Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 4

”Die gees getuig met ons gees”

”Die gees getuig met ons gees”

“Die gees getuig met ons gees dat ons God se kinders is.” – ROM. 8:16.

LIED 25 ’n Spesiale besitting

IN HIERDIE ARTIKEL *

Jehovah het op Pinkster sy heilige gees op ’n buitengewone manier op ’n groep van omtrent 120 Christene uitgestort (Sien paragraaf 1-2)

1-2. Watter buitengewone ding gebeur op Pinkster 33 HJ?

 DIT is Sondagoggend in Jerusalem. Dit is die jaar 33 HJ, en dit is Pinksterdag. ’n Groep van omtrent 120 dissipels kom bymekaar in die bo-kamer van ’n huis (Hand. 1:13-15; 2:1). ’n Paar dae vroeër het Jesus vir hulle gesê om in Jerusalem te bly omdat hulle ’n spesiale geskenk sou ontvang (Hand. 1:4, 5). Wat gebeur volgende?

2 “Skielik [kom] daar ’n geluid uit die hemel . . . wat soos ’n sterk wind [klink]”. Die geluid kan in die hele huis gehoor word. Dan verskyn “tonge soos van vuur” bo die dissipels se koppe, en hulle almal word “met heilige gees gevul” (Hand. 2:2-4, vtn.). Op hierdie buitengewone manier stort Jehovah sy heilige gees op hierdie groep uit (Hand. 1:8). Hulle is die eerste persone wat met heilige gees gesalf * word en die hoop gegee word om saam met Jesus in die hemel te regeer.

WAT GEBEUR WANNEER IEMAND GESALF WORD?

3. Hoekom het dié op Pinksterdag nie getwyfel dat hulle met heilige gees gesalf is nie?

3 As jy een van hierdie dissipels was wat op daardie dag in die bo-kamer bymekaargekom het, sou jy dit nooit vergeet nie. Iets wat soos ’n tong van vuur lyk, rus bo jou kop en jy begin ’n ander taal praat! (Hand. 2:5-12). Jy sou glad nie twyfel dat jy met heilige gees gesalf is nie. Maar word almal wat met heilige gees gesalf word op dieselfde buitengewone manier en op dieselfde tyd in hulle lewe gesalf? Nee. Hoe weet ons dit?

4. Is alle gesalfdes in die eerste eeu op dieselfde tyd in hulle lewe gesalf? Verduidelik.

4 Kom ons bespreek wanneer ’n persoon gesalf word. Daardie groep van omtrent 120 Christene was nie die enigstes wat op Pinkster 33 HJ met heilige gees gesalf is nie. Later daardie dag het omtrent 3 000 ander ook die heilige gees ontvang. Hulle is gesalf toe hulle gedoop is (Hand. 2:37, 38, 41). Maar in die jare daarna is nie alle gesalfde Christene by hulle doop gesalf nie. Die Samaritane is die een of ander tyd ná hulle doop gesalf (Hand. 8:14-17). En in ’n uitsonderlike geval is Kornelius en sy huishouding gesalf selfs voordat hulle gedoop is. – Hand. 10:44-48.

5. Wat gebeur wanneer iemand met heilige gees gesalf word volgens 2 Korintiërs 1:21, 22?

5 Kom ons kyk ook wat gebeur wanneer iemand met heilige gees gesalf word. Party wat gesalf word, vind dit dalk aan die begin moeilik om te aanvaar dat Jehovah hulle gekies het. Hulle wonder dalk: ‘Hoekom het God my gekies?’ Ander voel dalk nie so nie. Wat ook al die geval is, die apostel Paulus het verduidelik wat met dié gebeur wat gesalf is: “Nadat julle begin glo het, is julle deur middel van hom met die beloofde heilige gees verseël *, wat vooraf gegee is as ’n waarborg van ons erfenis” (Ef. 1:13, 14). So Jehovah gebruik sy heilige gees om dit aan hierdie Christene duidelik te maak dat hy hulle gekies het. Op hierdie manier is die heilige gees soos “’n waarborg”, of ’n belofte, wat aan hulle gegee is om hulle te verseker dat hulle in die toekoms vir ewig in die hemel en nie op die aarde sal lewe nie. – Lees 2 Korintiërs 1:21, 22.

