Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

Wat ’n eenvoudige geleentheid ons oor ’n hemelse Koning leer

Wat ’n eenvoudige geleentheid ons oor ’n hemelse Koning leer

“Dit beteken my liggaam. . . . Dit beteken my ‘bloed van die verbond.’” – MATT. 26:26-28.

LIED 16 Loof Jah vir sy Seun, die Gesalfde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom kan ons verwag dat Jesus ons ’n eenvoudige manier sal gee om sy dood te herdenk? (b) Watter eienskappe van Jesus gaan ons bespreek?

KAN jy beskryf wat by die jaarlikse Herdenking van Christus se dood gebeur? Die meeste van ons kan sekerlik onthou wat by die Here se Aandmaal gebeur. Hoekom? Omdat hierdie geleentheid so eenvoudig is. Maar dit is tog ’n belangrike geleentheid. Daarom wonder ons dalk: ‘Hoekom is hierdie geleentheid so eenvoudig?’

2 Gedurende Jesus se aardse bediening was hy daarvoor bekend dat hy belangrike waarhede op ’n manier geleer het wat eenvoudig, duidelik en maklik was om te verstaan (Matt. 7:28, 29). Net so het hy vir ons ’n eenvoudige maar betekenisvolle manier gegee om sy dood te herdenk. * Kom ons bespreek hierdie Gedenkmaal en party van die dinge wat Jesus gesê en gedoen het. Dit sal ons help om te waardeer hoe nederig, moedig en liefdevol Jesus regtig is, en ons sal leer hoe ons hom beter kan navolg.

JESUS IS NEDERIG

Die brood en wyn wat tydens die Gedenkmaal gebruik word, herinner ons daaraan dat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het en dat hy nou as Koning in die hemel regeer (Sien paragraaf 3-5)

3. Volgens Matteus 26:26-28, hoe eenvoudig was die Gedenkmaal wat Jesus ingestel het, en wat het die twee basiese items gesimboliseer?

3 Jesus was saam met sy 11 getroue apostels toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het. Ná die Pasgamaaltyd het hy dit wat oorgebly het, gebruik om hierdie eenvoudige herdenking in te stel. (Lees Matteus 26:26-28.) Hy het net die ongesuurde brood en die wyn wat alreeds daar was, gebruik. Jesus het vir sy apostels gesê dat hierdie twee basiese items sy volmaakte liggaam en bloed simboliseer, wat hy binnekort namens hulle sou opoffer. Sy apostels was seker nie verbaas oor hoe eenvoudig hierdie belangrike nuwe geleentheid was nie. Hoekom nie?

4. Hoe help die raad wat Jesus vroeër vir Marta gegee het ons om te verstaan hoekom Jesus seker gemaak het dat die ete vir die Gedenkmaal eenvoudig was?

4 Dink aan wat maande vroeër gebeur het, gedurende die derde jaar van Jesus se bediening, toe hy by sy goeie vriende Lasarus, Marta en Maria gekuier het. In daardie ontspanne atmosfeer het Jesus hulle begin leer. Marta was daar, maar haar aandag was afgelei omdat sy ’n groot ete vir haar eregas voorberei het. Jesus het dit gesien en het vir Marta liefdevol raad gegee. Hy het vir haar gesê dat dit nie altyd nodig is om ’n groot ete voor te berei nie (Luk. 10:40-42). Net ’n paar uur voor Jesus se offerdood het hy sy eie raad toegepas. Hy het seker gemaak dat die ete vir die Gedenkmaal eenvoudig was. Wat leer dit ons oor Jesus?

