Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 8

“Bly helder van verstand, bly wakker!”

“Bly helder van verstand, bly wakker!”

“Bly helder van verstand, bly wakker!” – 1 PET. 5:8.

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat het Jesus vir sy dissipels gesê oor wanneer die einde sou kom, en watter waarskuwing het hy vir hulle gegee?

 ’N PAAR dae voor Jesus se dood het vier van sy dissipels vir hom gevra: “Wat sal die teken wees . . . dat die einde van die wêreldstelsel naby is?” (Matt. 24:3). Daardie dissipels het heel moontlik gewonder hoe hulle sou weet wanneer Jerusalem en die tempel vernietig sou word. In sy antwoord het Jesus nie net gepraat van die vernietiging van Jerusalem en die tempel nie, maar ook van “die einde van die wêreldstelsel” waarin ons nou lewe. In verband met wanneer die einde sou kom, het Jesus gesê: “Niemand weet wanneer daardie dag of uur sal kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.” Toe het hy al sy dissipels gewaarsku om ‘wakker te bly’ en om ‘aan te hou waak’. – Mark. 13:32-37.

2. Hoekom was dit vir Christene in die eerste eeu belangrik om wakker te bly?

2 Joodse Christene in die eerste eeu moes wakker bly; hulle lewens het daarvan afgehang. Jesus het vir sy volgelinge gesê hoe hulle sou weet wanneer Jerusalem en die tempel vernietig sou word. Hy het gesê: “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërmagte omsingel is, moet julle weet dat haar verwoesting naby gekom het.” Op daardie oomblik moes hulle gehoorsaam wees aan Jesus se waarskuwing en “na die berge begin vlug” (Luk. 21:20, 21). Dié wat aandag geskenk het aan hierdie waarskuwing het oorleef toe die Romeine Jerusalem vernietig het.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Vandag lewe ons in die tyd van die einde van hierdie goddelose wêreld. So ons moet ook helder van verstand en wakker bly. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons gebalanseerd kan wees terwyl ons wêreldgebeure dophou, hoe ons aandag aan onsself kan skenk en hoe ons die tyd wat oorbly, op die beste manier kan gebruik.

WEES GEBALANSEERD WANNEER DIT KOM BY WÊRELDGEBEURE

4. Hoekom moet ons daarin belangstel om te sien hoe huidige wêreldgebeure Bybelprofesieë vervul?

4 Daar is goeie redes hoekom ons daarin belangstel om te sien hoe huidige wêreldgebeure Bybelprofesieë vervul. Jesus het byvoorbeeld ’n lys spesifieke gebeure gegee om ons te help om te weet wanneer die einde van Satan se wêreld naby is (Matt. 24:3-14). Die apostel Petrus het ons aangemoedig om aandag te skenk aan die vervulling van profesieë sodat ons geloof sterk sal bly (2 Pet. 1:19-21). Die laaste boek van die Bybel begin met die woorde: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te wys wat binnekort moet plaasvind” (Op. 1:1). So ons stel baie belang in huidige wêreldgebeure en om te weet hoe dit dalk Bybelprofesieë vervul. En ons is dalk gretig om hierdie dinge met mekaar te bespreek.

Wat moet ons vermy en wat moet ons doen wanneer ons Bybelprofesieë bespreek? (Sien paragraaf 5) b

5. Wat moet ons vermy, maar wat moet ons doen? (Sien ook prente.)

5 Maar wanneer ons Bybelprofesieë bespreek, moet ons nie probeer raai wat sal gebeur nie. Hoekom nie? Omdat ons nie enige iets wil sê wat ’n slegte uitwerking op die eenheid in die gemeente kan hê nie. Byvoorbeeld, ons hoor dalk dat wêreldleiers sê hoe hulle ’n sekere probleem kan oplos en vrede en veiligheid kan bring. In plaas daarvan om te spekuleer of so ’n stelling die profesie in 1 Tessalonisense 5:3 vervul, moet ons op datum bly met die nuutste inligting wat gepubliseer is. Wanneer ons die dinge wat ons sê, baseer op inligting wat deur Jehovah se organisasie gepubliseer is, help ons die gemeente om verenig te bly “in dieselfde opinie”. – 1 Kor. 1:10; 4:6.

