Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 7

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

Jehovah se vergifnis – Wat dit vir jou beteken

Jehovah se vergifnis – Wat dit vir jou beteken

“By u is daar ware vergifnis.”PS. 130:4.

FOKUS

Deur ’n paar beskrywende illustrasies in die Bybel te ondersoek, sal ons ons waardering vir die ware vergifnis wat Jehovah vir ons as individue gee, vergroot.

1. Hoekom is die manier hoe mense vergewe, baie keer ingewikkeld?

 “EK VERGEWE JOU.” Hierdie woorde kan verfrissend wees, veral as jy weet dat jy iets gesê of gedoen het wat iemand seergemaak het! Maar wat beteken die frase “Ek vergewe jou” nou eintlik? Sê die persoon wat jy seergemaak het dat julle vriendskap heeltemal herstel is? Of bedoel hy net dat hy nie meer oor die probleem wil praat nie? Die manier hoe mense vergewe, kan ingewikkeld wees.

2. Hoe is Jehovah se vergifnis al in die Bybel beskryf? (Sien ook voetnoot.)

2 Die manier hoe Jehovah ons as onvolmaakte mense vergewe, is baie anders as die manier hoe ons mekaar vergewe. Die vergifnis wat Jehovah gee, is uniek. Die psalmis het van Jehovah gesê: “By u is daar ware vergifnis, en daarom het mense groot ontsag vir u” (Ps. 130:4). a Ja, Jehovah se vergifnis is “ware vergifnis”. Hy stel die beste voorbeeld van wat vergifnis regtig beteken. In party gevalle het Bybelskrywers ’n Hebreeuse woord vir vergifnis gebruik wat nooit gebruik word om die manier te beskryf hoe mense vergewe nie.

3. Hoe is Jehovah se vergifnis anders as ons s’n? (Jesaja 55:​6, 7)

3 Wanneer Jehovah iemand vergewe, word daardie persoon se sonde uitgevee. Die beskadigde verhouding word heeltemal herstel. Jehovah se vergifnis is op ’n wonderlike manier volkome en vrygewig. – Lees Jesaja 55:​6, 7.

4. Hoe help Jehovah ons om die ware betekenis van vergifnis te verstaan?

4 As Jehovah se vergifnis anders as ons s’n is, hoe kan ons as onvolmaakte mense ooit die ware betekenis daarvan verstaan? Jehovah help ons deur beskrywende illustrasies te gebruik om sy vergifnis te beskryf. In hierdie artikel sal ons party van hulle ondersoek. Dit sal vir ons wys hoe Jehovah sonde verwyder en, op dieselfde tyd, die verhouding herstel wat deur sonde beskadig is. Terwyl ons hierdie illustrasies hersien, sal ons ons waardering vir ons liefdevolle en genadige Vader vergroot, wat sy vergifnis op so baie maniere openbaar.

JEHOVAH VERWYDER SONDE

5. Wat gebeur wanneer Jehovah ons sondes vergewe?

5 In die Bybel word sondes dikwels met swaar vragte vergelyk. Koning Dawid het sy eie sondes op hierdie manier beskryf: “My oortredings hang oor my kop, soos ’n swaar vrag is hulle te veel vir my om te dra” (Ps. 38:4). Maar Jehovah vergewe die sondes van berouvolle oortreders (Ps. 25:18; 32:5). Die Hebreeuse woord wat in hierdie verse met “vergewe” vertaal word, beteken basies om “op te lig” of om “te dra”. Ons dink dalk aan Jehovah as ’n sterk man wat die vrag van sonde figuurlik van ons skouers oplig, of afhaal, en dit wegdra.

“Vergewe” (Ps. 32:⁠5)


6. Hoe ver weg dra Jehovah ons sondes?

6 Nog ’n illustrasie wys presies hoe ver weg Jehovah ons sondes dra. Psalm 103:12 sê vir ons: “So ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder.” Die ooste is die verste punt van die weste. Hierdie twee punte ontmoet nooit. Met ander woorde, Jehovah neem ons sondes so ver van ons af weg as wat ons ons kan voorstel. Wat ’n vertroostende manier om sy vergifnis te beskryf!

