Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees vasbeslote om ‘julle broederliefde te laat voortduur’!

Wees vasbeslote om ‘julle broederliefde te laat voortduur’!

Laat julle broederliefde voortduur.”​HEBREËRS 13:1.

LIEDERE: 72, 119

1, 2. Waarom het Paulus ’n brief aan die Hebreeuse Christene geskryf?

IN DIE jaar 61 het gemeentes oor die hele Israel relatiewe vrede geniet. Hoewel die apostel Paulus in Rome in die gevangenis was, het hy gehoop om kort voor lank vrygelaat te word. Sy reisgenoot Timoteus is kort tevore uit die gevangenis vrygelaat, en hulle wou die broers in Judea gaan besoek (Hebreërs 13:23). Maar binne net vyf jaar sou Christene in Judea, en veral dié wat in Jerusalem gewoon het, daadwerklik moes optree. Waarom? Jesus het vroeër vir sy volgelinge gesê dat hulle moet vlug sodra hulle Jerusalem deur soldate omsingel sien.​—Lukas 21:20-24.

2 Agt-en-twintig jaar het verloop sedert Jesus sy volgelinge daardie waarskuwing gegee het. Gedurende hierdie tyd het die Christene in Israel getrou gebly ondanks baie beproewinge en vervolging (Hebreërs 10:32-34). Maar Paulus wou hulle voorberei op wat in die toekoms sou gebeur. Hulle was op die punt om een van die grootste toetse van hulle geloof te ondervind (Matteus 24:20, 21; Hebreërs 12:4). Hulle sou uitsonderlike volharding en geloof nodig hê om Jesus se opdrag te gehoorsaam, en hulle lewe sou daarvan afhang. (Lees Hebreërs 10:36-39.) Daarom het Jehovah Paulus geïnspireer om aan hierdie dierbare broers en susters te skryf. Daardie brief, wat nou die boek Hebreërs genoem word, is geskryf om hulle te versterk vir wat voorgelê het.

3. Waarom moet ons in die boek Hebreërs belangstel?

3 As God se hedendaagse knegte moet ons in die boek Hebreërs belangstel. Waarom? Omdat ons situasie soortgelyk is aan dié van die Christene in Judea. Ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en baie van Jehovah se knegte het hewige beproewinge of vervolging getrou verduur (2 Timoteus 3:1, 12). Die meeste van ons geniet egter vreedsame omstandighede en ondervind nie direkte vervolging nie. Maar soos die Christene in Paulus se tyd moet ons waaksaam wees. Waarom? Ons sal binnekort voor die grootste toets van ons geloof te staan kom!​—Lees Lukas 21:34-36.

4. Wat is die jaarteks vir 2016, en waarom is dit gepas?

4 Wat sal ons help om vir hierdie toekomstige gebeurtenis voor te berei? In die boek Hebreërs het Paulus baie dinge genoem wat ons sal help om ons geloof te versterk. Een baie belangrike herinnering is in Hebreërs 13:1. Dit spoor ons aan: “Laat julle broederliefde voortduur.” Hierdie vers is as die jaarteks vir 2016 gekies.

Ons jaarteks vir 2016: “Laat julle broederliefde voortduur.”​—Hebreërs 13:1.

WAT IS BROEDERLIEFDE?

5. Wat is broederliefde?

5 Wat is broederliefde? Die oorspronklike Griekse woord wat Paulus gebruik het, beteken letterlik “geneentheid vir ’n broer”. Broederliefde is ’n sterk, warm gevoel tussen familielede of hegte vriende (Johannes 11:36). Ons gee nie voor dat ons broers en susters is nie. Ons is broers en susters (Matteus 23:8). Paulus sê: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Hierdie woorde toon hoe sterk ons liefde vir ons broers is. Hierdie broederliefde, tesame met liefde wat op Christelike beginsels gegrond is, help God se volk om hegte vriende te wees en om verenig te wees.

