Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Iets wat beter is as om ’n dokter te wees

Iets wat beter is as om ’n dokter te wees

“WAT julle my nou vertel, is presies waarvan ek nog altyd as kind gedroom het!” Dit is wat ek in 1971 met groot opgewondenheid vir twee nuwe pasiënte gesê het. Ek het kort tevore my eerste kliniek oopgemaak nadat ek ’n gekwalifiseerde dokter geword het. Wat was my droom, en wie was daardie pasiënte? Kom ek vertel julle hoe daardie gesprek my prioriteite in die lewe verander het en hoekom ek glo dat die droom wat ek as kind gehad het, binnekort sal waar word.

Ek is in 1941 in Parys, Frankryk, gebore, en ons gesin het nie baie geld gehad nie. Ek het dit baie geniet om te leer, so dink net hoe teleurgesteld ek was toe ek tuberkulose gekry het toe ek tien jaar oud was en nie meer skool toe kon gaan nie! Die dokters het voorgestel dat ek in die bed bly omdat my longe swak was. En daarom het ek ’n hele paar maande lank die woordeboek gelees en na programme op Radio Sorbonne geluister wat deur die Universiteit van Parys uitgesaai is. Toe my dokter uiteindelik vir my gesê het dat ek gesond is en weer terug skool toe kon gaan, was ek in die wolke. Ek het gedink: ‘Wat dokters doen, is wonderlik!’ Van toe af was dit my droom om siek mense gesond te maak. Wanneer my pa vir my gevra het wat ek eendag wou word, het ek altyd dieselfde antwoord gegee: “Ek wil ’n dokter word.” Om ’n dokter te word, het vir my die belangrikste ding in die lewe geword.

DIE WETENSKAP BRING MY NADER AAN GOD

Ons was Katolieke, maar ek het nie baie omtrent God geweet nie, en ek het baie vrae gehad. Dit was eers nadat ek begin studeer het om ’n dokter te word dat ek oortuig geword het dat lewe geskep is.

Ek onthou die eerste keer toe ek na selle van ’n tulp onder ’n mikroskoop gekyk het. Ek was beïndruk toe ek sien hoe die sel homself teen hitte en koue beskerm. Ek het gesien hoe die selplasma (’n dikkerige vloeistof in die sel) krimp wanneer dit aan sout blootgestel word en swel wanneer dit in suiwer water gesit word. As gevolg van hierdie en baie ander reaksies, kan klein lewende dinge by verskillende omgewings aanpas. Toe ek sien hoe ongelooflik kompleks elke sel is, was dit duidelik dat lewe nie per ongeluk ontstaan het nie.

In my tweede jaar op universiteit het ek selfs meer bewyse gesien dat God bestaan. Toe ons die mens se liggaam gestudeer het, het ons gesien hoe die struktuur van die voorarm ons in staat stel om ons vingers te buig en reguit te maak. Om te sien hoe die spiere, die ligamente en die senings saamwerk, is verstommend. Byvoorbeeld, ek het geleer dat daar senings is wat ’n spier in die voorarm met die tweede been in die vingers verbind. Hierdie senings verdeel in twee om ’n brug te vorm waaronder die senings wat na die vingerpunte toe gaan, inglip. Sterk weefsel hou die senings na aan die bene in die vingers. As ons vingers nie so gemaak was nie, sou die senings styf en reguit gewees het en sou ons vingers nie goed gewerk het nie. Ek kon duidelik sien dat iemand wat baie intelligent is, die mens se liggaam ontwerp het.

Ek het die Skepper selfs meer bewonder toe ek geleer het hoe ’n baba begin asemhaal nadat hy gebore word. Ek het geleer dat ’n ongebore baba suurstof deur die naelstring van sy ma af kry. En daarom is die alveoli, of klein lugsakkies in die longe, nog nie met lug gevul nie. Maar ’n paar weke voordat die baba gebore word, word die binnekant van elke lugsakkie met ’n vetterige vloeistof bedek. En wanneer die baba vir die eerste keer asemhaal, vind ’n paar ongelooflike dinge plaas. ’n Gat in die baba se hart gaan toe, wat veroorsaak dat bloed na die longe toe vloei. Op daardie baie belangrike oomblik keer die vetterige vloeistof dat die boonste en onderste oppervlak van die lugsakkies teen mekaar vassit terwyl die lugsakkies vinnig met lug gevul word. En onmiddellik kan die baba self asemhaal.

