Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

Wat ons bywoning van vergaderinge oor ons sê

Wat ons bywoning van vergaderinge oor ons sê

“Hou . . . aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom.” – 1 KOR. 11:26.

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat sien Jehovah wanneer miljoene mense vir die Here se Aandmaal bymekaarkom? (Sien prent op voorblad.) (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

WAT sien Jehovah wanneer miljoene mense regoor die wêreld vir die Here se Aandmaal bymekaarkom? Hy sien nie net ’n groot groep mense nie. Hy sien elke persoon wat dit bywoon. Hy sien dié wat dit elke jaar getrou bywoon. Party word verskriklik vervolg, maar hulle kom nog steeds. Ander woon nie die vergaderinge gereeld by nie, maar hulle beskou dit as ’n heilige plig om die Gedenkmaal by te woon. Jehovah sien ook dié wat die Gedenkmaal vir die eerste keer bywoon, dalk uit nuuskierigheid.

2 Dit maak Jehovah natuurlik baie bly om te sien dat so baie mense die Gedenkmaal bywoon (Luk. 22:19). Maar wat vir Jehovah saak maak, is nie hoeveel mense dit bywoon nie, maar waarom hulle dit bywoon. In hierdie artikel sal ons ’n baie belangrike vraag bespreek: Hoekom woon ons nie net die Gedenkmaal by nie, maar ook die weeklikse vergaderinge wat Jehovah voorsien vir dié wat hom liefhet?

Miljoene mense regoor die wêreld is welkom om die Here se Aandmaal by te woon (Sien paragraaf 1-2)

NEDERIGHEID BEWEEG ONS OM DIT BY TE WOON

3-4. (a) Hoekom woon ons vergaderinge by? (b) Wat sê ons bywoning van vergaderinge oor ons? (c) Hoekom moet ons volgens 1 Korintiërs 11:23-26 seker maak dat ons die Gedenkmaal bywoon?

3 Die hoofrede waarom ons gemeentelike vergaderinge bywoon, is dat dit deel is van ons aanbidding. Nog ’n rede is dat ons by die vergaderinge deur Jehovah geleer word. Trotse mense hou nie van die idee dat iemand hulle iets moet leer nie (3 Joh. 9). Maar ons is anders. Ons wil geleer word deur Jehovah en deur die organisasie wat hy gebruik. – Jes. 30:20; Joh. 6:45.

4 Wanneer ons vergaderinge bywoon, wys dit dat ons nederig is – dat ons gereed en gewillig is om te leer. Die Herdenking van Jesus se dood is ’n belangrike geleentheid, maar ons woon dit nie net by omdat ons verplig voel om dit te doen nie, maar uit nederige gehoorsaamheid aan Jesus se bevel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” (Lees 1 Korintiërs 11:23-26.) Hierdie vergadering versterk ons hoop vir die toekoms en herinner ons aan hoe lief Jehovah vir ons is. Maar Jehovah weet dat ons meer as een keer per jaar aangemoedig en versterk moet word. Daarom gee hy elke week vir ons vergaderinge en spoor hy ons aan om dit by te woon. Nederigheid beweeg ons om gehoorsaam te wees. Elke week gebruik ons ’n paar uur om vir hierdie vergaderinge voor te berei en dit by te woon.

5. Hoekom reageer nederige mense op Jehovah se uitnodiging?

5 Elke jaar aanvaar talle nederige mense Jehovah se uitnodiging om deur hom geleer te word (Jes. 50:4). Hulle geniet dit om die Gedenkmaal by te woon, en hulle begin ook om die ander vergaderinge by te woon (Sag. 8:20-23). Saam geniet ons dit om geleer en gelei te word deur Jehovah, die Een wat ons help en red (Ps. 40:17). En wat kan ons meer vreugde gee – of belangriker wees – as om ’n uitnodiging te aanvaar om geleer te word deur Jehovah en deur Jesus, die Seun vir wie hy so lief is? – Matt. 17:5; 18:20; 28:20.

6. Hoe het nederigheid een man beweeg om die Gedenkmaal by te woon?

6 Elke jaar probeer ons om soveel mense as moontlik te nooi om die Herdenking van Jesus se dood by te woon. Talle nederige mense het al ons uitnodiging aanvaar en daarby baat gevind. Kyk na ’n voorbeeld. ’n Paar jaar gelede het ’n man ’n uitnodiging na die Gedenkmaal ontvang. Hy het vir die broer wat dit vir hom gegee het, gesê dat hy dit nie sal kan bywoon nie. Maar op die aand van die Gedenkmaal was die broer verbaas toe die man by die Koninkryksaal instap. Die man was so beïndruk deur die manier waarop hy verwelkom is dat hy ons weeklikse vergaderinge begin bywoon het. Gedurende die volgende jaar was daar net drie vergaderinge wat hy nie bygewoon het nie. Wat het hom beweeg om so te reageer? Sy nederigheid. Die broer wat hom genooi het, het later gesê: “Hy is ’n baie nederige man.” Jehovah het hierdie man ongetwyfeld getrek om Hom te aanbid, en hy is nou ’n gedoopte broer. – 2 Sam. 22:28; Joh. 6:44.

