Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hy gee die vermoeide krag”

“Hy gee die vermoeide krag”

Ons jaarteks vir 2018: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry.” — JES. 40:31.

LIED: 3, 47

1. Watter probleme het ons, en hoe maak Jehovah se getroue knegte sy hart bly? (Sien prent aan begin van artikel.)

SOOS jy weet, is die lewe in hierdie wêreld nie sonder probleme nie. Baie van ons broers en susters is ernstig siek. Party sorg vir hulle bejaarde familielede, al is hulle self ook oud. Party sukkel om net kos op die tafel te sit. En ons weet dat van julle nie net met een nie, maar met ’n paar van hierdie probleme op dieselfde tyd sukkel! Dit alles vat baie tyd, energie en geld. Maar jy vertrou nogtans op Jehovah se beloftes. Jy weet dat dinge beter sal word, want dit is wat hy belowe het. Jou sterk geloof maak Jehovah baie bly!

2. Hoe moedig Jesaja 40:29 ons aan, maar watter ernstige fout kan ons maak?

2 Voel jy partykeer dat die druk van die lewe te veel is? As jy so voel, is jy nie alleen nie. In die Bybel is daar voorbeelde van getroue knegte wat ook so gevoel het (1 Kon. 19:4; Job 7:7). Maar hulle het nie moed verloor nie. Hulle het op Jehovah vertrou om hulle krag te gee. Jehovah het hulle gehelp, want ons God “gee die vermoeide krag” (Jes. 40:29). Ongelukkig voel party van God se knegte vandag dat die beste manier om die druk te hanteer, is om ’n ‘breek van die waarheid te vat’, asof die dinge wat ons as Christene doen ’n las is en nie ’n seën nie. Hulle hou op om God se Woord te lees, vergaderinge toe te gaan en velddiens te doen, net soos Satan dit wil hê.

3. (a) Hoe kan ons seker maak dat Satan ons nie geestelik verswak nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Die Duiwel wil nie hê ons moet sterk wees nie. Hy weet dat ons sterker word as ons besig bly in Jehovah se diens. Wanneer jy fisies en geestelik moeg is, moet jy jouself nie van Jehovah afsny nie. Kom nader aan hom, want “hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak” (1 Pet. 5:10; Jak. 4:8). In hierdie artikel gaan ons na twee situasies kyk wat kan veroorsaak dat ons nie meer so baie in God se diens doen nie. Ons gaan ook kyk hoe Bybelbeginsels ons kan help om te volhard. Maar kom ons kyk eers na Jesaja 40:26-31 om te sien hoe Jehovah ons kan versterk.

DIÉ WAT OP JEHOVAH HOOP, SAL NUWE KRAG KRY

4. Watter lesse leer ons uit Jesaja 40:26?

4 Lees Jesaja 40:26. Niemand kan al die sterre in die heelal tel nie. Wetenskaplikes glo dat daar meer as 400 miljard sterre net in ons sterrestelsel is. Nogtans het Jehovah elke ster ’n naam gegee. Wat leer dit ons oor Jehovah? As Jehovah belangstel in lewelose dinge, dink net hoe Jehovah oor jou diens aan hom voel. Jy dien hom nie omdat jy dit moet doen nie, maar omdat jy vir hom lief is! (Ps. 19:1, 3, 14). Ons liefdevolle Vader ken jou baie goed. Hy het ‘selfs al die hare op jou kop getel’ (Matt. 10:30). En die psalmis verseker ons: “Jehovah ken die dae van die onberispelikes” (Ps. 37:18). Ja, hy weet waardeur ons elke dag gaan, en hy kan ons die krag gee om al ons beproewinge te verduur.

