LEWENSVERHAAL
“Ek was nooit alleen nie”
BAIE omstandighede in die lewe kan ons eensaam laat voel, soos wanneer’n geliefde sterf, wanneer ons na ’n nuwe plek toe trek en wanneer ons alleen is. Ek het al hierdie dinge ondervind. Maar wanneer ek terugkyk op my lewe, besef ek nou dat ek nooit regtig alleen was nie. Laat my toe om julle te vertel wat my tot daardie slotsom laat kom het.
MY OUERS SE VOORBEELD
Pa en Ma was toegewyde Katolieke. Maar toe hulle uit die Bybel geleer het dat God se naam Jehovah is, het hulle albei ywerige Jehovah se Getuies geword. Pa het opgehou om beeldjies van Jesus te kerf. Hy het eerder sy vaardighede as ’n skrynwerker gebruik om die grondvloer van ons huis te verander in die eerste Koninkryksaal in San Juan del Monte, ’n voorstad van Manila, die hoofstad van die Filippyne.
Ná my geboorte in 1952 het my ouers my ook die uitstekende geestelike opvoeding gegee wat hulle my vier ouer broers en drie ouer susters gegee het. Terwyl ek grootgeword het, het my pa my aangemoedig om elke dag ’n hoofstuk van die Bybel te lees, en hy het baie verskillende teokratiese publikasies met my studeer. My ouers het elke nou en dan reisende opsieners en verteenwoordigers van die takkantoor genooi om by ons huis te bly. Ons gesin het dit baie geniet om die aanmoedigende ondervindinge van hierdie broers te hoor, en dit het ons almal gemotiveer om die bediening ’n prioriteit in ons lewe te maak.
Ek het baie geleer uit die voorbeeld van my ouers, wat baie getrou aan Jehovah was. Nadat my dierbare ma as gevolg van ’n siekte gesterf het, het ek en Pa in 1971 saam begin pionier. Maar toe in 1973 toe ek 20 jaar oud was, het my pa gesterf. Om albei my ouers te verloor, het my leeg en alleen laat voel. Maar die hoop in die Bybel wat “seker en vas” is, was vir my ’n anker en het my emosioneel en geestelik stabiel gehou (Heb. 6:19). Kort ná my pa se dood het ek ’n toewysing as ’n spesiale pionier aanvaar op die afgeleë eiland Coron, in die Palawan-provinsie.
ALLEEN GEDURENDE MOEILIKE TOEWYSINGS
Ek was 21 toe ek op Coron aankom. As ’n stadsjapie was ek verbaas om uit te vind dat daar op hierdie eiland nie baie elektrisiteit of lopende water was nie en dat daar min karre of motorfietse
was. Al was daar ’n paar broers, het ek nie ’n pioniermaat gehad nie en moes ek soms alleen preek. Gedurende die eerste maand het ek verskriklik na my familie en my vriende verlang. Saans het ek na die sterre gekyk terwyl trane oor my wange rol. Ek wou nie meer in my toewysing wees nie en wou teruggaan huis toe.Gedurende daardie eensame tye het ek my hart voor Jehovah uitgestort. Ek het gedink aan aanmoedigende gedagtes wat ek in die Bybel en ons publikasies gelees het. Psalm 19:14 het dikwels by my opgekom. Ek het besef dat Jehovah “my Rots en my Verlosser” sou wees as ek nadink oor dinge wat hom gelukkig maak, soos sy aktiwiteite en eienskappe. Die Wagtoring-artikel met die titel “Jy is nooit alleen nie” a het my baie gehelp. Ek het dit oor en oor gelees. In ’n sekere sin was ek op daardie tye alleen met Jehovah, en dit het my kosbare geleenthede gegee om te bid, te studeer en te peins.
Kort nadat ek op Coron aangekom het, is ek as ’n ouerman aangestel. Omdat ek die enigste ouerman was, het ek die weeklikse Teokratiese Bedieningskool, Diensvergadering, Gemeentelike Boekstudie en Wagtoring-studie begin hou. Ek het ook elke week die openbare toespraak gegee. Een ding was seker – ek het nie meer tyd gehad om eensaam te voel nie!
Ek het ’n produktiewe bediening op Coron geniet – party van my Bybelstudente is uiteindelik gedoop. Maar daar was ook uitdagings. Soms moes ek ’n halwe dag lank loop om die gebied te bereik, en ek het nie geweet waar ek sou slaap wanneer ek daar aankom nie. Die gemeente se gebied het ook baie kleiner eilande ingesluit. Ek het dikwels met ’n motorboot deur storms gery om hulle te bereik, al het ek nie geweet hoe om te swem nie! Gedurende al hierdie uitdagings het Jehovah my beskerm en ondersteun. Later het ek besef dat Jehovah besig was om my voor te berei vir groter uitdagings in my volgende toewysing.