6. Wat moet ’n gesalfde Christen doen om sy hemelse beloning te ontvang?

6 Sal ’n Christen wat gesalf is sy hemelse beloning outomaties ontvang? Nee. Hy is seker dat hy gekies is om hemel toe te gaan. Maar hy moet hierdie waarskuwing onthou: “Broers, daarom moet julle julle selfs meer inspan om julle roeping en verkiesing te verseker, want as julle aanhou om hierdie dinge te doen, sal julle beslis nooit misluk nie” (2 Pet. 1:10). So selfs al is ’n gesalfde Christen gekies, of geroep, om hemel toe te gaan, sal hy slegs sy beloning ontvang as hy getrou bly. – Fil. 3:12-14; Heb. 3:1; Op. 2:10.

HOE WEET IEMAND OF HY GESALF IS?

7. Hoe weet gesalfdes of hulle genooi is om hemel toe te gaan?

7 Maar hoe weet ’n persoon of hy of sy genooi is om hemel toe te gaan? Die antwoord word duidelik gesien in Paulus se woorde aan die Romeine wat “geroep is om heiliges te wees”. Hy het vir hulle gesê: “Julle het nie ’n gees ontvang wat julle slawe maak en weer vrees veroorsaak nie, maar deur God se gees is julle as kinders aangeneem, en deur hierdie gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees getuig met ons gees dat ons God se kinders is.” (Rom. 1:7; 8:15, 16). So God gebruik sy heilige gees om dit aan die gesalfdes duidelik te maak dat hulle genooi is om hemel toe te gaan. – 1 Tess. 2:12.

8. Hoe wys 1 Johannes 2:20, 27 vir ons dat gesalfde Christene nie iemand anders nodig het om vir hulle te sê dat hulle gesalf is nie?

8 Jehovah laat geen twyfel in die verstande en harte van dié wat genooi word om hemel toe te gaan nie. (Lees 1 Johannes 2:20, 27.) Gesalfde Christene moet natuurlik deur Jehovah geleer word deur middel van die gemeente net soos enigiemand anders. Maar hulle het nie iemand anders nodig om vir hulle te sê dat hulle gesalf is nie. Jehovah het die sterkste krag in die heelal, sy heilige gees, gebruik om dit baie duidelik aan hulle te maak dat hulle gesalf is!

HULLE IS “WEER GEBORE”

9. Watter verandering ondervind ’n persoon wat gesalf is, soos beskryf word in Efesiërs 1:18?

9 Die meeste van God se knegte vandag vind dit dalk moeilik om te verstaan wat met iemand gebeur wanneer God hom salf. Dit is normaal omdat hulle self nie gesalf is nie. God het die mens gemaak om vir ewig op die aarde te lewe, nie in die hemel nie (Gen. 1:28; Ps. 37:29). Maar Jehovah het party gekies om in die hemel te lewe. So wanneer hy hulle salf, verander hy hulle hoop en die manier waarop hulle dink sodat hulle uitsien na lewe in die hemel. – Lees Efesiërs 1:18.

10. Wat beteken dit om “weer gebore” te word? (Sien ook voetnoot.)

10 Wanneer Christene met heilige gees gesalf word, word hulle “weer gebore”, of “van bo gebore”. * Jesus het ook gewys dat dit onmoontlik is om vir iemand wat nie gesalf is nie, te verduidelik hoe dit voel om “weer gebore”, of “uit die gees gebore” te word. – Joh. 3:3-8; vtn.