5. Hoe weet ons dat Jehovah ons kan versterk?

5 Lees Jesaja 40:28. Jehovah is die Bron van alle krag. Dink byvoorbeeld aan hoeveel energie hy aan ons son gee. Die wetenskapskrywer David Bodanis het gesê dat die massa wat ons son elke sekonde in energie verander, gelyk is aan miljarde atoombomme. ’n Ander navorser sê dat die son elke sekonde genoeg energie uitstraal om in die mens se behoeftes te voorsien vir die volgende 200 000 jaar! Ons kan seker wees dat die Een wat die son sy energie gee, ons ook die krag kan gee om enige probleem te hanteer.

6. Hoe is Jesus se juk sag, en hoe raak dit ons?

6 Lees Jesaja 40:29. Dit maak ons baie bly om Jehovah te dien. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Neem my juk op julle.” Hy het ook gesê: “Julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matt. 11:28-30). Hierdie woorde is baie waar! Partykeer is ons doodmoeg wanneer ons vergaderinge toe gaan of velddiens doen. Maar hoe voel ons wanneer ons weer huis toe gaan? Ons voel goed, en ons is weer reg om ons probleme te hanteer. Jesus se juk is beslis sag!

7. Vertel ’n ondervinding wat wys dat Matteus 11:28-30 waar is.

7 Kom ons kyk na die voorbeeld van een van ons susters. Sy ly aan chroniese moegheid, depressie en migraines. Daarom is dit soms vir haar moeilik om na die vergaderinge toe te gaan. Maar nadat sy die moeite gedoen het om ’n vergadering by te woon, het sy gesê: “Die toespraak het gegaan oor ontmoediging. Die broer het die toespraak met soveel empatie en besorgdheid gehou, dat ek in trane was. Ek het besef hoe belangrik dit is om by die vergaderinge te wees.” Sy was baie bly dat sy die moeite gedoen het om na die vergadering toe te gaan!

8, 9. Wat het die apostel Paulus bedoel toe hy gesê het: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk”?

8 Lees Jesaja 40:30. Dit maak nie saak hoeveel ervaring ons dalk het nie, ons kan net soveel in ons eie krag doen. Dit is ’n les wat ons almal moet leer. Al kon die apostel Paulus baie dinge doen, kon hy nogtans nie alles doen wat hy wou nie. Toe hy vir God vertel het hoe hy voel, het God vir hom gesê: “My krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.” Paulus het die punt gesnap. Hy het gesê: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:7-10). Wat het hy bedoel?

9 Paulus het besef dat hy nie alles op sy eie kon doen nie. Hy het God se heilige gees nodig gehad om hom te help. Dit sou hom krag gee wanneer hy swak voel. En dit sou hom help om dinge te doen wat hy nie in sy eie krag kon doen nie. Dit kan met ons ook gebeur. Wanneer Jehovah vir ons heilige gees gee, sal ons sterk wees!

10. Hoe het Jehovah Dawid met sy probleme gehelp?

10 Die psalmis Dawid het dikwels gevoel hoe God se heilige gees hom krag gee. Hy het gesing: “Deur u kan ek ’n rowerbende stormloop; en deur my God kan ek ’n muur klim” (Ps. 18:29). Net soos party mure te hoog is om te klim, net so kan ons probleme ook te groot wees om self te hanteer. Ons het Jehovah se hulp nodig.

11. Hoe help die heilige gees ons om ons probleme te hanteer?

11 Lees Jesaja 40:31. Arende bly nie in die lug deur net hulle eie krag te gebruik nie. Die krag van warm lug wat styg help die arend om in die lug te bly. Dit help die arend om verder te kan vlieg en energie te spaar. Wanneer jy ’n probleem het wat te groot is om te hanteer, dink dan aan die arend. Vra Jehovah om jou meer krag te gee deur middel van “die helper, die heilige gees” (Joh. 14:26). Ons kan enige tyd van die dag of nag Jehovah vir sy heilige gees vra. Ons het Jehovah se hulp nodig veral wanneer daar ’n probleem tussen ons en iemand in die gemeente is. Maar hoekom kan sulke probleme ontstaan?

12, 13. (a) Hoekom is daar soms probleme tussen broers en susters? (b) Wat leer die verhaal van Josef ons oor Jehovah?

