Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 8

Hoe om ons vreugde te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan

Hoe om ons vreugde te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer julle deur allerhande moeilike tye gaan.” – JAK. 1:2.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe moet ons volgens Matteus 5:11 voel wanneer ons deur moeilike tye gaan?

JESUS het sy volgelinge belowe dat hulle werklik gelukkig sou wees. Hy het ook dié wat hom liefhet, gewaarsku dat hulle deur moeilike tye sou gaan (Matt. 10:22, 23; Luk. 6:20-23). Dit maak ons gelukkig om dissipels van Christus te wees. Maar hoe voel ons oor die feit dat ons miskien deur ons familie teëgestaan sal word, deur die regering vervolg sal word of dat druk op ons by die werk of by die skool geplaas sal word om te doen wat verkeerd is? Wanneer ons aan sulke dinge dink, kan dit ons dalk angstig laat voel.

2 Mense dink nie gewoonlik dat vervolging iets is wat ’n mens gelukkig kan maak nie. Maar God se Woord sê vir ons dat ons bly moet wees wanneer ons vervolg word. Byvoorbeeld, Jakobus het geskryf dat ons nie hulpeloos moet voel wanneer ons deur moeilike tye gaan nie, maar dat ons eerder bly moet wees (Jak. 1:2, 12). En Jesus het gesê dat ons gelukkig moet wees, selfs wanneer ons vervolg word. (Lees Matteus 5:11.) Hoe kan ons ons vreugde behou selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan? Die brief wat Jakobus aan die vroeë Christene geskryf het, kan ons help om die antwoord te kry. Kom ons bespreek eers die uitdagings wat daardie Christene gehad het.

WATTER UITDAGINGS HET DIE CHRISTENE IN DIE EERSTE EEU GEHAD?

3. Wat het gebeur kort nadat Jakobus ’n dissipel van Jesus geword het?

3 Kort nadat Jesus se halfbroer Jakobus ’n dissipel geword het, is Christene in Jerusalem vervolg (Hand. 1:14; 5:17, 18). En toe Stefanus vermoor is, het baie Christene uit die stad gevlug en is hulle “regdeur Judea en Samaria verstrooi”. Later is hulle selfs sover as Siprus en Antiogië verstrooi (Hand. 7:58–8:1; 11:19). Ons kan ons net indink hoe moeilik dit vir die dissipels moes gewees het. Maar hulle het hulle bes gedoen om die goeie nuus te verkondig oral waar hulle gegaan het, en gemeentes is regoor die Romeinse Ryk gevorm (1 Pet. 1:1). Maar baie moeiliker tye het vir die vroeë Christene voorgelê.

4. Watter ander moeilike tye moes die vroeë Christene deurmaak?

4 Die vroeë Christene het baie verskillende probleme gehad. Byvoorbeeld, in omtrent die jaar 50 HJ het die Romeinse keiser Claudius al die Jode beveel om Rome te verlaat. So Jode wat Christene geword het, was gedwing om hulle huise te verlaat en na ander plekke toe te trek (Hand. 18:1-3). In omtrent 61 HJ het die apostel Paulus geskryf dat Christene in die openbaar beledig en sleg behandel is, in die tronk gegooi is en van hulle besittings beroof is (Heb. 10:32-34). En net soos ander mense het Christene ook siek geword, en party van hulle was arm. – Rom. 15:26; Fil. 2:25-27.

5. Watter vrae sal ons bespreek?

5 Toe Jakobus sy brief voor die jaar 62 HJ geskryf het, was hy heeltemal bewus van die moeilike tye waardeur sy broers en susters gaan. Jehovah het Jakobus beweeg om aan daardie Christene te skryf en om vir hulle praktiese raad te gee wat hulle sou help om vreugdevol te bly. Kom ons kyk hoe Jakobus se brief ons help om die volgende vrae te beantwoord: Wat is die vreugde waarvan Jakobus gepraat het? Wat kan veroorsaak dat ’n Christen daardie vreugde verloor? En hoe kan wysheid, geloof en moed ons help om ons vreugde te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan?