PAPOEA-NIEU-GUINEE
In 1978 is ek gestuur na Papoea-Nieu-Guinee, noord van Australië. Papoea-Nieu-Guinee is ’n bergagtige land, amper so groot soos Spanje. Ek was verbaas om te ontdek dat die bevolking van omtrent drie miljoen mense meer as 800 tale praat. Gelukkig kon die meeste mense Melanesiese Pidgin praat, wat bekend staan as Tok Pisin.
Ek is tydelik aangewys na ’n Engelse gemeente in die hoofstad, Port Moresby. Maar toe het ek na ’n Tok Pisin-gemeente getrek en ’n taalklas gedoen. Ek het wat ek in die klas geleer het, in die predikingswerk gebruik. Dit het my gehelp om die taal vinniger te leer. Kort voor lank kon ek ’n openbare toespraak in Tok Pisin gegee. Dink net hoe verbaas ek was toe ek minder as ’n jaar nadat ek in Papoea-Nieu-Guinee aangekom het, as ’n kringopsiener aangestel is vir die Tok Pisin-gemeentes in ’n hele paar baie groot provinsies.
Omdat die gemeentes ver van mekaar af was, moes ek baie kringbyeenkomste reël en baie reis. Aan die begin het ek baie eensaam gevoel omdat ek in ’n nuwe land was, waar mense ’n ander taal gepraat het en ander gebruike gehad het as waaraan ek gewoond is. Ek kon nie op land van een gemeente ná die ander reis nie as gevolg van die bergagtige en rowwe terrein. So ek moes
amper elke week met ’n vliegtuig reis. Soms was ek die enigste passasier in ’n klein vliegtuig wat in ’n slegte toestand was. So daardie ritte het my net so senuweeagtig gemaak soos om met ’n boot te reis!Min mense het telefone gehad, en daarom het ek deur middel van briewe met die gemeentes gekommunikeer. Dikwels het ek voor my briewe daar aangekom en moes ek rondvra om uit te vind waar die verkondigers is. Maar elke keer dat ek die broers gevind het, is ek met soveel liefde en waardering verwelkom dat ek onthou het hoekom ek al hierdie dinge gedoen het. Ek het Jehovah se ondersteuning op baie maniere ondervind, en ek het baie nader aan hom gekom.
By my eerste vergadering op ’n kus-eiland met die naam Bougainville het ’n paartjie breed geglimlag en my kom vra: “Onthou jy ons?” Ek het onthou dat ek vir hierdie paartjie gepreek het toe ek die eerste keer in Port Moresby aangekom het. Ek het ’n Bybelstudie met hulle begin en toe die studie aan ’n plaaslike broer oorgegee. Hulle is nou albei gedoop! Dit is een van die baie seëninge wat ek ontvang het gedurende my drie jaar in Papoea-Nieu-Guinee.
’N BESIGE KLEIN FAMILIE
Voordat ek Coron in 1978 verlaat het, het ek ’n lieflike, selfopofferende suster met die naam Adel ontmoet. Sy was ’n gewone pionier terwyl sy haar twee kinders, Samuel en Shirley, grootgemaak het. Op dieselfde tyd het sy na haar bejaarde ma gekyk. In Mei 1981 het ek na die Filippyne teruggekeer om met Adel te trou. Ná ons troue het ons saam pionier en vir die gesin gesorg.
Al het ek ’n gesin gehad, is ek in 1983 weer as ’n spesiale pionier aangestel en na Linapacan-eiland, in die Palawan-provinsie, gestuur. Die hele gesin het na hierdie afgeleë plek getrek waar daar geen Getuies was nie. Adel se ma het omtrent ’n jaar later gesterf. Maar ons het besig gebly in die bediening, wat ons deur hierdie hartseer tyd gehelp het. Ons het so baie progressiewe Bybelstudies op Linapacan begin dat ons kort voor lank ’n klein Koninkryksaal nodig gehad het. Daarom het ons self een gebou. Net drie jaar nadat ons daar aangekom het, was ons bly om te sien dat 110 mense die Gedenkmaal bygewoon het, en baie van hulle is gedoop nadat ons weggegaan het.
In 1986 is ek gestuur na die eiland Culion, waar daar ’n kolonie van melaatse pasiënte was. Daarna is Adel ook as ’n spesiale pionier aangestel. Aan die begin was ons senuweeagtig om vir mense te preek wat aan melaatsheid ly. Maar die plaaslike verkondigers het ons verseker dat dié wat aan hierdie siekte ly, behandeling ontvang het en dat die kanse baie klein is dat hulle ons sou aansteek. Party van hierdie pasiënte het vergaderinge in ’n suster se huis bygewoon. Ons het vinnig aangepas en dit baie geniet om ons Bybelse hoop te deel met mense wat gevoel het dat God en mense hulle verwerp het. Dit het ons baie bly gemaak om te sien dat mense wat ernstig siek is, vreugde daarin vind om te leer dat hulle eendag volmaakte gesondheid kan hê. – Luk. 5:12, 13.
