Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Om saam met God te werk, verskaf ons vreugde

Om saam met God te werk, verskaf ons vreugde

“As sy medewerkers versoek ons julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie.”​—2 KORINTIËRS 6:1.

LIEDERE: 75, 74

1. Wat het Jehovah ander genooi om te doen, al is hy die Opperwese?

JEHOVAH is die Opperwese. Hy het alles geskep en hy het onbeperkte wysheid en krag. Nadat hy Job gehelp het om dit te verstaan, het Job vir hom gesê: “Ek het te wete gekom dat u alles kan doen, en daar is geen idee wat vir u onbereikbaar is nie” (Job 42:2). Jehovah kan sonder enigiemand se hulp doen wat hy ook al besluit om te doen. Maar hy betoon liefde deur ander te nooi om sy medewerkers te wees, of om saam met hom te werk, om sy voorneme te verwesenlik.

2. Watter belangrike werk het Jehovah Jesus genooi om te doen?

2 God het sy Seun, Jesus, geskep voordat hy enigiemand of enigiets anders geskep het. Toe het Jehovah sy Seun toegelaat om hom te help om alle ander dinge te skep (Johannes 1:1-3, 18). Die apostel Paulus het die volgende oor Jesus geskryf: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge, ongeag of hulle trone of heerskappye of regerings of owerhede is. Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskep” (Kolossense 1:15-17). Jehovah het dus sy Seun geëer deur hom ’n belangrike werk te gee en ander daarvan te vertel.

3. Wat het Jehovah Adam genooi om te doen, en waarom?

3 Jehovah het ook mense genooi om saam met hom te werk. Hy het Adam byvoorbeeld toegelaat om die diere name te gee (Genesis 2:19, 20). Dink net hoeveel vreugde Adam uit hierdie werk geput het! Hy het die diere fyn dopgehou, hulle gedrag waargeneem en toe ’n naam vir elkeen gekies. Jehovah het al die diere geskep en hy kon hulle dus self name gegee het. Maar hy het sy liefde aan Adam betoon deur hom toe te laat om die diere name te gee. God het Adam ook die opdrag gegee om die hele aarde in ’n paradys te omskep (Genesis 1:27, 28). Maar Adam het uiteindelik besluit om nie meer saam met God te werk nie, en dit het baie lyding vir hom en al sy nakomelinge veroorsaak.​—Genesis 3:17-19, 23.

4. Hoe het ander saam met God gewerk om sy wil te volbring?

4 Later het God ander mense genooi om saam met hom te werk. Noag het ’n ark gebou wat hom en sy familie gedurende die Vloed beskerm het. Moses het die nasie Israel uit Egipte bevry. Josua het die Israeliete in die Beloofde Land ingelei. Salomo het die tempel in Jerusalem gebou. Maria het Jesus se moeder geword. Hierdie getroues en baie ander het saam met Jehovah gewerk om sy wil te volbring.

5. Aan watter werk kan ons deelneem, en was dit nodig dat Jehovah ons by hierdie werk betrek? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Vandag nooi Jehovah ons om ons bes te doen om sy Koninkryk te ondersteun. Daar is baie maniere waarop ons God kan dien. En al kan ons hom nie almal op dieselfde manier dien nie, ons almal kan die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Jehovah kon hierdie werk self gedoen het. Hy kon direk uit die hemel met mense op die aarde gepraat het. Jesus het gesê dat Jehovah selfs die klippe kan gebruik om ander van die Koning van Sy Koninkryk te vertel (Lukas 19:37-40). Maar Jehovah laat ons toe om sy “medewerkers” te wees (1 Korintiërs 3:9). Die apostel Paulus het geskryf: “As sy medewerkers versoek ons julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie” (2 Korintiërs 6:1). Dit is ’n groot eer om genooi te word om saam met God te werk. Kom ons kyk na ’n paar redes waarom dit ons soveel vreugde verskaf.

OM SAAM MET GOD TE WERK, MAAK ONS GELUKKIG

6. Hoe het God se eersgebore Seun daaroor gevoel om saam met sy Vader te werk?

6 Om saam met God te werk, het Jehovah se knegte nog altyd gelukkig gemaak. Voordat God se eersgebore Seun aarde toe gekom het, het hy gesê: “Jehovah het my voortgebring as die begin van sy weg, . . . ek [het] ’n meesterwerker naas hom geword, en ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was” (Spreuke 8:22, 30). Toe Jesus saam met sy Vader gewerk het, was hy gelukkig omdat hy baie bereik het en geweet het dat Jehovah hom liefhet. Maar wat van ons?