WAT MAAK ’N CHRISTEN VREUGDEVOL?

Net soos ’n vlam binne-in ’n lantern sterk brand, brand die diep vreugde wat Jehovah ons gee, sterk binne ’n Christen se hart (Sien paragraaf 6)

6. Hoekom kan ’n Christen volgens Lukas 6:22, 23 vreugdevol wees wanneer hy deur moeilike tye gaan?

6 Baie mense dink dat hulle net gelukkig kan wees as hulle gesond is, ’n klomp geld het en as hulle gesin gelukkig is. Maar die soort vreugde waarvan Jakobus gepraat het, is ’n deel van die vrug van God se gees en hang nie af van ’n mens se omstandighede nie (Gal. 5:22). ’n Christen kan vreugde kry, of regtig gelukkig wees, as hy weet dat hy Jehovah gelukkig maak en dat hy Jesus se voorbeeld navolg. (Lees Lukas 6:22, 23; Kol. 1:10, 11). Soos ’n vlam wat in ’n lantern brand, brand hierdie soort vreugde in ’n Christen se hart. Dit flikker nie wanneer ons siek word of min geld het nie. En dit sal nie doodgaan as ons familielede of ander ons bespot of teëstaan nie. Dit sal eerder al hoe helderder brand elke keer wanneer teenstanders dit probeer blus. Wanneer ons deur moeilike tye gaan as gevolg van ons geloof, bewys dit dat ons ware dissipels van Christus is (Matt. 10:22; 24:9; Joh. 15:20). Dit is hoekom Jakobus geskryf het: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer julle deur allerhande moeilike tye gaan.” – Jak. 1:2.

Hoekom kan moeilike tye vergelyk word met die vuur wat gebruik word om die lem van ’n swaard te maak? (Sien paragraaf 7) *

7-8. Hoekom word ons geloof sterker wanneer dit getoets word?

7 Jakobus gee nog ’n rede hoekom Christene bereid is om selfs deur baie moeilike tye te gaan. Hy sê dat “geloof tot volharding lei wanneer dit getoets is” (Jak. 1:3). Moeilike tye kan vergelyk word met die vuur wat gebruik word om die lem van ’n swaard te maak. Wanneer die lem verhit en verkoel word, word die staal sterker. Net so word ons geloof sterker wanneer ons deur moeilike tye gaan. Dit is hoekom Jakobus geskryf het: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees” (Jak. 1:4). Wanneer ons sien dat die moeilike tye ons geloof sterker maak, help dit ons om met vreugde te volhard.

8 In sy brief het Jakobus ook geskryf oor van die dinge wat kan veroorsaak dat ons ons vreugde verloor. Wat is van daardie uitdagings, en hoe kan ons dit oorkom?

WAT MOET ONS DOEN OM ONS VREUGDE TE BEHOU?

9. Hoekom het ons wysheid nodig?

9 Die uitdaging: Ons weet nie wat om te doen nie. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, wil ons Jehovah vra om ons te help om keuses te maak wat hom gelukkig sal maak, wat ons broers en susters sal help en wat ons sal help om ons integriteit te behou (Jer. 10:23). Ons het wysheid nodig om te weet wat om te doen en wat om te sê wanneer mense ons teëstaan. As ons nie weet wat om te doen nie, kan ons mismoedig voel en ons vreugde verloor.

10. Wat moet ons volgens Jakobus 1:5 doen as ons wysheid nodig het?

10 Die oplossing: Vra Jehovah vir wysheid. As ons ons vreugde wil behou wanneer ons deur moeilike tye gaan, moet ons Jehovah vra om vir ons die wysheid te gee wat ons nodig het om goeie besluite te maak. (Lees Jakobus 1:5.) Wat moet ons doen as dit lyk asof Jehovah nie onmiddellik ons gebede beantwoord nie? Jakobus sê dat ons moet “aanhou” om God te vra. Jehovah raak nie geïrriteerd wanneer ons aanhou om hom te vra vir wysheid nie. Hy sal nie vir ons kwaad wees nie. Ons hemelse Vader “gee oorvloedig” wanneer ons hom vir wysheid vra sodat ons in moeilike tye kan volhard (Ps. 25:12, 13). Hy sien waardeur ons gaan, hy het meegevoel en hy is gretig om ons te help. Dit is beslis ’n rede om vreugdevol te wees! Maar hoe gee Jehovah vir ons wysheid?