Hoe het ons kinders aangepas by die lewe op Culion? Wel, ek en Adel het twee jong susters van Coron genooi om by ons aan te sluit sodat ons kinders goeie assosiasie kon hê. Samuel, Shirley en hierdie twee jong susters het self ’n produktiewe bediening gehad en met baie kinders studeer terwyl ek en Adel met hierdie kinders se ouers studeer het. Om die waarheid te sê, op een stadium het ons met 11 gesinne studeer. In ’n kort tydjie het ons so baie progressiewe Bybelstudies gehad dat ons ’n nuwe gemeente kon vorm!
Aan die begin was ek die enigste ouerman in die gebied. Daarom het die takkantoor my gevra om die weeklikse vergaderinge te hou vir die agt verkondigers in Culion en om dan dieselfde te doen vir die nege verkondigers in ’n dorpie met die naam Marily, wat ’n drie uur lange bootrit daarvandaan was. Ná die vergaderinge daar het ons as ’n gesin ure lank deur ’n bergstreek geloop om Bybelstudies te hou in ’n dorpie met die naam Halsey.
Uiteindelik het so baie mense in Marily en in Halsey in die waarheid gekom dat ons op albei plekke Koninkryksale gebou het. Soos op Linapacan het die broers en susters en belangstellendes die meeste van die materiaal voorsien en die meeste van die werk gedoen. Daar kon 200 mense in die saal in Marily pas, en die saal kon maklik groter gemaak word, en daarom kon ons byeenkomste daar hou.
HARTSEER, EENSAAMHEID EN HERNIEUDE VREUGDE
In 1993 toe die kinders volwassenes was, het ek en Adel kringwerk in die Filippyne begin doen. Toe in 2000 het ek die Bedieningsopleidingskool bygewoon om opgelei te word as ’n instrukteur vir daardie skool. Ek het nie bekwaam gevoel om ’n instrukteur te wees nie, maar Adel het my altyd aangemoedig. Sy het my daaraan herinner dat Jehovah my die krag sou gee om hierdie nuwe toewysing uit te voer (Fil. 4:13). Adel het uit ondervinding gepraat omdat sy besig was om haar toewysing uit te voer, al het sy gesondheidsprobleme gehad.
In 2006 terwyl ek ’n instrukteur was, is Adel met Parkinson-siekte gediagnoseer. Ons was
geskok! Toe ek voorstel dat ons ons toewysing verlaat om vir haar te sorg, het Adel gesê: “Soek asseblief vir my ’n dokter wat my kan help met my siekte, en ek weet dat Jehovah ons sal help om aan te hou.” Vir die volgende ses jaar het Adel aangehou in haar diens aan Jehovah sonder om te kla. Toe sy nie meer kon loop nie, het sy uit haar rolstoel gepreek. Toe sy skaars kon praat, het sy by die vergaderinge in een of twee woorde geantwoord. Tot haar dood in 2013 het Adel gereeld boodskappe van waardering ontvang vir haar pragtige voorbeeld van volharding. Ek het meer as 30 jaar spandeer met Adel, ’n getroue en liefdevolle metgesel, so toe sy sterf, het gevoelens van hartseer en eensaamheid my weer oorweldig.Adel wou hê dat ek moes aanhou in my toewysing, en dit is wat ek gedoen het. Ek het myself besig gehou, wat my gehelp het om nie so eensaam te voel nie. Vanaf 2014 tot 2017 het ek Tagalog-sprekende gemeentes besoek in lande waar die werk beperk was. Daarna het ek Tagalog-gemeentes in Taiwan, die Verenigde State en Kanada besoek. In 2019 het ek die Skool vir Koninkrykspredikers in Engels aangebied in Indië en in Thailand. Ek het baie vreugde in al hierdie toewysings gevind. Ek is die gelukkigste wanneer ek ten volle gefokus is op Jehovah se diens.
HULP IS NOOIT VER WEG NIE
In elke nuwe toewysing het ek lief geword vir die broers en susters wat ek ontmoet, so om hulle te verlaat, is nooit maklik nie. Op sulke tye het ek geleer om heeltemal op Jehovah te vertrou. Ek het sy ondersteuning gereeld ondervind, en dit het my gehelp om enige veranderinge in my lewe heelhartig te aanvaar. Vandag is ek ’n spesiale pionier in die Filippyne. Ek is gelukkig in my nuwe gemeente, en hulle het vir my ’n ondersteunende en liefdevolle familie geword. Ek is ook trots om te sien hoe Samuel en Shirley hulle ma se geloof navolg. – 3 Joh. 4.
Ja, ek het baie moeilike tye in my lewe ondervind, insluitende om te sien hoe my dierbare vrou ly en sterf as gevolg van ’n verskriklike siekte. Ek moes ook by baie nuwe omstandighede aanpas. Maar ek het gesien dat Jehovah “nie ver van elkeen van ons af [is] nie” (Hand. 17:27). Jehovah se hand is “nie te kort” om sy knegte te ondersteun en te versterk nie, selfs in afgeleë gebiede (Jes. 59:1). Jehovah, my Rots, is al regdeur my lewe met my, en ek is so dankbaar teenoor hom. Ek was nooit alleen nie.