12 Probleme tussen mense gebeur omdat ons almal onvolmaak is. Daar gaan tye wees wanneer ons broers en susters dinge sê of doen wat ons gaan irriteer, en daar gaan tye wees wanneer ons hulle ook gaan irriteer. Dit kan ’n groot toets wees, maar dit gee ons die geleentheid om te wys dat ons lojaal is aan Jehovah. Hoe kan ons dit doen? Deur in vrede saam met ons broers en susters te werk. Jehovah is lief vir hulle, al is hulle onvolmaak. En ons moet ook lief wees vir hulle.

Jehovah het Josef nie verlaat nie, en hy sal jou ook nie verlaat nie (Sien paragraaf 13)

13 Jehovah keer nie dat sy knegte getoets word nie. Ons leer dit uit die verhaal van Josef. Toe Josef ’n jong man was, het sy halfbroers jaloers op hom geraak. Hulle het hom verkoop en hy is as ’n slaaf na Egipte toe geneem (Gen. 37:28). Jehovah het gesien wat gebeur het en was definitief ontsteld oor hoe sleg hulle Josef, sy getroue kneg en vriend, behandel het. Maar hy het nogtans nie gekeer wat gebeur het nie. Later toe hulle Josef beskuldig het dat hy Potifar se vrou probeer verkrag het en hy in die tronk gegooi is, het Jehovah nog steeds niks gedoen om dit keer nie. Maar het God Josef ooit verlaat? Nee. Die Bybel sê: “Jehovah was met Josef, en wat hy gedoen het, het Jehovah laat slaag.” — Gen. 39:21-23.

14. Hoe help dit ons wanneer ons die kwaad “laat staan”?

14 Hier is nog ’n voorbeeld. Min mense is al so sleg behandel soos Dawid. Maar hierdie vriend van God het nie toegelaat dat woede die oorhand oor hom kry nie. Hy het gesê: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede; moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen” (Ps. 37:8). Die belangrikste rede hoekom ons die kwaad moet “laat staan”, is omdat ons Jehovah navolg wat ‘nie met ons volgens ons sondes gehandel het nie’ (Ps. 103:10). Maar daar is ook praktiese voordele om die kwaad te “laat staan”. Om kwaad te bly, kan gesondheidsprobleme veroorsaak, soos hoë bloeddruk en asemhalingsprobleme. Dit kan die lewer en pankreas affekteer en spysverteringsprobleme veroorsaak. Wanneer ons kwaad is, dink ons nie altyd reguit nie. Ons sê of doen dalk dinge wat ander kan seermaak, en dit kan veroorsaak dat ons vir ’n lang tyd depressief voel. Maar die Bybel sê: “’n Kalm hart is die lewe van die vlees” (Spr. 14:30). Wat kan ons doen as ons gevoelens seergemaak is, en hoe kan ons met ons broer of suster vrede maak? Ons kan dit doen deur die Bybel se wyse raad toe te pas.

WANNEER ONS BROERS ONS SEERMAAK

15, 16. Wat moet ons doen as iemand ons seergemaak het?

15 Lees Efesiërs 4:26. Dit verbaas ons nie wanneer die wêreld ons sleg behandel nie. Maar wanneer iemand in die gemeente of in ons familie iets sê of doen wat ons baie seermaak, kan dit ’n groot skok wees. Sê nou ons kan nie daarvan vergeet nie. Sal jy toelaat dat jy jare lank kwaad bly? Of sal jy die Bybel se wyse raad toepas wat sê dat ons mekaar gou moet vergewe? Hoe langer ons vat om die probleem op te los, hoe moeiliker word dit om vrede met ons broer of suster te maak.