5. Wat leer hierdie eenvoudige herdenking ons oor Jesus, en hoe stem dit ooreen met Filippense 2:5-8?

5 Alles wat Jesus gesê en gedoen het, wys dat hy nederig is. Daarom verbaas dit ons nie dat hy op die laaste aand van sy lewe op die aarde baie nederig was nie (Matt. 11:29). Hy het geweet dat hy binnekort die grootste opoffering ooit sou maak en dat Jehovah hom sou opwek om as Koning in die hemel te regeer. Maar tog het hy nie die aandag op homself gevestig deur te vra dat sy dood op ’n ingewikkelde manier herdenk word nie. Hy het eerder vir sy dissipels gesê dat hulle een keer ’n jaar hom moet onthou deur middel van hierdie eenvoudige herdenking (Joh. 13:15; 1 Kor. 11:23-25). Hierdie eenvoudige maar gepaste geleentheid wys dat Jesus nie ’n trotse persoon was nie. Is ons nie bly dat nederigheid een van ons hemelse Koning se uitsonderlike eienskappe is nie? – Lees Filippense 2:5-8.

6. Hoe kan ons Jesus se nederigheid navolg wanneer ons deur moeilike tye gaan?

6 Hoe kan ons Jesus se nederigheid navolg? Deur ander se belange bo ons eie te stel (Fil. 2:3, 4). Dink terug aan die laaste aand van Jesus se lewe op die aarde. Jesus het geweet dat hy binnekort ’n pynlike dood sou sterf. Tog was hy meer bekommerd oor sy getroue apostels, wat baie hartseer sou wees oor sy dood. Daarom het hy sy laaste aand gebruik om hulle te onderrig, aan te moedig en gerus te stel (Joh. 14:25-31). Jesus was nederig en was meer bekommerd oor ander as oor homself. Hy het vir ons ’n uitstekende voorbeeld gestel!

JESUS IS MOEDIG

7. Hoe het Jesus kort nadat hy die Here se Aandmaal ingestel het, gewys dat hy baie moedig is?

7 Kort nadat Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy gewys dat hy baie moedig is. Hoe het hy dit gedoen? Jesus het sy Vader se wil vir hom aanvaar, al het dit beteken dat hy tereggestel sou word vir godslastering, ’n skandelike misdaad (Matt. 26:65, 66; Luk. 22:41, 42). Jesus het tot die dood gehoorsaam gebly om Jehovah se naam te eer, Sy soewereiniteit te verdedig en om dit vir berouvolle mense moontlik te maak om vir ewig te lewe. Op dieselfde tyd het Jesus sy volgelinge voorberei vir wat hulle sou moes deurmaak.

8. (a) Wat het Jesus vir sy getroue apostels gesê? (b) Hoe het Jesus se dissipels in die jare ná sy dood gewys dat hulle moedig was soos Jesus?

8 Jesus het op nog ’n manier gewys dat hy moedig is. Hy het nie aan sy eie bekommernisse gedink nie, maar eerder gefokus op wat sy apostels nodig gehad het. Hierdie eenvoudige herdenking, wat hy ingestel het nadat hy Judas uitgestuur het, sou diegene wat sy gesalfde volgelinge sou word herinner aan die voordele van die bloed wat Jesus uitgestort het en om deel te wees van die nuwe verbond (1 Kor. 10:16, 17). Om hulle te help om getrou te bly en saam met Jesus in die hemel te wees, het Jesus vir sy volgelinge gesê wat hy en sy Vader van hulle verwag het (Joh. 15:12-15). Jesus het ook vir sy apostels vertel van die moeilike tye wat hulle sou moes deurmaak. Toe het hy hulle aangespoor om sy voorbeeld na te volg en ‘moed te skep’ (Joh. 16:1-4a, 33). Jare later was Jesus se volgelinge nog steeds moedig en besig om sy selfopofferende voorbeeld na te volg. Al het dit beteken dat hulle groot opofferings moes maak, het hulle mekaar gedurende moeilike tye ondersteun. – Heb. 10:33, 34.

9. Hoe kan ons net soos Jesus moedig wees?

9 Vandag volg ons ook Jesus se voorbeeld van moed na. Ons moet byvoorbeeld moedig wees om ons broers te help wat as gevolg van hulle geloof vervolg word. Ons broers word soms onregverdig tronk toe gestuur. As dit gebeur, moet ons alles moontlik doen om hulle te help, insluitende om hulle te verdedig (Fil. 1:14; Heb. 13:19). Nog ’n manier hoe ons wys dat ons moedig is, is deur aan te hou om “met vrymoedigheid” te preek (Hand. 14:3). Net soos Jesus is ons vasbeslote om die Koninkryksboodskap te verkondig, al word ons vervolg of teëgestaan. Maar soms voel ons dalk dat ons te min moed het. Wat kan ons doen?

