Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

Moenie angstig wees nie, want ek is jou God

Moenie angstig wees nie, want ek is jou God

“Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie angstig wees nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help.” – JES. 41:10, Engelse weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling.

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Watter uitwerking het die boodskap in Jesaja 41:10 op ’n suster met die naam Josjiko gehad? (b) Wie kan baat vind by hierdie boodskap wat Jehovah laat neerskryf het?

’N GETROUE suster met die naam Josjiko het slegte nuus gekry. Haar dokter het vir haar gesê dat sy net ’n paar maande oor het om te lewe. Hoe het sy gereageer? Josjiko het aan een van haar gunsteling Bybeltekste gedink, Jesaja 41:10. (Lees.) Sy het toe op ’n kalm manier vir haar dokter gesê dat sy nie bang is nie omdat Jehovah haar hand styf vashou. * Die vertroostende boodskap in hierdie vers het ons dierbare suster gehelp om heeltemal op Jehovah te vertrou. Dieselfde vers kan ons ook help om kalm te bly wanneer ons deur baie moeilike tye gaan. Om te verstaan hoe dit ons kan help, gaan ons eers kyk hoekom God hierdie boodskap vir Jesaja gegee het.

2 Jehovah het hierdie woorde deur Jesaja laat opteken om die Jode te vertroos wat later in ballingskap na Babilon weggeneem sou word. Maar Jehovah het nie net hierdie woorde vir die Joodse ballinge laat opteken nie, hy het dit vir al sy knegte laat opteken sodat ons ook daarby kan baat vind (Jes. 40:8; Rom. 15:4). Vandag lewe ons in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en ons het nou meer as ooit te vore die aanmoediging nodig wat ons in die boek Jesaja kry. – 2 Tim. 3:1.

3. (a) Watter beloftes vind ons in Jesaja 41:10, ons jaarteks vir 2019? (b) Hoekom het ons hierdie beloftes nodig?

3 In hierdie artikel gaan ons drie van Jehovah se geloofversterkende beloftes bespreek wat in Jesaja 41:10 opgeteken is: (1) Jehovah sal met ons wees, (2) hy is ons God en (3) hy sal ons help. Ons het hierdie versekeringe * nodig omdat ons, net soos Josjiko, probleme ondervind. Slegte dinge wat in die wêreld gebeur, maak ook die lewe vir ons baie moeilik. Party van ons word selfs deur magtige regerings vervolg. Kom ons bespreek hierdie drie beloftes een vir een.   

“EK IS MET JOU”

4. (a) Wat is die eerste versekering wat ons gaan bespreek? (Sien ook voetnoot.) (b) Hoe sê Jehovah vir ons hoe hy oor ons voel? (c) Hoe laat God se woorde jou voel?

4 Eerstens verseker Jehovah ons: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou.” * Jehovah wys dat hy met ons is deur ons sy volle aandag te gee en ons opreg lief te hê. Let op hoe Jehovah oor ons voel. Hy sê dat ons “kosbaar” in sy oë geword het en dat ons “eerwaardig geag” is en dat hy ons “liefgehad” het (Jes. 43:4). Niks kan maak dat Jehovah ophou om sy knegte lief te hê nie. Sy lojaliteit teenoor ons sal nie wankel nie (Jes. 54:10). Sy liefde en vriendskap gee ons moed. Hy sal ons beskerm, net soos hy sy vriend Abram (Abraham) beskerm het. Jehovah het vir hom gesê: “Moenie vrees nie, Abram. Ek is ’n skild vir jou.” – Gen. 15:1.

Met Jehovah se hulp kan ons deur enige vloed of vuur van beproewinge kom (Sien paragraaf 5-6) *

5-6. (a) Hoe weet ons dat Jehovah ons met ons probleme wil help? (b) Watter les kan ons leer uit Josjiko se voorbeeld?

5 Ons weet dat Jehovah ons met ons probleme wil help, want hy belowe sy knegte: “As jy deur die waters trek, sal ek met jou wees; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie. As jy deur die vuur gaan, sal jy nie geskroei word nie, en ook sal die vlam jou nie brand nie” (Jes. 43:2). Wat beteken hierdie woorde?

