STUDIEARTIKEL 8
LIED 130 Wees vergewensgesind
Jehovah se vergifnis – Hoe kan jy dit navolg?
“Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook vergewe.” – KOL. 3:13.
FOKUS
Hierdie artikel sal praktiese stappe bespreek wat ons kan neem om iemand te vergewe wat ons seergemaak het.
1-2. (a) Wanneer sal ons dit dalk veral moeilik vind om iemand te vergewe? (b) Hoe het Denise vergifnis geopenbaar?
IS DIT vir jou moeilik om ander te vergewe? Vir baie van ons is dit die geval, veral wanneer iemand iets sê of iets doen wat ons diep seermaak. Maar ons kan ons seergemaakte gevoelens oorkom en ander vergewe. Byvoorbeeld, kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Denise, a wat buitengewone vergifnis betoon het. In 2017 het Denise en haar gesin die pas geopende Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies besoek. Terwyl hulle op pad huis toe was, het ’n ander bestuurder beheer oor sy kar verloor en in hulle vasgery. Denise het haar bewussyn in die ongeluk verloor. Toe sy wakker word, het sy uitgevind dat haar kinders erg beseer is en dat haar man, Brian, gesterf het. Wanneer sy aan daardie oomblik dink, sê Denise: “My hart was gebreek, en ek was verward.” Later het sy uitgevind dat die bestuurder nie onder die invloed was nie en dat sy aandag nie afgetrek was nie. Sy het Jehovah toe gevra om vir haar vrede te gee.
2 Die bestuurder wat in hulle vasgery het, is van manslag aangekla. As hy skuldig bevind is, kon hy tronk toe gaan. Maar die hof het vir Denise gesê dat die uitkoms van die man se vonnis van haar getuienis afgehang het. Denise sê: “Ek het gevoel asof iemand my steke oopsny en ’n ton sout op my wond gooi terwyl ek die ergste oomblikke van my lewe herleef het.” Net ’n paar weke later het Denise in ’n hof gesit en haar voorberei om met die man te praat wat vir haar familie so baie pyn veroorsaak het. Wat het sy gesê? Denise het die regter gevra om genadig teenoor die man te wees. b Toe sy klaar gepraat het, het die regter in trane uitgebars. Hy het gesê: “In my 25 jaar as ’n regter het ek nog nooit so iets in my hof gehoor nie. Ek hoor nooit dat die slagoffer se gesin namens die skuldige om genade smeek nie. Ek hoor nooit woorde van liefde en vergifnis nie.”
3. Wat het Denise gemotiveer om te vergewe?
3 Wat het Denise gehelp om te vergewe? Sy het nagedink oor Jehovah se vergifnis (Miga 7:18). Wanneer ons die vergifnis waardeer wat Jehovah aan ons betoon het, sal ons gemotiveerd wees om ander te vergewe.
4. Wat wil Jehovah hê moet ons doen? (Efesiërs 4:32)
4 Jehovah wil hê dat ons ander net so vryelik moet vergewe soos hy ons vergewe het. (Lees Efesiërs 4:32.) Hy verwag dat ons dié wat ons seergemaak het, vryelik moet vergewe (Ps. 86:5; Luk. 17:4). In hierdie artikel sal ons drie dinge bespreek wat ons sal help om ander makliker te vergewe.
MOENIE JOU GEVOELENS IGNOREER NIE
5. Hoe voel ons dalk wanneer iemand ons seermaak volgens Spreuke 12:18?
5 Ons voel dalk diep seergemaak deur wat iemand vir ons sê of aan ons doen, veral as daardie persoon ’n goeie vriend of familielid is (Ps. 55:12-14). Partykeer kan die emosionele pyn wat ons ondervind, met swaardsteke vergelyk word. (Lees Spreuke 12:18.) Ons probeer dalk om ons seergemaakte gevoelens te onderdruk of te ignoreer. Maar as ons dit doen, is dit asof ons gesteek word en dan die mes in die wond los. Net so kan ons nie verwag dat ons seergemaakte gevoelens beter sal word as ons dit net ignoreer nie.
6. Hoe reageer ons dalk wanneer iemand ons seermaak?
6 Wanneer iemand ons seermaak, is ons eerste reaksie dalk om kwaad te word. Die Bybel erken dat ons dalk kwaad sal word. Maar dit waarsku ons om nie toe te laat dat daardie emosie ons oorheers nie (Ps. 4:4; Ef. 4:26). Hoekom nie? Omdat ons emosies dikwels tot dade lei. En woede lei selde tot goeie resultate (Jak. 1:20). Onthou, om kwaad te word, is ’n reaksie, maar om kwaad te bly, is ’n keuse.