16 Maar wat as ’n broer of suster jou ontstel het en jy nie daarvan kan vergeet nie. Wat kan jy doen om vrede te maak? Eerstens, bid tot Jehovah en vra hom om jou te help om met jou broer of suster te praat. Onthou, hulle is ook Jehovah se vriende (Ps. 25:14). God is lief vir hulle. Jehovah behandel sy vriende met goedheid, en hy verwag dat ons dit ook moet doen (Spr. 15:23; Matt. 7:12; Kol. 4:6). Tweedens, dink aan wat jy vir jou broer of suster gaan sê. Moenie net aanneem dat jou broer of suster jou aspris wou seermaak nie. Dalk was dit net ’n misverstand. Wees ook bereid om te erken dat jy dalk tot die probleem bygedra het. Jy kan dalk begin deur te sê: “Miskien is ek ’n bietjie oorsensitief, maar toe jy gister met my gepraat het, het ek gevoel dat . . . ” As jy voel dat die situasie nie heeltemal opgelos is nie, moet jy weer op ’n ander tyd probeer om vrede met jou broer of suster te maak. Bid vir jou broer of suster en vra Jehovah om hulle te seën, en om jou te help om op hulle goeie eienskappe te fokus. Maak nie saak wat gebeur nie, jy kan seker wees dat Jehovah jou opregte pogings sal seën om vrede te maak met jou broer of suster, wat ook een van God se vriende is.

WANNEER ONS SKULDIG VOEL OOR ONS VERLEDE

17. Wat doen Jehovah om ons te help om weer sy vriend te word wanneer ons ernstig gesondig het, en hoekom moet ons sy hulp aanvaar?

17 Party voel dat hulle nie goed genoeg is om Jehovah te dien nie omdat hulle ernstig gesondig het. As ons skuldig voel, kan ons ons geluk, vrede en energie verloor. Koning Dawid, wat gesukkel het met skuldgevoelens, het gesê: “Toe ek stilgebly het, het my gebeente weggeteer deur my gekreun die hele dag. Want u hand was dag en nag swaar op my.” Gelukkig het Dawid die moed gehad om te doen wat Jehovah van hom verwag het. Dawid het gesê: “My sonde het ek uiteindelik aan u bely . . . en u het die ongeregtigheid van my sondes vergewe” (Ps. 32:3-5). As jy ernstig gesondig het, is Jehovah daar om jou te help om weer sy vriend te word. Maar jy moet sy hulp aanvaar wat hy deur die gemeente gee (Spr. 24:16; Jak. 5:13-15). Moenie wag nie. Jou ewige lewe hang daarvan af! Maar wat moet jy doen as jy steeds skuldig voel oor foute van die verlede wat alreeds vergewe is?

18. Hoe kan Paulus se voorbeeld dié help wat voel dat hulle nie goed genoeg is om Jehovah te dien nie?

18 Daar was tye toe die apostel Paulus skuldig gevoel het oor foute wat hy in die verlede gemaak het. Hy het erken: “Want ek is die geringste van die apostels, en ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.” Maar hy het verder gesê: “Deur God se onverdiende goedhartigheid is ek wat ek is.” (1 Kor. 15:9, 10). Jehovah het Paulus aanvaar vir wie hy is, en Hy wou hê dat Paulus dit moes weet. As jy regtig berou het oor jou sondes van die verlede en met Jehovah en die ouer manne daaroor gepraat het, kan jy seker wees dat Jehovah genadig sal wees. Glo dat Jehovah jou vergewe het, en aanvaar dit! — Jes. 55:6, 7.

19. Wat is die jaarteks vir 2018, en hoekom is dit so gepas?

19 Soos hierdie wêreld tot ’n einde kom, kan ons al hoe meer probleme verwag. Maar ons moet onthou dat Jehovah, die Een wat “die vermoeide krag [gee]; en aan die een sonder dinamiese energie . . . volle sterkte in oorvloed [skenk]”, jou kan gee wat jy ook al nodig het om hom aan te hou dien (Jes. 40:29; Ps. 55:22; 68:19). In 2018 sal ons aan hierdie belangrike waarheid herinner word elke keer wanneer ons ’n vergadering by die Koninkryksaal bywoon en die jaarteks sien, wat sê: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry.” Jes. 40:31.