Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe die Gedenkmaal tot ons eenheid bydra

Hoe die Gedenkmaal tot ons eenheid bydra

“Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” — PS. 133:1.

LIED: 18, 14

1, 2. Watter geleentheid in 2018 sal ons op ’n spesiale manier verenig, en hoekom? (Sien prent aan begin van artikel.)

OP 31 Maart 2018, wanneer die son begin sak, sal miljoene mense regoor die wêreld bymekaarkom vir die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal. Jehovah se Getuies en baie belangstellendes sal die Herdenking van Christus se dood bywoon. Elke jaar verenig hierdie herdenking mense op ’n spesiale manier, meer as enige ander geleentheid op aarde!

2 Ons kan net dink hoe bly Jehovah en Jesus moet wees wanneer hulle sien hoe miljoene mense op die aarde uur na uur hierdie spesiale geleentheid bywoon totdat die dag verby is. Die Bybel sê dat “’n groot menigte, wat geen mens [sal kan] tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal uitroep: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam” (Op. 7:9, 10). Dit is wonderlik dat so baie mense elke jaar by die Gedenkmaal Jehovah en Jesus eer vir alles wat hulle vir ons gedoen het!

3. Watter vrae gaan ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons antwoorde op die volgende vier vrae kry: (1) Hoe kan ek vir die Gedenkmaal voorberei sodat ek daarby kan baat vind? (2) Hoe help die Gedenkmaal God se knegte om verenig te wees? (3) Wat kan ek doen om die eenheid te bevorder? (4) Sal daar ooit ’n laaste Gedenkmaal wees? Indien wel, wanneer?

HOE KAN ONS VIR DIE GEDENKMAAL VOORBEREI EN DAARBY BAAT VIND AS ONS DIT BYWOON?

4. Hoekom is dit belangrik dat ons by die Gedenkmaal moet wees?

4 Dink aan hoekom dit belangrik is om die Gedenkmaal by te woon. Ons vergaderinge is deel van ons aanbidding. En ons kan daarvan seker wees dat Jehovah en Jesus elke persoon raaksien wat hulle bes doen om die belangrikste geleentheid van die jaar by te woon. Ons wil hê dat Jehovah en Jesus moet sien dat ons by die Gedenkmaal sal wees, tensy dit heeltemal onmoontlik is. As ons wys dat ons vergaderinge vir ons baie belangrik is, gee ons Jehovah nog ’n rede om ons naam in sy “gedenkboek” te hou. Hierdie boek word ook “die boek van die lewe” genoem. Dit bevat al die name van mense aan wie Jehovah ewige lewe wil gee. — Mal. 3:16; Op. 20:15.

5. Hoe kan ons, in die dae voor die Gedenkmaal, ‘toets of ons in die geloof is’?

5 In die dae voor die Gedenkmaal, kan ons meer tyd gebruik om te bid en na te dink oor hoe sterk ons vriendskap met Jehovah is. (Lees 2 Korintiërs 13:5.) Die apostel Paulus het vir Christene gesê: “Toets voortdurend of julle in die geloof is.” Hoe kan ons dit doen? Ons moet ons afvra: ‘Glo ek regtig dat ek deel is van die enigste organisasie wat Jehovah gebruik om sy wil te doen? Doen ek alles wat ek kan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig? Kan ander sien dat ek regtig glo dat ons nou in die laaste dae lewe en dat Satan binnekort nie meer in beheer gaan wees nie? Is my vertroue in Jehovah en Jesus nog net so sterk soos toe ek my lewe aan Jehovah God toegewy het?’ (Matt. 24:14; 2 Tim. 3:1; Heb. 3:14). As ons nadink oor die antwoorde op hierdie vrae, sal dit ons help om onsself altyd op die proef te stel.

6. (a) Wat is die enigste manier om die ewige lewe te kry? (b) Hoe berei ’n ouer man elke jaar vir die Gedenkmaal voor, en hoe kan jy dit doen?

