Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

Hoe kan jy jou hart beskerm?

Hoe kan jy jou hart beskerm?

“Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word.” – SPR. 4:23.

LIED 36 Ons bewaak ons hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-3. (a) Hoekom was Jehovah lief vir Salomo, en watter seëninge het Salomo gekry? (b) Watter vrae gaan ons in hierdie artikel beantwoord?

SALOMO het koning van Israel geword toe hy maar nog ’n jong man was. Kort nadat hy begin regeer het, het Jehovah in ’n droom vir hom gesê: “Vra wat ek jou moet gee.” Salomo het toe gesê dat hy jonk en onervare is, en daarom het hy vir Jehovah gevra om vir hom “’n gehoorsame hart [te] gee” sodat hy Sy volk kon rig (1 Kon. 3:5-10). Die feit dat Salomo vir “’n gehoorsame hart” gevra het, het gewys dat hy nederig is. Dit is geen wonder dat Jehovah lief was vir Salomo nie! (2 Sam. 12:24). Ons God was so gelukkig met die jong koning se antwoord dat hy vir Salomo “’n wyse hart met begrip” gegee het. – 1 Kon. 3:12.

2 Jehovah het Salomo baie geseën terwyl hy getrou was. Hy het die voorreg gehad om ’n tempel te bou “vir die naam van Jehovah, die God van Israel” (1 Kon. 8:20). Hy het bekend geword vir die wysheid wat hy van God gekry het. En die dinge wat hy gesê het toe hy deur God geïnspireer is, is in drie boeke van die Bybel opgeteken. Een van hierdie boeke is Spreuke.

3 Die hart word omtrent ’n honderd keer in die boek Spreuke genoem. Ons lees byvoorbeeld in Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word.” Wat beteken die woord “hart” in hierdie vers? Ons sal dit in hierdie artikel beantwoord. Ons gaan ook kyk wat die antwoorde is op die volgende twee vrae: Hoe probeer Satan ons hart beïnvloed? En wat kan ons doen om ons hart te bewaak, of te beskerm? As ons getrou aan God wil bly, moet ons weet wat die antwoorde op hierdie belangrike vrae is.

“JOU HART” – WAT IS DIT?

4-5. (a) Hoe help Psalm 51:6 ons om te verstaan wat die woord “hart” beteken? (b) Hoe help ons fisiese gesondheid ons om te verstaan hoe belangrik dit is om na ons geestelikheid om te sien?

4 In Spreuke 4:23 verwys die woord “hart” na die innerlike persoon of geheime persoon. (Lees Psalm 51:6.) Die woord “hart” verwys met ander woorde na ons gedagtes, gevoelens, motiewe en begeertes. Dit is wie ons werklik is en nie net hoe mense ons sien nie.

5 Ons kan ons fisiese gesondheid as ’n voorbeeld gebruik om te verduidelik hoe belangrik dit is om na ons geestelikheid om te sien. Eerstens, as ons gesond wil bly, moet ons gesonde kos eet en gereeld oefen. Net so, as ons geestelik gesond wil bly, moet ons ’n gesonde geestelike dieet volg en gereeld geloof in Jehovah beoefen. Ons beoefen geloof in Jehovah deur toe te pas wat ons leer en deur te praat oor ons geloof (Rom. 10:8-10; Jak. 2:26). Tweedens, as ons in ’n spieël kyk, kan ons gesond lyk, al is ons eintlik siek. Net so kan dit lyk asof ons geloof sterk is omdat ons ’n geestelike roetine het, maar ons kan dalk verkeerde begeertes begin ontwikkel (1 Kor. 10:12; Jak. 1:14, 15). Ons moet onthou dat Satan wil hê dat ons soos hy moet dink. Hoe sal hy dit dalk probeer doen? En hoe kan ons onsself beskerm?

HOE PROBEER SATAN ONS HART BEÏNVLOED?

