Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom moet ons gee aan die Een wat alles het?

Hoekom moet ons gee aan die Een wat alles het?

O ons God, ons dank u en loof u luisterryke naam.’ — 1 KRON. 29:13.

LIED: 80, 50

1, 2. Hoe is Jehovah vrygewig teenoor ons?

JEHOVAH is ’n vrygewige God. Alles wat ons het, kom van hom af. Jehovah besit al die goud, silwer en ander natuurlike hulpbronne van die aarde. Hy gebruik dit om vir ons te gee wat ons nodig het om te lewe (Ps. 104:13-15; Hag. 2:8). Ons lees in die Bybel hoe Jehovah hierdie waardevolle dinge wonderdadig gebruik het om vir sy volk te sorg.

2 Jehovah het 40 jaar lank vir die Israeliete manna en water gegee toe hulle in die wildernis was (Eks. 16:35). Daarom het hulle “niks kortgekom nie” (Neh. 9:20, 21). Jehovah het deur die profeet Elisa ’n wonderwerk gedoen deur die bietjie olie wat ’n getroue weduwee gehad het, te vermeerder. Hierdie geskenk van God het haar gehelp om haar skuld af te betaal en om nog genoeg geld oor te hê om vir haar en haar seuns te sorg (2 Kon. 4:1-7). Met Jehovah se hulp het Jesus wonderwerke gedoen, en kos en selfs geld voorsien wanneer dit nodig was. — Matt. 15:35-38; 17:27.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Alles behoort aan Jehovah en hy kan enigiets gebruik om vir sy skepping te sorg. Maar hy vra nog steeds sy knegte om hulle materiële dinge te gebruik om sy organisasie se werk te ondersteun. (Eks. 36:3-7; lees Spreuke 3:9.) Hoekom wil Jehovah hê dat ons ons waardevolle dinge moet gebruik om aan hom te gee? Hoe het Jehovah se getroue knegte in die verlede die werk wat sy volk gedoen het, finansieel ondersteun? Hoe gebruik die organisasie die geld wat vandag bygedra word? Die antwoorde sal in hierdie artikel bespreek word.

HOEKOM GEE ONS VIR JEHOVAH?

4. Wat wys ons vir Jehovah as ons sy werk ondersteun?

4 Ons gee vir Jehovah omdat ons lief is vir hom en hom waardeer. Ons is verstom wanneer ons dink aan alles wat Jehovah vir ons gedoen het. Toe koning Dawid verduidelik het wat nodig was om die tempel te bou, het hy erken dat alles wat ons het, van Jehovah af kom. En alles wat ons vir Jehovah gee, het ons eintlik van hom ontvang. — Lees 1 Kronieke 29:11-14.

5. Hoe wys die Bybel dat dit ’n baie belangrike deel van ons aanbidding is om onselfsugtig te gee?

5 Om te gee is ook deel van ons aanbidding. Die apostel Johannes het in ’n visioen gehoor hoe Jehovah se knegte in die hemel sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Op. 4:11). Jehovah verdien beslis al die heerlikheid en eer, en daarom wil ons net ons beste vir hom gee. Jehovah het die nasie Israel deur Moses beveel om elke jaar drie feeste te hou. Deel van hulle aanbidding by hierdie feeste was om iets vir Jehovah te gee. Hulle kon nie “met leë hande voor Jehovah verskyn nie” (Deut. 16:16). Om onselfsugtig te gee, is vandag ook ’n baie belangrike deel van ons aanbidding. Dit wys dat ons die werk wat die aardse deel van Jehovah se organisasie doen, waardeer en ondersteun.

6. Hoekom is dit goed vir ons om te gee? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Dit is goed vir ons om te gee en nie net te ontvang nie. (Lees Spreuke 29:21.) Dink byvoorbeeld aan ’n kind wat ’n geskenk vir sy ouers gee. Hy het dit gekoop met die sakgeldjies wat hulle vir hom gegee het. So ’n geskenk maak die ouers baie bly. ’n Seun of dogter wat pionier en nog by die huis bly, gee hulle ouers dalk ’n paar rand om te help om kos te koop of die huur te betaal. Die ouers verwag dit dalk nie, maar hulle aanvaar dit. Hoekom? Want dit is ’n manier vir hulle kind om te wys dat hy alles waardeer wat sy ouers vir hom doen. Jehovah weet ook dat dit goed is vir ons om van ons waardevolle dinge te gee.

HOE GOD SE KNEGTE IN DIE VERLEDE GEGEE HET

7, 8. Hoe het Jehovah se knegte in Bybeltye ’n voorbeeld gestel toe hulle bydraes gemaak het (a) vir spesifieke projekte? (b) om sy werk te ondersteun?