7. Hoe kan die dinge wat ons by die vergaderinge leer en in die Bybel lees, ons help om nederig te wees?

7 Die dinge wat ons by die vergaderinge leer en in die Bybel lees, kan ons help om nederig te wees. Gedurende die weke voor die Gedenkmaal word Jesus se voorbeeld dikwels by ons vergaderinge bespreek, asook die nederigheid wat hy getoon het deur sy lewe as ’n losprys te gee. En gedurende die dae voor die Gedenkmaal word ons aangespoor om Bybelverslae te lees wat handel oor die gebeure voor en ná Jesus se dood en opstanding. Die dinge wat ons by sulke vergaderinge leer en wat ons in daardie Bybelverslae lees, help ons om Jesus se offerande meer te waardeer. Dit beweeg ons om sy nederige gesindheid na te volg en om Jehovah se wil te doen, selfs wanneer dit vir ons moeilik is. – Luk. 22:41, 42.

MOED HELP ONS OM DIT BY TE WOON

8. Hoe het Jesus moed getoon?

8 Ons probeer ook om Jesus se voorbeeld van moed na te volg. Dink aan hoe moedig hy was gedurende die dae voor sy dood. Hy het geweet dat sy vyande hom binnekort sou verneder, sou slaan en sou doodmaak (Matt. 20:17-19). Tog het hy sy lewe gewillig opgeoffer. Toe die tyd aanbreek dat hy aan sy vyande oorgelewer sou word, het hy vir sy getroue apostels, wat saam met hom in Getsemane was, gesê: “Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier het naby gekom” (Matt. 26:36, 46). En toe die gewapende skare kom om hom in hegtenis te neem, het hy vorentoe getree, homself geïdentifiseer en die soldate beveel om sy apostels te laat gaan (Joh. 18:3-8). Jesus was beslis ’n uitstekende voorbeeld van moed! Vandag doen gesalfde Christene en die ander skape hulle bes om Jesus se voorbeeld van moed na te volg. Hoe?

Wanneer jy Christelike vergaderinge moedig bywoon, versterk dit ander (Sien paragraaf 9) *

9. (a) Hoekom sal ons dalk moed nodig hê om vergaderinge gereeld by te woon? (b) Hoe kan ons voorbeeld ons broers help wat weens hulle geloof in die tronk is?

9 Wanneer ons moeilike omstandighede ondervind, kan dit moed verg om vergaderinge gereeld by te woon. Party van ons broers en susters woon vergaderinge by ten spyte van hartseer, ontmoediging of gesondheidsprobleme. Ander woon vergaderinge moedig by ten spyte van groot teenstand van familielede of van die regering. Maar dink net aan watter uitwerking ons voorbeeld het op ons broers wat weens hulle geloof in die tronk is (Heb. 13:3). Wanneer hulle hoor dat ons aanhou om Jehovah te dien ten spyte van ons probleme, maak dit hulle meer vasbeslote om hulle geloof, moed en lojaliteit te behou. Die apostel Paulus het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Toe hy in Rome in die tronk was, het dit hom groot vreugde gegee wanneer hy gehoor het dat sy broers God getrou dien (Fil. 1:3-5, 12-14). Net voordat of net nadat Paulus vrygelaat is, het hy sy brief aan die Hebreërs geskryf. In daardie brief het hy getroue Christene aangespoor om hulle ‘broederliefde te laat voortduur’ en om nooit hulle vergaderinge na te laat nie. – Heb. 10:24, 25; 13:1.

10-11. (a) Wie moet ons na die Gedenkmaal toe nooi? (b) Watter rede vind ons in Efesiërs 1:7 om dit te doen?

10 Ons wys dat ons moedig is wanneer ons familielede, werksmaats en ons bure na die Gedenkmaal toe nooi. Hoekom nooi ons hulle? Ons opregte dankbaarheid vir wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het, beweeg ons om ander na die Gedenkmaal toe te nooi. Ons wil hê dat hulle ook moet leer hoe hulle deur middel van die losprys by Jehovah se “onverdiende goedhartigheid” kan baat vind. – Lees Efesiërs 1:7; Op. 22:17.

11 Wanneer ons wys dat ons moedig is deur saam te vergader, weerspieël ons nog ’n kosbare eienskap wat God sowel as sy Seun op wonderlike maniere openbaar.

LIEFDE BEWEEG ONS OM DIT BY TE WOON

12. (a) Hoe versterk vergaderinge ons liefde vir Jehovah en Jesus? (b) Hoe spoor 2 Korintiërs 5:14, 15 ons aan om Jesus na te volg?