6. Wat is Satan se doel, en hoe probeer hy dit bereik?

6 Satan wil hê dat ons soos hy moet wees – ’n rebel wat selfsugtig is en wat Jehovah se standaarde ignoreer. Satan kan ons nie forseer om soos hy te dink en op te tree nie. Daarom gebruik hy ander metodes om sy doel te bereik. Hy omring ons byvoorbeeld met mense wat alreeds deur hom beïnvloed is (1 Joh. 5:19). Hy hoop dat ons tyd saam met hulle sal spandeer, al weet ons dat slegte assosiasie die manier waarop ons dink en optree, sal “bederf” (1 Kor. 15:33). Hierdie metode het met koning Salomo gewerk. Hy het met baie heidense vroue getrou, en later het hulle ’n groot invloed op hom gehad en “sy hart geleidelik laat afwyk”. – 1 Kon. 11:3.

Hoe kan jy jou hart beskerm teen Satan se pogings om dit met sy denke te beïnvloed? (Sien paragraaf 7) *

7. Wat gebruik Satan nog om mense te kry om soos hy te dink, en hoekom moet ons hiervoor versigtig wees?

7 Satan gebruik films en televisieprogramme om mense te kry om soos hy te dink. Satan weet dat ons dit geniet om na stories te luister, en hy weet ook dat dit ons denke, gevoelens en dade beïnvloed. Jesus het hierdie metode gebruik om mense te leer. Dink byvoorbeeld aan die illustrasies van die goeie Samaritaan en die verlore seun (Matt. 13:34; Luk. 10:29-37; 15:11-32). Maar diegene wat deur Satan se denke beïnvloed is, kan stories gebruik om ons ook te beïnvloed. Ons moet gebalanseerd wees. Dit kan lekker wees om na films en TV-programme te kyk en ons kan selfs daaruit leer sonder dat dit ’n slegte uitwerking op ons denke het. Maar ons moet versigtig wees. Wanneer ons besluit waarna ons gaan kyk, moet ons ons afvra: ‘Leer hierdie film of TV-program my dat dit reg is om my vleeslike begeertes te bevredig?’ (Gal. 5:19-21; Ef. 2:1-3). Wat moet jy doen as jy agterkom dat ’n TV-program Satan se denke bevorder? Vermy dit soos jy ’n aansteeklike siekte sou vermy!

8. Hoe kan ouers hulle kinders help om hulle hart te beskerm?

8 Ouers, julle het ’n spesiale verantwoordelikheid om julle kinders te beskerm teen Satan se pogings om hulle harte te beïnvloed. Julle doen sekerlik alles wat julle kan om julle kinders teen siektes te beskerm. Julle hou die huis skoon en gooi enigiets weg wat kan veroorsaak dat julle kinders siek word. Op dieselfde manier moet julle ook julle kinders beskerm teen films, TV-programme, elektroniese speletjies en webwerwe wat kan veroorsaak dat hulle soos Satan begin dink. Jehovah het julle die verantwoordelikheid gegee om seker te maak dat julle kinders geestelik gesond is (Spr. 1:8; Ef. 6:1, 4). Daarom moet julle nie bang wees om reëls te maak wat op Bybelstandaarde gebaseer is nie. Sê vir julle kinders wat hulle mag kyk en nie mag kyk nie, en help hulle om die rede vir julle besluite te verstaan (Matt. 5:37). Terwyl hulle ouer word, moet jy hulle leer om self te onderskei wat reg en wat verkeerd is volgens Jehovah se standaarde (Heb. 5:14). En onthou, jou kinders sal baie leer uit wat jy sê, maar hulle gaan selfs meer leer uit wat jy doen. – Deut. 6:6, 7; Rom. 2:21.

9. Wat is een idee wat Satan bevorder, en hoekom is dit gevaarlik?

9 Satan probeer ook om ons hart te beïnvloed deur ons te kry om eerder op menslike wysheid te vertrou as op Jehovah se denke (Kol. 2:8). Kyk na een idee wat deur Satan bevorder word – dat om ryk te word ons hoofdoel in die lewe moet wees. Mense wat so dink, word dalk ryk, of dalk nie. Maar sulke denke kan gevaarlik wees. Hoekom? Omdat dit vir mense so belangrik kan word om geld te maak dat hulle toelaat dat hulle gesondheid, gesinsverhoudinge en selfs hulle verhouding met God daaronder ly (1 Tim. 6:10). Ons kan dankbaar wees dat ons wyse hemelse Vader ons help om ’n gebalanseerde beskouing van geld te hê. – Pred. 7:12; Luk. 12:15.