“So ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is” (Ps. 103:​12)


7. Hoe beskryf die Bybel wat Jehovah met ons sondes doen? (Miga 7:​18, 19)

7 Al neem Jehovah figuurlik ons sondes ver van ons af weg, hou hy daaraan vas? Nee. Koning Hiskia het oor Jehovah geskryf: “U het al my sondes agter u rug gegooi.” Of soos die voetnoot dit stel: “U het al my sondes verwyder sodat u dit nie sien nie” (Jes. 38:​9, 17; vtn.). Hierdie illustrasie wys dat Jehovah die sondes van berouvolles neem en dit iewers gooi waar hy dit nie kan sien nie. Hierdie stelling kan ook vertaal word as: “U het [my sondes] gemaak asof dit nie gebeur het nie.” Die Bybel beklemtoon hierdie punt verder in ’n ander illustrasie in Miga 7:​18, 19. (Lees.) Daardie verse sê dat Jehovah ons sondes in die dieptes van die see gooi. In eertydse tye sou dit vir iemand onmoontlik gewees het om ’n voorwerp terug te kry wat in die dieptes van die see gegooi is.

“U het al my sondes agter u rug gegooi” (Jes. 38:⁠17)

“U sal al hulle sondes in die dieptes van die see gooi” (Miga 7:​19)


8. Wat het ons so ver geleer?

8 Deur middel van hierdie illustrasies het ons geleer dat Jehovah, wanneer hy ons vergewe, die sonde heeltemal wegneem, en daarom hoef ons nie meer skuldig te voel nie. Ja, soos Dawid gesê het: “Gelukkig is die mense wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is. Gelukkig is die mens aan wie se sonde Jehovah nie sal dink nie” (Rom. 4:​7, 8). Dit is ware vergifnis!

JEHOVAH VEE SONDE UIT

9. Watter illustrasies gebruik Jehovah om die omvang van sy vergifnis te verduidelik?

9 Jehovah gebruik ander illustrasies om ons te help waardeer hoe hy die sondes van berouvolles uitvee deur middel van die losprysoffer. In die Bybel lees ons dat Jehovah hierdie sondes afwas en laat wegspoel. Die gevolg is dat die sondaar gereinig word (Ps. 51:7; Jes. 4:4; Jer. 33:8). Jehovah beskryf self die resultate van hierdie proses: “Al is julle sondes so rooi soos skarlaken, sal dit so wit soos sneeu gemaak word. Al is dit so rooi soos bloed, sal dit so wit soos wol word” (Jes. 1:18). Dit is verskriklik moeilik om helderrooi vlekke uit ’n lap te verwyder. Maar deur middel van hierdie illustrasie verseker Jehovah ons dat ons sondes so deeglik afgewas kan word dat dit nie meer gesien kan word nie.

“Al is julle sondes so rooi soos skarlaken, sal dit so wit soos sneeu gemaak word” (Jes. 1:​18)


10. Watter ander illustrasie gebruik Jehovah om te beskryf hoe vrygewig hy is wanneer hy ons vergewe?

10 Soos in die vorige artikel genoem is, word sondes ook met skuld vergelyk (Matt. 6:​12, vtn.; Luk. 11:​4, vtn.). So elke keer wanneer ons teen Jehovah sondig, is dit asof ons meer en meer skuld maak. Ons is diep in die skuld by hom! Maar wanneer Jehovah ons vergewe, is dit asof hy die skuld afskryf. Hy dring nie aan op ’n terugbetaling vir die sondes waarvoor hy ons al vergewe het nie. Wat ’n verfrissende illustrasie om die verligting te beskryf wat ons voel wanneer Jehovah ons vergewe!