6 Een manier hoe ons vir die Gedenkmaal kan voorberei, is deur artikels te lees wat verduidelik hoekom die Gedenkmaal so belangrik is, en daaroor na te dink. (Lees Johannes 3:16; 17:3.) Die enigste manier hoe ons die ewige lewe kan kry, is om Jehovah te leer ken en geloof in Jesus, Sy enigverwekte Seun, te hê. Om vir die Gedenkmaal voor te berei, kan ons ’n paar studieprojekte kies wat ons sal help om nader aan Jehovah en Jesus te kom. Kom ons kyk wat ’n ouer man al vir jare doen. Oor die jare het hy Wagtoring-artikels bymekaargemaak wat die Gedenkmaal en die liefde wat Jehovah en Jesus vir ons het, bespreek. Gedurende die weke voor die Gedenkmaal, lees hy weer deur die artikels en dink hy na oor hoe belangrik die herdenking is. Elke nou en dan sit hy ’n paar nuwe artikels by. Hy lees ook die Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal en dink diep daaroor na. Hy sê dat hy elke jaar nuwe dinge leer. Maar wat vir hom die belangrikste is, is dat hy voel hoe sy liefde vir Jehovah en Jesus elke jaar net sterker word. As jy op hierdie manier studeer, sal jou liefde vir Jehovah en Jesus ook sterker word. Jy sal ook dankbaar wees vir wat hulle gedoen het, en jy sal meer by die Gedenkmaal baat vind.

DIE GEDENKMAAL HELP ONS OM VERENIG TE WEES

7. (a) Waarvoor het Jesus gebid toe die Here se Aandmaal die eerste keer gehou is? (b) Watter bewys het ons dat Jehovah Jesus se gebed beantwoord het?

7 Toe die Here se Aandmaal die eerste keer gehou is, het Jesus ’n spesiale gebed gedoen. Hy het gebid oor die wonderlike eenheid wat hy en sy Vader geniet. Jesus het ook gebid dat sy dissipels op dieselfde manier verenig moet wees (Lees Johannes 17:20, 21.) Jehovah het sy Seun se gebed beantwoord, en nou glo miljoene mense dat Jehovah sy Seun gestuur het. Die Gedenkmaal is die beste bewys dat Jehovah se Getuies verenig is. Op daardie dag kom miljoene mense van verskillende nasies en velkleur regoor die wêreld bymekaar. In sommige gebiede is dit nie algemeen vir mense van verskillende rasse om bymekaar te kom om saam te aanbid nie, en as hulle dit doen, kyk ander soms op hulle neer. Maar sulke eenheid is vir Jehovah en Jesus baie mooi!

8. Watter boodskap oor eenheid het Jehovah vir Esegiël gegee?

8 As Jehovah se knegte, is ons nie verbaas dat ons hierdie eenheid geniet nie. Jehovah het gesê dit is hoe dit sal wees. Kom ons kyk na die boodskap wat hy vir die profeet Esegiël gegee het. Jehovah het gesê dat hy twee stokke moet vat, een stok “vir Juda” en een stok “vir Josef”, en hy moet hulle bymekaarsit en hulle sal een word. (Lees Esegiël 37:15-17.) Die “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van Julie 2016 verduidelik: “Jehovah het Esegiël ’n boodskap van hoop gegee. Hy het belowe dat die nasie Israel na die Beloofde Land sou terugkeer en weer as een nasie verenig sou word. Hierdie boodskap het ook voorspel dat diegene wat God gedurende die laaste dae aanbid, as een volk verenig sou word.”