6. Watter lesse kan ons leer uit 2 Petrus 3:11-13?

6 Lees 2 Petrus 3:11-13. Die apostel Petrus help ons om ’n gebalanseerde beskouing te hê wanneer ons Bybelprofesieë ondersoek. Hy moedig ons aan om “die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [te] hou”. Hoekom? Nie omdat ons wil uitwerk wat die “dag en uur” is wanneer Jehovah Armageddon sal bring nie, maar omdat ons die tyd wat ons oor het, wil gebruik om “heilig [te] wees” en om “dade van toegewydheid aan God [te] verrig” (Matt. 24:36; Luk. 12:40). Met ander woorde, ons wil ons op die regte manier gedra en seker maak dat alles wat ons in Jehovah se diens doen, wys dat ons baie lief is vir hom. Om dit te doen, moet ons aandag skenk aan onsself.

WAT BETEKEN DIT OM AANDAG TE SKENK AAN ONSSELF?

7. Hoe wys ons dat ons aandag skenk aan onsself? (Lukas 21:34)

7 Jesus het vir sy dissipels gesê om aandag te skenk, nie net aan wêreldgebeure nie, maar ook aan hulleself. Daardie punt word duidelik gemaak in die waarskuwing in Lukas 21:34. (Lees.) Kyk na Jesus se woorde: “Pasop dat julle . . . ” ’n Persoon wat oppas, of aandag skenk aan homself, kan enige gevare raaksien wat sy verhouding met Jehovah kan beskadig, en hy probeer dit vermy. Op hierdie manier bly hy in God se liefde. – Spr. 22:3; Jud. 20, 21.

8. Watter raad het die apostel Paulus aan Christene gegee?

8 Die apostel Paulus het vir Christene gesê om aandag te skenk aan hulleself. Byvoorbeeld, hy het vir die Christene in Efese gesê: “Hou . . . aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone” (Ef. 5:15, 16). Satan probeer die heeltyd om ons verhouding met Jehovah te vernietig, en daarom sê die Bybel vir ons om te “probeer verstaan wat die wil van Jehovah is” sodat ons onsself teen al Satan se aanvalle kan beskerm. – Ef. 5:17.

9. Hoe kan ons verstaan wat Jehovah se wil vir ons is?

9 Die Bybel sê nie vir ons van elke gevaar wat ons vriendskap met Jehovah kan beskadig nie. Ons moet baie keer besluite maak oor sake wat nie reguit in die Bybel bespreek word nie. Om wyse keuses te maak, moet ons “die wil van Jehovah” verstaan. Ons kan dit doen deur God se Woord gereeld te bestudeer en daaroor na te dink. Hoe meer ons Jehovah se wil verstaan en “die denke van Christus” ontwikkel, hoe meer sal ons ons “as wyse persone” gedra, selfs wanneer ons nie spesifieke reëls het wat vir ons sê wat om te doen nie (1 Kor. 2:14-16). Party gevalle is redelik maklik om raak te sien, ander is nie so maklik nie.

10. Wat is party gevare wat ons moet vermy?

10 Party gevare wat ons moet vermy, sluit in om te flirt, te veel te drink, te veel te eet, dinge te sê wat ander seermaak, sowel as om na gewelddadige vermaak, pornografie en soortgelyke dinge te kyk (Ps. 101:3). Ons vyand, die Duiwel, is die heeltyd op soek na geleenthede om ons vriendskap met Jehovah te beskadig (1 Pet. 5:8). As ons nie wakker bly nie, kan Satan saadjies van afguns, oneerlikheid, gierigheid, haat, trots en woede in ons verstand en hart plant (Gal. 5:19-21). Aan die begin is hierdie gevoelens dalk nie baie sterk nie. Maar as ons nie onmiddellik iets doen om daarvan ontslae te raak nie, sal dit aanhou groei soos ’n giftige plant en moeilikheid veroorsaak. – Jak. 1:14, 15.

