Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Eenvoudige vraag wat enige iemand kan vra

’n Eenvoudige vraag wat enige iemand kan vra

Mary en haar man, John, a bly in ’n deel van die wêreld waar die goeie nuus met baie uitlandse werkers van die Filippyne gedeel kan word. Gedurende die COVID-19-pandemie het Mary suksesvol Bybelstudies begin nie net in die land waar sy bly nie, maar ook in ander plekke in die wêreld. Hoe het sy dit gedoen?

Mary het haar Bybelstudente gevra: “Ken jy enige iemand anders wat die Bybel graag sal wil studeer?” As hulle ja gesê het, het sy gevra om aan hulle voorgestel te word. Hierdie eenvoudige vraag het dikwels goeie resultate. Hoekom? Omdat mense wat God se Woord waardeer, gewoonlik wat hulle leer, met hulle familie en vriende wil deel. Wat het gebeur toe Mary hierdie vraag gevra het?

Mary se Bybelstudent Jasmin het haar aan vier nuwe Bybelstudente voorgestel. Een van hulle, Kristine, het haar studie so baie geniet dat sy Mary gevra het om twee keer ’n week met haar te studeer. Toe Mary gevra het of sy enige iemand anders ken wat die Bybel wil studeer, het Kristine gesê: “Ja, ek sal my vriende aan jou voorstel.” Binne ’n paar weke het Kristine Mary aan vier vriende voorgestel wat wou studeer. Later het Kristine haar aan ander vriende voorgestel, en party van hulle het haar ook aan nog vriende voorgestel.

Kristine wou ook hê dat haar familie in die Filippyne oor die Bybel moes leer. So sy het met haar dogter, Andrea, gepraat. Aan die begin het Andrea gedink: ‘Die Getuies is ’n kultus; hulle glo nie in Jesus nie, en hulle gebruik net die Ou Testament.’ Maar ná net een studie het sy besef dat sy verkeerd was oor die Getuies. Elke keer dat sy iets nuuts uit die Bybel geleer het, het sy gesê: “As die Bybel so sê, moet dit waar wees!”

Met verloop van tyd het Andrea Mary aan twee vriende en ’n kollega voorgestel wat begin studeer het. En sonder dat Mary geweet het, het Andrea se blinde tannie, Angela, geluister terwyl hulle gestudeer het. Toe op ’n dag het Angela Andrea gevra om haar aan Mary voor te stel sodat sy Mary kon vra om die Bybel ook met haar te studeer. Angela het geniet wat sy geleer het. Binne ’n maand het sy baie tekste uit haar kop geleer en wou sy vier keer ’n week studeer! Met Andrea se hulp het Angela die vergaderinge gereeld begin bywoon deur middel van videoverbinding.

Toe Mary uitvind dat Kristine se man, Joshua, in die agtergrond luister na Kristine se studies het Mary hom gevra of hy by hulle wou aansluit. Joshua het gesê: “Ek sal net luister, maar moenie vir my enige vrae vra nie; as jy dit doen, sal ek wegstap.” Binne die eerste vyf minute van die studie het hy meer vrae as Kristine gevra, en hy wou ook die Bybel studeer.

Mary se eenvoudige vraag het tot baie Bybelstudies gelei. Met ’n hele paar van hulle het sy gereël dat ander Getuies met hulle studeer. Mary het altesaam 28 Bybelstudies in vier verskillende lande begin.

Jasmin, die eerste student wat in hierdie ondervinding genoem word, is in April 2021 gedoop. Kristine is in Mei 2022 gedoop en het teruggegaan na die Filippyne om by haar familie te wees. Twee ander studente wat Kristine aan Mary voorgestel het, is ook gedoop. Angela is ’n paar maande later gedoop en dien nou as ’n gewone pionier. Kristine se man, Joshua, en hulle dogter, Andrea, sowel as ’n hele paar ander studente maak goeie vordering.

In die eerste eeu het die goeie nuus vinnig versprei tussen familielede en vriende (Joh. 1:​41, 42a; Hand. 10:​24, 27, 48; 16:​25-33). Vra gerus jou Bybelstudente en ander belangstellendes: “Ken jy enige iemand anders wat die Bybel graag sal wil studeer?” Wie weet hoeveel studies begin kan word as gevolg van hierdie eenvoudige vraag wat enige iemand kan vra.

a Name is verander.