7 In die Bybel leer ons hoe Jehovah se knegte bydraes gemaak het om sy werk te ondersteun. Soms het hulle bydraes vir spesifieke projekte gegee. Byvoorbeeld, Moses het bydraes gevra om die tabernakel te bou. En koning Dawid het later bydraes gevra vir die bou van die tempel (Eks. 35:5; 1 Kron. 29:5-9). Toe Joas koning was, het die priesters die huis van Jehovah herstel met die geld wat hulle bymekaargemaak het (2 Kon. 12:4, 5). In die vroeë Christengemeente het die broers gehoor dat daar ’n hongersnood in Judea was en dat die broers daar hulp nodig gehad het. Hulle het “besluit om, elkeen volgens wat hy kon bekostig, iets vir noodleniging aan die broers te stuur wat in Judea woon”. — Hand. 11:27-30.

8 Jehovah se knegte het ook dié wat die leiding geneem het, finansieel ondersteun. Volgens die Wet van Moses, het die Leviete nie soos die ander stamme ’n erfdeel ontvang nie. Die Israeliete het eerder ’n tiende aan die Leviete gegee. Dít het die Leviete gehelp om op hulle werk by die tabernakel te fokus (Num. 18:21). Later het vrygewige vroue Jesus en sy apostels op ’n soortgelyke manier “met hulle besittings bedien”. — Luk. 8:1-3.

9. Waar het bydraes in die verlede vandaan gekom?

9 Waar hierdie bydraes vandaan gekom het, het natuurlik verskil. Die bydraes wat die Israeliete gemaak het om die tabernakel in die wildernis te bou, het heel moontlik dinge ingesluit wat hulle uit Egipte gebring het (Eks. 3:21, 22; 35:22-24). Party Christene in die eerste eeu het hulle besittings, soos hulle grond en huise, verkoop en die geld vir die apostels gegee. Die apostels het die geld gebruik om die broers en susters te help wat dit nodig gehad het (Hand. 4:34, 35). Ander het geld weggesit om gereeld bydraes te maak om die werk te ondersteun (1 Kor. 16:2). Op hierdie manier kon rykes en armes ’n bydrae maak. — Luk. 21:1-4.

HOE ONS VANDAG GEE

10, 11. (a) Hoe kan ons ook vrygewig wees soos Jehovah se knegte in Bybeltye? (b) Hoe voel jy oor jou voorreg om die Koninkrykswerk te ondersteun?

10 Ons kan dalk ook gevra word om bydraes te gee vir ’n spesifieke doel. Byvoorbeeld, is daar planne om ’n nuwe Koninkryksaal te bou wat julle gemeente gaan gebruik? Of word julle huidige Koninkryksaal dalk reggemaak? Dalk kan ons help om die koste te dek vir herstelwerk aan die takkantoor in ons land. Of ons kan ’n bydrae maak wanneer ons die volgende streekbyeenkoms bywoon of ons broers help wanneer daar ’n natuurramp is. Ons bydraes word ook gebruik om sendelinge, spesiale pioniers en kringopsieners te ondersteun sowel as dié wat by die wêreldhoofkwartier en takkantore regoor die wêreld werk. Julle gemeente stuur dalk ook gereelde bydraes om te help om Byeenkoms- en Koninkryksale vir broers in ander dele van die wêreld te bou.

11 Ons almal kan ons deel doen om die werk te ondersteun wat Jehovah se organisasie in hierdie laaste dae doen. Die meeste bydraes word gedoen sonder dat ander sien wie dit gee of hoeveel gegee word. Ons sit geld in die bydraebussies by die Koninkryksaal of ons maak bydraes aanlyn op jw.org. Ons voel dalk dat ons klein bydrae nie ’n groot verskil maak nie. Maar die meeste bydraes wat die organisasie kry, is klein en nie groot bedrae nie. Ons broers, selfs dié wat nie baie geld het nie, volg die voorbeeld van die vroeë Christene in Masedonië. Hulle was in “diep armoede”, maar hulle het gesmeek vir die voorreg om te gee, en hulle was baie vrygewig. — 2 Kor. 8:1-4.

12. Hoe probeer die organisasie om bydraes op die beste manier moontlik te gebruik?

12 Die Bestuursliggaam probeer om getrou en verstandig te wees in die manier waarop hulle die bydraes aan die organisasie gebruik (Matt. 24:45). Hulle bid vir Jehovah se leiding wanneer hulle beplan hoe om die bydraes te gebruik (Luk. 14:28). In Bybeltye het getroue manne omgesien na die bydraes wat gegee is en hulle het seker gemaak dat dit slegs vir ware aanbidding gebruik word. Esra het byvoorbeeld na Jerusalem teruggegaan met bydraes van die Persiese koning — goud, silwer en ander waardevolle items wat vandag meer as R1,3 miljard werd is. Vir Esra was hierdie vrywillige bydraes soos ’n geskenk aan Jehovah. Daarom het hy spesifieke instruksies gegee om hierdie skatte te beskerm gedurende die moeilike reis deur ’n gevaarlike gebied (Esra 8:24-34). Jare later het die apostel Paulus geld bymekaargemaak om die broers in Judea te help. Hy het seker gemaak dat dié wat die geld na Judea moes neem, eerlik was “nie net voor die aangesig van Jehovah nie, maar ook voor die aangesig van mense”. (Lees 2 Korintiërs 8:18-21.) Ons organisasie volg die voorbeeld van Esra en Paulus, en hulle is baie versigtig hoe hulle die bydraes gebruik.

