Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ons sal saam met julle gaan”

“Ons sal saam met julle gaan”

“Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”​—SAGARIA 8:23.

LIEDERE: 65, 122

1, 2. (a) Wat het Jehovah gesê sal in ons tyd gebeur? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel beantwoord word? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH het die volgende aangaande ons tyd voorspel: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). Die “Joodse man” stel diegene voor wat deur God met heilige gees gesalf is. Hulle word ook “die Israel van God” genoem (Galasiërs 6:16). Die “tien man” stel diegene voor wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Hulle weet dat Jehovah hierdie groep gesalfdes seën en beskou dit as ’n eer om hom saam met hulle te aanbid.

2 Soos die profeet Sagaria het Jesus gesê dat God se volk verenig sal wees. Hy het diegene wat daarna uitsien om in die hemel te lewe, ’n “klein kuddetjie” genoem en diegene wat daarna uitsien om op die aarde te lewe, die “ander skape”. Maar Jesus het gesê dat hulle almal “een kudde” sal wees en dat hulle hom, hulle “een herder”, sal volg (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Aangesien daar twee groepe is, wonder party dalk: (1) Moet die ander skape weet wat die name is van almal wat vandag gesalfdes is? (2) Hoe moet gesalfdes hulleself beskou? (3) Hoe moet ek iemand in my gemeente behandel wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal begin gebruik? (4) Moet dit my bekommer as diegene wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik, in getal toeneem? Hierdie artikel sal dié vrae beantwoord.

MOET ONS WEET WAT DIE NAME IS VAN ALMAL WAT VANDAG GESALFDES IS?

3. Waarom kan niemand met sekerheid sê wie deel van die 144 000 sal wees nie?

3 Moet die ander skape weet wat die name is van al die gesalfdes wat vandag nog op die aarde is? Nee. Waarom nie? Omdat niemand met sekerheid kan sê dat hierdie persone hulle beloning sal ontvang nie. [1] (Sien eindnota.) Al het God hulle genooi om hemel toe te gaan, sal hulle hulle beloning slegs ontvang as hulle getrou bly. Satan weet dit, en hy gebruik “valse profete” om hulle te probeer “mislei” (Matteus 24:24). Gesalfde Christene kan eers seker wees dat hulle hulle beloning sal ontvang wanneer Jehovah hulle duidelik laat verstaan dat hy hulle as getrou geoordeel het. Hulle ontvang hierdie finale goedkeuring, of finale verseëling, van Jehovah voordat hulle sterf of kort voordat “die groot verdrukking” begin.​—Openbaring 2:10; 7:3, 14.

Jesus is ons Leier, en hy is die enigste een wat ons moet volg

4. Hoe kan ons “saam met” die gesalfdes gaan as dit nie moontlik is om te weet wat die name is van al die gesalfdes wat vandag op die aarde is nie?

4 Hoe kan die ander skape “saam met” die gesalfdes gaan as dit nie moontlik is om te weet wat die name is van al die gesalfdes wat vandag op die aarde is nie? Die Bybel sê dat die “tien man” “die slip van ’n Joodse man [sal] vasgryp . . . en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.’” Die Bybelvers praat van ’n Joodse man. Maar hierdie Joodse man verwys na meer as een persoon, want daarna sê die vers “julle”. Dit beteken dat die Joodse man die hele groep gesalfdes voorstel. Die ander skape weet dit, en hulle dien Jehovah saam met hierdie groep. Hulle hoef nie te weet wat die naam is van elke lid van hierdie groep nie en hoef nie elkeen van hulle te volg nie. Jesus is ons Leier, en die Bybel sê dat hy die enigste een is wat ons moet volg.​—Matteus 23:10.

HOE MOET GESALFDES HULLESELF BESKOU?

5. Oor watter waarskuwing moet gesalfdes ernstig nadink, en waarom?

5 Gesalfdes moet ernstig nadink oor die waarskuwing in 1 Korintiërs 11:27-29. (Lees.) Hoe kan ’n gesalfde “op onwaardige wyse” by die Gedenkmaal van die brood eet en van die wyn drink? As hy nie ’n goeie verhouding met Jehovah behou nie en ontrou aan hom is, sal dit ’n gebrek aan respek openbaar as hy die brood en die wyn gebruik (Hebreërs 6:4-6; 10:26-29). Hierdie sterk waarskuwing herinner gesalfdes daaraan dat hulle getrou moet bly as hulle “die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” wil ontvang.​—Filippense 3:13-16.

6. Hoe moet gesalfde Christene hulleself beskou?

6 Paulus het vir gesalfde Christene gesê: “Ek, die gevangene in die Here, versoek julle dan dringend om te wandel op ’n wyse wat die roeping waarmee julle geroep is, waardig is.” Hoe moet hulle dit doen? Paulus het verduidelik: “Met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Efesiërs 4:1-3). Jehovah se heilige gees help sy knegte om nederig te wees, en nie trots nie (Kolossense 3:12). Daarom dink gesalfdes nie dat hulle beter is as ander nie. Hulle weet dat Jehovah gesalfdes nie noodwendig meer heilige gees gee as wat hy sy ander knegte gee nie. En hulle meen nie dat hulle Bybelwaarhede beter verstaan as enigiemand anders nie. Hulle sal ook nooit vir iemand anders sê dat hy ook gesalf is en die brood en die wyn by die Gedenkmaal moet begin gebruik nie. Hulle is eerder nederig en weet dat dit slegs Jehovah is wat mense kan nooi om hemel toe te gaan.