Om kwaad te word, is ’n reaksie, maar om kwaad te bly, is ’n keuse
7. Watter ander gevoelens ondervind ons dalk wanneer iemand ons seermaak?
7 Wanneer ons sleg behandel word, voel ons dalk ander pynlike emosies. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Ann sê: “Toe ek ’n kind was, het my pa my ma verlaat en met my kinderoppasser getrou. Ek het gevoel dat ek in die steek gelaat is. Toe hulle kinders gekry het, het ek gevoel asof ek vervang is. Ek het grootgeword met die gevoel dat niemand my wou hê nie.” ’n Suster met die naam Georgette beskryf hoe sy gevoel het toe haar man ontrou was aan haar: “Ons was van kleins af vriende. Ons was pioniermaats! My hart was gebreek.” En ’n suster met die naam Naomi sê: “Ek het nooit gedink dat my man my sou seermaak nie. So toe hy vir my sê dat hy pornografie gekyk het en dit vir my wegsteek het, het ek bedrieg en verraai gevoel.”
8. (a) Wat is ’n paar redes hoekom ons ander moet vergewe? (b) Watter voordele ontvang ons wanneer ons ander vergewe? (Sien die venster “ Wat as ons al deur iemand getraumatiseer is?”)
8 Ons kan nie beheer wat ander vir ons sê of aan ons doen nie, maar ons kan probeer om ons reaksie te beheer. En dikwels is die beste reaksie om te vergewe. Hoekom? Omdat ons lief is vir Jehovah, en hy wil hê dat ons ander moet vergewe. As ons kwaad bly en nie vergewe nie, sal ons waarskynlik dwaas optree en dalk ons gesondheid benadeel (Spr. 14:17, 29, 30). Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Christine. Sy sê: “Wanneer ek kwaad is of seergemaak voel, glimlag ek minder. Ek is geneig om ongesonde kos te eet. Ek kry nie genoeg slaap nie, en dit is moeiliker om my emosies te beheer, en dit affekteer dan my huwelik en my verhoudings met ander.”
9. Hoekom moet ons nie ander bly verwyt nie?
9 Al neem die persoon wat ons seergemaak het, nooit verantwoordelikheid vir sy dade nie, kan ons die skade wat hy veroorsaak het, verminder. Hoe? Georgette, wat vroeër genoem is, sê: “Dit het tyd geneem, maar ek het nie meer my eksman verwyt nie, en ek was nie meer kwaad vir hom nie. As gevolg daarvan het ek groot vrede ondervind.” Wanneer ons ophou om ander te verwyt, keer ons dat ons hart beskadig word deur bitterheid. Ons gee onsself ook ’n geskenk – ons kan begin aanbeweeg en ons lewe weer begin geniet (Spr. 11:17). Maar wat as jy jou gevoelens erken maar nog steeds nie gereed is om te vergewe nie?
HOE OM JOU GEVOELENS TE HANTEER
10. Hoekom moet ons onsself tyd gee om emosioneel te genees? (Sien ook prente.)
10 Hoe kan jy jou seergemaakte gevoelens oorkom? Een manier is om jouself tyd te gee om emosioneel te genees. ’n Persoon wat erg beseer is, het tyd nodig om te genees nadat hy mediese sorg ontvang het. Net so het ons dalk tyd nodig om emosioneel te genees voordat ons gereed is om iemand uit die hart te vergewe. – Pred. 3:3; 1 Pet. 1:22.
11. Hoe kan gebed jou help om te vergewe?
11 Bid en vra Jehovah om jou te help om te vergewe. c Ann, wat vroeër genoem is, verduidelik hoe gebed haar gehelp het. Sy sê: “Ek het Jehovah gevra om ons elkeen in die gesin te vergewe vir dinge wat ons nie goed hanteer het nie. Toe het ek ’n brief vir my pa en sy nuwe vrou geskryf en vir hulle gesê dat ek hulle vergewe het.” Ann erken dat dit nie maklik was om dit te doen nie. Maar sy sê: “Ek hoop dat my pa en sy vrou beweeg sal word om meer oor Jehovah te leer omdat ek probeer om Jehovah se vergifnis na te volg.”
12. Hoekom moet ons Jehovah vertrou eerder as ons gevoelens? (Spreuke 3:5, 6)
12 Vertrou Jehovah, nie jou gevoelens nie. (Lees Spreuke 3:5, 6.) Jehovah weet altyd wat die beste vir ons is (Jes. 55:8, 9). En hy sal ons nooit vra om iets te doen wat ons sal benadeel nie. So, wanneer hy ons aanmoedig om te vergewe, kan ons seker wees dat ons daarby sal baat vind as ons dit doen (Ps. 40:4; Jes. 48:17, 18). Aan die ander kant, as ons ons gevoelens vertrou, sal ons dalk nooit kan vergewe nie (Spr. 14:12; Jer. 17:9). Naomi, wat vroeër aangehaal is, sê: “Aan die begin het ek geglo dat ek nie my man hoef te vergewe omdat hy na pornografie gekyk het nie. Ek was bang dat hy my weer sou seermaak of dat hy sou vergeet hoeveel skade hy veroorsaak het. En ek het geredeneer dat Jehovah my gevoelens verstaan. Maar ek het begin besef dat net omdat Jehovah my gevoelens verstaan, dit nie beteken dat hy daarmee saamstem nie. Hy weet hoe ek voel en dat dit tyd neem om te genees, maar hy wil ook hê dat ek moet vergewe.” d