6. Wat beteken broederliefde vir ware Christene?

6 Die woord “broederliefde” kom meestal in Christelike lektuur voor. Vir die eertydse Jode het die woord “broer” gewoonlik verwys na ’n familielid en soms na iemand wat nie familie is nie. Dit het egter nooit na ’n nie-Jood verwys nie. Maar vir ons as ware Christene verwys “broer” na enige ware Christen, ongeag van watter land hy of sy is (Romeine 10:12). Jehovah het ons geleer om mekaar as broers lief te hê (1 Tessalonisense 4:9). Maar waarom is dit belangrik om aan te hou om broederliefde te betoon?

WAAROM IS DIT BAIE BELANGRIK OM AAN TE HOU OM BROEDERLIEFDE TE BETOON?

7. (a) Wat is die belangrikste rede waarom ons broederliefde moet betoon? (b) Wat is nog ’n rede waarom dit belangrik is om ons liefde vir mekaar te versterk?

7 Die belangrikste rede om broederliefde te betoon, is dat Jehovah dit van ons vereis. Ons kan Jehovah nie werklik liefhê as ons weier om ons broers lief te hê nie (1 Johannes 4:7, 20, 21). Nog ’n rede is dat ons mekaar nodig het, veral gedurende moeilike tye. Toe Paulus sy brief aan die Hebreeuse Christene geskryf het, het hy geweet dat party van hulle kort voor lank hulle huise en persoonlike besittings sou moes agterlaat. Jesus het beskryf hoe moeilik daardie tyd sou wees (Markus 13:14-18; Lukas 21:21-23). Hierdie Christene sou dus hulle liefde vir mekaar moes versterk voordat daardie tyd aanbreek.​—Romeine 12:9.

Ons moet ons broederliefde nou versterk omdat dit ons sal help om enige beproewinge te verduur waarvoor ons moontlik in die toekoms te staan sal kom

8. Wat moet ons nou doen, voordat die groot verdrukking begin?

8 Die grootste verdrukking in die mensdom se geskiedenis is voor die deur (Markus 13:19; Openbaring 7:1-3). Ons sal moet ag slaan op die volgende raad: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers in en sluit jou deure agter jou toe. Verberg jou vir net ’n oomblik, totdat die veroordeling verbygaan” (Jesaja 26:20). Hierdie “binnekamers” verwys moontlik na ons gemeentes. Dit is waar ons Jehovah saam met ons broers en susters aanbid. Maar ons moet meer doen as om net gereeld bymekaar te kom. Paulus het die Hebreeuse Christene daaraan herinner dat hulle mekaar “tot liefde en goeie werke” moet aanspoor (Hebreërs 10:24, 25). Ons moet ons broederliefde nou versterk omdat dit ons sal help om enige beproewinge te verduur waarvoor ons moontlik in die toekoms te staan sal kom.

9. (a) Watter geleenthede het ons vandag om broederliefde te betoon? (b) Gee voorbeelde van hoe Jehovah se volk broederliefde betoon het.

9 Ons het baie geleenthede om nou al, voordat die groot verdrukking begin, broederliefde te betoon. Baie van ons broers ly weens aardbewings, oorstromings, orkane, tsoenami’s of ander natuurrampe. Party broers verduur vervolging (Matteus 24:6-9). En ander ondervind elke dag ekonomiese probleme as gevolg van hierdie korrupte wêreld waarin ons lewe (Openbaring 6:5, 6). Hoe meer probleme ons broers ervaar, hoe meer geleenthede het ons om te toon hoe lief ons vir hulle is. Al toon hierdie wêreld nie liefde nie, moet ons aanhou om broederliefde te betoon (Matteus 24:12). [1]​—Sien eindnota.

HOE KAN ONS ONS BROEDERLIEFDE LAAT VOORTDUUR?