Ek wou die Een leer ken wat sulke wonderlike dinge gemaak het, en daarom het ek die Bybel in alle erns begin lees. Die wette oor higiëne wat God meer as 3 000 jaar gelede aan die Israeliete gegee het, het my baie gefassineer. God het vir die Israeliete gesê dat hulle hulle ontlasting moet begrawe, dat hulle hulleself gereeld moet was en dat hulle enige iemand wat simptome van ’n aansteeklike siekte het, onder kwarantyn moet plaas (Lev. 13:50; 15:11; Deut. 23:13). Die kennis wat die Bybel bevat oor die verspreiding van siektes is iets wat wetenskaplikes maar net oor die afgelope 150 jaar ontdek het. Ek het ook besef dat die wette in Levitikus oor seks die Israeliete as ’n nasie gehelp het om gesond te bly (Lev. 12:1-6; 15:16-24). Ek het tot die slotsom gekom dat die Skepper hierdie wette aan die Israeliete gegee het vir hulle eie beswil en dat hy almal geseën het wat gehoorsaam was aan sy gebooie. Ek het oortuig geword dat die Bybel die Woord van God is – ’n God wie se naam ek op daardie stadium nog nie geken het nie.

HOE EK MY VROU ONTMOET HET EN JEHOVAH GEVIND HET

Ek en Lydie op ons troudag, 3 April 1965

Terwyl ek op universiteit was, het ek verlief geraak op ’n jong vrou met die naam Lydie. Ons is in 1965 getroud, toe ek halfpad met my studies was. Teen 1971 het ek en Lydie al drie van ons ses kinders gehad. Lydie was vir my ’n groot ondersteuning, in my werk as ’n dokter en in die gesin.

Ek het drie jaar lank in ’n hospitaal gewerk voordat ek die kliniek oopgemaak het. Kort daarna het ’n getroude paartjie, die twee nuwe pasiënte wat ek aan die begin genoem het, na my toe gekom vir behandeling. Ek was op die punt om vir die man ’n voorskrif uit te skryf toe die vrou gesê het: “Asseblief Dokter, geen bloed in die medisyne nie.” Ek het haar verbaas aangekyk en gevra: “Regtig? Hoekom nie?” Sy het geantwoord: “Ons is Jehovah se Getuies.” Op daardie stadium het ek nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor of van hoe hulle oor bloed voel nie. Die vrou het haar Bybel uitgehaal en vir my uit die Bybel gewys hoekom hulle besluit het om nie bloed te neem nie (Hand. 15:28, 29). Toe het sy en haar man vir my gewys wat God se Koninkryk vir ons sal doen. Dit sal ’n einde maak aan swaarkry, siekte en die dood (Op. 21:3, 4). “Wat julle my nou vertel, is presies waarvan ek nog altyd as kind gedroom het!” het ek met groot opgewondenheid gesê. “Ek het ’n dokter geword omdat ek mense se pyn wou verlig.” Ons het toe ’n uur en ’n half lank gepraat omdat ek so opgewonde was. Teen die tyd toe die paartjie daar weg is, was ek nie meer in my hart ’n Katoliek nie, en ek het geleer dat die Skepper wat ek so bewonder het, ’n naam het – Jehovah!

Ek het drie keer meer as ’n uur lank met die Getuiepaartjie by my kliniek gepraat. Ek het hulle na my huis toe genooi sodat ons meer tyd kon hê om die Bybel te bespreek. Al het Lydie ingestem om die Bybel saam met ons te studeer, wou sy nie erken dat party van die Katolieke leerstellings verkeerd is nie. En daarom het ek ’n priester na ons huis toe genooi. Ons het tot laat in die nag oor die kerk se leerstellings geredeneer deur net die Bybel te gebruik. Daardie bespreking het Lydie oortuig dat Jehovah se Getuies vir mense die waarheid leer. Daarna het ons liefde vir Jehovah God so sterk geword dat ons ons in 1974 laat doop het.