11. Verduidelik hoe ’n persoon wat gesalf is, se denke verander.

11 Hoe verander Christene se denke wanneer hulle gesalf is? Voordat Jehovah hierdie Christene gesalf het, het hulle daarna uitgesien om vir ewig op die aarde te lewe. Hulle het uitgesien na die tyd wanneer Jehovah alle goddeloosheid sal verwyder en die aarde ’n paradys sal maak. Miskien het hulle gedink aan hoe hulle ’n familielid of ’n vriend terugverwelkom wat gesterf het. Maar nadat hulle gesalf is, het hulle anders begin dink. Hoe so? Hulle het nie begin dink dat om vir ewig op die aarde te lewe, nie meer goed genoeg is nie. Hulle het nie anders begin voel omdat hulle emosionele stres of probleme ervaar nie. Hulle het nie ewe skielik begin dink dat dit vervelig sou wees om vir ewig op die aarde te lewe nie. Jehovah het eerder sy heilige gees gebruik om die manier waarop hulle dink en die hoop wat hulle het, te verander.

12. Hoe voel gesalfde Christene volgens 1 Petrus 1:3, 4 oor hulle hoop?

12 Iemand wat gesalf is, voel dalk dat hy nie hierdie kosbare voorreg verdien nie. Maar hy twyfel nie vir een sekonde dat Jehovah hom gekies het nie. Sy hart loop oor van vreugde en waardering wanneer hy dink aan sy hoop om in die hemel te lewe. – Lees 1 Petrus 1:3, 4. 

13. Hoe voel gesalfdes oor hulle lewe hier op aarde?

13 So beteken dit dat gesalfdes wil sterf? Die apostel Paulus antwoord hierdie vraag. Hy het hulle liggaam met ’n tent vergelyk en gesê: “Ons wat in hierdie tent is, kreun en kry swaar. Dit is nie asof ons hierdie een wil uittrek nie, maar ons wil die ander een aantrek, sodat die sterflike deur die lewe ingesluk kan word” (2 Kor. 5:4). Dit wil nie sê dat hierdie Christene belangstelling in die lewe verloor het en wil hê dat dit vinnig moet eindig nie. Hulle geniet eintlik die lewe en wil elke dag gebruik om Jehovah met hulle familie en vriende te dien. Maar maak nie saak wat hulle doen nie, hulle hou altyd hulle wonderlike hoop vir die toekoms in gedagte. – 1 Kor. 15:53; 2 Pet. 1:4; 1 Joh. 3:2, 3; Op. 20:6.

HET JEHOVAH JOU GESALF?

14. Watter dinge is nie ’n bewys dat ’n persoon met heilige gees gesalf is nie?

14 Dalk wonder jy of jy met heilige gees gesalf is. Indien wel, dink aan hierdie belangrike vrae: Het jy ’n baie sterk begeerte om Jehovah se wil te doen? Dink jy dat jy baie ywerig in die predikingswerk is? Geniet jy dit om God se Woord te studeer en om oor “die diep dinge van God” te leer? (1 Kor. 2:10). Voel jy dat Jehovah vir jou baie goeie resultate in die predikingswerk gegee het? Voel jy ’n groot verantwoordelikheid om ander te help om oor Jehovah te leer? Het jy bewyse gesien dat Jehovah jou op spesifieke maniere in jou lewe gehelp het? As jy ja op al hierdie vrae kan antwoord, beteken dit dat jy nou genooi is om hemel toe te gaan? Nee. Hoekom nie? Want al God se knegte kan so voel, of hulle gesalf is of nie. En deur middel van Jehovah se heilige gees kan hy dieselfde krag aan enige van sy knegte gee, maak nie saak wat hulle hoop is nie. Om die waarheid te sê, as jy wonder of jy met heilige gees gesalf is, wys dit dat jy nie gesalf is nie. Dié wat deur Jehovah genooi is, wonder nie of hulle gesalf is of nie! Hulle weet!

Jehovah het sy heilige gees gebruik om Abraham, Sara, Dawid en Johannes die Doper die krag te gee om wonderlike dinge te doen, maar hy het nie hierdie gees gebruik om hulle die hoop te gee om in die hemel te lewe nie (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoe weet ons dat nie almal wat God se gees ontvang het, gekies is om hemel toe te gaan nie?