11. Wat moet ons nog doen om wysheid te kry?

11 Jehovah gee vir ons wysheid deur middel van sy Woord (Spr. 2:6). As ons daardie wysheid wil kry, moet ons God se Woord en Bybelpublikasies studeer. Maar ons moet meer doen as om net kennis bymekaar te maak. Ons moet God se raad in ons lewe toepas. Jakobus het geskryf: “Moenie net hoor wat die woord sê nie, maar doen ook wat dit sê” (Jak. 1:22). Wanneer ons God se raad toepas, word ons meer vreedsaam, redelik en genadig (Jak. 3:17). Daardie eienskappe sal ons help om ons vreugde te behou, maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie.

12. Hoekom is dit belangrik om die Bybel goed te ken?

12 God se Woord is soos ’n spieël wat ons help om te sien waarop ons moet verbeter (Jak. 1:23-25). Byvoorbeeld, nadat ons God se Woord gestudeer het, besef ons dalk dat ons te gou kwaad raak. Met Jehovah se hulp kan ons leer om kalm te bly selfs wanneer probleme of mense ons kwaad maak. Omdat ons kalm bly, kan ons probleme beter hanteer. Ons kan beter dink en beter besluite maak (Jak. 3:13). Dit is duidelik dat dit baie belangrik is om die Bybel goed te ken!

13. Hoekom moet ons die voorbeeld van Bybelkarakters studeer?

13 Soms leer ons ’n les eers nadat ons ’n fout gemaak het. Maar ons hoef nie op die harde manier te leer nie. Ons kan wysheid kry deur te kyk na wat ander reg en verkeerd gedoen het. Dit is hoekom Jakobus ons aanmoedig om te kyk na Bybelvoorbeelde soos Abraham, Ragab, Job en Elia (Jak. 2:21-26; 5:10, 11, 17, 18). Daardie lojale knegte van Jehovah het hulle vreugde behou al het hulle deur baie moeilike tye gegaan. Hulle voorbeelde wys dat ons met Jehovah se hulp dieselfde kan doen.

14-15. Hoekom moet ons nie ons twyfelgedagtes ignoreer nie?

14 Die uitdaging: Twyfelgedagtes. Van tyd tot tyd sukkel ons miskien om iets in God se Woord te verstaan. Of dalk beantwoord Jehovah ons gebede nie soos ons verwag het nie. Dit kan twyfelgedagtes veroorsaak. As ons ons twyfelgedagtes ignoreer, kan dit ons geloof verswak en ons verhouding met Jehovah beskadig (Jak. 1:7, 8). En dit kan selfs veroorsaak dat ons ons hoop vir die toekoms verloor.

15 Die apostel Paulus het ons hoop vir die toekoms met ’n anker vergelyk (Heb. 6:19). Gedurende ’n storm hou die anker die skip op een plek en keer dit dat dit in die rotse in dryf. Maar die anker sal niks help as die ketting wat dit met die skip verbind, breek nie. Net soos roes ’n ketting kan wegvreet, kan twyfelgedagtes ons geloof wegvreet. Wanneer iemand wat twyfelgedagtes het, probleme ondervind, kan hy begin dink dat Jehovah nie sy beloftes sal nakom nie. As ons ons geloof verloor, verloor ons ons hoop. Jakobus sê dat iemand wat twyfel “soos ’n golf van die see [is] wat deur die wind aangedryf en heen en weer gewaai word” (Jak. 1:6). So ’n persoon sal heel moontlik geen vreugde hê nie!

