Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 7

“Skenk aandag aan die woorde van die wyses”

“Skenk aandag aan die woorde van die wyses”

“Skenk aandag aan die woorde van die wyses.” – SPR. 22:17.

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom sal ons miskien raad kry, en hoekom het ons almal raad nodig?

ONS almal het van tyd tot tyd raad nodig. Soms sal ons miskien vir raad vra by iemand vir wie ons respek het. Of miskien sal ’n broer wat oor ons bekommerd is, ons waarsku wanneer ons op die punt staan om ‘’n verkeerde rigting in te slaan’ (Gal. 6:1). En soms sal ons dalk raad kry nadat ons ’n ernstige fout gemaak het. Maar maak nie saak hoe ons die raad kry nie, ons moet altyd daarna luister. Dit is goed vir ons en dit kan ons lewe red! – Spr. 6:23.

2. Volgens Spreuke 12:15, hoekom moet ons na raad luister?

2 Ons temateks moedig ons aan om “aandag [te skenk] aan die woorde van die wyses” (Spr. 22:17). Geen mens weet alles nie. Daar is altyd iemand wat meer as ons weet en meer ondervinding as ons het. (Lees Spreuke 12:15.) So wanneer ons na raad luister, wys ons dat ons nederig is. Ons wys dat ons bewus is van ons beperkings en dat ons besef dat ons hulp nodig het om ons doelwitte te bereik. Deur middel van die wyse koning Salomo het Jehovah gesê: “As daar baie raadgewers is, lei dit tot sukses.” – Spr. 15:22.

Watter raad is vir jou die moeilikste om te aanvaar? (Sien paragraaf 3-4)

3. Watter soort raad sal ons dalk kry?

3 Ons sal miskien direkte of indirekte raad kry. Wat is indirekte raad? Wel, miskien lees ons iets in die Bybel of in een van ons publikasies wat ons laat besef dat ons dalk ons dade of denke moet verander (Heb. 4:12). Dit is indirekte raad. En wat is direkte raad? Wel, miskien sal ’n ouerman of ’n ander ervare broer dalk iets onder ons aandag bring waaraan ons moet werk. Dit is direkte raad. As iemand ons lief genoeg het om vir ons raad uit die Bybel te gee, moet ons wys dat ons dit waardeer deur daarna te luister en dit toe te pas.

4. Volgens Prediker 7:9, wat moet ons nie doen wanneer ons raad kry nie?

4 Ons sal dit miskien veral moeilik vind om direkte raad te aanvaar. Ons sal dalk selfs aanstoot neem. Hoekom? Al besef ons dat ons onvolmaak is, sal dit dalk vir ons moeilik wees om raad te aanvaar wanneer iemand ons vertel van ’n spesifieke fout wat ons gemaak het. (Lees Prediker 7:9.) Miskien sal ons probeer om verskonings te maak. Of miskien dink ons dat die persoon verkeerde motiewe het, of dalk neem ons aanstoot as gevolg van hoe hy die raad gegee het. Ons sal miskien selfs wonder: ‘Watter reg het hy om vir my raad te gee? Hy maak ook foute!’ So as ons nie van die raad hou nie, sal ons dit dalk ignoreer of raad gaan soek waarvan ons wel hou.

5. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

5 In hierdie artikel sal ons voorbeelde uit die Bybel bespreek van mense wat raad aanvaar het en van dié wat dit nie aanvaar het nie. Ons sal ook bespreek wat ons kan help om raad te aanvaar en daarby baat te vind.