Wat kan ons meer bevrediging verskaf as om iemand die waarheid te leer? (Sien paragraaf 7)

7. Waarom maak die predikingswerk ons gelukkig?

7 Jesus het gesê dat ons gelukkig is wanneer ons gee en wanneer ons ontvang (Handelinge 20:35). Ons was bly toe ons die waarheid ontvang het, maar waarom maak dit ons ook gelukkig om ander van die waarheid te vertel? Want ons sien hoe hulle waarlik gelukkig word wanneer hulle verstaan wat die Bybel leer en ’n verhouding met God begin opbou. Ons is opgewonde wanneer ons sien hoe hulle hulle denke en lewens verander. Die predikingswerk is die belangrikste en bevredigendste werk wat ons kan doen. Dit bied mense wat God se vriende word, die geleentheid om die ewige lewe te ontvang.​—2 Korintiërs 5:20.

8. Hoe voel party daaroor om saam met Jehovah te werk?

8 Wanneer ons ander help om van God te leer, verskaf dit ons geluk. En die wete dat ons Jehovah behaag en dat hy ons pogings waardeer om hom te dien, maak ons ook gelukkig. (Lees 1 Korintiërs 15:58.) Marco, wat in Italië woon, sê: “Dit verskaf my groot vreugde om te weet dat ek my beste vir Jehovah gee en nie vir iemand wat gou sal vergeet wat ek gedoen het nie.” En Franco, wat ook in Italië dien, sê: “Deur middel van sy Woord en sy geestelike voorsienings herinner Jehovah ons elke dag daaraan dat hy vir ons lief is en dat alles wat ons vir hom doen, belangrik is, selfs al voel dit vir ons of ons pogings niks werd is nie. Daarom maak dit my gelukkig om saam met God te werk, en dit maak my lewe sinvol.”

WANNEER ONS SAAM MET GOD WERK, KOM ONS NADER AAN HOM EN AAN ANDER

9. Hoe heg is die verhouding tussen Jehovah en Jesus, en waarom?

9 Wanneer ons saam met diegene werk vir wie ons lief is, kom ons nader aan hulle. Ons leer meer oor hulle persoonlikheid en eienskappe. Ons vind uit wat hulle doelwitte is en hoe hulle dit probeer bereik. Jesus het saam met Jehovah gewerk, moontlik miljarde jare lank. Hulle liefde vir mekaar het so sterk geword dat niks hulle verhouding kon vernietig nie. Jesus het verduidelik hoe heg hulle verhouding is toe hy gesê het: “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30). Hulle was waarlik verenig en hulle het altyd in eenheid saamgewerk.

Die predikingswerk versterk ons geloof omdat dit ons herinner aan God se beloftes en sy liefdevolle standaarde

10. Waarom laat die predikingswerk ons nader aan God en aan ander kom?

10 Jesus het Jehovah gevra om sy dissipels te beskerm. Waarom? Hy het gebid: “Sodat hulle een kan wees net soos ons” (Johannes 17:11). As ons volgens God se standaarde lewe en aan die predikingswerk deelneem, verstaan ons sy wonderlike eienskappe beter. Ons leer waarom dit wys is om op hom te vertrou en sy leiding te volg. En wanneer ons nader aan God kom, kom hy nader aan ons. (Lees Jakobus 4:8.) Ons kom ook nader aan ons broers en susters omdat ons soortgelyke probleme en vreugdes ondervind en omdat ons dieselfde doelwitte het. Ons werk saam, is saam bly en volhard saam. Octavia, wat in Brittanje bly, sê: “Om saam met Jehovah te werk, laat my nader aan ander kom.” Sy meen dit is omdat haar vriendskappe nou op ’n “gemeenskaplike doelwit” gegrond is. Ons voel sekerlik dieselfde. Wanneer ons sien hoe ons broers Jehovah probeer behaag, laat dit ons nader aan hulle kom.

11. Waarom sal ons in die nuwe wêreld selfs nader aan Jehovah en aan ons broers kom?

11 Ons liefde vir God en ons broers is nou sterk, maar in die nuwe wêreld sal dit selfs sterker wees. Dink aan al die opwindende werk wat ons in die toekoms sal doen! Ons sal diegene terugverwelkom wat uit die dood opgewek word en hulle van Jehovah leer. Ons sal ook hard werk om die aarde in ’n paradys te omskep. Dit sal ’n groot vreugde wees om onder Christus se heerskappy saam te werk en tot volmaaktheid te groei. Alle mense sal selfs nader aan mekaar kom sowel as aan Jehovah, wat beslis ‘die begeerte van alles wat lewe, sal bevredig’.​—Psalm 145:16.