9. Hoe kan ons elke jaar by die Gedenkmaal die eenheid sien, soos voorspel is in Esegiël se profesie?

9 Van 1919 af, het Jehovah die gesalfdes geleidelik begin herorganiseer en hulle weer verenig. Hulle was soos die simboliese stok “vir Juda”. Al hoe meer mense met die hoop om vir ewig op die aarde te lewe, het by die gesalfdes aangesluit. Hulle was soos die simboliese stok “vir Josef”. Hierdie twee groepe het “een kudde” geword (Joh. 10:16; Sag. 8:23). Jehovah het belowe om hierdie twee stokke bymekaar te sit, en hulle in sy hand een te maak (Eseg. 37:19). Hierdie twee groepe dien Jehovah nou saam in eenheid. En hulle het een Koning, Jesus Christus, wat in Esegiël se profesie God se “kneg Dawid” genoem word (Eseg. 37:24, 25). Elke jaar by die Gedenkmaal, wanneer die gesalfdes en “ander skape” bymekaarkom om Jesus se dood te herdenk, sien ons die eenheid van hierdie twee groepe soos Esegiël dit voorspel het. Maar wat kan elkeen van ons doen om hierdie eenheid te bewaar en te bevorder?

HOE KAN ELKEEN VAN ONS DIE EENHEID BEVORDER?

10. Hoe kan ons eenheid onder God se knegte bevorder?

10 Een manier hoe ons eenheid onder God se knegte kan bevorder, is deur nederig te wees. Toe Jesus op die aarde was, het hy vir sy dissipels gesê om nederig te wees (Matt. 23:12). Mense in die wêreld dink baie keer dat hulle beter as ander is. Maar as ons nederig is, sal ons die broers respekteer wat die leiding in die gemeente neem. Hierdie gehoorsame gees is belangrik om eenheid in die gemeente te bevorder. Maar die belangrikste is dat ons nederigheid God gelukkig maak, want hy “staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges”. — 1 Pet. 5:5.

11. Hoe kan dit ons help om eenheid te bevorder wanneer ons nadink oor die betekenis van die embleme by die Gedenkmaal?

11 ’n Tweede manier hoe ons eenheid kan bevorder, is om na te dink oor wat die embleme beteken wat by die Gedenkmaal gebruik word. Voor die Gedenkmaal — en veral op die dag van die Gedenkmaal — sal dit goed wees om ernstig na te dink oor wat die ongesuurde brood en rooiwyn beteken (1 Kor. 11:23-25). Die brood stel die volmaakte liggaam van Jesus voor wat hy geoffer het, en die wyn stel sy bloed voor. Maar ons moet meer doen as om net hierdie basiese feite te verstaan. Ons moet onthou dat die losprysoffer van Christus die twee grootste bewyse van liefde ingesluit het. Dit is die liefde wat Jehovah gewys het toe hy sy Seun vir ons gegee het, en die liefde wat Jesus gewys het toe hy gewillig was om sy lewe vir ons op te offer. As ons nadink oor hulle liefde moet dit ons motiveer om hulle ook lief te hê. En die liefde wat elkeen van ons vir Jehovah het, bind ons almal saam in ’n sterk band van eenheid.

As ons ander vergewe, bevorder ons eenheid (Sien paragraaf 12, 13)

12. In die illustrasie van die koning en sy slawe, hoe het Jesus dit duidelik gemaak dat Jehovah wil hê dat ons ander moet vergewe?

12 ’n Derde manier hoe ons eenheid kan bevorder, is om mekaar vryelik te vergewe. Wanneer ons ander vryelik vergewe, wys ons dat ons dankbaar is dat Christus se losprysoffer dit moontlik maak dat ons sondes vergewe kan word. Dink na oor Jesus se illustrasie in Matteus 18:23-34. Vra jou af: ‘Motiveer die illustrasie my om te doen wat Jesus ons geleer het? Is ek geduldig en redelik met my broers en susters? Is ek bereid om ander te vergewe wat my seergemaak het?’ Party sondes is natuurlik ernstiger as ander, en daarom kan dit vir onvolmaakte mense moeilik wees om sulke sondes te vergewe. Maar hierdie illustrasie wys vir ons wat Jehovah wil hê ons moet doen. (Lees Matteus 18:35.) Jesus maak dit vir ons duidelik dat Jehovah ons nie sal vergewe as ons nie ons broers en susters vergewe wanneer daar ’n goeie rede is om dit te doen nie. Dit is iets waaroor ons goed moet nadink. Ons beskerm ons eenheid wanneer ons mekaar vergewe soos Jesus ons geleer het.