HULLE HET NIE RAAD AANVAAR NIE

6. Hoe het koning Rehabeam op raad gereageer, en wat leer ons daaruit?

6 Kom ons kyk na die voorbeeld van Rehabeam. Toe hy koning geword het, het die Israeliete vir hom gevra om iets vir hulle te doen. Hulle het hom gevra om die swaar las wat sy pa, Salomo, op hulle geplaas het, ligter te maak. Rehabeam het eers wyslik opgetree en die ouermanne van Israel gevra watter antwoord hy vir die Israeliete moet gee. Die ouermanne het vir die koning gesê dat die Israeliete hom altyd sal ondersteun as hy doen wat hulle vra (1 Kon. 12:3-7). Maar Rehabeam was nie tevrede met daardie raad nie, en daarom het hy die manne wat saam met hom grootgeword het, vir hulle opinie gevra. Daardie manne was heel moontlik in hulle 40’s, so hulle sou seker ’n bietjie lewensondervinding gehad het (2 Kron. 12:13). Maar hierdie keer het hulle vir Rehabeam slegte raad gegee. Hulle het vir hom gesê om die volk se las nog swaarder te maak (1 Kon. 12:8-11). In plaas daarvan om vir Jehovah te vra wat hy moet doen, het hy besluit om na die raad van die jonger manne te luister omdat hy van hulle raad gehou het. Sy besluit het baie slegte gevolge gehad vir hom en vir die Israeliete. Ons kry nie altyd die raad wat ons wil hoor nie. Maar as dit op God se Woord gebaseer is, moet ons dit aanvaar.

7. Wat leer ons uit koning Ussia se voorbeeld?

7Koning Ussia het nie raad aanvaar nie. Hy het by ’n deel van Jehovah se tempel ingegaan waar net die priesters kon ingaan, en hy het probeer om reukwerk te offer. Die priesters van Jehovah het vir hom gesê: “Koning Ussia, u het nie die reg om reukwerk vir Jehovah te brand nie! Net die priesters mag reukwerk brand.” Hoe het Ussia gereageer? As hy nederig die raad aanvaar het en die tempel verlaat het, sou Jehovah hom dalk vergewe het. Maar Ussia het eerder “woedend geword”. Hoekom het hy nie die raad aanvaar nie? Hy het gedink dat hy die reg gehad het om te doen wat hy wou omdat hy die koning was. Maar Jehovah het nie saamgestem nie. Omdat Ussia iets gedoen het wat hy nie die reg gehad het om te doen nie, het Jehovah hom met melaatsheid gestraf, en hy het “tot die dag van sy dood ’n melaatse gebly” (2 Kron. 26:16-21). Ussia se voorbeeld leer ons dat ons Jehovah se goedkeuring sal verloor as ons nie Bybelgebaseerde raad aanvaar nie, maak nie saak wie ons is nie.

HULLE HET RAAD AANVAAR

8. Hoe het Job gereageer toe hy raad gekry het?

8 Die Bybel gee nie net waarskuwende voorbeelde nie, maar ook goeie voorbeelde van mense wat deur Jehovah geseën was toe hulle raad aanvaar het. Kyk na die voorbeeld van Job. Al was hy baie lief vir God, was hy nie volmaak nie. Toe hy onder baie druk was, het hy nie altyd die regte beskouing van dinge gehad nie. En daarom het Elihu en Jehovah vir hom reguit raad gegee. Hoe het Job gereageer? Hy het die raad nederig aanvaar. Hy het gesê: “Ek het sonder insig gepraat. . . . Daarom trek ek my woorde terug en toon ek berou in stof en as.” Jehovah het Job geseën omdat hy so nederig was. – Job 42:3-6, 12-17.

9. Hoe was Moses ’n goeie voorbeeld van iemand wat raad aanvaar het?

9Moses is ’n goeie voorbeeld van iemand wat raad aanvaar het nadat hy ’n ernstige fout gemaak het. Eenkeer het Moses baie kwaad geword en Jehovah nie geëer nie. En daarom het hy die voorreg verloor om in die Beloofde Land in te gaan (Num. 20:1-13). Toe Moses vir Jehovah gevra het om sy besluit te verander, het Jehovah vir hom gesê: “Moet nooit weer met my oor hierdie saak praat nie” (Deut. 3:23-27). Moses het nie bitter geword nie. Hy het eerder Jehovah se besluit aanvaar, en Jehovah het aangehou om Moses te gebruik om die Israeliete te lei (Deut. 4:1). Job en Moses het raad aanvaar, en hulle is goeie voorbeelde wat ons kan navolg. Job het nie verskonings gemaak nie. Hy het sy beskouing verander. Moses het gewys dat hy Jehovah se raad aanvaar deur getrou te bly, selfs nadat hy ’n voorreg verloor het wat vir hom kosbaar was.

