Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?

Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” — PS. 144:15.

LIED: 111, 109

1. Hoekom is die tyd waarin ons lewe uniek?

ONS lewe in ’n tyd van die mensegeskiedenis wat baie uniek is. Jehovah is besig om ’n “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” bymekaar te maak, net soos die Bybel voorspel het. Hulle is ’n “magtige nasie” van meer as agt miljoen gelukkige mense “en hulle verrig dag en nag heilige diens aan [God]” (Op. 7:9, 15; Jes. 60:22). Daar was nog nooit so baie mense wat vir God en vir hulle medemens lief is nie.

2. Watter soort liefde het mense wat nie vriende van God is nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Maar die Bybel het ook voorspel dat mense, wat nie vriende van God is nie, ’n ander soort liefde sal hê. Hierdie soort liefde is selfsugtig. Die apostel Paulus het geskryf: “In die laaste dae . . . [sal] mense . . . liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Tim. 3:1-4). Selfsugtige liefde is die teenoorgestelde van Christelike liefde. Hierdie soort liefde maak mense nie gelukkig nie, al dink hulle dalk so. Dit veroorsaak eerder ’n selfsugtige wêreld wat die lewe vir almal “moeilik” maak.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom?

3 Paulus het geweet dat selfsugtige liefde algemeen sal word en baie gevaarlik vir Christene sal wees. Daarom het hy ons gewaarsku om ons ‘af te keer’ van dié wat die verkeerde soort liefde het (2 Tim. 3:5). Ons kan natuurlik nie sulke mense heeltemal vermy nie. Maar wat kan ons doen om ons te beskerm teen die gesindheid van die mense om ons, en om Jehovah, die God van liefde, gelukkig te maak? Kom ons kyk na die verskil tussen goddelike liefde en die liefde wat in 2 Timoteus 3:2-4 beskryf word. Dit sal ons help om te sien hoe ons die soort liefde kan hê wat ons werklik gelukkig en tevrede sal maak.

IS ONS LIEF VIR GOD OF VIR ONSSELF?

4. Hoekom is dit nie verkeerd om die regte hoeveelheid liefde vir onsself te hê nie?

4 “Mense sal liefhebbers van hulleself wees”, het Paulus geskryf. Is dit verkeerd om onsself lief te hê? Nee, dit is normaal en selfs belangrik om onsself lief te hê. Dit is hoe Jehovah ons gemaak het. Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mark. 12:31). As ons nie vir onsself lief is nie, kan ons nie vir ons naaste lief wees nie. Ons lees ook in die Bybel: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit” (Ef. 5:28, 29). Volgens hierdie teks moet ons die regte hoeveelheid liefde vir onsself hê.

5. Hoe sal jy mense beskryf wat hulleself te veel liefhet?

5 Die liefde vir onsself wat in 2 Timoteus 3:2 beskryf word, is nie ’n normale of gesonde soort liefde nie. Dit is ’n selfsugtige soort liefde. Mense wat hulleself te veel liefhet, dink meer van hulleself as wat nodig is. (Lees Romeine 12:3.) Hulle gee meer om vir hulleself as vir enigiemand anders. Wanneer dinge skeefloop, is hulle geneig om ander te blameer en nie hulleself nie. ’n Bybelkommentator vergelyk mense wat lief is vir hulleself met die krimpvarkie wat homself in ’n balletjie oprol. Hy hou sy sagte, warm wol vir homself en wys sy skerp penne vir ander. Sulke selfsugtige mense is nie werklik gelukkig nie.

6. Watter goeie dinge gebeur wanneer ons lief is vir God?

6 Bybelgeleerdes glo dat die apostel Paulus liefde vir onsself eerste genoem het omdat dit die slegte eienskappe veroorsaak wat hy daarna genoem het. Maar mense wat lief is vir God het goeie eienskappe. Die Bybel verbind liefde vir God met vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22, 23). “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”, het die psalmis gesê (Ps. 144:15). Jehovah is ’n gelukkige God, en dié wat hom dien is ook gelukkig. Jehovah se knegte is nie soos mense wat hulleself te veel liefhet en wat net belangstel in wat hulle kan kry nie. Hulle is gelukkig omdat hulle aan ander gee. — Hand. 20:35.

Hoe kan ons keer dat ons onsself te veel liefhet? (Sien paragraaf 7)

7. Watter vrae sal ons help om te sien hoe sterk ons liefde vir God is?

7 Wat kan ons doen om te kyk of ons liefde vir onsself sterker word as ons liefde vir God? Dink aan die raad in Filippense 2:3, 4: “[Moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” Ons kan ons afvra: ‘Pas ek hierdie raad in my lewe toe? Probeer ek om te doen wat God wil hê ek moet doen? Soek ek na maniere om mense in die veld en in die gemeente te help?’ Dit is nie altyd maklik om ons tyd en energie aan ander te gee nie. Dit is harde werk en ons sal dinge moet opoffer wat ons dalk geniet. Maar niks kan ons so gelukkig maak as om te weet dat ons die Soewerein van die heelal se hart bly maak nie.

