16 Abigail het ’n man gehad met die naam Nabal. Hy was selfsugtig, trots en ondankbaar. As Abigail ’n einde wou maak aan haar huwelik kon sy Dawid en sy manne toegelaat het om haar man dood te maak. Maar sy het dit nie gedoen nie. Sy het eerder praktiese stappe geneem om Nabal en hulle groot huishouding te beskerm. Dink net hoe dapper Abigail moes gewees het om voor 400 gewapende manne te gaan staan en om op ’n respekvolle manier met Dawid oor die probleem te praat. Sy was selfs bereid om die skuld te aanvaar vir haar man se optrede. (Lees 1 Samuel 25:3, 23-28.) Dawid het erken dat Jehovah hierdie dapper vrou gebruik het om vir hom raad te gee wat hom gekeer het om ’n ernstige fout te maak.

17. Wat kan mans uit Dawid en Abigail se verhaal leer?

17 Wat mans kan leer. Abigail was ’n verstandige vrou. Dawid was wys en het na haar raad geluister. As gevolg hiervan het hy nie onskuldige mense doodgemaak nie. Net so sal ’n wyse man sy vrou se opinies in ag neem wanneer belangrike besluite gemaak moet word. Dalk sal sy hom help om nie ’n verkeerde besluit te maak nie.

18. Wat kan vrouens uit Abigail se voorbeeld leer?

18 Wat vrouens kan leer. ’n Vrou wat Jehovah liefhet en respekteer, kan ’n goeie invloed op haar gesin hê, selfs al dien haar man Jehovah nie of al lewe hy nie volgens Sy standaarde nie. Sy sal nie na ’n manier soek om uit haar huwelik uit te kom nie. Sy sal eerder probeer om haar man te motiveer om Jehovah te leer ken deur hom te respekteer en hom te gehoorsaam (1 Pet. 3:1, 2). Maar selfs al besluit haar man nie om Jehovah te dien nie, sal Jehovah bly wees om te sien dat sy gehoorsaam is aan haar man en haar God lojaal dien.

19. Wanneer sal ’n vrou nie gehoorsaam wees aan haar man nie?

19 Maar ’n Christenvrou wat haar man se gesag respekteer, sal nie haar man ondersteun as hy haar vra om iets te doen wat teen Bybelbeginsels is nie. Sê nou byvoorbeeld ’n suster se man, wat nie ’n Getuie is nie, vra haar om te lieg, te steel of om iets anders te doen wat teen Bybelbeginsels is. Alle Christene, insluitende getroude susters, moet eers aan Jehovah God gehoorsaam wees. As ’n suster gevra word om iets te doen wat teen Bybelbeginsels is, moet sy weier en op ’n liefdevolle maar ferm manier verduidelik hoekom sy dit nie kan doen nie. – Hand. 5:29.

Sien paragraaf 20 *

20. Hoe weet ons dat Maria ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah gehad het?

20 Maria het ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah gehad. Toe Maria eenkeer met Elisabet, die ma van Johannes die Doper, gepraat het, het Maria meer as 20 keer uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal (Luk. 1:46-55). En dink hieraan: Al was Maria verloof aan Josef, het Jehovah se engel nie eerste aan hom verskyn nie. Die engel het eerste met Maria gepraat en vir haar gesê dat sy geboorte aan die Seun van God sou gee (Luk. 1:26-33). Jehovah het Maria goed geken, en hy het geweet dat sy sy Seun sou liefhê en mooi na hom sou kyk. En Maria het sekerlik aangehou om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê selfs nadat Jesus gesterf het en hemel toe gegaan het. – Hand. 1:14.

21. Wat kan mans leer oor wat die Bybel oor Maria sê?

21 Wat mans kan leer. ’n Wyse man is bly wanneer sy vrou die Bybel goed ken. Hy voel nie geïntimideer nie en hy dink nie dat sy die hoof van die gesin wil wees nie. Hy besef dat as sy vrou die Bybel en Bybelbeginsels goed ken, sy die gesin baie kan help. Maar al weet die vrou meer as haar man, is dit sy verantwoordelikheid om die leiding te neem wanneer dit by gesinsaanbidding en ander teokratiese aktiwiteite kom. – Ef. 6:4.

Maria het ’n goeie voorbeeld gestel deur God se Woord te studeer en daaroor na te dink. Hoe kan vrouens haar navolg? (Sien paragraaf 22) *

22. Wat kan vrouens uit Maria se voorbeeld leer?

22 Wat vrouens kan leer. ’n Vrou moet haar man se gesag respekteer, maar dit is nog steeds haar verantwoordelikheid om haar eie geloof sterk te hou (Gal. 6:5). Daarom moet sy tyd opsysit om te studeer en om na te dink oor wat sy leer. Dit sal haar help om haar liefde en respek vir Jehovah te behou en om gelukkig te wees terwyl sy gehoorsaam is aan haar man en sy gesag respekteer.

23. Hoe help vrouens wat hulle man se gesag respekteer hulleself, hulle gesin en die gemeente?

23 Vrouens wat gehoorsaam is aan hulle man en hom respekteer omdat hulle Jehovah liefhet, sal gelukkiger wees as vrouens wat nie Jehovah se hoofskapreëling aanvaar nie. Hulle stel ’n goeie voorbeeld vir jong mans en jong vrouens. En hulle dra by tot ’n liefdevolle en vreedsame omgewing, nie net in die gesin nie, maar ook in die gemeente (Tit. 2:3-5). Vandag is die meeste van Jehovah se getroue knegte vrouens (Ps. 68:11). Ons almal, of ons nou mans of vrouens is, kan bydra tot die vreugde in die gemeente. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe elkeen van ons dit kan doen.

LIED 131 ‘Wat God saamgevoeg het’

^ par. 5 Jehovah het besluit dat ’n getroude vrou gehoorsaam moet wees aan haar man en hom moet respekteer. Maar hoe kan sy dit doen? Christenmans en hulle vrouens kan baie leer oor gehoorsaamheid en respek vir gesag by Jesus en ander vrouens in die Bybel.

^ par. 68 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl Maria met Elisabet, die ma van Johannes die Doper, gepraat het, het sy gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte uit haar kop uit aangehaal.

^ par. 70 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Christenvrou moet tyd opsysit om die Bybel te studeer sodat sy haar geloof sterk kan hou.