7, 8. Wat verwag gesalfde Christene nie, en waarom nie?

7 Al beskou gesalfdes dit as ’n eer dat hulle genooi is om hemel toe te gaan, verwag hulle nie spesiale behandeling van ander nie. (Efesiërs 1:18, 19; lees Filippense 2:2, 3.) Hulle weet ook dat Jehovah dit nie aan ander bekend gemaak het toe hy hulle gesalf het nie. ’n Gesalfde persoon sal dus nie verbaas wees as party nie onmiddellik glo dat hy gesalf is nie. Hy besef dat die Bybel vir ons sê om nie gou te wees om iemand te glo wat sê dat God hom ’n spesiale verantwoordelikheid gegee het nie (Openbaring 2:2). Omdat ’n gesalfde nie te veel aandag van ander wil hê nie, sal hy nie vir mense vertel dat hy gesalf is wanneer hy hulle ontmoet nie. Om die waarheid te sê, hy sal dit waarskynlik vir niemand vertel nie. Hy sal ook nie spog oor die wonderlike dinge wat hy in die hemel sal doen nie.​—1 Korintiërs 1:28, 29; lees 1 Korintiërs 4:6-8.

8 Gesalfde Christene dink nie dat hulle slegs saam met ander gesalfdes tyd moet deurbring, asof hulle lede van ’n klub is nie. Hulle probeer nie ander gesalfdes opspoor om in groepe bymekaar te kom om die Bybel te studeer of om te praat oor hoe dit is om gesalf te wees nie (Galasiërs 1:15-17). Die gemeente sal nie verenig wees as gesalfdes dit doen nie. Dit sal die heilige gees teëwerk, wat God se knegte help om vrede en eenheid te hê.​—Lees Romeine 16:17, 18.

HOE MOET JY HULLE BEHANDEL?

9. Waarom moet jy let op hoe jy diegene behandel wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik? (Sien die venster “ Die liefde ‘gedra hom nie onwelvoeglik nie’”.)

9 Hoe moet jy gesalfde broers en susters behandel? Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle [is] almal broers.” Hy het verder gesê: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, en elkeen wat hom verneder, sal verhef word” (Matteus 23:8-12). Dit sal dus verkeerd wees om te veel bewondering vir iemand te hê, al is hy ’n gesalfde broer van Christus. Die Bybel spoor ons aan om die ouer manne se geloof na te volg, maar dit sê nie dat ons ’n mens ons leier mag maak nie (Hebreërs 13:7). Die Bybel sê wel dat party “dubbele eer waardig” is. Maar dit is omdat hulle “die leiding goed neem” en “hard werk in woord en onderrigting”, nie omdat hulle gesalf is nie (1 Timoteus 5:17). As ons gesalfdes te veel lof en aandag gee, sal ons hulle in die verleentheid stel. Of nog erger, ons kan veroorsaak dat hulle trots word (Romeine 12:3). Nie een van ons wil enigiets doen wat kan veroorsaak dat een van Christus se gesalfde broers struikel nie!​—Lukas 17:2.

Hoe moet jy iemand behandel wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik? (Sien paragraaf 9-11)

10. Hoe kan jy toon dat jy gesalfde Christene respekteer?

10 Hoe kan ons toon dat ons diegene respekteer wat deur Jehovah gesalf is? Ons sal nie vir hulle vra hoe hulle besef het dat hulle gesalf is nie. Dit is ’n persoonlike saak, en ons het nie die reg om dit te weet nie (1 Tessalonisense 4:11; 2 Tessalonisense 3:11). En ons moenie dink dat hulle huweliksmaat, hulle ouers of ander familielede ook gesalf is nie. ’n Persoon erf nie sy hoop van sy familie nie (1 Tessalonisense 2:12). Ons sal dit ook vermy om vrae te vra wat ander kan seermaak. Ons sal byvoorbeeld nie vir ’n gesalfde broer se vrou vra hoe sy daaroor voel om sonder haar man vir ewig op die aarde te lewe nie. Ons kan immers die volle vertroue hê dat Jehovah, in die nuwe wêreld, ‘die begeerte sal bevredig van alles wat lewe’.​—Psalm 145:16.

11. Hoe beskerm ons onsself as ons dit vermy om “persoonlikhede [te] bewonder”?

11 As ons dit vermy om gesalfdes te behandel asof hulle belangriker is as ander, beskerm ons ook onsself. Hoe? Die Bybel sê dat daar “valse broers” in die gemeente kan wees wat moontlik selfs sal sê dat hulle gesalf is (Galasiërs 2:4, 5; 1 Johannes 2:19). En party gesalfdes sal dalk nie getrou bly nie (Matteus 25:10-12; 2 Petrus 2:20, 21). Maar as ons dit vermy om “persoonlikhede [te] bewonder”, sal ons nooit ander mense volg nie, al is hulle gesalf of welbekend of dien hulle Jehovah al lank. Dan sal ons nie ons geloof in Jehovah verloor of ophou om hom te dien as hulle ontrou word of die gemeente verlaat nie.​—Judas 16.

