Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 5

Ons sal saam met julle gaan

Ons sal saam met julle gaan

“Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” – SAG. 8:23.

LIED 26 Julle het dit vir my gedoen

IN HIERDIE ARTIKEL *

Die ander skape (“tien manne”) beskou dit as ’n eer om Jehovah saam met die gesalfdes (“’n Jood”) te aanbid (Sien paragraaf 1-2)

1. Wat het Jehovah gesê sal in ons dag gebeur?

 JEHOVAH het oor ons dag gesê: “Tien manne uit al die tale van die nasies [sal] die kleed van ’n Jood vasgryp, ja, hulle sal dit styf vasgryp en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sag. 8:23). Die “Jood” wat hier genoem word, stel dié voor wat deur God met heilige gees gesalf is. Hulle word ook “die Israel van God” genoem (Gal. 6:16). Die “tien manne” stel almal voor wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Hulle weet dat Jehovah hierdie groep gesalfdes gekies het en hulle beskou dit as ’n eer om Hom saam met hulle te aanbid.

2. Hoe gaan die “tien manne” saam met die gesalfdes?

2 Al is dit nie moontlik om te weet wat die name is van al die gesalfdes wat vandag op die aarde is nie, * kan dié wat die hoop het om op die aarde te lewe, saam met die gesalfdes gaan. Hoe? Die Bybel sê dat die “tien manne . . . die kleed van ’n Jood . . . styf [sal] vasgryp en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.’” Hierdie Bybelvers noem een Jood. Maar die woord “julle” verwys na meer as een persoon. Dit beteken dat die Jood nie net een persoon is nie, maar die hele groep gesalfdes verteenwoordig. Dié wat nie gesalfdes is nie, dien Jehovah saam met die gesalfdes. Maar hulle beskou nie die gesalfdes as hulle leiers nie, hulle besef dat Jesus hulle Leier is. – Matt. 23:10.

3. Watter vrae sal ons in hierdie artikel beantwoord?

3 Omdat daar nog gesalfde Christene vandag onder God se volk is, wonder party dalk: (1) Hoe moet gesalfdes hulleself beskou? (2) Hoe moet ons dié behandel wat by die Gedenkmaal van die brood eet en van die wyn drink? (3) Moet ons bekommerd wees as die hoeveelheid mense wat die embleme gebruik, meer word? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord.

HOE MOET GESALFDES HULLESELF BESKOU?

4. Watter waarskuwing in 1 Korintiërs 11:27-29 moet gesalfdes ernstig oor nadink, en hoekom?

4 Gesalfdes moet ernstig nadink oor die waarskuwing in 1 Korintiërs 11:27-29. (Lees.) Hoe kan ’n gesalfde die embleme op ’n “onwaardige manier” by die Gedenkmaal gebruik? Hy doen dit as hy van die embleme eet en drink, maar nie volgens Jehovah se regverdige standaarde lewe nie (Heb. 6:4-6; 10:26-29). Gesalfdes besef dat hulle getrou moet bly as hulle “die prys van God se roeping na die hemel [wil] ontvang, wat hy deur middel van Christus Jesus gee”. – Fil. 3:13-16.

5. Hoe moet gesalfde Christene hulleself beskou?

5 Jehovah se heilige gees help sy knegte om nederig te wees, nie trots nie (Ef. 4:1-3; Kol. 3:10, 12). So gesalfdes dink nie dat hulle beter as ander is nie. Hulle weet dat Jehovah nie noodwendig die gesalfdes meer heilige gees gee as wat hy vir sy ander knegte gee nie. Hulle dink nie dat hulle Bybelwaarhede beter as ander verstaan nie. En hulle sal nooit vir iemand anders sê dat hy ook gesalf is en van die embleme by die Gedenkmaal moet gebruik nie. Hulle erken eerder nederig dat net Jehovah mense nooi om hemel toe te gaan.

6. Hoe moet gesalfde Christene hulleself gedra volgens 1 Korintiërs 4:7, 8?

6 Alhoewel gesalfdes dit as ’n eer beskou om hemel toe te gaan, verwag hulle nie dat ander hulle op ’n spesiale manier moet behandel nie (Fil. 2:2, 3). Hulle weet ook dat toe Jehovah hulle gesalf het, hy nie vir almal daarvan gesê het nie. So ’n gesalfde persoon is nie verbaas as ander nie dadelik glo dat hy gesalf is nie. Hy besef dat die Bybel sê dat ons nie gou moet wees om iemand te glo wat sê dat God hulle ’n spesiale voorreg gegee het nie (Op. 2:2). ’n Gesalfde Christen sal nie vir iemand wat hy die eerste keer ontmoet, sê dat hy gesalf is nie omdat hy nie die aandag op homself wil vestig nie. En hy sal natuurlik nie daaroor spog nie. – Lees 1 Korintiërs 4:7, 8.

7. Wat sal dié wat gesalf is nie doen nie, en hoekom nie?

7 Gesalfde Christene voel nie dat hulle net met ander gesalfdes tyd moet spandeer asof hulle deel is van ’n spesiale klub nie. Hulle probeer nie om ander gesalfdes te vind sodat hulle kan gesels oor hoe dit is om gesalf te wees nie of om private Bybelstudiegroepe te hou nie (Gal. 1:15-17). Die gemeente sou nie verenig wees as die gesalfdes hierdie dinge sou doen nie. Hulle sou teen die heilige gees werk, wat God se knegte help om vrede en eenheid te hê. – Rom. 16:17, 18.

HOE MOET ONS DIE GESALFDES BEHANDEL?