11. Wat is een subtiele gevaar wat ons moet vermy, en hoekom?

11 Een subtiele gevaar wat ons moet vermy, is slegte vriende. Dink aan hierdie situasie. Jy werk saam met iemand wat nie een van Jehovah se Getuies is nie. Jy wil hê dat jou werksmaat ’n goeie indruk van Jehovah se Getuies moet hê, en daarom is jy vriendelik en behulpsaam. Jy eet soms selfs middagete met hierdie persoon. Kort voor lank doen jy dit gereeld. Elke nou en dan praat die persoon oor onsedelike dinge, en jy probeer dit eers ignoreer. Maar later word jy so gewoond daaraan dat dit jou glad nie meer pla nie. Dan nooi jou werksmaat jou eendag om ná werk iets te gaan drink, en jy aanvaar die uitnodiging. Later begin jy net soos jou werksmaat dink. Hoe lank sal dit wees voordat jy soos daardie persoon begin optree? Ons is natuurlik vriendelik en respekvol teenoor almal, maar ons moet onthou dat die mense met wie ons kies om ons tyd te spandeer, ’n groot uitwerking op ons sal hê (1 Kor. 15:33). As ons aandag skenk aan onsself, soos Jesus ons aangemoedig het om te doen, sal ons nie onnodig assosieer met mense wat nie volgens Jehovah se standaarde lewe nie (2 Kor. 6:15). Ons sal die gevaar sien en dit vermy.

GEBRUIK JULLE TYD OP DIE BESTE MANIER

12. Wat moes Jesus se dissipels doen terwyl hulle vir die einde van die wêreldstelsel gewag het?

12 Jesus wou hê dat sy dissipels besig moes wees terwyl hulle gewag het vir die einde om te kom. Jesus het vir hulle werk gegee om te doen. Hy het hulle beveel om die goeie nuus “in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig (Hand. 1:6-8). Dit was baie werk! Hulle het hulle tyd op die beste manier gebruik deur alles te doen wat hulle kon om vir ander te preek.

13. Hoekom moet ons ons tyd goed gebruik? (Kolossense 4:5)

13 Lees Kolossense 4:5. Om aandag te skenk aan onsself, moet ons mooi dink oor hoe ons ons tyd gebruik. “Onverwagse gebeure” kan ons almal tref (Pred. 9:11). Ons lewe kan skielik kortgeknip word.

Hoe kan ons ons tyd op die beste manier gebruik? (Sien paragraaf 14-15)

14-15. Hoe kan ons ons tyd op die beste manier gebruik? (Hebreërs 6:11, 12) (Sien ook prent.)

14 Ons kan ons tyd op die beste manier gebruik deur Jehovah se wil te doen en ons vriendskap met hom te versterk (Joh. 14:21). Ons moet “standvastig, onbeweeglik [wees] terwyl [ons] altyd baie het om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Wanneer die einde dan kom – of dit nou die einde van ons lewe of die einde van hierdie goddelose wêreld is – sal ons oor niks spyt wees nie. – Matt. 24:13; Rom. 14:8.

15 Vandag hou Jesus aan om sy dissipels te lei terwyl hulle God se Koninkryk regoor die aarde verkondig. Hy het sy deel gedoen. Deur Jehovah se organisasie leer Jesus ons hoe om te preek, en hy gee ons alles wat ons nodig het om die goeie nuus te verkondig (Matt. 28:18-20). Ons doen ons deel deur hard te werk in ons predikings- en onderrigtingswerk en deur wakker te bly terwyl ons op Jehovah wag om hierdie wêreld te vernietig. As ons die raad in Hebreërs 6:11, 12 toepas, sal ons styf vashou aan ons hoop “tot die einde toe”. – Lees.

16. Wat is ons vasbeslote om te doen?

16 Jehovah het ’n vasgestelde dag en uur wanneer hy Satan se wêreld sal vernietig. Wanneer daardie dag kom, sal Jehovah al die profesieë vervul wat hy in sy Woord laat neerskryf het. Intussen sal dit dalk lyk asof die einde van hierdie wêreld lank vat om te kom. Maar Jehovah se dag “sal nie laat wees nie!” (Hab. 2:3). So laat ons vasbeslote wees om “op die uitkyk [te] bly vir Jehovah” en “geduldig wag op die God van [ons] redding”. – Miga 7:7.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons ons geestelike balans kan behou en wakker kan bly. En ons sal sien hoe ons aandag kan skenk aan onsself en hoe ons ons tyd op die beste manier kan gebruik.

b BESKRYWING VAN PRENTE: (Bo) ’n Paartjie kyk die nuus. Later, ná ’n vergadering, praat hulle met ander oor hulle sterk persoonlike opinies oor wat nuusgebeure beteken. (Onder) ’n Paartjie kyk ’n Broadcasting-video om op datum te bly met die nuutste inligting oor Bybelprofesieë. Hulle bied Bybelpublikasies aan wat deur die getroue slaaf voorsien word.