6 Jehovah belowe nie dat hy die uitdagings wat die lewe moeilik maak, sal wegneem nie. Maar hy sal nie toelaat dat ons verdrink in die probleme wat soos “riviere” is nie of dat “die vlam” van beproewinge enige permanente skade aan ons doen nie. Hy verseker ons dat hy met ons sal wees en ons sal help om hierdie probleme te verduur. Wat sal Jehovah doen? Hy sal ons help om kalm te wees sodat ons getrou aan hom kan bly, selfs al beteken dit dat ons ons lewe kan verloor (Jes. 41:13). Josjiko, wat vroeër genoem is, het self gesien dat hierdie woorde waar is. Haar dogter sê: “Ons was beïndruk met hoe kalm ons ma gebly het. Ons het gesien hoe Jehovah haar innerlike vrede gegee het. Tot die dag van haar dood, het ons ma met verpleegsters en pasiënte gepraat oor Jehovah en sy beloftes.” Wat leer ons uit Josjiko se voorbeeld? Wanneer ons God se belofte vertrou dat hy met ons is, sal ons ook moedig en sterk wees terwyl ons beproewinge verduur.

“EK IS JOU GOD”

7-8. (a) Wat is die tweede versekering wat ons gaan bespreek, en wat beteken dit? (b) Hoekom het Jehovah vir die Joodse ballinge gesê: “Moenie angstig wees nie”? (c) Watter woorde in Jesaja 46:3, 4 het God se volk gehelp om nie bang te wees nie?

7 Kyk na die tweede versekering wat deur Jesaja neergeskryf is: “Moenie angstig wees nie, want ek is jou God.” Wat beteken hierdie woorde? Die woord in die oorspronklike taal wat in hierdie vers met “angstig wees” vertaal word, dra die gedagte oor om gedurig oor jou skouer te kyk omdat jy bang is dat iets of iemand jou gaan seermaak of om paniekbevange rond te kyk soos iemand wat in gevaar is.

8 Hoekom het Jehovah vir die Jode wat na Babilon weggeneem sou word, gesê om nie ‘angstig te wees’ nie? Want hy het geweet dat die mense van daardie land bang sou word. Hoekom sou hulle bang wees? Aan die einde van die Jode se 70 jaar lange ballingskap, sou Babilon deur die sterk leërmag van Medo-Persië aangeval word. Jehovah sou hierdie leërmag gebruik om sy volk uit Babilon vry te laat (Jes. 41:2-4). Toe die Babiloniërs en mense van ander nasies in daardie tyd hoor dat hulle vyand op pad is om hulle aan te val, het hulle probeer om moedig te bly deur vir mekaar te sê: “Wees sterk.” Hulle het ook vir hulle meer afgode gemaak en gehoop dat dit hulle sou beskerm (Jes. 41:5-7). Maar Jehovah het die Joodse ballinge gehelp om nie bang te wees nie deur te sê: “Jy, o Israel, [anders as jou bure] is my kneg . . . Moenie angstig wees nie, want ek is jou God” (Jes. 41:8-10, NW). Let op dat Jehovah gesê het: “Ek is jou God.” Met hierdie woorde het Jehovah sy lojale knegte verseker dat hy nie van hulle vergeet het nie – hy was nog steeds hulle God, en hulle was nog steeds sy volk. Hy het vir hulle gesê: ‘Ek sal julle dra en ontkoming verskaf.’ Hierdie vertroostende en aanmoedigende woorde het definitief die Joodse ballinge versterk. – Lees Jesaja 46:3, 4.

9-10. Hoekom hoef ons nie bang te wees nie? Gee ’n voorbeeld.

9 Mense is nou meer as ooit te vore angstig omdat toestande in die wêreld al hoe erger word. Natuurlik word ons ook deur hierdie probleme geraak. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Jehovah sê vir ons: “Ek is jou God.” Hoekom is hierdie woorde ’n goeie rede vir ons om kalm te bly?

