Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sien die verskil in mense

Sien die verskil in mense

“Julle sal . . . die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose.” — MAL. 3:18.

LIED: 127, 101

1, 2. Watter probleem het God se knegte vandag? (Sien prent aan begin van artikel.)

BAIE dokters en verpleegsters werk met mense wat aansteeklike siektes het. Hulle sorg vir die pasiënte omdat hulle hulle wil help. Maar hulle moet hulleself altyd beskerm sodat hulle nie ook hierdie aansteeklike siekte kry nie. Jehovah se knegte is amper in dieselfde situasie. Ons lewe en werk dalk saam met mense wie se eienskappe van God s’n verskil. Dit kan vir ons baie moeilik wees.

2 Vandag is daar baie mense wat nie lief is vir God nie, en daarom lewe hulle nie volgens sy standaarde nie. In die apostel Paulus se tweede brief aan Timoteus het hy eienskappe genoem van mense wat nie God se vriende is nie. Paulus het gesê dat hierdie eienskappe in die laaste dae baie meer algemeen sal wees. (Lees 2 Timoteus 3:1-5, 13.) Dit is dalk vir ons ’n skok om te sien hoe hierdie eienskappe algemeen word, maar hierdie slegte gedrag kan ons beïnvloed (Spr. 13:20). In hierdie artikel gaan ons kyk hoe eienskappe verskil van mense wat God dien en mense wat God nie dien nie. Ons gaan ook kyk hoe ons ons kan beskerm teen hierdie slegte eienskappe, terwyl ons nog steeds ander geestelik help.

3. Op wie is die lys van slegte eienskappe in 2 Timoteus 3:2-5 van toepassing?

3 Die apostel Paulus het gesê “dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”. Toe het hy 19 slegte eienskappe genoem wat algemeen sal wees in die tyd waarin ons lewe. Hierdie lys is amper dieselfde soos die een in Romeine 1:29-31. Maar die lys in Paulus se brief aan Timoteus gebruik terme wat nêrens anders in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word nie. Paulus het hierdie lys van slegte eienskappe begin deur te sê: “Want mense sal . . . ” Maar nie almal sal hierdie eienskappe hê nie. Christene het ander eienskappe. — Lees Maleagi 3:18.

HOE SIEN ONS ONSSELF?

4. Hoe sal jy mense beskryf wat trots is?

4 Nadat Paulus gesê het dat mense geld sal liefhê, het hy geskryf dat mense hoogmoedig, opgeblase van trots en aanmatigend sal wees, of dat hulle sal spog met wat hulle het. Mense met sulke eienskappe dink dat hulle beter as ander is omdat hulle sekere dinge kan doen, meer geld het, een of ander posisie in die lewe het en omdat hulle dink dat hulle beter as ander lyk. Hulle wil baie graag hê dat mense van hulle moet hou en hulle moet bewonder. Een geleerde het die volgende oor sulke persone gesê: “In sy hart is ’n klein altaar en hy buig voor homself neer.” Party het al gesê dat sulke trots baie lelik is en dat selfs trotse mense nie daarvan hou om dit in ander mense te sien nie.

5. Hoe het selfs getroue knegte van God trots geword?

5 Jehovah haat trots, of “trotse oë” (Spr. 6:16, 17). Trots keer dat ons nader aan God kan kom (Ps. 10:4). Dit is ’n eienskap van die Duiwel (1 Tim. 3:6). Ongelukkig het party van Jehovah se lojale knegte trots geword. Ussia, ’n koning van Juda, was jare lank getrou aan Jehovah. Die Bybel sê: “Maar net toe hy sterk geword het, het sy hart so hoogmoedig geword dat dit verderf aangerig het, sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan het om reukwerk op die reukaltaar te brand.” Later het koning Hiskia ook trots geword, maar slegs vir ’n kort tydjie. — 2 Kron. 26:16; 32:25, 26.

6. Wat kon veroorsaak het dat Dawid trots word, maar hoekom het hy nie?

6 Party mense word trots omdat hulle aantreklik, populêr, fisies sterk, goed in musiek is of omdat ander hulle bewonder. Dawid was al hierdie dinge, maar hy het nederig gebly. Nadat Dawid Goliat doodgemaak het, het koning Saul gesê dat Dawid met sy dogter kon trou. Dawid het toe gesê: “Wie is ek en wie is my bloedverwante, my vader se familie, in Israel, dat ek die skoonseun van die koning sou word?” (1 Sam. 18:18). Wat het Dawid gehelp om nederig te bly? Dawid het geweet dat hy hierdie eienskappe, vermoëns en voorregte gehad het omdat God nederig was en aandag aan hom geskenk het (Ps. 113:5-8). Hy het besef dat enige goeie ding wat hy gehad het, van Jehovah gekom het. — Vergelyk 1 Korintiërs 4:7.