12 Ons liefde vir Jehovah en Jesus beweeg ons om vergaderinge by te woon. En die dinge wat ons by die vergaderinge leer, versterk ons liefde vir Jehovah en sy Seun. By die vergaderinge word ons gereeld herinner aan wat hulle vir ons gedoen het (Rom. 5:8). Veral by die Gedenkmaal word ons herinner aan hoe groot hulle liefde is, selfs vir mense wat nog nie waardering vir die losprys het nie. Uit dankbaarheid probeer ons om Jesus se voorbeeld in ons daaglikse lewe na te volg. (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.) En ons hart motiveer ons om Jehovah te loof omdat hy die losprys voorsien het. Een manier waarop ons hom kan loof, is deur uit die hart kommentaar te lewer by ons vergaderinge.

13. Hoe kan ons wys dat ons baie lief is vir Jehovah en sy Seun? Verduidelik.

13 Ons kan wys dat ons baie lief is vir Jehovah en vir sy Seun deur gewillig te wees om opofferings vir hulle te maak. Dikwels moet ons verskillende soorte opofferings maak om ons vergaderinge by te woon. Baie gemeentes het ’n vergadering aan die einde van ’n werksdag wanneer ons heel moontlik moeg is. En ’n ander vergadering word oor die naweek gehou wanneer ander mense rus. Sien Jehovah dat ons vergaderinge bywoon hoewel ons moeg is? Beslis! Om die waarheid te sê, hoe groter ons stryd is, hoe meer waardeer Jehovah die liefde wat ons vir hom toon. – Mark. 12:41-44.

14. Hoe was Jesus ’n uitstekende voorbeeld van selfopofferende liefde?

14 Jesus was ’n uitstekende voorbeeld van selfopofferende liefde. Hy was nie net gewillig om vir sy dissipels te sterf nie, maar ook om hulle belange elke dag bo sy eie te stel. Byvoorbeeld, selfs wanneer hy fisies moeg of emosioneel uitgeput was, het hy tyd gemaak vir sy volgelinge (Luk. 22:39-46). En hy het gefokus op wat hy ander kon gee, nie op wat hy van hulle kon kry nie (Matt. 20:28). As ons liefde vir Jehovah en vir ons broers so sterk is, sal ons alles doen wat ons kan om die Here se Aandmaal sowel as al die ander vergaderinge by te woon.

15. Aan wie wil ons veral hulp verleen?

15 Ons is deel van die enigste ware Christenbroederskap, en ons geniet dit om soveel tyd as moontlik daaraan te bestee om nuwelinge te nooi om by ons aan te sluit. Maar ons wil veral hulp verleen aan dié wat “in die geloof aan ons verwant is”, maar wat onbedrywig geword het (Gal. 6:10). Ons bewys dat ons vir hulle lief is deur hulle aan te moedig om ons vergaderinge, veral die Gedenkmaal, by te woon. Net soos Jehovah en Jesus, is ons baie bly wanneer iemand wat onbedrywig was, terugkeer na Jehovah, ons liefdevolle Vader en Herder. – Matt. 18:14.

16. (a) Hoe kan ons mekaar aanmoedig, en wat sal ons vergaderinge vir ons doen? (b) Hoekom is dit goed om hierdie tyd van die jaar na te dink oor Jesus se woorde in Johannes 3:16?

16 In die weke wat kom, wil ons soveel mense as moontlik nooi om die Gedenkmaal op Vrydagaand 19 April 2019 by te woon. (Sien die venster “ Sal jy hulle uitnooi?”) Mag ons mekaar dwarsdeur die komende jaar aanmoedig deur al die vergaderinge wat Jehovah voorsien, gereeld by te woon. Omdat die einde van hierdie stelsel al hoe nader kom, het ons die vergaderinge nodig om ons te help om nederig, moedig en liefdevol te bly (1 Tess. 5:8-11). Laat ons met ons hele hart vir Jehovah en sy Seun wys hoe dankbaar ons is vir al die liefde wat hulle aan ons betoon het! – Lees Johannes 3:16.

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

^ par. 5 Op Vrydagaand 19 April 2019 sal ons Christus se dood herdenk. Dit sal die belangrikste vergadering van die hele jaar wees. Wat beweeg ons om dit by te woon? Ons wil dit doen omdat ons Jehovah se hart wil bly maak. In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons bywoning van die Gedenkmaal en ons bywoning van ons weeklikse vergaderinge oor ons sê.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer wat weens sy geloof in die tronk is, word aangemoedig deur ’n brief van die huis af. Hy weet dat hy nie vergeet word nie, en hy is bly om te hoor dat sy gesin ook getrou aan Jehovah bly ten spyte van burgerlike onrus in hulle omgewing.