HOE KAN ONS ONS HART BESKERM?

Soos wagte en poortwagters van die ou tyd moet jy aanhou waak en optree sodat slegte invloede nie jou hart beïnvloed nie (Sien paragraaf 10-11) *

10-11. (a) Wat moet ons doen om onsself te beskerm? (b) Wat het wagte in die ou tyd gedoen, en hoe kan ons gewete soos ’n wag wees?

10 As ons ons hart wil beskerm, moet ons gevare kan identifiseer en gou iets doen om onsself te beskerm. Die woord wat in Spreuke 4:23 met “bewaak” vertaal word, laat ons dink aan die werk wat ’n wag doen. In koning Salomo se tyd het wagte op die stad se mure gestaan en die inwoners teen gevare gewaarsku. Hierdie beskrywing help ons om te verstaan wat ons moet doen om te keer dat Satan ons denke beïnvloed.

11 In die ou tyd het wagte saam met die stad se poortwagters gewerk (2 Sam. 18:24-26). Hulle het die stad beskerm deur seker te maak dat die hekke gesluit was wanneer vyande hulle wou aanval (Neh. 7:1-3). Ons Bybelopgeleide gewete * kan soos ’n wag wees en ons waarsku wanneer Satan ons hart probeer aanval – met ander woorde, wanneer hy probeer om ons gedagtes, gevoelens, motiewe en begeertes te beïnvloed. Wanneer ons gewete ons waarsku, moet ons daarna luister en alles moontlik doen om onsself te beskerm.

12-13. Wat kan ons dalk versoek word om te doen, maar hoe moet ons reageer?

12 Kyk na ’n voorbeeld van hoe ons kan keer dat Satan se denke ons beïnvloed. Jehovah het ons geleer dat “hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder [ons] genoem [moet] word nie” (Ef. 5:3). Maar wat sal ons doen as mense by die werk of skool oor seksueel onsedelike dinge begin praat? Ons weet dat ons “goddeloosheid en wêreldse begeertes [moet] verwerp” (Tit. 2:12). Die wag, ons gewete, waarsku ons dalk (Rom. 2:15). Maar sal ons daarna luister? Ons kan dalk versoek word om eerder na ons werksmaats of skoolmaats te luister of om na foto’s te kyk wat hulle vir mekaar wys. Maar wanneer dit gebeur, is dit die tyd om die gevaar te vermy deur die gesprek te verander of weg te stap.

13 Ons het moed nodig om die druk te weerstaan om verkeerde dinge te dink of te doen. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons pogings sien, en hy sal ons die krag en wysheid gee wat ons sal help om nie deur Satan se denke beïnvloed te word nie (2 Kron. 16:9; Jes. 40:29; Jak. 1:5). Maar wat kan ons nog doen om ons hart te beskerm?

HOU AAN WAAK

14-15. (a) Waarvoor moet ons ons hart oopmaak, en hoe kan ons dit doen? (b) Hoe help Spreuke 4:20-22 ons om die meeste uit ons Bybellees te kry? (Sien ook die venster “ Hoe om te bepeins”.)

14 Om ons hart te beskerm moet ons dit nie net toemaak vir dinge wat ’n slegte invloed daarop kan hê nie, maar ons moet dit ook oopmaak vir positiewe invloede. Dink weer oor die voorbeeld van ’n ommuurde stad. ’n Poortwagter het die hekke van die stad gesluit om te keer dat vyande tot binne die stad kom, maar hy het dit ook oopgemaak sodat kos en ander voorraad by die stad ingebring kon word. As die hekke nooit oop was nie, sou die inwoners van die stad honger gely het. Net so moet ons ons hart gereeld oopmaak vir God se denke sodat dit ’n positiewe invloed op ons kan hê.