EK STEL JEHOVAH EERSTE

Die dinge wat ek oor God se doel vir die mensdom geleer het, het my prioriteite verander. Jehovah se diens het vir my en Lydie die belangrikste ding in ons lewe geword. Ons was vasbeslote om ons kinders volgens die Bybel se standaarde groot te maak. Ons het ons kinders geleer om lief te wees vir God en vir ander mense, en dit het ons as ’n gesin nader aan mekaar gebring. – Matt. 22:37-39.

Ek en Lydie lag baie keer wanneer ons terugdink aan hoe ons kinders gevoel het oor die feit dat ons altyd saamgestem het wanneer dit by besluite kom. Hulle het geweet dat Jesus se woorde: “Laat julle ‘ja’ net ja wees en julle ‘nee’, nee” die reël was in ons huis (Matt. 5:37). Byvoorbeeld, toe een van ons dogters 17 was, het Lydie haar nie toegelaat om saam met ’n groep jongmense uit te gaan nie. Iemand in die groep het vir ons dogter gesê: “As jou ma jou nie sal toelaat om te gaan nie, vra jou pa!” Maar ons dogter het gesê: “Dit sal niks help nie. Hulle stem altyd saam wanneer dit kom by besluite.” Ja, ons ses kinders het gesien dat ek en Lydie verenig was wanneer dit kom by die toepassing van Bybelbeginsels. Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah dat baie van ons familielede Jehovah vandag dien.

Al het die waarheid my prioriteite verander, wou ek nog steeds my vaardighede as ’n dokter gebruik om God se knegte te help. Daarom het ek aangebied om as ’n dokter by die Bethel in Parys te dien, en later by die nuwe Bethel in Louviers. Ek dien nou al amper 50 jaar lank as ’n pendelaar by Bethel. Oor die jare het ek ’n paar baie goeie vriende by Bethel gemaak, en party van hulle is nou in hulle 90’s. Eendag, toe ek ’n nuwe Betheliet ontmoet het, het ek ’n lekker verrassing gekry. Ek het uitgevind dat ek sy ma 20 jaar vroeër gehelp het toe sy aan hom geboorte gegee het!

EK HET GESIEN HOE BAIE JEHOVAH VIR SY KNEGTE OMGEE

Oor die jare het my liefde vir Jehovah sterker geword toe ek gesien het hoe hy sy knegte deur middel van sy organisasie lei en beskerm. In die vroeë 1980’s het die Bestuursliggaam ’n program in die Verenigde State begin om dokters en mediese personeel te help om Jehovah se Getuies se standpunt oor bloed beter te verstaan.

Toe, in 1988, het die Bestuursliggaam ’n nuwe afdeling by Bethel begin, wat Hospitaalinligtingsdienste genoem is. Aan die begin het hierdie afdeling toesig gehou oor die Hospitaalskakelkomitees (HLC’s), wat in die Verenigde State gevorm is om Getuiepasiënte te help om gepaste gesondheidsorg te kry. Later is Hospitaalskakelkomitees regoor die wêreld, insluitende hier in Frankryk, gestig. Ek is verstom om te sien hoe Jehovah se organisasie siek broers en susters tydens noodgevalle liefdevol ondersteun!

MY DROOM WORD WAAR

Ons geniet dit nog steeds om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig

Om ’n dokter te wees, was my eerste liefde. Maar toe ek my prioriteite ondersoek het, het ek besef dat dit belangriker is om mense te help om geestelik gesond te word deur hulle te help om Jehovah God, die Bron van lewe, te leer ken en te dien. Nadat ek afgetree het, het ek en Lydie as gewone pioniers baie ure in die predikingswerk gespandeer. Ons probeer nog steeds om soveel as moontlik in hierdie lewensreddende werk te doen.

Saam met Lydie in 2021

Ek doen nog wat ek kan om siek mense te help om tydelike verligting te kry. Maar ek besef dat nie eers die beste dokter alle siektes kan genees of die dood kan wegneem nie. So ek sien uit na die tyd wanneer pyn, siekte en die dood nie meer daar sal wees nie. In daardie nuwe wêreld wat vinnig nader kom, sal ek vir ewig kan leer oor God se skepping, insluitende die wonderlike manier hoe hy die mens se liggaam ontwerp het. So die droom wat ek as kind gehad het, het net gedeeltelik waar geword. Ek is oortuig dat die beste nog voorlê!