10 Dink aan hierdie voorbeeld: Twee passasiers, Jim en Ben, is in ’n vliegtuig wat besig is om deur sterk winde geskud te word. Terwyl die wind besig is om die vliegtuig te skud, sê die vlieënier vir almal oor die luidspreker: “Hou julle veiligheidsgordel aan. Ons gaan vir ’n ruk lank deur onstuimige weer vlieg.” Jim word baie bekommerd. Maar die vlieënier sê verder: “Moenie angstig wees nie. Dit is julle vlieënier wat praat.” Jim skud sy kop en sê: “Hoe is dit ’n versekering?” Hy let op dat Ben glad nie angstig is nie. Jim vra hom: “Hoekom is jy so kalm?” Ben glimlag en sê: “Want ek ken hierdie vlieënier baie goed. Dit is my pa!” Toe sê Ben: “Kom ek vertel jou van my pa. Ek is seker dat jy ook so kalm sal wees as jy my pa leer ken en weet hoe goed hy ’n vliegtuig kan vlieg.”

11. Watter lesse kan ons leer uit die voorbeeld van die twee passasiers?

11 Watter lesse kan ons leer uit hierdie voorbeeld? Net soos Ben is ons ook kalm omdat ons ons hemelse Vader, Jehovah, baie goed ken. Ons weet dat hy ons sal help om deur die stormagtige probleme gedurende hierdie laaste dae te kom (Jes. 35:4). Ons vertrou op Jehovah, en daarom kan ons kalm bly terwyl die res van die wêreld angstig is (Jes. 30:15). Ons tree ook soos Ben op wanneer ons vir ander verduidelik hoekom ons God vertrou. Dan sal hulle ook die vertroue hê dat Jehovah hulle sal help, maak nie saak watter probleme hulle het nie.

“EK SAL JOU VERSTERK [EN] HELP”

12. (a) Wat is die derde versekering wat ons gaan bespreek? (b) Die verwysing na Jehovah se “arm” herinner ons aan watter feit?

12 Kyk na die derde versekering wat Jesaja neergeskryf het: “Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help.” Jesaja het alreeds beskryf hoe Jehovah sy volk sou versterk toe hy gesê het: “Jehovah sal kom as ’n sterke, en sy arm sal vir hom heers” (Jes. 40:10). In die Bybel verwys die woord “arm” dikwels na mag. Daarom herinner die woorde “sy arm sal . . . heers” ons aan die feit dat Jehovah ’n magtige Koning is. Hy het sy mag gebruik om sy knegte in die verlede te help en te beskerm, en vandag versterk en beskerm hy nog steeds diegene wat geloof in hom het. – Deut. 1:30, 31; Jes. 43:10.

Geen wapen sal suksesvol wees teen Jehovah se sterk arm van beskerming nie (Sien paragraaf 12-16) *

13. (a) Veral wanneer versterk Jehovah ons? (b) Watter belofte versterk ons en gee ons vertroue?

13 Veral wanneer hou Jehovah sy belofte: “Ek sal jou versterk”? Wanneer vyande ons vervolg. In party dele van die wêreld probeer ons vyande hard om ons predikingswerk stop te sit of om ons organisasie te verban. Maar sulke aanvalle maak ons nie baie angstig nie. Jehovah het ’n belofte aan ons gemaak wat ons vertroue gee en ons versterk. Hy belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie” (Jes. 54:17). Hierdie woorde herinner ons aan drie belangrike feite.

14. Hoekom verbaas dit ons nie dat vyande van God ons aanval nie?

14 Eerstens, as Christus se volgelinge, verwag ons dat mense ons sal haat (Matt. 10:22). Jesus het gesê dat sy dissipels in die laaste dae wreed vervolg sal word (Matt. 24:9; Joh. 15:20). Tweedens, Jesaja se profesie waarsku ons dat ons vyande ons nie net sal haat nie, maar dat hulle verskillende wapens teen ons sal gebruik. Hierdie wapens sluit subtiele en blatante leuens in, asook wrede vervolging (Matt. 5:11). Jehovah gaan nie keer dat ons vyande hierdie wapens teen ons gebruik nie (Ef. 6:12; Op. 12:17). Maar ons hoef nie bang te wees nie. Hoekom nie?