15 Die Bybel bevat Jehovah se denke, en elke keer as ons dit lees, laat ons toe dat Jehovah se denke ’n positiewe invloed het op die manier waarop ons dink, voel en optree. Hoe kan ons die meeste uit ons Bybellees kry? Gebed is baie belangrik. ’n Christensuster sê: “Voordat ek die Bybel lees, bid en vra ek vir Jehovah om my te help om ‘die wonderlike dinge’ in sy Woord te sien” (Ps. 119:18). Ons moet ook bepeins, of nadink, oor wat ons lees. Wanneer ons bid, God se Woord lees en daaroor nadink, sal ons dit in ons ‘hart bewaar’ en Jehovah se denke liefkry. – Lees Spreuke 4:20-22; Ps. 119:97.

16. Hoe het baie daarby baat gevind om JW Broadcasting te kyk?

16 Om na JW Broadcasting® te kyk, is nog ’n manier waarop ons toelaat dat God se denke ’n positiewe invloed op ons het. Een paartjie sê: “Die maandelikse program is regtig ’n antwoord op ons gebede! Dit versterk en moedig ons aan wanneer ons hartseer of eensaam voel. En die Broadcasting-liedjies word gereeld in ons huis gespeel. Ons luister daarna terwyl ons kook, skoonmaak of net ’n koppie tee geniet.” Hierdie programme help ons om ons hart te beskerm. Dit leer ons om soos Jehovah te dink en om die druk te weerstaan om soos Satan te dink.

17-18. (a) Volgens 1 Konings 8:61, wat gebeur wanneer ons toepas wat Jehovah ons leer? (b) Wat kan ons uit koning Hiskia se voorbeeld leer? (c) Waarvoor kan ons bid, volgens Dawid se gebed in Psalm 139:23, 24?

17 Elke keer wanneer ons doen wat reg is en die voordele daarvan sien, word ons geloof sterker (Jak. 1:2, 3). Dit laat ons goed voel omdat ons Jehovah trots maak om ons een van sy kinders te noem, en ons begeerte om sy hart bly te maak word sterker (Spr. 27:11). Elke toets gee ons die geleentheid om te wys dat ons ons liefdevolle Vader heelhartig wil dien (Ps. 119:113). Ons wys dat ons Jehovah liefhet met ons hele hart en dat ons vasbeslote is om hom te gehoorsaam en sy wil te doen. – Lees 1 Konings 8:61.

18 Gaan ons foute maak? Ja, want ons is onvolmaak. As jy iets verkeerds doen, moet jy koning Hiskia se voorbeeld onthou. Hy het foute gemaak. Maar hy was berouvol en het aangehou om Jehovah “met ’n volkome hart” te dien (Jes. 38:3-6; 2 Kron. 29:1, 2; 32:25, 26). Ons moet Satan se pogings om ons denke te beïnvloed weerstaan, en ons moet bid dat ons ’n “gehoorsame hart” ontwikkel. (1 Kon. 3:9; lees Psalm 139:23, 24.) Ons kan getrou aan Jehovah bly as ons, meer as enigiets anders, ons hart beskerm.

LIED 54 “Dit is die weg”

^ par. 5 Sal ons getrou aan Jehovah bly of sal ons toelaat dat Satan ons van God af weglok? Die antwoord hang nie af van hoe moeilik die toetse is wat ons deurmaak nie, maar van hoe goed ons ons hart beskerm. Wat word bedoel met die woord “hart”? Hoe probeer Satan ons hart beïnvloed? En hoe kan ons dit beskerm? Die artikel gaan hierdie belangrike vrae beantwoord.

^ par. 11 WAT DIT BETEKEN: Jehovah het ons die vermoë gegee om ons eie gedagtes, gevoelens en dade te ondersoek en onsself te oordeel. Die Bybel noem hierdie vermoë die gewete (Rom. 2:15; 9:1). ’n Bybelopgeleide gewete gebruik Jehovah se standaarde, wat in die Bybel gevind word, om te ondersoek of dit wat ons dink, doen of sê, goed of sleg is.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENTE: Terwyl ’n gedoopte broer TV kyk, verskyn iets onsedeliks op die skerm. Hy moet besluit wat hy volgende gaan doen.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Wag in die ou tyd sien gevaar buite die stad. Hy waarsku die poortwagters, en hulle reageer onmiddellik deur die stad se poorte van binne af toe te maak.