16. Wat moet ons doen as ons twyfelgedagtes het?

16 Die oplossing: Raak ontslae van jou twyfelgedagtes; bou jou geloof op. Doen onmiddellik iets omtrent jou twyfelgedagtes. In die dae van die profeet Elia het Jehovah se volk twyfelgedagtes gehad. Elia het vir hulle gesê: “Hoe lank sal julle besluiteloos bly? As Jehovah die ware God is, volg hom. Maar as dit Baäl is, volg hom!” (1 Kon. 18:21). Vandag moet ons dieselfde doen. Ons moet navorsing doen om vir onsself te bewys dat Jehovah God is, dat die Bybel sy Woord is en dat Jehovah se Getuies sy volk is (1 Tess. 5:21). As ons dit doen, sal ons ontslae raak van ons twyfelgedagtes en ons geloof versterk. As ons hulp nodig het om ontslae te raak van ons twyfelgedagtes, kan ons die ouermanne vra om ons te help. Ons moet vinnig iets omtrent ons twyfelgedagtes doen as ons ons vreugde in Jehovah se diens wil behou!

17. Wat sal gebeur as ons mismoedig word?

17 Die uitdaging: Mismoedigheid. God se Woord sê: “As jy mismoedig word in moeilike tye, sal jy min krag hê” (Spr. 24:10). Die Hebreeuse woord wat as “mismoedig word”, vertaal word kan beteken “om moed te verloor”. As jy moed verloor, kan jy gou jou vreugde verloor.

18. Wat beteken dit om te volhard?

18 Die oplossing: Vertrou op Jehovah om jou die moed te gee om te volhard. Ons het moed nodig as ons in moeilike tye wil volhard (Jak. 5:11). Die woord wat Jakobus vir “volharding” gebruik het, dra die gedagte oor van iemand wat in sy posisie vasstaan. Ons dink dalk aan ’n soldaat wat moedig sy man staan teen die vyand en wat in sy posisie bly, maak nie saak hoe erg hy aangeval word nie.

19. Wat kan ons uit die apostel Paulus se voorbeeld leer?

19 Die apostel Paulus was ’n uitstekende voorbeeld van moed en volharding. Soms het hy swak gevoel. Maar hy het volhard omdat hy op Jehovah vertrou het om vir hom die krag te gee wat hy nodig gehad het (2 Kor. 12:8-10; Fil. 4:13). Ons kan daardie soort krag en moed hê as ons nederig is en besef dat ons Jehovah se hulp nodig het. – Jak. 4:10.

KOM NADER AAN GOD EN BEHOU JOU VREUGDE

20-21. Waarvan kan ons seker wees?

20 Ons kan seker wees dat ons probleme nie ’n straf is van Jehovah nie. Jakobus verseker ons: “Laat niemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, sê: ‘Ek word deur God getoets’ nie. Want God kan nie met slegte dinge getoets word nie, en hy toets ook niemand met slegte dinge nie” (Jak. 1:13). Wanneer ons oortuig is dat hierdie woorde waar is, kom ons nader aan ons liefdevolle hemelse Vader. – Jak. 4:8.

21 Jehovah “verander nie” (Jak. 1:17). Hy het die Christene in die eerste eeu gehelp om te volhard en hy sal elkeen van ons help om te volhard. Vra Jehovah om jou te help om wysheid, geloof en moed te kry. Hy sal jou gebede beantwoord. Dan kan jy seker wees dat hy jou sal help om jou vreugde te behou wanneer jy deur moeilike tye gaan!

LIED 128 Volhard tot die einde toe

^ par. 5 Die boek Jakobus is vol praktiese raad oor wat om te doen wanneer ons deur moeilike tye gaan. In hierdie artikel sal ons van die raad in die boek Jakobus bespreek. Hierdie raad sal ons help om te volhard sonder om ons vreugde in Jehovah se diens te verloor.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer word by sy huis gearresteer. Sy vrou en dogter sien hoe polisiemanne hom wegneem. Terwyl die man in die tronk is, hou ’n paar broers en susters saam met die ma en die dogter gesinsaanbidding. Die ma en dogter vra Jehovah gereeld vir die krag om te volhard. Jehovah gee hulle innerlike vrede en moed. As gevolg hiervan word hulle geloof sterker, en dit help hulle om met vreugde te volhard.