10. (a) Volgens Spreuke 4:10-13, hoe help dit ons wanneer ons raad aanvaar? (b) Watter goeie gesindheid het party gehad toe hulle raad gekry het?

10 Dit help ons wanneer ons voorbeelde van getroue manne soos Job en Moses navolg. (Lees Spreuke 4:10-13.) Baie van ons broers en susters het hulle nagevolg en raad aanvaar. Kyk wat ’n broer met die naam Emmanuel, wat in Kongo bly, gesê het oor die waarskuwing wat hy gekry het: “Geestelik volwasse broers in my gemeente het gesien dat ek in groot geestelike gevaar was en het my probeer help. Ek het hulle raad toegepas, en dit het my gehelp om baie probleme te vermy.” * Megan, ’n pionier in Kanada, sê die volgende oor die raad wat sy al gekry het: “Dit was nie altyd wat ek wou hoor nie, maar dit was wat ek moes hoor.” En Marko, ’n broer van Kroasië, sê: “Ek het ’n voorreg verloor, maar as ek terugkyk, besef ek dat die raad wat ek gekry het, my gehelp het om my verhouding met Jehovah weer op te bou.”

11. Wat het broer Karl Klein gesê oor die belangrikheid om raad te aanvaar?

11 Broer Karl Klein, wat as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien het, is nog ’n voorbeeld van iemand wat baat gevind het toe hy raad aanvaar het. In sy lewensverhaal het broer Klein vertel wat gebeur het toe een van sy goeie vriende, Joseph F. Rutherford, vir hom reguit raad gegee het. Broer Klein het erken dat hy eers nie goed op die raad gereageer het nie. Hy het gesê: “Toe [broer Rutherford] my weer sien, het hy vrolik gesê: ‘Hallo Karl!’ Maar omdat ek nog gekrenk gevoel het, het ek net mompelend teruggegroet. Hy het dadelik gewaarsku: ‘Pasop Karl! Die Duiwel is op jou spoor!’ Ek het verleë geantwoord: ‘Ag, daar’s niks verkeerd nie, broer Rutherford.’ Maar hy het beter geweet en sy waarskuwing herhaal: ‘Toemaar, pas net op. Die Duiwel is op jou spoor.’ Hoe reg was hy tog nie! Wanneer ons kwade gevoelens teen ’n broer omdra, veral omdat hy iets gesê het wat hy die reg . . . het om te sê, stel ons ons aan die Duiwel se strikke bloot” (Ef. 4:25-27). * Broer Klein het broer Rutherford se raad aanvaar, en hulle het goeie vriende gebly.

WAT KAN ONS HELP OM RAAD TE AANVAAR?

12. Hoe kan nederigheid ons help om raad te aanvaar? (Psalm 141:5)

12 Wat kan ons help om raad te aanvaar? Ons moet nederig wees, en ons moet onthou hoe onvolmaak ons is en hoe dom ons soms kan wees. Soos ons vroeër gesien het, het Job die verkeerde beskouing gehad. Maar hy het later sy denke verander, en Jehovah het hom daarvoor geseën. Hoekom? Omdat Job nederig was. Hy het die raad aanvaar wat Elihu vir hom gegee het, al was Elihu baie jonger as hy (Job 32:6, 7). Nederigheid sal ons ook help om raad toe te pas, al voel ons dalk dat ons dit nie verdien nie of al is die persoon wat die raad gee, jonger as ons. ’n Ouerman in Kanada sê: “Ons sien nie onsself soos ander ons sien nie. So hoe kan ons vordering maak as niemand vir ons raad gee nie?” En wie van ons het nie hulp nodig om die verskillende aspekte van die vrug van die gees te ontwikkel en om beter onderrigters in die bediening te word nie? – Lees Psalm 141:5.