7. Wat kan ons help om nederig te wees?

7 Jehovah se knegte vandag probeer om, net soos Dawid, nederig te wees. Dit is wonderlik om te weet dat Jehovah, die grootste Persoon in die heelal, ook nederig is (Ps. 18:35). Ons probeer hierdie raad toepas: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kol. 3:12). Ons weet ook dat liefde ‘nie grootpraat nie, en nie opgeblase raak nie’ (1 Kor. 13:4). As ons nederig is, sal ander dalk nader aan Jehovah wil kom. Net soos mans sonder ’n woord deur die goeie gedrag van hulle vrouens gewen kan word, kan dit ander motiveer om nader aan God te kom omdat sy knegte nederig is. — 1 Pet. 3:1.

HOE ONS ANDER BEHANDEL

8. (a) Hoe voel party mense vandag oor ongehoorsaamheid aan ouers? (b) Wat sê die Bybel moet kinders doen?

8 Paulus het beskryf hoe mense mekaar in die laaste dae sal behandel. Hy het geskryf dat kinders in die laaste dae ongehoorsaam aan hulle ouers sal wees. Vandag se boeke, flieks en televisieprogramme laat dit lyk of dit normaal is vir kinders om ongehoorsaam aan hulle ouers te wees. Maar die waarheid is dat ongehoorsaamheid die gesin verswak en ’n slegte uitwerking op die gemeenskap het. Mense weet dit al lank. Byvoorbeeld, lank gelede in Griekeland, as ’n man sy ouers geslaan het, het hy al sy burgerlike regte verloor. Volgens die Romeinse wet, was dit so ernstig soos moord as ’n man sy pa geslaan het. Die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte sê dat kinders hulle ouers moet respekteer. — Eks. 20:12; Ef. 6:1-3.

9. Wat sal jongmense help om gehoorsaam aan hulle ouers te wees?

9 Kinders kan keer dat hulle aan hulle ouers ongehoorsaam word, deur na te dink oor wat hulle ouers alles vir hulle gedoen het. Kinders moet hulle ouers waardeer en verstaan dat God, ons Vader, van hulle verwag om hulle ouers te gehoorsaam. As jongmense goeie dinge van hulle ouers sê, sal dit ander jongmense help om hulle eie ouers ook te respekteer. As ouers nie natuurlike geneentheid, of liefde, vir hulle kinders het nie, is dit dalk moeilik vir die kinders om gehoorsaam te wees. Maar as kinders voel dat hulle ouers hulle opreg liefhet, sal hulle graag hulle ouers gelukkig wil maak, selfs wanneer dit moeilik is. Austin sê: “Al wou ek soms dinge doen wat ek nie moes nie, het my ouers redelike reëls gemaak, die redes vir die reëls verduidelik en het hulle dit vir my maklik gemaak om met hulle te praat. Dit het my gehelp om gehoorsaam te wees. Ek kon sien dat hulle vir my omgee, en daarom wou ek hulle nie teleurstel nie.”

10, 11. (a) Watter slegte eienskappe wys dat mense nie lief is vir mekaar nie? (b) Hoe lief is ware Christene vir ander mense?

10 Paulus het ook ander negatiewe eienskappe genoem wat wys dat mense nie vir mekaar lief is nie. Na “ongehoorsaam aan ouers” noem hy ondankbaar. Dit maak sin, want ondankbare mense waardeer nie die goeie dinge wat ander mense vir hulle doen nie. Mense sal ook dislojaal wees. Hulle is nie bereid tot enige ooreenkoms nie, wat beteken dat hulle nie vrede met ander wil maak nie. Hulle sal lasteraars en verraaiers wees, wat slegte dinge van mense en selfs van God sê. En daar sal kwaadsprekers wees, mense wat leuens vertel om ander se goeie reputasie te verwoes. *

11 Jehovah se knegte is baie anders as die meeste mense in die wêreld, want hulle het opregte liefde vir ander. Dit was nog altyd so. Jesus het gesê dat ons ons naaste moet liefhê. Hierdie liefde is ’n vorm van a·gaʹpe en is die tweede belangrikste gebod in die Wet van Moses. Die enigste gebod wat belangriker is, is om God lief te hê (Matt. 22:38, 39). Jesus het ook gesê dat as ons liefde onder mekaar het, sal almal weet dat ons ware Christene is. (Lees Johannes 13:34, 35.) Ware Christene sal selfs vir hulle vyande lief wees. — Matt. 5:43, 44.

12. Hoe het Jesus gewys dat hy vir ander lief is?

12 Jesus was baie lief vir mense. Hy het van stad tot stad gegaan om mense die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel. Hy het die blindes, kreupeles, melaatses en dowes genees. Hy het ook die dooies opgewek (Luk. 7:22). Jesus het selfs sy eie lewe gegee om die mens te red, al het baie hom gehaat. Jesus het sy Vader se liefde volmaak nagevolg. Jehovah se Getuies, regoor die wêreld, volg Jesus na en wys dat hulle ander liefhet.

