STUDIEARTIKEL 8
LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde
Hou aan om Jehovah se leiding te volg
“Ek, Jehovah, is . . . die Een wat jou lei.” – JES. 48:17.
DOEL
Hierdie artikel sal ons help om te sien hoe Jehovah sy volk vandag lei en watter seëninge ons geniet wanneer ons sy leiding volg.
1. Gee ’n voorbeeld wat wys hoekom ons Jehovah as ons Gids moet volg.
STEL jou voor dat jy verlore is in ’n woud. Daar is gevaar om jou: wilde diere, giftige insekte, giftige plante en rotsagtige grond. Jy sou baie dankbaar wees as jy ’n bekwame gids gehad het wat weet waar die gevaar is en hoe om dit te vermy! Hierdie wêreld is soos daardie woud. Dit is vol gevaar wat ons geestelike gesondheid veral bedreig. Maar ons het ’n perfekte Gids – Jehovah. Hy lei ons weg van die gevaar en na ons bestemming – ewige lewe in die nuwe wêreld.
2. Hoe lei Jehovah ons?
2 Hoe lei Jehovah ons? Hoofsaaklik deur middel van sy geskrewe Woord, die Bybel. Maar hy gebruik ook mense om ons te lei. Byvoorbeeld, hy gebruik “die getroue en verstandige slaaf” om geestelike kos te voorsien wat ons help om wyse besluite te maak (Matt. 24:45). Jehovah gebruik ook ander bekwame manne om ons te lei. Byvoorbeeld, kringopsieners en gemeentelike ouermanne voorsien aanmoediging en onderrigting wat ons kan help om deur moeilike tye te kom. Ons is dankbaar vir die betroubare leiding gedurende hierdie kritieke laaste dae! Dit help ons om Jehovah se goedkeuring te behou en hou ons op die pad na die lewe.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Maar soms is dit dalk vir ons moeilik om Jehovah se leiding te volg, veral wanneer dit deur onvolmaakte manne gegee word. Hoekom? Die riglyne wat hulle gee, is dalk nie wat ons graag wil hoor nie. Of ons voel dalk dat die riglyne wat ons ontvang nie wys is nie en dit laat ons dink dat die raad seker nie van Jehovah af kan kom nie. Op sulke tye moet ons veral daarvan oortuig wees dat Jehovah die een is wat sy volk lei en dat ons seëninge sal ontvang wanneer ons sy leiding volg. Om te help om ons vertroue te versterk, sal ons in hierdie artikel bespreek (1) hoe Jehovah sy volk in Bybeltye gelei het, (2) hoe hy ons vandag lei en (3) hoe ons baat vind wanneer ons sy leiding bly volg.
HOE JEHOVAH DIE NASIE ISRAEL GELEI HET
4-5. Hoe het Jehovah gewys dat hy Moses gebruik om Israel te lei? (Sien prent.)
4 Jehovah het Moses aangestel om die Israeliete uit Egipte te lei. En Hy het die Israeliete sigbare bewyse gegee dat Hy hulle deur middel van Moses lei. Byvoorbeeld, Hy het in die dag ’n wolkkolom en in die nag ’n vuurkolom voorsien (Eks. 13:21). Moses het die kolom gevolg, wat hom en die Israeliete na die Rooisee gelei het. Die volk het paniekerig geraak toe hulle gedink het dat hulle vasgekeer is tussen die see en die Egiptiese leërmag wat hulle agternasit. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat Moses ’n fout gemaak het deur hulle na die Rooisee te bring. Maar dit was glad nie ’n fout nie. Jehovah het sy volk doelbewus daarheen gelei deur middel van Moses (Eks. 14:2). Toe het God hulle op die wonderlikste manier gered. – Eks. 14:26-28.
5 Vir 40 jaar daarna het Moses op die wolkkolom bly staatmaak om God se volk deur die wildernis te lei. a Jehovah het die kolom ’n ruk lank bo Moses se tent geplaas, waar al die Israeliete dit kon sien (Eks. 33:7, 9, 10). Jehovah het vanuit die kolom met Moses gepraat, en dan het hy Sy instruksies aan die volk oorgedra (Ps. 99:7). Die Israeliete het baie bewyse gehad dat Jehovah Moses gebruik om hulle te lei.