15 Daar is baie voorbeelde in die Bybel van manne van geloof wat heilige gees ontvang het, maar nie die hoop gehad het om in die hemel te lewe nie. Dawid was deur heilige gees gelei (1 Sam. 16:13). Heilige gees het hom gehelp om die diep dinge oor Jehovah te verstaan en het hom ook gerig om dele van die Bybel te skryf (Mark. 12:36). Maar die apostel Petrus het gesê: “Dawid het nie na die hemel opgevaar nie” (Hand. 2:34). Johannes die Doper was “met heilige gees gevul” (Luk. 1:13-16). Jesus het gesê dat daar niemand groter as Johannes is nie, maar toe het hy gesê dat Johannes nie deel sou wees van die hemelse Koninkryk nie (Matt. 11:10, 11). Jehovah het sy heilige gees gebruik om hulle die krag te gee om wonderlike dinge te doen, maar hy het nie hierdie gees gebruik om hulle te kies om in die hemel te lewe nie. Beteken dit dat hulle minder getrou was as dié wat gekies is om in die hemel te regeer? Nee. Dit beteken eenvoudig dat Jehovah hulle sal opwek om in die Paradys op aarde te lewe. – Joh. 5:28, 29; Hand. 24:15.

16. Waarna sien die meeste van God se knegte vandag uit?

16 Die meeste van God se knegte wat op aarde is vandag, het nie die hoop om in die hemel te lewe nie. Net soos Abraham, Sara, Dawid, Johannes die Doper en baie ander manne en vroue in die Bybel, sien hulle uit om op die aarde te lewe wanneer God se Koninkryk oor hulle sal regeer. – Heb. 11:10.

17. Watter vrae sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Omdat daar vandag nog gesalfdes onder God se volk is, is daar dalk vrae waaroor ons wonder (Op. 12:17). Byvoorbeeld, hoe moet gesalfdes hulleself beskou? As iemand in jou gemeente die embleme by die Gedenkmaal begin gebruik, hoe moet jy hierdie persoon behandel? En wat as die hoeveelheid mense wat sê dat hulle gesalf is, al hoe meer word? Moet jy hieroor bekommerd wees? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel beantwoord.

^ par. 5 Vanaf Pinkster 33 HJ het Jehovah party Christene ’n wonderlike hoop gegee – die hoop om saam met sy Seun in die hemel te regeer. Maar hoe weet hierdie Christene dat hulle gekies is vir hierdie wonderlike voorreg? Wat gebeur wanneer iemand hierdie uitnodiging ontvang? Hierdie artikel is gebaseer op ’n artikel in Die Wagtoring van Januarie 2016. Dit sal hierdie interessante vrae beantwoord.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Met heilige gees gesalf. Jehovah gebruik sy heilige gees om ’n persoon te kies om saam met Jesus in die hemel te regeer. God gee deur middel van Sy gees vir daardie persoon ’n belofte, of “’n waarborg”, vir die toekoms (Ef. 1:13, 14). Hierdie Christene kan sê dat die heilige gees met hulle “gees getuig”, of dit aan hulle duidelik maak, dat hulle beloning in die hemel is. – Rom. 8:16.

^ par. 5 WAT DIT BETEKEN: Seël. Hierdie verseëling is nie permanent tot die een of ander tyd voordat die persoon getrou sterf of die een of ander tyd voordat die groot verdrukking begin nie. – Ef. 4:30; Op. 7:2-4; sien “Questions From Readers” in die Engelse Wagtoring van April 2016.

^ par. 10 Vir meer inligting oor wat dit beteken om “weer gebore” te word, sien Die Wagtoring van 1 April 2009, bl. 3-12.

LIED 27 Die openbaring van die seuns van God

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Of ons nou in die tronk is as gevolg van ons geloof of die vryheid het om te preek en ander die waarheid te leer, ons kan daarna uitsien om op die aarde te lewe wanneer God se Koninkryk oor ons sal regeer.