10. Wat sal ons nou bespreek?

10 Hoe kan ons seker maak dat ons aanhou om broederliefde te betoon ondanks die probleme wat ons ondervind? Hoe kan ons toon dat ons hierdie soort liefde vir ons broers het? Die apostel Paulus het gesê: “Laat julle broederliefde voortduur”, en daarna het hy verskeie maniere genoem waarop Christene dit kan doen. Kom ons bespreek nou ses van hierdie maniere.

11, 12. Wat beteken dit om gasvryheid te betoon? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 “Moenie die gasvryheid vergeet nie.” (Lees Hebreërs 13:2.) Wat beteken die woord “gasvryheid”? Die woord wat Paulus gebruik het, beteken letterlik “goedhartigheid teenoor vreemdelinge”. Hierdie uitdrukking laat ons moontlik aan die voorbeeld van Abraham en Lot dink. Hierdie twee manne het goedhartigheid betoon aan besoekers wat hulle nie geken het nie. Abraham en Lot het later uitgevind dat hierdie vreemdelinge in werklikheid engele was (Genesis 18:2-5; 19:1-3). Die voorbeeld van hierdie twee manne het die Hebreeuse Christene aangespoor om broederliefde te betoon deur gasvry te wees.

12 Hoe kan ons gasvryheid aan ander betoon? Ons kan ons broers en susters na ons huis toe nooi vir ’n ete of ’n bietjie aanmoediging. Al ken ons ons kringopsiener en sy vrou dalk nie baie goed nie, kan ons hulle oornooi wanneer hulle ons gemeente besoek (3 Johannes 5-8). Ons hoef nie ’n groot ete voor te sit of baie geld uit te gee nie. Ons doelwit is om ons broers aan te moedig, nie om hulle te beïndruk nie. Ons wil ook nie net diegene nooi wat ons op die een of ander manier kan vergoed nie (Lukas 10:42; 14:12-14). En al is ons ook hoe besig, ons wil nooit vergeet om gasvryheid te betoon nie!

13, 14. Hoe kan ons “dink aan dié [wat] in gevangenisboeie” is?

13 “Dink aan dié in gevangenisboeie.” (Lees Hebreërs 13:3.) Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, het hy verwys na die broers wat in die gevangenis was weens hulle geloof. Paulus het die gemeente geprys omdat hulle “simpatie betuig [het] met dié in die gevangenis” (Hebreërs 10:34). Party broers het Paulus gehelp gedurende die vier jaar dat hy in die gevangenis was. Maar ander broers het ver van hom af gewoon. Hoe kon hulle Paulus help? Hulle kon aanhou om vurig vir hom te bid.​—Filippense 1:12-14; Hebreërs 13:18, 19.

Ons kan bid vir die broers, susters en selfs kinders wat in die gevangenis in Eritrea is

14 Baie Getuies is vandag in die gevangenis weens hulle geloof. Broers en susters wat naby hulle woon, kan hulle op praktiese maniere help. Maar baie van ons woon ver van diegene af wat in die gevangenis is. Hoe kan ons hulle help en toon dat ons hulle nie vergeet nie? Broederliefde sal ons beweeg om vurig vir hulle te bid. Ons kan byvoorbeeld bid vir die broers, susters en selfs kinders wat in die gevangenis in Eritrea is, insluitende vir ons broers Paulos Eyassu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam, wat al meer as 20 jaar in die gevangenis is.

15. Hoe kan ons toon dat ons die huweliksreëling eer?

15 “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees.” (Lees Hebreërs 13:4.) Ons kan ook broederliefde betoon deur sedelik rein te wees (1 Timoteus 5:1, 2). As ons ons byvoorbeeld skuldig maak aan seksuele onsedelikheid met ’n broer of ’n suster, sal ons daardie persoon en sy of haar gesin seermaak. Dit sal die vertroue onder ons broers skend (1 Tessalonisense 4:3-8). Dink ook aan hoe ’n vrou sal voel as sy ontdek dat haar man na pornografie kyk. Sal sy voel dat haar man vir haar lief is en respek het vir die huweliksreëling?​—Matteus 5:28.