6. Hoe het die Israeliete gereageer op Jehovah se leiding? (Numeri 14:2, 10, 11)
6 Ongelukkig het die meeste Israeliete die duidelike bewys verwerp dat Jehovah Moses as Sy verteenwoordiger gebruik. (Lees Numeri 14:2, 10, 11.) Hulle het oor en oor geweier om Moses se rol te erken. As gevolg daarvan was daardie geslag Israeliete nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie. – Num. 14:30.
7. Gee voorbeelde van dié wat Jehovah se leiding gevolg het. (Numeri 14:24) (Sien ook prent.)
7 Maar party Israeliete het Jehovah se leiding gevolg. Byvoorbeeld, Jehovah het gesê: “Kaleb [het] my heelhartig bly volg.” (Lees Numeri 14:24.) God het Kaleb beloon en hom selfs toegelaat om te kies waar hy in die land Kanaän wil bly (Jos. 14:12-14). Die volgende geslag Israeliete het ook ’n goeie voorbeeld daarin gestel om Jehovah se leiding te volg. Toe Josua Moses opgevolg het as die aangestelde leier van die Israeliete, het hulle “al die dae van sy lewe diep respek vir hom gehad” (Jos. 4:14). As gevolg daarvan het Jehovah hulle geseën deur hulle in die land in te bring wat hy aan hulle belowe het. – Jos. 21:43, 44.
8. Verduidelik hoe Jehovah sy volk gedurende die tyd van die konings gelei het. (Sien ook prent.)
8 Jare later het Jehovah rigters aangestel om sy volk te lei. Daarna, gedurende die tyd van die konings, het Jehovah profete aangestel om sy volk te lei. Getroue konings het die raad van die profete gevolg. Byvoorbeeld, koning Dawid het nederig raad aanvaar van die profeet Natan (2 Sam. 12:7, 13; 1 Kron. 17:3, 4). Koning Josafat het op die profeet Jahasiël staatgemaak vir leiding en die volk Juda aangemoedig om ‘op God se profete te vertrou’ (2 Kron. 20:14, 15, 20). Toe koning Hiskia angstig was, het hy die profeet Jesaja vir hulp gevra (Jes. 37:1-6). Elke keer dat die konings Jehovah se leiding gevolg het, was hulle geseën en was die nasie beskerm (2 Kron. 20:29, 30; 32:22). Dit moes vir almal duidelik gewees het dat Jehovah sy profete gebruik om sy volk te lei. Maar die meeste konings sowel as die volk het Jehovah se profete verwerp. – Jer. 35:12-15.
HOE JEHOVAH DIE VROEË CHRISTENE GELEI HET
9. Wie het Jehovah gebruik om die Christene in die eerste eeu te lei? (Sien ook prent.)
9 In die eerste eeu HJ het Jehovah die Christengemeente gevorm. Hoe het hy daardie vroeë Christene gelei? Hy het Jesus as hoof van die gemeente aangestel (Ef. 5:23). Maar Jesus het nie met elke dissipel gepraat om vir hulle te sê wat om te doen nie. Hy het die apostels en die ouermanne in Jerusalem gebruik om die leiding te neem (Hand. 15:1, 2). Ouermanne is ook aangestel om die gemeentes te lei. – 1 Tess. 5:12; Tit. 1:5.
10. (a) Hoe het die meeste eerste-eeuse Christene gereageer op die leiding wat hulle ontvang het? (Handelinge 15:30, 31) (b) Hoekom het party nie dié wat Jehovah gebruik het om hulle te lei, aanvaar nie? (Sien die venster “ Hoekom party duidelike bewyse verwerp het”.)
10 Hoe het die eerste-eeuse Christene gereageer? Die meeste was gretig om die instruksies te volg wat hulle ontvang het. Om die waarheid te sê, “hulle [was] bly oor die aanmoediging” wat hulle gekry het. (Lees Handelinge 15:30, 31.) Maar hoe lei Jehovah sy volk in ons tyd?
