Hoe om ’n ware vriend te wees
HET jy al ooit gevoel dat jy jou probleme op jou eie moes hanteer? Ons lewe in “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” wat ons mismoedig en alleen kan laat voel (2 Tim. 3:1). Maar ons hoef nie die lewe se uitdagings op ons eie te hanteer nie. Die Bybel beklemtoon die waarde daarvan om ware vriende in “moeilike tye” te hê. – Spr. 17:17.
HOE WARE VRIENDE KAN HELP
Die apostel Paulus het baat gevind by die vriendskappe wat hy met dié gehad het wat saam met hom gereis het (Kol. 4:7-11). Toe Paulus in die tronk in Rome was, het sy vriende dinge gedoen wat Paulus nie self kon doen nie. Byvoorbeeld, Epafroditus het vir Paulus party van die dinge gebring wat die broers en susters in Filippi gestuur het (Fil. 4:18). Tigikus het Paulus se briewe by verskillende gemeentes afgelewer. (Kol. 4:7; sien studienota in die Engelse Studiebybel.) Met die ondersteuning van sy vriende het Paulus sy bediening uitgevoer, al was hy onder huisarres of alleen in die tronk. Hoe kan jy vandag ’n ware vriend wees?
Hedendaagse voorbeelde wys die waarde daarvan om ’n ware vriend te wees. Elisabet, ’n gewone pionier in Spanje, verduidelik hoe ’n suster haar gedurende moeilike tye gehelp het. Toe haar ma met terminale kanker gediagnoseer is, het die suster vir Elisabet baie aanmoedigende teksboodskappe gestuur wat op Bybelverse gebaseer is. “Hierdie boodskappe het my die krag gegee om elke dag aan te pak sonder om alleen te voel,” sê Elisabet. – Spr. 18:24.
Ons kan ons vriendskappe met medegelowiges versterk deur hulle te ondersteun in gemeentelike aktiwiteite. Byvoorbeeld, kan jy aanbied om ’n ouer broer of suster op te laai vir die vergadering of bediening? As jy hulle op hierdie maniere help, kan jy hulle aanmoedig, en hulle kan jou ook aanmoedig (Rom. 1:12). Maar party Christene kan nie hulle huis verlaat nie. Hoe kan ons ’n ware vriend vir hulle wees?
WEES ’N WARE VRIEND VIR DIÉ WAT NIE HULLE HUIS KAN VERLAAT NIE
Party medegelowiges het gesondheidsprobleme of ander omstandighede wat keer dat hulle vergaderinge in persoon kan bywoon. Kyk na die voorbeeld van David, wat met limfoom gediagnoseer is. Hy het meer as ses maande lank chemoterapie ontvang. Regdeur die behandeling het David en sy vrou, Lidia, vergaderinge aanlyn bygewoon.
Watter ondersteuning het hulle van hulle vriende in die gemeente ontvang? Ná elke vergadering het party van dié wat by die Koninkryksaal was, moeite gedoen om met David en Lidia te praat
deur middel van videoverbinding. En wanneer David en Lidia antwoorde gegee het, het hulle later aanmoedigende teksboodskappe van medegelowiges ontvang. Die resultaat? David en Lidia het nie so alleen gevoel nie.Kan ons dié wat nie hulle huis kan verlaat nie, by ons bediening insluit? Met ’n paar klein aanpassings kan ons wys dat ons nie dié met sulke beperkings vergeet het nie (Spr. 3:27). Dalk kan jy tyd maak om saam met hulle briewe te skryf of telefoongetuieniswerk te doen. Dié wat nie hulle huis kan verlaat nie, kan dalk by velddiensvergaderinge aansluit deur middel van videoverbinding. David en Lidia het hierdie reëling waardeer. David verduidelik: “Net om saam met ons velddiensgroep te wees vir ’n kort bespreking en gebed was baie aanmoedigend vir ons.” En kan jy van tyd tot tyd reël om ’n Bybelstudent na die verkondiger se huis te bring om die studie daar te hou, as omstandighede dit veilig en gepas maak om dit te doen?
Wanneer ons saam met ons broers en susters werk wat nie hulle huis kan verlaat nie, en eerstehands hulle lieflike eienskappe sien, kom ons nader aan hulle. Byvoorbeeld, wanneer jy saam met sulke verkondigers in die veldbediening werk en sien hoe hulle God se Woord op ’n vaardige manier gebruik om iemand se hart te bereik, voel jy moontlik selfs nader aan hulle. Wanneer jy medegelowiges in geestelike aktiwiteite ondersteun, sal jy dalk jou vriendekring vergroot. – 2 Kor. 6:13.
Dit het Paulus vertroos om sy vriend Titus by hom te hê (2 Kor. 7:5-7). Hierdie verslag herinner ons daaraan dat ons vertroosting kan voorsien nie net deur dié aan te moedig wat deur moeilike tye gaan nie, maar ook deur tyd saam met hulle te spandeer en te doen wat ons kan om hulle te ondersteun. – 1 Joh. 3:18.
WEES ’N WARE VRIEND GEDURENDE TYE VAN VERVOLGING
Ons broers en susters in Rusland het ’n pragtige voorbeeld gestel wanneer dit kom by hoe om mekaar te ondersteun. Kyk na die ondervinding van Sergei en sy vrou, Tatjana. Nadat hulle huis deur die polisie deursoek is, is hulle geneem vir ondervraging. Tatjana is eerste vrygelaat en het teruggekeer huis toe. Sergei sê: “Toe [Tatjana] by die huis aankom, het een dapper suster by ons deur opgedaag. Nog vriende het gekom en ons gehelp om ons woonstel weer netjies te maak.”
Sergei sê verder: “Ek het nog altyd van Spreuke 17:17 gehou, waar dit sê: ‘’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.’ Hierdie woorde het vir my selfs meer beteken gedurende hierdie tyd van vervolging wanneer ek dinge nie op my eie kan hanteer nie. Jehovah het my vriende gegee wat vreesloos aan my sy is.” a
Terwyl die lewe nou selfs moeiliker word, het ons vriende nodig waarop ons kan staatmaak. Ons sal hulle selfs meer nodig hê gedurende die groot verdrukking. So laat ons ons bes probeer om nou ’n ware vriend te wees! – 1 Pet. 4:7, 8.
a Sien die artikel “Jehovah het my vriende gegee wat vreesloos aan my sy is” op jw.org.