13. Hoe help dit mense om nader aan Jehovah te kom as ons wys dat ons vir hulle lief is?

13 As ons wys dat ons vir ander lief is, sal dit hulle na ons hemelse Vader toe trek. Byvoorbeeld, ’n man in Thailand was baie beïndruk toe hy die liefde onder die broers by ’n streekbyeenkoms gesien het. Na die byeenkoms het hy gevra om twee keer ’n week ’n Bybelstudie te hê. Hy het vir sy familie van Jehovah vertel, en net ses maande ná die byeenkoms het hy sy eerste Bybelleesgedeelte by die Koninkryksaal gedoen. Wys ons dat ons lief is vir ander? Vra jou af: ‘Doen ek my bes om mense in my familie, in die gemeente en in die bediening te help? Probeer ek om mense te sien soos Jehovah hulle sien?’

WOLWE EN LAMMERS

14, 15. Watter slegte eienskappe het party mense, maar hoe het hulle verander?

14 In die laaste dae is daar ook ander slegte eienskappe wat ons moet vermy. Byvoorbeeld, baie mense is sonder liefde vir die goeie. Hulle haat wat goed is en vermy dit. Hierdie mense is sonder selfbeheersing, wreedaardig. Party is eiesinnig. Hulle doen dinge sonder om te dink en gee ook nie om wat dit aan ander mense doen nie.

15 Baie mense wat hulle soos diere gedra het, het hulle persoonlikheid verander. Hierdie groot verandering is in ’n Bybelprofesie voorspel. (Lees Jesaja 11:6, 7.) Hier lees ons van wilde diere, soos wolwe en leeus, wat in vrede saam met mak diere, soos lammers en kalfies, bly. Hoekom het hulle hierdie vrede? Want die Bybel sê: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jes. 11:9). Aangesien diere nie oor Jehovah kan leer nie, is die geestelike vervulling van hierdie profesie op mense van toepassing.

Om Bybelbeginsels toe te pas verander lewens! (Sien paragraaf 16)

16. Hoe het die Bybel al mense gehelp om hulle persoonlikheid te verander?

16 Baie van ons broers en susters was so wreed soos wolwe, maar nou lewe hulle in vrede saam met ander. Jy kan van hulle ondervindinge lees in die reeks “Die Bybel verander lewens”, op jw.org. Dié wat Jehovah leer ken het en hom dien, is nie soos dié wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën nie. Sulke mense maak asof hulle God dien, maar wat hulle doen wys dat hulle hom nie dien nie. Maar baie mense wat wreed was, het hulle met “die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Ef. 4:23, 24). Mense sien hoe belangrik dit is om volgens God se standaarde te lewe wanneer hulle hom leer ken. Dit help hulle om veranderinge te maak in wat hulle glo, hoe hulle dink en wat hulle doen. Hierdie veranderinge is nie altyd maklik nie, maar God se gees sal dié help wat hom werklik wil dien.

“KEER JOU VAN HIERDIE MENSE AF”

17. Wat kan ons doen om nie deur mense met slegte eienskappe beïnvloed te word nie?

17 Die verskil tussen mense wat God dien en dié wat God nie dien nie, raak al hoe duideliker. Ons wat God dien, moet seker maak dat ander se slegte eienskappe ons nie beïnvloed nie. Ons wil eerder die raad in 2 Timoteus 3:2-5 volg om ons af te keer van hierdie mense. Ons kan natuurlik nie almal wat hierdie slegte eienskappe het, vermy nie. Ons moet dalk saam met hulle werk, saam met hulle skoolgaan of saam met hulle bly. Maar ons hoef nie soos hulle te dink of op te tree nie. Ons sal dit kan vermy as ons onsself geestelik sterk hou deur die Bybel te studeer en vriende te hê wat Jehovah ook dien.

18. Hoe kan ons ander geestelik help deur wat ons sê en doen?

18 Ons wil ook ander help om Jehovah te leer ken. Gebruik elke geleentheid om oor Jehovah te praat, en vra hom om jou te help om die regte ding op die regte tyd te sê. Ons moet vir ander sê dat ons Jehovah se Getuies is. Dan sal ons goeie gedrag Jehovah eer en nie onsself nie. Jehovah het ons geleer “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe” (Tit. 2:11-14). As ons Jehovah navolg en doen wat hy wil hê ons moet doen, sal ander dit raaksien. Party van hulle sal selfs sê: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” — Sag. 8:23.

^ par. 10 Die Griekse woord vir “lasteraar” of “beskuldiger” is di·aʹbo·los. In die Bybel word dit gebruik as ’n titel vir Satan, die goddelose lasteraar van God.