HOE JEHOVAH ONS VANDAG LEI
11. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe Jehovah dié gelei het wat die leiding in onlangse tye geneem het.
11 Jehovah hou aan om sy volk vandag te lei. Hy doen dit deur middel van sy Woord en sy Seun, die hoof van die gemeente. Kan ons bewyse sien dat God ook aangehou het om mense in ons tyd te gebruik? Ja. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het in die laat 1800’s. Charles Taze Russell en sy metgeselle het begin verstaan dat 1914 ’n belangrike jaar vir God se Koninkryk sou wees (Dan. 4:25, 26). Hulle het as gevolg van Bybelprofesieë tot daardie gevolgtrekking gekom. Het Jehovah hulle Bybelnavorsing gelei? Hy het beslis. Wêreldgebeure in 1914 het bewys dat God se Koninkryk begin regeer het. Die Eerste Wêreldoorlog het begin, en daar was vreeslike siektes, aardbewings en voedseltekorte (Luk. 21:10, 11). Jehovah het beslis daardie opregte Christenmanne gebruik om sy volk te help.
12-13. Wat het die verantwoordelike broers gedoen gedurende die Tweede Wêreldoorlog om die predikingswerk uit te brei?
12 Dink ook aan wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebeur het. Nadat verantwoordelike broers by die wêreldhoofkwartier ’n studie van Openbaring 17:8 gemaak het, het hulle verstaan dat die oorlog nie tot Armageddon sou lei nie, maar tot ’n periode van relatiewe vrede wat geleenthede sou skep om die predikingswerk uit te brei. So al het dit op daardie tyd dalk nie prakties gelyk nie, is die Wagtoring-Bybelkollege (Bybelskool) Gilead deur Jehovah se organisasie begin om sendelinge op te lei om in lande regoor die aarde te preek en te onderrig. Sendelinge was selfs gedurende die oorlog uitgestuur. En die getroue slaaf het die Kursus in die Teokratiese Bediening b in gemeentes begin om alle verkondigers te help om beter predikers en onderrigters te word. Op hierdie maniere is God se volk gehelp om voorbereid te wees vir die werk wat hulle moes doen.
13 Vandag kan ons duidelik sien dat Jehovah sy volk gedurende daardie moeilike tyd gelei het. Vanaf die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se volk in baie lande ’n mate van vrede en vryheid geniet terwyl hulle gepreek het. Om die waarheid te sê, die werk het floreer.
14. Hoekom kan ons die riglyne vertrou wat van Jehovah se organisasie en aangestelde ouermanne kom? (Openbaring 2:1) (Sien ook prent.)
14 Vandag hou die lede van die Bestuursliggaam aan om op Christus se leiding te vertrou. Hulle wil hê dat die instruksies wat hulle aan die broers gee, die hemel se beskouing van sake weerspieël. En hulle gebruik kringopsieners en ouermanne om riglyne aan die gemeentes te gee. c Gesalfde ouermanne is in Christus se “regterhand”. (Lees Openbaring 2:1.) Hierdie ouermanne is natuurlik onvolmaak en maak foute. Moses en Josua het partykeer foute gemaak, net soos die apostels (Num. 20:12; Jos. 9:14, 15; Rom. 3:23). Maar ons kan duidelik sien dat Jesus die getroue slaaf en die aangestelde ouermanne lei, en hy sal aanhou om dit te doen “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 28:20). Daarom het ons goeie rede om die leiding te vertrou wat hy voorsien deur dié wat aangestel is om die leiding te neem.
ONS VIND BAAT WANNEER ONS JEHOVAH SE LEIDING BLY VOLG
15-16. Wat leer jy uit die ondervindinge van dié wat Jehovah se leiding gevolg het?