13. Hoekom het die organisasie onlangs veranderinge gemaak?

13 ’n Gesin maak dalk aanpassings in die manier waarop hulle hulle geld hanteer sodat hulle nie meer spandeer as wat hulle verdien nie. Of hulle probeer dalk om hulle lewe te vereenvoudig sodat hulle meer in Jehovah se diens kan doen. Dit werk ook so in Jehovah se organisasie. Daar was onlangs ’n hele paar opwindende nuwe projekte. Soms is daar meer geld bestee as wat ontvang is. Daarom soek die organisasie altyd na maniere om geld te bespaar en die werk te vereenvoudig. Op hierdie manier word ons vrygewige bydraes op die beste manier moontlik gebruik.

HOE ONS BYDRAES GEBRUIK WORD

Jou bydraes help ons wêreldwye werk (Sien paragraaf 14-16)

14-16. (a) Waarvoor word ons bydraes gebruik? (b) Hoe het jy al hierby baat gevind?

14 Baie wat al jare lank in die waarheid is, sê dat ons nou meer geestelike seëninge as ooit tevore geniet. Ons het nou jw.org en JW Broadcasting. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is ook in baie meer tale beskikbaar. In 2014 en 2015 is die internasionale byeenkoms van drie dae met die titel “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!” in van die grootste stadions in 14 stede regoor die wêreld gehou. Almal wat dit bygewoon het, was baie bly om daar te wees.

15 Baie het al gesê hoe dankbaar hulle is vir alles wat Jehovah se organisasie vir ons gee. ’n Egpaar wat in ’n land in Asië dien, het byvoorbeeld die volgende oor JW Broadcasting gesê: “Ons dien in ’n klein stad. Daarom voel ons soms afgesonderd en ons vergeet maklik hoe groot die organisasie is. Maar wanneer ons na die programme op JW Broadcasting kyk, onthou ons dat ons deel is van ’n internasionale broederskap. Ons broers en susters in hierdie gebied geniet JW Broadcasting baie. Hulle sê gereeld, nadat hulle die maandelikse program gekyk het, dat hulle nader aan die broers van die Bestuursliggaam voel. Hulle is nou trotser as ooit tevore om deel van God se organisasie te wees.”

16 Regoor die wêreld word daar nou amper 2 500 Koninkryksale gebou of reggemaak. Nadat die broers en susters van ’n gemeente in Honduras hulle nuwe Koninkryksaal begin gebruik het, het hulle geskryf: “Ons is baie bly om deel te kan wees van Jehovah se universele familie en die wêreldwye broederskap. Dit het ons gehelp om ons eie Koninkryksaal te kry, iets waarvan ons nog altyd gedroom het.” Baie is dankbaar omdat hulle die Bybel en ander publikasies in hulle eie taal ontvang het, omdat hulle ná ’n ramp gehelp is of wanneer hulle die goeie resultate sien van die openbare en spesiale getuieniswerk in hulle gebied.

17. Hoe weet ons dat Jehovah die organisasie ondersteun?

17 Mense kan nie verstaan hoe ons hierdie werk met net vrywillige bydraes kan doen nie. ’n Bestuurder van ’n groot maatskappy het een van ons drukkerye besoek en was verbaas dat al die werk deur vrywilligers en met vrywillige bydraes gedoen word, sonder om geld in te samel. Volgens hom is dit wat ons doen, onmoontlik. Ons stem saam! Ons weet dat dit slegs moontlik is omdat Jehovah die werk ondersteun. — Job 42:2.

JEHOVAH SEËN ONS AS ONS VIR HOM GEE

18. (a) Watter seëninge geniet ons as ons bydraes gee om die Koninkryk te ondersteun? (b) Hoe kan ons ons kinders en nuwelinge help om die Koninkryk te ondersteun?

18 Jehovah gee ons die geleentheid om die wonderlike werk wat gedoen word te ondersteun, en dit is vir ons ’n groot eer. Hy verseker ons dat hy ons sal seën as ons die werk met ons bydraes ondersteun (Mal. 3:10). Jehovah belowe dat dit goed sal gaan met mense wat vrygewig is. (Lees Spreuke 11:24, 25.) Om te gee maak ons baie gelukkig, want “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Wat ons doen en sê kan ons kinders en nuwelinge aanmoedig om hierdie werk met hulle bydraes te ondersteun. Dan sal Jehovah hulle ook baie seën.

19. Hoe het hierdie artikel jou aangemoedig?

19 Alles wat ons het, kom van Jehovah af. As ons vir hom gee, wys dit dat ons hom liefhet en waardeer (1 Kron. 29:17). Toe hulle bydraes vir die bou van die tempel gegee het, was “die volk . . . bly omdat hulle vrywillige gawes gegee het, want hulle het met ’n volkome hart vrywillige gawes aan Jehovah gegee” (1 Kron. 29:9). As ons vir Jehovah gee wat hy aan ons gegee het, sal ons ook gelukkig en tevrede wees.