13. Hoe bevorder ons vrede wanneer ons ander vergewe?

13 Wanneer ons ander vergewe, wys dit dat ons vredemakers is. Die apostel Paulus het gesê dat ons “ywerig daarna [moet] streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:3). Gedurende die Gedenkmaalseisoen, en veral op die aand van die Gedenkmaal, moet ons ernstig nadink oor hoe ons ander behandel. Vra jou af: ‘Ken ander my as iemand wat nie lank kwaad bly nie? Sien ander dat ek uit my pad uit gaan om vrede te maak en eenheid te bevorder?’ Dit is ernstige vrae waaroor ons hierdie tyd van die jaar wil nadink.

14. Hoe kan ons wys dat ons “mekaar in liefde verdra”?

14 ’n Vierde manier hoe ons eenheid bevorder, is om lief te hê soos Jehovah, die God van liefde (1 Joh. 4:8). Ons wil nooit die volgende van ons broers en susters sê nie: “Ek moet dalk lief wees vir hulle, maar ek hoef nie van hulle te hou nie”! As ons so voel, volg ons nie Paulus se raad wat sê dat ons “mekaar in liefde [moet] verdra” nie (Ef. 4:2). Paulus het nie net gesê dat ons “mekaar [moet] verdra” nie. Hy het gesê dat ons dit “in liefde” moet doen. Daar is ’n verskil. In ons gemeentes is daar baie verskillende soorte mense, en Jehovah het hulle almal getrek (Joh. 6:44). Jehovah het hulle getrek omdat hy vir hulle lief is. Hoe kan ons dan sê dat ons broers en susters nie ons liefde verdien nie? Ons wil hulle liefhê, net soos Jehovah hulle liefhet! — 1 Joh. 4:20, 21.

WANNEER SAL DIE LAASTE GEDENKMAAL WEES?

15. Hoe weet ons dat daar ’n laaste Gedenkmaal sal wees?

15 Eendag sal die Gedenkmaal vir die laaste keer gehou word. Hoe weet ons dit? In die eerste brief wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy vir die gesalfdes gesê dat elke jaar wanneer hulle Jesus se dood herdenk, “hou [hulle] aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom” (1 Kor. 11:26). Jesus het ook in sy profesie oor die tyd van die einde gesê dat hy sal “kom”. Toe hy gepraat het van die groot verdrukking wat binnekort sal kom, het hy gesê: “Die teken van die Seun van die mens [sal] in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom. En [Jesus] sal sy engele uitstuur met ’n harde trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Matt. 24:29-31). Hierdie ‘uitverkorenes wat bymekaargemaak’ word, verwys na die tyd wanneer al die gesalfde Christene wat nog op die aarde is, hulle hemelse beloning sal ontvang. Dit sal gebeur nadat die groot verdrukking begin het, maar voordat die oorlog van Armageddon begin. Dan sal Jesus saam met die 144 000 teen die konings van die aarde veg, en wen (Op. 17:12-14). Die Gedenkmaal wat ons sal bywoon net voordat al die gesalfdes hemel toe gaan, sal die laaste een wees, want dan het Jesus ‘gekom’.

16. Hoekom wil jy seker maak dat jy hierdie jaar die Gedenkmaal bywoon?

16 Kom ons maak seker dat ons die Gedenkmaal op 31 Maart 2018 bywoon sodat ons daarby kan baat vind. En vra Jehovah om jou te help sodat jy ook tot die eenheid van sy knegte kan bydra! (Lees Psalm 133:1.) Onthou, een van die dae sal die Gedenkmaal wat ons bywoon die laaste een wees. Laat ons dan wys dat die wonderlike eenheid wat ons elke jaar by die Gedenkmaal geniet, baie kosbaar vir ons is.