“Vergewe ons ons sondes” (Matt. 6:​12)


11. Wat beteken dit wanneer die Bybel sê dat ons sondes “uitgewis” word? (Handelinge 3:19)

11 Jehovah skryf nie net ons skuld, of sondes, af nie; hy wis dit uit. (Lees Handelinge 3:19.) Wanneer skuld afgeskryf word, dink ons dalk aan ’n groot X wat oor die rekening getrek word. Die syfers onderaan die X kan dalk nog steeds gesien word. Maar om iets uit te wis, is anders. Om hierdie illustrasie te verstaan, moet ons onthou dat die ink wat in eertydse tye gebruik is, ’n mengsel was wat koolstof, gom en water ingesluit het. ’n Persoon kon ’n nat spons gebruik en dit wat geskryf is, afvee. So wanneer skuld “uitgewis” was, het dit heeltemal verdwyn. Tekens van wat voorheen geskryf is, kon nie met die blote oog gesien word nie. Dit was asof die skuld nooit bestaan het nie. Ons is so dankbaar om te weet dat Jehovah nie net ons sondes afskryf nie, maar dit ook heeltemal uitwis! – Ps. 51:9.

“Sodat julle sondes uitgewis kan word” (Hand. 3:​19)


12. Wat beteken die illustrasie in verband met ’n digte wolk vir ons?

12 Jehovah gebruik ’n soortgelyke illustrasie om te beskryf hoe hy sondes uitwis. Hy sê: “Ek sal jou oortredings uitwis soos met ’n wolk, en jou sondes soos met ’n digte wolk” (Jes. 44:22). Wanneer Jehovah vergewe, is dit asof hy ’n digte wolk gebruik om ons oortredings weg te steek sodat dit glad nie meer gesien kan word nie.

“Ek sal jou oortredings uitwis soos met ’n wolk” (Jes. 44:​22)


13. Hoe voel ons wanneer Jehovah ons sondes vergewe?

13 Wat beteken dit vir ons? Wanneer Jehovah ons sondes vergewe, moet ons nie voel dat ons vir die res van ons lewe nog steeds die vlek van sulke sondes sal dra nie. Deur middel van Jesus Christus se bloed word ons skuld heeltemal afgeskryf. Die rekord van daardie skuld kan nie eers meer gesien word nie. Dit is wat die ware vergifnis wat van Jehovah kom vir ons beteken wanneer ons berou toon oor ons sondes.

JEHOVAH HERSTEL ’N GOEIE VERHOUDING

Die vergifnis wat ons hemelse Vader gee, maak dit vir ons moontlik om ’n goeie verhouding met hom te hê (Sien paragraaf 14)


14. Hoekom kan ons Jehovah se vergifnis vertrou? (Sien ook prente.)

14 Ware vergifnis wat van Jehovah af kom, maak dit vir ons moontlik om ’n goeie verhouding met hom te hê. Dit help ons om nie deur skuldgevoelens oorweldig te word nie. Ons hoef nie bang te wees dat Jehovah nog steeds kwaad is vir ons en dat hy na ’n manier soek om ons te straf nie. Dit sal nooit gebeur nie. Hoekom kan ons Jehovah vertrou wanneer hy sê dat hy ons vergewe? Hy het vir die profeet Jeremia gesê: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en ek sal nie meer aan hulle sonde dink nie” (Jer. 31:34). Toe die apostel Paulus na hierdie woorde verwys het, het hy ’n soortgelyke uitdrukking gebruik en gesê: “Ek sal nie meer aan hulle sondes dink nie” (Heb. 8:12). Maar wat beteken dit nou eintlik?