HOE OM POSITIEWE GEVOELENS TE ONTWIKKEL
13. Wat moet ons doen volgens Romeine 12:18-21?
13 Wanneer ons iemand vergewe wat ons diep seergemaak het, wil ons meer doen as om net te besluit om nie te praat oor wat gebeur het nie. As die persoon wat ons seergemaak het, ook ons Christenbroer of -suster is, is ons doel om vrede te maak (Matt. 5:23, 24). Ons kies om genadig te wees en te vergewe eerder as om kwaad te wees en die persoon te verwyt. (Lees Romeine 12:18-21; 1 Pet. 3:9.) Wat kan ons help om dit te doen?
14. Wat moet ons probeer doen, en hoekom?
14 Ons moet probeer om die persoon wat ons seergemaak het, te sien soos Jehovah hom sien. Jehovah kies om na die goeie in mense te soek (2 Kron. 16:9; Ps. 130:3). Ons sal gewoonlik dit vind waarna ons in mense soek – of dit nou goed of sleg is. Wanneer ons na die goeie in ander soek, sal dit vir ons makliker wees om hulle te vergewe. Byvoorbeeld, ’n broer met die naam Jarrod sê: “Dit is vir my makliker om ’n broer te vergewe wanneer ek sy fout vergelyk met die lang lys van dinge wat ek omtrent hom waardeer.”
15. Hoekom sal dit dalk goed wees om vir iemand te sê dat jy hom vergewe het?
15 Nog ’n belangrike ding om te oorweeg om te doen, is om vir die persoon te sê dat jy hom of haar vergewe het. Hoekom? Kyk wat Naomi, wat vroeër aangehaal is, sê: “My man het my gevra: ‘Het jy my vergewe?’ Toe ek my mond oopmaak om te sê: ‘Ek vergewe jou,’ het ek verstik. Ek het besef dat ek hom nog nie regtig in my hart vergewe het nie. Met verloop van tyd kon ek hierdie drie kragtige woorde sê: ‘Ek vergewe jou.’ Ek kon nie glo hoe verlig dit my tranerige man laat voel het nie en hoeveel beter ek ook gevoel het nie. Van toe af het ek geleer om hom weer te vertrou, en ons is weer beste vriende.”
16. Wat het jy geleer oor vergifnis?
16 Jehovah wil hê dat ons moet vergewe (Kol. 3:13). Al is dit die geval, sukkel ons dalk om ander te vergewe. Maar ons kan dit doen as ons nie ons gevoelens ignoreer nie en probeer om dit te hanteer. Dan kan ons nuwe, positiewe gevoelens ontwikkel. – Sien die venster “ Drie stappe tot vergifnis”.
FOKUS OP DIE VOORDELE WAT DIT INHOU OM TE VERGEWE
17. Hoe vind ons daarby baat as ons vergewe?
17 Ons het baie redes om te vergewe. Kyk na net ’n paar van hulle. Eerstens, ons volg ons genadige Vader, Jehovah, na en maak hom gelukkig (Luk. 6:36). Tweedens, ons wys dat ons dankbaar is vir die vergifnis wat Jehovah liefdevol aan ons betoon het (Matt. 6:12). En derdens, ons geniet beter gesondheid en hou ons vriendskappe sterk.
18-19. Wat kan die gevolg wees as ons vergewe?
18 Wanneer ons ander vergewe, ondervind ons dalk onverwagte seëninge. Byvoorbeeld, kyk wat met Denise, wat vroeër genoem is, gebeur het. Al het sy dit nie op daardie stadium geweet nie, het die man wat die ongeluk veroorsaak het, beplan om ná sy verhoor sy lewe te neem. Maar hy was so geraak deur Denise se vergifnis dat hy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het.
19 Ons voel dalk dat dit een van die moeilikste dinge is wat ons ooit sal moet doen as ons iemand moet vergewe – maar dit kan ook een van die lonendste dinge wees (Matt. 5:7). Laat ons dan ons bes doen om Jehovah se vergifnis na te volg.
LIED 125 ‘Gelukkig is dié wat genade toon!’
a Party name is verander.
b In so ’n situasie moet elke Christen ’n persoonlike besluit maak oor wat om te doen.
c Kyk op jw.org na die video’s van die Broadcasting-liedjies “Vergewe mekaar”, “Vergewe vryelik” en “Weer vriende”.
d Al is dit ’n sonde om na pornografie te kyk en al maak dit ander seer, gee dit nie die onskuldige maat ’n Skriftuurlike grondslag vir ’n egskeiding nie.