15-16. (a) Wat is die derde feit wat ons moet onthou, en hoe bevestig Jesaja 25:4, 5 dit? (b) Wat sê Jesaja 41:11, 12 sal met diegene gebeur wat teen ons veg?

15 Kyk na die derde feit wat ons moet onthou. Jehovah het gesê dat “geen wapen” wat teen ons gebruik word “enige sukses” sal hê nie. Net soos ’n muur ons teen ’n verwoestende reënstorm beskerm, beskerm Jehovah ons teen “die geblaas van die tiranne”. (Lees Jesaja 25:4, 5.) Ons vyande sal dit nooit regkry om ons enige permanente skade aan te doen nie. – Jes. 65:17.

16 Jehovah versterk ook ons vertroue in hom deur in detail te beskryf wat met diegene gaan gebeur wat “driftig raak” teenoor ons. (Lees Jesaja 41:11, 12.) Dit maak nie saak hoe hard ons vyande teen ons veg of hoe intens die oorlog word nie, die resultaat is dieselfde: Alle vyande van God se volk “sal soos niks word en sal vergaan”.

HOE ONS ONS VERTROUE IN JEHOVAH KAN VERGROOT

Ons kan ons vertroue in Jehovah vergroot deur gereeld van hom in die Bybel te lees (Sien paragraaf 17-18) *

17-18. (a) Hoe kan Bybellees ons vertroue in God vergroot? Gee ’n voorbeeld. (b) Hoe help dit ons om na te dink oor die jaarteks vir 2019?

17 Wanneer ons Jehovah beter leer ken, vergroot dit ons vertroue in hom. Die enigste manier hoe ons God beter kan leer ken, is deur die Bybel te lees en om daaroor na te dink. In die Bybel is daar betroubare verslae van hoe Jehovah sy volk in die verlede beskerm het. Hierdie verslae gee ons die vertroue dat hy ook vir ons sal sorg.

18 Dink aan die pragtige manier waarop Jesaja beskryf hoe Jehovah ons beskerm. Hy beskryf Jehovah as ’n herder en God se knegte as lammers. Jesaja sê die volgende oor Jehovah: “Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra” (Jes. 40:11). Hierdie beskrywing van hoe Jehovah ons in sy sterk arms vashou, laat ons veilig en kalm voel. Om ons te help om kalm te bly ten spyte van die probleme wat ons deurmaak, het die getroue en verstandige slaaf Jesaja 41:10 as ons jaarteks vir 2019 gekies: Moenie angstig wees nie, want ek is jou God. Dink na oor hierdie aanmoedigende woorde. Dit sal jou versterk vir enige uitdagings wat jy in die toekoms sal deurmaak.

LIED 38 Hy maak jou sterk

^ par. 5 Die jaarteks vir 2019 gee vir ons drie redes hoekom ons kalm kan bly selfs wanneer slegte dinge in die wêreld of met ons gebeur. Ons gaan hierdie redes in die artikel bespreek. Dit gaan ons help om minder angstig te wees en om meer op Jehovah te vertrou. Dink na oor die jaarteks. Probeer om dit te onthou as jy kan. Dit sal jou versterk vir die probleme wat jy in die toekoms gaan ondervind.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: ’n Versekering is ’n belofte dat iets definitief sal gebeur. Die versekeringe wat Jehovah ons gee, kan ons help om minder bekommerd te wees oor die probleme wat ons dalk in ons lewe sal ondervind.

^ par. 4 Die woorde “Moenie bang wees nie” word drie keer in Jesaja 41:10, 13 en 14 genoem. In dieselfde verse word die woord “ek” (wat na Jehovah verwys) ’n hele paar keer gebruik. Hoekom het Jehovah Jesaja geïnspireer om die woord “ek” so baie te gebruik? Om ’n belangrike punt te beklemtoon – slegs vertroue op Jehovah kan ons help om nie meer bang te wees nie.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENTE: Familielede het probleme by die werk, met hulle gesondheid, in die bediening en by die skool.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENTE: Die polisie onderbreek ’n vergadering wat in ’n huis gehou word, maar die broers en susters bly kalm.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENTE: Gereelde Gesinsaanbidding help ons om te volhard.