“Ek sal nie meer aan hulle sonde dink nie” (Jer. 31:​34)


15. In watter sin dink Jehovah nie meer aan ons sondes nie?

15 In die Bybel verwys die uitdrukking ‘dink aan’ nie altyd na iemand wat iets onthou of daaroor dink nie. Dit kan eerder behels dat iemand optree. Die misdadiger wat langs Jesus aan die paal gehang het, het Jesus versoek: “Jesus, dink aan my wanneer u in u Koninkryk kom” (Luk. 23:​42, 43). Hy het Jesus gevra om op daardie stadium iets vir hom te doen. Jesus se antwoord het gewys dat hy sou optree en die misdadiger sou opwek. So wanneer Jehovah sê dat hy nie meer aan ons sondes dink nie, bedoel hy dat hy nie teen ons sal optree nie. Hy sal ons nie die een of ander tyd in die toekoms straf vir die sondes wat hy vergewe het nie.

16. Hoe beskryf die Bybel die vryheid wat ware vergifnis bring?

16 Die Bybel gebruik nog ’n illustrasie om ons te help om die vryheid wat ware vergifnis bring, te verstaan. As gevolg van ons sondige toestand en neiging, word ons vergelyk met “slawe van die sonde”. Maar danksy Jehovah se vergifnis is ons soos slawe wat “van sonde vrygemaak is” (Rom. 6:​17, 18; Op. 1:5). Ja, die vergifnis wat Jehovah ons gee, laat ons so opgewonde voel soos ’n slaaf wat vrygelaat is.

“Julle [is] van sonde vrygemaak” (Rom. 6:​18)


17. Hoe lei vergifnis tot genesing? (Jesaja 53:5)

17 Lees Jesaja 53:5. Die laaste illustrasie wat ons sal bespreek, vergelyk ons met mense wat ’n dodelike siekte het. As gevolg van die losprysoffer wat Jehovah deur middel van sy Seun voorsien het, word daar gesê dat ons in ’n figuurlike sin genees word (1 Pet. 2:24). Die losprys maak dit moontlik dat ons verhouding met Jehovah, wat deur geestelike siekte beskadig is, heeltemal herstel kan word. Net soos ’n persoon wat van ’n ernstige siekte genees is, baie gelukkig voel, is ons ook gelukkig wanneer ons geestelik genees word en weer Jehovah se goedkeuring kry as gevolg van sy vergifnis.

“Weens sy wonde is ons genees” (Jes. 53:⁠5)


WAT JEHOVAH SE VERGIFNIS VIR ONS BETEKEN

18. Wat het ons geleer deur die verskillende illustrasies in die Bybel in verband met Jehovah se vergifnis te ondersoek? (Sien ook die venster “Hoe Jehovah ons vergewe”.)

18 Wat het ons geleer deur die illustrasies in die Bybel in verband met Jehovah se vergifnis te ondersoek? Wanneer hy vergewe, vergewe hy ons heeltemal en permanent. Dit maak dit vir ons moontlik om ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader te hê. Op dieselfde tyd onthou ons dat ware vergifnis ’n geskenk is. Dit kom van Jehovah se liefde en onverdiende goedheid wat hy aan sondige mense openbaar. Dit is nie ’n reg waarop mense kan aandring nie. – Rom. 3:24.

19. (a) Waarvoor moet ons dankbaar wees? (Romeine 4:8) (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Lees Romeine 4:8. Ons is baie dankbaar dat Jehovah die God van “ware vergifnis” is! (Ps. 130:4). Maar as ons vergewe wil word, moet ons iets belangriks doen. Jesus het verduidelik: “As julle mense nie vir hulle oortredings vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie vir julle oortredings vergewe nie” (Matt. 6:​14, 15). So, dit is duidelik dat dit baie belangrik is dat ons Jehovah se vergifnis navolg. Maar hoe kan ons dit doen? Ons volgende artikel sal vir ons wys wat dit behels.

LIED 46 Ons dank u, Jehovah

a Die oorspronklike Hebreeuse teks gebruik die uitdrukking “ware vergifnis”, wat impliseer dat dit die enigste ware vergifnis is, ten spyte van die feit dat daar ander vorme van vergifnis is. Baie vertalings van die Bybel dra nie hierdie belangrike punt oor nie, maar die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel dra dit wel oor, en dit maak die vertaling van Psalm 130:4 uniek.