8. Wat was party gemotiveer om te doen omdat hulle God liefhet?

8 Omdat hulle lief is vir God, is party al gemotiveer om ’n werk met ’n groot salaris op te gee sodat hulle meer in Jehovah se diens kan doen. Erika, wat in die Verenigde State bly, is ’n dokter. Maar in plaas daarvan om ’n naam vir haarself as ’n dokter te maak, het sy besluit om ’n gewone pionier te word en het in ander lande saam met haar man gedien. Sy sê: “Die ondervindinge wat ons gehad het om in ’n anderstalige veld te help en die vriende wat ons gemaak het, het ons lewe meer betekenis gegee.” Erika is nog steeds ’n dokter, maar nou gebruik sy die meeste van haar tyd en energie om mense van Jehovah te leer en om haar broers en susters te help. Sy sê dit maak haar baie gelukkig.

RYKDOM IN DIE HEMEL OF OP DIE AARDE?

9. Hoekom maak ’n liefde vir geld jou nie gelukkig nie?

9 Paulus het geskryf dat mense “liefhebbers van geld” sal wees. ’n Paar jaar terug het ’n pionier met ’n man in Ierland oor God gepraat. Die man het geld uit sy beursie uitgehaal, dit in die lug gehou en trots gesê: “Dit is my god!” Hoewel die meeste mense dit nie openlik sal erken nie, is daar baie mense in die wêreld wat lief is vir geld en die dinge wat hulle daarmee kan koop. Die Bybel waarsku ons: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie” (Pred. 5:10). Sulke mense sal altyd meer geld wil hê en gebruik hulle hele lewe om dit bymekaar te maak. En deur dit te doen veroorsaak hulle vir hulleself “baie pyne”. — 1 Tim. 6:9, 10.

10. Wat sê die Bybel oor rykdom en armoede?

10 Ons almal het natuurlik geld nodig. Dit gee ons ’n bietjie beskerming (Pred. 7:12). Maar kan ’n persoon werklik gelukkig wees as hy net genoeg geld het vir sy basiese behoeftes? Natuurlik! (Lees Prediker 5:12.) Agur, die seun van Jake, het geskryf: “Gee my nie armoede of rykdom nie. Laat my die voedsel verslind wat vir my voorgeskryf is.” Ons kan verstaan hoekom hy nie baie arm wou wees nie. Hy wou nie voel dat hy moet steel om aan die lewe te bly nie, want dit sou God baie teleurgestel het. Maar hoekom wou hy nie ryk wees nie? Hy het verder geskryf: “Sodat ek nie versadig word en u verloën en sê: ‘Wie is Jehovah?’ nie” (Spr. 30:8, 9). Jy ken dalk mense wat op geld vertrou eerder as op God.

11. Watter raad het Jesus oor geld gegee?

11 Dié wat lief is vir geld, kan God nie gelukkig maak nie. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” Hy het ook gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.” — Matt. 6:19, 20, 24.

12. Hoe kan ’n eenvoudige lewe dit makliker maak om Jehovah te dien? Gee ’n voorbeeld.

12 Baie wat ’n eenvoudige lewe lei, is gelukkiger en het ook meer tyd om Jehovah te dien. Jack, wat in die Verenigde State bly, het sy groot huis en sy besigheid verkoop, want hy het geweet dat dit hom sou help om saam met sy vrou te pionier. Hy sê: “Dit was nie maklik om ons pragtige huis en eiendom in die platteland te verkoop nie. Maar ek het vir jare probleme by die werk gehad wat vir my baie stres veroorsaak het. My vrou, wat pionier, was altyd gelukkig. Sy het altyd gesê: ‘Ek het die beste baas ooit!’ Noudat ek pionier, werk ons al twee vir dieselfde Persoon, Jehovah.”

Hoe kan ons keer dat ons geld te veel liefhet? (Sien paragraaf 13)

13. Hoe kan ons kyk of ons geld te veel liefhet?

13 Om te kyk of ons geld te veel liefhet, moet ons eerlik met onsself wees wanneer ons hierdie vrae beantwoord: ‘Wys die manier waarop ek lewe dat ek regtig glo wat die Bybel oor geld sê? Is geldmaak die belangrikste ding in my lewe? Is materiële dinge vir my belangriker as my vriendskap met Jehovah en met ander mense? Vertrou ek dat Jehovah vir my sal sorg?’ Ons kan seker wees dat Jehovah nooit dié sal teleurstel wat op hom vertrou nie. — Matt. 6:33.