MOET ONS BEKOMMERD WEES AS DIE GETAL TOENEEM?

12, 13. Waarom moet ons nie bekommerd wees as diegene wat die brood en die wyn gebruik, in getal toeneem nie?

12 Die getal van diegene wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik, het jare lank bly afneem. Maar in onlangse jare het hierdie getal elke jaar toegeneem. Moet ons hieroor bekommerd wees? Nee. Kom ons kyk waarom nie.

13 “Jehovah ken dié wat aan hom behoort” (2 Timoteus 2:19). Die broers wat diegene tel wat die brood en die wyn by die Gedenkmaal gebruik, weet nie wie werklik gesalf is nie. Die getal sluit dus diegene in wat dink dat hulle gesalf is, maar wat nie gesalf is nie. Byvoorbeeld, party wat voorheen die brood geëet en die wyn gedrink het, het later opgehou. Ander het dalk emosionele of geestesprobleme en glo dat hulle saam met Christus in die hemel sal regeer. Dit is duidelik dat ons nie weet presies hoeveel gesalfdes op die aarde oor is nie.

14. Wat sê die Bybel oor hoeveel gesalfdes op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin?

14 Daar sal gesalfdes in baie dele van die aarde wees wanneer Jesus kom om hulle hemel toe te neem. Die Bybel sê dat Jesus “sy engele [sal] uitstuur met ’n harde trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Matteus 24:31). Die Bybel toon ook dat daar gedurende die laaste dae net ’n klein groepie gesalfdes op die aarde sal wees (Openbaring 12:17). Maar dit sê nie hoeveel van hulle nog op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin nie.

15, 16. Wat moet ons in gedagte hou omtrent die 144 000 wat deur Jehovah gekies is?

15 Jehovah besluit wanneer hy gesalfdes kies (Romeine 8:28-30). Jehovah het gesalfdes begin kies nadat Jesus opgewek is. Alle ware Christene in die eerste eeu was blykbaar gesalfdes. Gedurende die honderde jare daarna het die meeste van diegene wat gesê het dat hulle Christene is, Christus nie werklik gevolg nie. Tog het Jehovah gedurende daardie jare die paar Christene gesalf wat wel ware Christene was. Hulle was soos die koring wat Jesus gesê het tussen die onkruid sal groei (Matteus 13:24-30). Gedurende die laaste dae het Jehovah voortgegaan om mense te kies wat deel van die 144 000 sal wees. [2] (Sien eindnota.) As God dus besluit om party van hulle net voor die einde te kies, sal ons sekerlik nie twyfel dat hy die regte ding doen nie. (Jesaja 45:9; Daniël 4:35; lees Romeine 9:11, 16.) [3] (Sien eindnota.) Ons moet versigtig wees om nie te reageer soos die werkers wat gekla het oor die manier waarop hulle heer diegene behandel het wat in die laaste uur begin werk het nie.​—Lees Matteus 20:8-15.

16 Nie almal wat die hoop het om in die hemel te lewe, is deel van “die getroue en verstandige slaaf” nie (Matteus 24:45-47). Net soos in die eerste eeu gebruik Jehovah en Jesus vandag ’n paar mense om baie te voed, of te onderrig. In die eerste eeu is slegs ’n paar gesalfde Christene gebruik om die Christelike Griekse Geskrifte te skryf. En vandag het slegs ’n paar gesalfde Christene die verantwoordelikheid om God se volk “voedsel op die regte tyd te gee”.

17. Wat het jy in hierdie artikel geleer?

17 Wat het ons in hierdie artikel geleer? Jehovah het besluit om die ewige lewe op die aarde aan die meeste van sy knegte te gee en lewe in die hemel aan diegene wat saam met Jesus sal regeer. Jehovah beloon al sy knegte, die “Joodse man” en die “tien man”, en hy vereis dat hulle dieselfde wette moet gehoorsaam en getrou moet bly. Almal moet nederig bly. Almal moet hom saam dien en verenig wees. En almal moet vrede in die gemeente bevorder. Terwyl die einde al hoe nader kom, moet ons almal aanhou om Jehovah te dien en Christus as een kudde te volg.

^ [1] (paragraaf 3) Volgens Psalm 87:5, 6 sal God moontlik in die toekoms die name bekend maak van almal wat saam met Jesus in die hemel regeer.​—Romeine 8:19.

^ [2] (paragraaf 15) Al toon Handelinge 2:33 dat Jesus betrokke is wanneer iemand gesalf word, is Jehovah die een wat daardie persoon nooi.

^ [3] (paragraaf 15) Vir meer inligting, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Mei 2007, bladsy 30-31.