OM SAAM MET GOD TE WERK, BESKERM ONS

12. Hoe is die predikingswerk ’n beskerming?

12 Ons moet ons verhouding met Jehovah beskerm. Ons lewe in Satan se wêreld en ons is onvolmaak, en daarom is dit vir ons maklik om soos die wêreld te begin dink en op te tree. Dit is net soos om stroomop in ’n rivier te swem. Die stroom wil ons in ’n rigting trek waarin ons nie wil gaan nie, en daarom moet ons al ons krag gebruik om teen die stroom te swem. Net so moet ons ons inspan om nie deur Satan se wêreld beïnvloed te word nie. Hoe is die predikingswerk dus vir ons ’n beskerming? Wanneer ons oor Jehovah en die Bybel praat, vestig dit ons aandag op belangrike en goeie dinge, nie op dinge wat ons geloof sal laat verswak nie (Filippense 4:8). Die predikingswerk versterk ons geloof omdat dit ons herinner aan God se beloftes en sy liefdevolle standaarde. Dit help ons ook om die eienskappe te behou wat ons nodig het om ons teen Satan en sy wêreld te beskerm.​—Lees Efesiërs 6:14-17.

Wanneer ons besig bly in Jehovah se diens, beskerm dit ons omdat ons nie tyd het om ons te veel oor ons eie probleme te bekommer nie

13. Hoe voel ’n Getuie in Australië oor die predikingswerk?

13 Wanneer ons in die predikingswerk en met ander geestelike bedrywighede besig bly, beskerm dit ons omdat ons nie tyd het om ons te veel oor ons eie probleme te bekommer nie. Joel, wat in Australië woon, sê: “Die predikingswerk help my om nie voeling met die werklikheid te verloor nie. Dit herinner my aan die uitdagings waarvoor mense te staan kom en aan die voordele wat ek ondervind omdat ek Bybelbeginsels in my lewe toepas. Die predikingswerk help my om nederig te probeer bly; dit gee my die geleentheid om op Jehovah en op my broers en susters te vertrou.”

14. Waarom toon die feit dat ons in die predikingswerk volhard dat God se gees met ons is?

14 As ons aan die predikingswerk deelneem, versterk dit ook ons vertroue dat God se gees met ons is. Dink hieraan: Stel jou voor dat dit jou werk is om die mense in jou gemeenskap brood te gee. Jy word nie daarvoor betaal nie en jy moet self jou uitgawes dek. En die meeste mense wil nie die brood hê nie en party haat jou selfs omdat jy dit vir hulle bring. Hoe lank sal jy aanhou om hierdie werk te doen? Jy sal baie gou mismoedig voel en jy sal waarskynlik ophou. Maar baie van ons hou jaar ná jaar aan om die predikingswerk te doen, al kos dit tyd en geld en al spot mense ons of word hulle kwaad vir ons. Dit bewys dat God se gees ons help.

WANNEER ONS SAAM MET GOD WERK, TOON ONS DAT ONS HOM EN ANDER LIEFHET

15. Hoe hou die predikingswerk verband met God se voorneme met die mensdom?

15 Hoe hou die predikingswerk verband met Jehovah se voorneme met die mensdom? God se voorneme was dat mense vir ewig moes lewe, en sy voorneme het nie verander toe Adam gesondig het nie (Jesaja 55:11). God het voorsiening gemaak om ons van sonde en die dood te bevry. Hoe? Jesus het na die aarde toe gekom en sy lewe opgeoffer. Maar om by sy offerande baat te vind, moes mense God gehoorsaam. Daarom het Jesus mense geleer wat God van hulle vereis, en hy het sy dissipels beveel om dieselfde te doen. Wanneer ons vandag die predikingswerk doen en ander help om God se vriende te word, werk ons direk saam met God en sy liefdevolle reëling om mense van sonde en die dood te red.

16. Hoe hou ons predikingswerk verband met God se grootste gebooie?

16 Wanneer ons ander help om die weg na die ewige lewe te vind, toon ons dat ons vir hulle en vir Jehovah lief is. Sy “wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Toe ’n Fariseër Jesus gevra het wat God se grootste gebod is, het Jesus gesê: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Matteus 22:37-39). As ons die predikingswerk doen, is ons gehoorsaam aan hierdie gebooie.​—Lees Handelinge 10:42.

17. Hoe voel jy oor die eer om die goeie nuus te verkondig?

17 Hoe geseënd is ons tog! Jehovah het ons ’n werk gegee wat ons vreugde verskaf, wat ons nader aan hom en aan ons broers laat kom en wat ons verhouding met hom beskerm. Dit gee ons ook die geleentheid om ons liefde vir God en ander te toon. Jehovah het miljoene knegte regoor die wêreld en hulle almal het verskillende omstandighede. Maar hetsy ons jonk of oud, ryk of arm, sterk of swak is, ons doen alles in ons vermoë om ander van ons geloof te vertel. Ons voel soos Chantel van Frankryk, wat sê: “Die magtigste Persoon in die heelal, die Skepper van alle dinge, die gelukkige God, sê vir my: ‘Gaan! Praat! Praat namens my, praat uit jou hart. Ek gee jou krag, my Woord die Bybel, hemelse ondersteuning, aardse metgeselle, progressiewe opleiding en noukeurige instruksies op die regte tyd.’ Wat ’n ontsaglike voorreg is dit tog om te doen wat Jehovah van ons vra en om saam met ons God te werk!”