15 Wanneer ons Jehovah se leiding bly volg, geniet ons selfs nou seëninge. Byvoorbeeld, Andy en Robyn het geluister na die raad om hulle lewe eenvoudig te hou (Matt. 6:22). As gevolg daarvan kon hulle aan teokratiese bouprojekte deelneem. Robyn sê: “Ons het in ’n paar baie klein plekke gebly, wat dikwels nie ’n kombuis gehad het nie. En ek moes baie toerusting verkoop wat ek vir fotografie gebruik het, ’n stokperdjie wat ek geniet het. Ek het gehuil toe ek dit verkoop het. Maar soos Abraham se vrou, Sara, was ek vasbeslote om vorentoe te kyk, nie terug nie” (Heb. 11:15). Hoe het Andy en Robyn hierby baat gevind? Robyn sê: “Ons is so gelukkig omdat ons weet dat ons Jehovah alles gee wat ons het. Wanneer ons besig is met teokratiese toewysings kry ons ’n voorsmakie van hoe die lewe in die nuwe wêreld sal wees.” Andy stem saam en sê: “Ons is gelukkig omdat ons al ons tyd en energie vir die Koninkryk gee.”
16 Hoe vind ons nog daarby baat wanneer ons Jehovah se leiding bly volg? Toe Marcia hoërskool klaargemaak het, wou sy graag die raad volg wat sy ontvang het om te pionier (Matt. 6:33; Rom. 12:11). Sy sê: “Ek het ’n beurs gekry om vir vier jaar universiteit toe te gaan. Maar ek wou meer vir Jehovah doen. So ek het eerder gekies om ’n ambag te leer wat my sou help om genoeg geld te verdien sodat ek kon pionier. Dit was een van die beste besluite wat ek ooit gemaak het. Ek geniet dit nou om ’n gewone pionier te wees, en as gevolg van my aanpasbare werkrooster kan ek as ’n pendelaar by Bethel dien en ander spesiale voorregte geniet.”
17. Watter ander seëninge sal ons kry wanneer ons Jehovah se leiding bly volg? (Jesaja 48:17, 18)
17 Partykeer kry ons raad wat ons beskerm teen dinge soos materialisme en aktiwiteite wat kan veroorsaak dat ons God se wette breek. Wanneer ons Jehovah se leiding ook op daardie gebiede volg, sal ons daarby baat vind. Ons behou ’n skoon gewete en vermy baie probleme (1 Tim. 6:9, 10). As gevolg daarvan kan ons Jehovah heelhartig aanbid, wat ons baie vreugde, vrede en tevredenheid gee. – Lees Jesaja 48:17, 18.
18. Hoekom is jy vasbeslote om Jehovah se leiding te bly volg?
18 Jehovah sal beslis aanhou om mense te gebruik om leiding te voorsien gedurende die groot verdrukking en tot in die Duisendjarige Heerskappy (Ps. 45:16). Sal ons aanhou om daardie riglyne te volg selfs wanneer dit vereis dat ons ons persoonlike voorkeure moet opoffer? Baie sal dalk afhang van hoe ons reageer op die leiding wat Jehovah nou voorsien. Laat ons dan altyd Jehovah se leiding volg, insluitende die leiding wat voorsien word deur die manne wat aangestel is om oor ons te waak (Jes. 32:1, 2; Heb. 13:17). En terwyl ons dit doen, het ons goeie rede om te vertrou op ons Gids, Jehovah, wat ons weg van geestelike gevaar en na ons bestemming lei – ewige lewe in die nuwe wêreld.
HOE SAL JY ANTWOORD?
-
Hoe het Jehovah die nasie Israel gelei?
-
Hoe het Jehovah die vroeë Christene gelei?
-
Hoe vind ons vandag daarby baat wanneer ons Jehovah se leiding volg?
LIED 48 Wandel daagliks met Jehovah
a Jehovah het ook ’n engel aangestel “wat voor die kamp . . . uit gegaan het” en wat die nasie na die Beloofde Land gelei het. Daardie engel was heel moontlik Migael – Jesus in sy voormenslike bestaan. – Eks. 14:19; 32:34.
b Dit het later bekend gestaan as die Teokratiese Bedieningskool. Vandag is hierdie opleiding deel van ons vergadering in die week.
c Sien die venster “Wat is die verantwoordelikhede van die Bestuursliggaam?” in Die Wagtoring van Februarie 2021, bl. 18.