10. Wat moet ons in die weke voor die Gedenkmaal doen, en hoekom?

10 Ons kan meer moed kry deur na te dink oor die hoop wat Christus se losprysoffer vir ons moontlik maak (Joh. 3:16; Ef. 1:7). In die weke voor die Gedenkmaal het ons ’n spesiale geleentheid om ons waardering vir die losprys op te bou. Ons kan dit doen deur die Bybellees vir die Gedenkmaal te volg en deur te bid en na te dink oor die gebeurtenisse rondom Jesus se dood. Dan wanneer ons vir die Gedenkmaal bymekaar kom, sal ons die betekenis van die Gedenkmaalembleme en die unieke offerande wat dit simboliseer beter verstaan. Wanneer ons waardeer wat Jesus en Jehovah vir ons gedoen het en hoe ons en ons geliefdes daarby baat vind, versterk dit ons hoop en word ons gemotiveer om moedig te wees en tot die einde toe te volhard. – Heb. 12:3.

11-12. Wat het ons tot dusver geleer?

11 Tot dusver het ons geleer dat die Here se Aandmaal ons nie net herinner aan die kosbare losprys nie, maar ook aan Jesus se nederigheid en moed. Ons is so dankbaar dat Jesus, ons hemelse Hoëpriester, nog steeds hierdie eienskappe betoon en dat hy namens ons by Jehovah pleit sodat ons gered kan word! (Heb. 7:24, 25). Om te wys dat ons baie dankbaar is, moet ons getrou Jesus se dood herdenk, net soos hy beveel het (Luk. 22:19, 20). Ons doen dit op die dag wat met Nisan 14 ooreenstem, die belangrikste dag van die jaar.

12 Die eenvoudige manier waarop die Here se Aandmaal gehou word, leer ons meer oor nog ’n eienskap wat Jesus beweeg het om vir ons te sterf. Hy was bekend vir hierdie eienskap toe hy op die aarde was. Wat is dit?

JESUS IS LIEFDEVOL

13. Hoe word die liefde wat Jehovah en Jesus getoon het in Johannes 15:9 en 1 Johannes 4:8-10 beskryf, en wie vind by hulle liefde baat?

13 Jesus het Jehovah se intense liefde vir ons volmaak weerspieël in alles wat hy gedoen het. (Lees Johannes 15:9; 1 Johannes 4:8-10.) Sy liefde het hom beweeg om sy lewe namens ons op te offer. Of ons nou van die gesalfdes of van die “ander skape” is, ons almal vind baat by die liefde wat Jehovah en sy Seun deur middel van die losprys vir ons getoon het (Joh. 10:16; 1 Joh. 2:2). Dink ook aan die items wat by die Gedenkmaal gebruik word. Dit wys dat Jesus lief is vir sy dissipels en hulle omstandighede in ag neem. Hoe so?

Jesus het liefdevol ’n Herdenking ingestel wat eenvoudig is en wat oor die jare onder moeilike omstandighede gehou kon word (Sien paragraaf 14-16) *

14. Hoe het Jesus gewys dat hy lief is vir sy dissipels?

14 Jesus het gewys dat hy lief is vir sy gesalfde volgelinge deur ’n eenvoudige manier in te stel waarop hulle sy dood moet herdenk. Met verloop van tyd moes daardie gesalfde dissipels die Gedenkmaal elke jaar hou en dit onder moeilike omstandighede doen, insluitende in die tronk (Op. 2:10). Was dit vir hulle moontlik om aan Jesus gehoorsaam te bly? Ja, dit was!

15-16. Hoe het party onder moeilike omstandighede die Here se Aandmaal herdenk?