13. Hoe moet ons raad beskou?

13Beskou raad as ’n bewys van God se liefde. Jehovah wil net die beste vir ons hê (Spr. 4:20-22). Wanneer Jehovah vir ons deur middel van sy Woord, ’n Bybelpublikasie of ’n ervare Christen raad gee, wys hy dat hy vir ons lief is. Hebreërs 12:9, 10 sê: “Hy doen dit tot ons voordeel.”

14. Waarop moet ons fokus wanneer ons raad kry?

14Fokus op die raad, nie op hoe dit gegee word nie. Soms voel ons dalk dat die raad nie op die beste manier gegee was nie. Enige een wat raad gee, moet natuurlik die raad op ’n manier gee wat dit vir die ander persoon maklik maak om te aanvaar (Gal. 6:1). * Maar as ons raad kry, moet ons op die raad self fokus, selfs al voel ons dat dit op ’n beter manier oorgedra kon gewees het. Ons kan onsself vra: ‘Is daar iets wat ek kan toepas, al hou ek nie van hoe die raad gegee was nie? Kan ek verby die persoon se foute kyk en by die raad baat vind?’ Dit sal wys wees van ons om altyd te probeer om by raad baat te vind. – Spr. 15:31.

VRA VIR RAAD EN WORD WYS

15. Hoekom moet ons vir raad vra?

15 Die Bybel moedig ons aan om vir raad te vra. Spreuke 13:10 sê: “Wysheid behoort aan dié wat raad soek.” Hoe waar is dit tog! Mense wat vir raad vra, maak gewoonlik vinniger geestelike vordering as dié wat nie vir raad vra nie. So neem die inisiatief en vra vir raad.

Hoekom vra die jonger suster vir die ouer suster vir raad? (Sien paragraaf 16)

16. In watter situasies kan ons dalk vir raad vra?

16 Wanneer kan ons dalk vir ons broers en susters vir raad vra? Dink aan ’n paar situasies. (1) ’n Suster vra ’n ervare verkondiger om saam met haar na haar Bybelstudie toe te gaan, en later vra sy vir raad oor hoe sy ’n beter onderrigter kan word. (2) ’n Enkelsuster vra vir ’n ander suster wat sterk in die waarheid is wat sy dink van ’n broek wat sy wil koop. (3) ’n Broer moet sy eerste openbare toespraak gee. Hy vra ’n ervare spreker om na hom te luister terwyl hy sy toespraak gee en om vir hom raad te gee oor hoe hy kan verbeter. Dit sal selfs vir ’n broer wat jare lank toesprake gee, goed wees om vir raad te vra by ervare sprekers en om daardie raad dan toe te pas.

17. Hoe kan ons by raad baat vind?

17 In die weke en maande wat kom, sal ons almal direkte of indirekte raad kry. Wanneer dit gebeur, dink aan die wenke wat ons nou net bespreek het. Bly nederig. Fokus op die raad, nie op hoe dit gegee word nie. En pas die raad toe wat jy kry. Niemand van ons word met wysheid gebore nie. Maar wanneer ons ‘na raad luister en dissipline aanvaar’, belowe God se Woord dat ons “wys [sal] word”. – Spr. 19:20.

LIED 124 Bly lojaal

^ par. 5 Jehovah se knegte weet hoe belangrik dit is om te luister na raad uit die Bybel en om dit toe te pas. Maar dit is nie altyd maklik om raad te aanvaar nie. Hoekom nie? En wat kan ons help om raad te aanvaar?

^ par. 10 Party name is verander.

^ par. 11 Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1984, bladsy 21-28.

^ par. 14 In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons op ’n taktvolle manier raad kan gee.