IS ONS LIEF VIR JEHOVAH OF VIR PLESIER?

14. Wat is ’n gebalanseerde beskouing van plesier?

14 Net soos daar voorspel is, is baie mense “liefhebbers van genot”, of plesier. Net soos dit nie verkeerd is om ’n gebalanseerde beskouing van onsself en geld te hê nie, is dit nie verkeerd om ’n gebalanseerde beskouing van plesier te hê nie. Party mense glo dat hulle geen plesier mag hê nie, maar dit is nie hoe Jehovah voel nie. Die Bybel moedig getroue knegte van God aan: “Gaan, eet jou voedsel met blydskap en drink jou wyn met ’n goeie hart.” — Pred. 9:7.

15. Van watter tipe plesier praat 2 Timoteus 3:4?

15 Tweede Timoteus 3:4 praat van dié wat lief is vir plesier en nie tyd het vir God nie. Let op dat die teks nie sê dat mense liewer gaan wees vir plesier as vir God nie. Dit sou beteken dat hulle God wel ’n bietjie liefhet. Dit sê ‘eerder as God’. ’n Geleerde het geskryf: “Hierdie teks beteken nie dat hulle ook vir God lief is nie. Dit beteken dat hulle glad nie lief is vir God nie.” Dit is ’n ernstige waarskuwing vir dié wat te lief is vir plesier. Die woorde “liefhebbers van genot” is ’n goeie beskrywing van dié wat deur die “genietinge van hierdie lewe meegesleep word”. — Luk. 8:14.

16, 17. Watter beskouing het Jesus van plesier gehad?

16 Jesus het ’n gebalanseerde beskouing van plesier gehad. Hy was by ’n “huweliksfees” en ’n “groot onthaal” (Joh. 2:1-10; Luk. 5:29). By die troue was daar nie genoeg wyn nie, en daarom het hy ’n wonderwerk gedoen en water in wyn verander. En by ’n ander geleentheid toe mense Jesus gekritiseer het omdat hy geëet en gedrink het, het hy dit duidelik gemaak dat hulle nie ’n gebalanseerde beskouing het nie. — Luk. 7:33-36.

17 Nogtans het Jesus nie plesier die belangrikste ding in sy lewe gemaak nie. Jehovah was die belangrikste persoon in sy lewe, en hy het alles gedoen wat hy kon om mense te help. Hy was bereid om baie pyn te verduur en aan ’n paal te sterf om die mensdom te red. Jesus het aan sy volgelinge gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg.” — Matt. 5:11, 12.

Hoe kan ons keer dat ons plesier te veel liefhet? (Sien paragraaf 18)

18. Watter vrae sal ons help om te sien of ons plesier te veel liefhet?

18 Hoe kan ons kyk of ons plesier te veel liefhet? Ons kan ons afvra: ‘Is vermaak vir my belangriker as vergaderinge en velddiens? Is ek bereid om party dinge op te gee wat ek geniet omdat ek God wil dien? Wanneer ek vermaak kies, dink ek aan hoe Jehovah oor my keuses voel?’ As ons werklik lief is vir God, sal ons nie net die dinge vermy wat ons weet Jehovah ongelukkig sal maak nie, ons sal ook dinge vermy wat ons dink hom ongelukkig sal maak. — Lees Matteus 22:37, 38.

HOE ONS GELUKKIG KAN WEES

19. Wie sal nooit werklik gelukkig wees nie?

19 Mense kry al 6 000 jaar lank swaar in Satan se wêreld. Daar is baie mense op die aarde wat hulleself, geld en plesier te veel liefhet. Hulle dink net die heeltyd aan wat hulle kan kry, en hulle eie begeertes is die belangrikste ding in hulle lewe. Sulke mense sal nooit werklik gelukkig wees nie. Die psalmis het eerder geskryf: “Gelukkig is hy wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop op Jehovah sy God is.” — Ps. 146:5.

20. Hoe het jou liefde vir God jou gelukkig gemaak?

20 Jehovah se knegte word al hoe liewer vir hom. En elke jaar is daar baie wat hom leer ken en ook lief word vir hom. Dit is ’n bewys dat God se Koninkryk regeer en dat dit binnekort baie seëninge op die aarde gaan bring. Wanneer ons doen wat Jehovah wil hê ons moet doen, maak ons hom bly en dit maak ons werklik gelukkig. En dié wat lief is vir Jehovah sal vir ewig gelukkig wees! In die volgende artikel gaan ons eienskappe bespreek wat mense ontwikkel as hulle selfsugtige liefde het en ons gaan sien hoe dit verskil van die eienskappe wat Jehovah se knegte het.