15 Vanaf die eerste eeu tot nou toe het Christene probeer om Jesus se dood te herdenk. Hulle het tot die beste van hulle vermoë die Here se Aandmaal herdenk, soms onder moeilike omstandighede. Kyk na die volgende voorbeelde. Terwyl broer Harold King alleen in ’n tronksel in China was, moes hy aan ’n manier dink om die Gedenkmaal te hou. Hy het die embleme vir die Gedenkmaal voorberei met die dinge wat hy gehad het, sonder dat enigiemand hom gesien het. Hy het ook die datum vir die Gedenkmaal so noukeurig bereken as wat hy kon. Op die aand van die Gedenkmaal het hy – alleen in sy sel – gesing, gebid en ’n skriftuurlike toespraak gehou.

16 Hier is nog ’n voorbeeld. ’n Groep susters wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in ’n konsentrasiekamp opgesluit was, het hulle lewe in gevaar gestel om die Here se Aandmaal te herdenk. Maar omdat die items vir die Gedenkmaal so eenvoudig is, kon hulle dit hou sonder dat enigiemand hulle sien. Hulle het gesê: “Ons het styf teen mekaar in ’n sirkel om ’n voetbankie gestaan waaroor ’n wit doek met die embleme op was. ’n Kers het die kamer verlig omdat ’n elektriese lig kon veroorsaak het dat iemand ons sien. . . . Ons het weer eens ons innige belofte aan ons Vader gemaak om ons krag ten volle te gebruik om Sy heilige naam te regverdig.” Hulle het beslis sterk geloof gehad! Jesus het gewys dat hy baie lief is vir ons toe hy dit vir ons moontlik gemaak het om die Gedenkmaal selfs onder moeilike omstandighede te hou!

17. Watter vrae kan ons ons afvra?

17 Voor die Gedenkmaal kan ons ons die volgende vrae afvra: ‘Hoe kan ek Jesus se voorbeeld van liefde beter navolg? Dink ek aan my broers en susters se behoeftes, of is ek meer bekommerd oor myself? Verwag ek te veel van my broers en susters, of is ek bewus van hulle beperkings?’ Kom ons volg Jesus se voorbeeld na deur “meegevoel” te betoon. – 1 Pet. 3:8.

VOLG JESUS SE NEDERIGHEID, MOED EN LIEFDE NA

18-19. (a) Waarvan kan ons seker wees? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Ons gaan nie meer vir lank Christus se dood herdenk nie. Wanneer Jesus gedurende die groot verdrukking “kom”, sal hy die oorblywende “uitverkorenes” hemel toe neem, en dan sal ons nie meer die Gedenkmaal hou nie. – 1 Kor. 11:26; Matt. 24:31.

19 Selfs nadat die Gedenkmaal nie meer gehou sal word nie, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah se knegte hierdie eenvoudige geleentheid sal onthou as ’n simbool van die grootste nederigheid, moed en liefde wat nog ooit deur ’n mens getoon is. Gedurende daardie tyd sal almal wat hierdie uitsonderlike geleentheid bygewoon het, sekerlik daaroor praat sodat almal daarby kan baat vind. Maar om nou al daarby baat te vind, moet ons vasbeslote wees om Jesus se nederigheid, moed en liefde na te volg. As ons dit doen, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons sal beloon. – 2 Pet. 1:10, 11.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

^ par. 5 Ons sal binnekort die Here se Aandmaal bywoon om die dood van Jesus Christus te herdenk. Hierdie eenvoudige geleentheid leer ons baie oor Jesus se nederigheid, moed en liefde. In hierdie artikel gaan ons kyk hoe ons die wonderlike eienskappe wat hy gewys het, kan navolg.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Wanneer ’n herdenking gehou word, word iets spesiaals gedoen ter ere van ’n belangrike gebeurtenis of persoon.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENTE: Getroue knegte hou die Gedenkmaal in die eerste-eeuse gemeente; in die laat 1800’s; in ’n Nazi-konsentrasiekamp; in ’n beskeie Koninkryksaal met oop kante in ’n land in Suid-Amerika waar dit baie warm is.