16. Hoe help vergenoegdheid ons om broederliefde te betoon?

16 Wees “tevrede . . . met die teenwoordige dinge”. (Lees Hebreërs 13:5.) Vertroue in Jehovah sal ons help om vergenoeg te wees, dit wil sê om tevrede te wees met wat ons het. Hoe help dit ons om broederliefde te betoon? Wanneer ons vergenoeg is, sal ons onthou dat ons Christenbroers en -susters baie belangriker is as geld of besittings (1 Timoteus 6:6-8). Ons sal nie kla oor ons broers of oor ons situasie in die lewe nie. En ons sal nie gierig of jaloers op ander wees nie. Vergenoegdheid sal ons eerder help om vrygewig te wees.​—1 Timoteus 6:17-19.

17. Hoe help dit ons om broederliefde te betoon as ons “goeie moed hou”?

17 “[Hou] goeie moed.” (Lees Hebreërs 13:6.) Vertroue in Jehovah gee ons die moed om moeilike beproewinge te verduur. Hierdie moed help ons om positief te wees. En wanneer ons positief is, kan ons broederliefde betoon deur ons broers en susters aan te moedig en te vertroos (1 Tessalonisense 5:14, 15). Ons sal selfs gedurende die groot verdrukking moedig kan wees omdat ons weet dat ons verlossing naby is.​—Lukas 21:25-28.

Ons kan moedig wees omdat ons weet dat ons verlossing naby is

18. Hoe kan ons ons broederliefde vir ons ouer manne versterk?

18 “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem.” (Lees Hebreërs 13:7, 17.) Die ouer manne in ons gemeente werk hard vir ons sonder dat hulle daarvoor betaal word. Wanneer ons dink aan alles wat hulle doen, neem ons liefde en waardering vir hulle toe. Ons wil nooit hê dat hulle hulle vreugde moet verloor of gefrustreerd moet voel weens iets wat ons doen nie. Ons wil eerder gehoorsaam en onderdanig wees. Op hierdie manier betoon ons aan hulle “weens hulle werk meer as buitengewone agting . . . in liefde”.​—1 Tessalonisense 5:13.

Waardeer jy die werk wat die ouer manne vir ons doen? (Sien paragraaf 18)

HOU AAN OM DIT IN VOLLER MATE TE DOEN

19, 20. Hoe kan ons aanhou om broederliefde in voller mate te betoon?

19 Jehovah se volk is bekend vir hulle broederliefde. Dit was ook in Paulus se dag die geval. Paulus het die broers nietemin aangespoor om aan te hou om liefde “in voller mate” te betoon (1 Tessalonisense 4:9, 10). Dit is duidelik dat ons altyd kan verbeter!

20 Wanneer ons gedurende die jaar na ons jaarteks in die Koninkryksaal kyk, kan ons oor die volgende vrae nadink: ‘Kan ek gasvryer wees? Hoe kan ek ons broers in die gevangenis help? Eer ek God se huweliksreëling? Wat sal my help om waarlik vergenoeg te wees? Hoe kan ek my vertroue in Jehovah versterk? Hoe kan ek gehoorsamer wees aan diegene wat die leiding neem? As ons ons inspan om op hierdie ses gebiede te verbeter, sal die jaarteks nie net ’n teken op die muur wees nie; dit sal ons daaraan herinner om Paulus se woorde te gehoorsaam: “Laat julle broederliefde voortduur.”​—Hebreërs 13:1.

^ [1] (paragraaf 9) Vir voorbeelde van hoe Jehovah se Getuies broederliefde tydens rampe betoon, sien Die Wagtoring van 15 Julie 2002, bladsy 8-9, en Jehovah se Getuies​—Verkondigers van God se Koninkryk, hoofstuk 19.