Ons moenie gesalfdes of ander wat die leiding neem, behandel asof hulle beroemdes is nie (Sien paragraaf 8) *

8. Hoekom moet jy versigtig wees oor hoe jy dié behandel wat die embleme by die Gedenkmaal gebruik? (Sien ook voetnoot.)

8 Hoe moet ons gesalfde broers en susters behandel? Dit sou verkeerd wees om ’n persoon te veel te bewonder, selfs al is hy ’n gesalfde broer van Christus (Matt. 23:8-12). Wanneer die Bybel van die ouermanne praat, moedig dit ons aan om hulle ‘geloof na te volg’, maar dit sê nie dat ons enige mens ons leier mag maak nie (Heb. 13:7). Dit is waar dat die Bybel sê dat party ‘dubbele eer verdien’. Maar dit is omdat hulle “goeie leiding gee” en “hard werk in woord en onderrigting” en nie omdat hulle gesalf is nie (1 Tim. 5:17). As ons gesalfdes te veel lof en aandag gee, kan ons hulle ongemaklik laat voel. * Of selfs erger, ons kan veroorsaak dat hulle trots word (Rom. 12:3). Ons wil niks doen wat kan veroorsaak dat een van Christus se gesalfde broers so ’n ernstige fout maak nie! – Luk. 17:2.

9. Hoe kan ons wys dat ons gesalfde Christene respekteer?

9 Hoe kan ons wys dat ons dié respekteer wat deur Jehovah gesalf is? Ons sal hulle nie vra hoe hulle gesalf is nie. Dit is iets persoonliks, ons het nie die reg om te weet nie (1 Tess. 4:11; 2 Tess. 3:11). En ons moenie aanneem dat hulle man of vrou, hulle ouers of ander familielede ook gesalf is nie. ’n Persoon erf nie sy hemelse hoop van sy familie nie. Hy ontvang dit van God (1 Tess. 2:12). Ons moet ook nie vrae vra wat ander kan seermaak nie. Ons sal byvoorbeeld nie ’n gesalfde broer se vrou vra hoe sy voel oor die feit dat sy vir ewig op die aarde sonder haar man gaan lewe nie. Ons kan seker wees dat Jehovah in die nuwe wêreld “die begeerte van alles wat lewe”, sal bevredig. – Ps. 145:16.

10. Hoe beskerm ons onsself as ons nie “persoonlikhede bewonder” nie?

10 Ons beskerm ook onsself as ons gesalfdes nie belangriker as ander beskou nie. Hoe? Die Bybel sê dat party gesalfdes dalk nie getrou sal bly nie (Matt. 25:10-12; 2 Pet. 2:20, 21). Maar as ons nie “persoonlikhede bewonder” nie, sal ons nie ander mense volg nie, selfs nie dié wat gesalf of welbekend is of dié wat Jehovah al lank dien nie (Jud. 16, vtn.). As hulle dan ontrou word of die gemeente verlaat, sal ons nie ons geloof in Jehovah verloor of hom ophou dien nie.

MOET ONS BEKOMMERD WEES OOR DIE HOEVEELHEID MENSE WAT DIE EMBLEME GEBRUIK?

11. Wat gebeur met die hoeveelheid mense wat die embleme gebruik?

11 Vir baie jare het die hoeveelheid mense wat die embleme by die Gedenkmaal gebruik, minder geword. Maar in onlangse jare het daardie getal elke jaar meer geword. Moet ons hieroor bekommerd wees? Nee. Kom ons kyk hoekom nie.

12. Hoekom moet ons nie bekommerd wees oor die hoeveelheid mense wat die embleme by die Gedenkmaal gebruik nie?

12 “Jehovah ken dié wat aan hom behoort” (2 Tim. 2:19). Die broers wat tel hoeveel persone die embleme by die Gedenkmaal gebruik, weet nie wie regtig gesalf is nie. So die getal sluit dié in wat dink dat hulle gesalf is, maar nie is nie. Byvoorbeeld, party wat die embleme gebruik het, het later opgehou. Ander het dalk verstandelike of emosionele probleme wat hulle laat glo dat hulle saam met Christus in die hemel sal regeer. Dit is duidelik dat ons nie weet presies hoeveel gesalfdes nog op die aarde is nie.

13. Sê die Bybel hoeveel gesalfdes op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin?

13 Daar sal gesalfdes in baie dele van die aarde wees wanneer Jesus kom om hulle hemel toe te neem (Matt. 24:31). Die Bybel sê dat daar gedurende die laaste dae ’n klein hoeveelheid gesalfdes nog op die aarde sal wees (Op. 12:17). Maar dit sê nie hoeveel van hulle op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin nie.

Hoe moet ons reageer as iemand die embleme by die Gedenkmaal gebruik? (Sien paragraaf 14)

14. Wat leer Romeine 9:11, 16 ons oor hoe die gesalfdes gekies word?

14 Jehovah besluit wanneer hy gesalfdes kies (Rom. 8:28-30). Jehovah het gesalfdes begin kies nadat Jesus opgewek is. Blykbaar was alle ware Christene in die eerste eeu gesalfdes. In die jare daarna het die meeste wat gesê het dat hulle Christus volg, hom nie regtig gevolg nie. Maar selfs gedurende daardie jare het Jehovah die paar mense gesalf wat ware Christene was. Hulle was soos die koring wat Jesus gesê het tussen die onkruid sou groei (Matt. 13:24-30). Gedurende die laaste dae het Jehovah aangehou om mense te kies wat deel sal wees van die 144 000. * So as God besluit om party van hulle net voor die einde te kies, moet ons sekerlik nie sy wysheid bevraagteken nie. (Lees Romeine 9:11, 16.) * Ons moet versigtig wees om nie soos die werkers te reageer wat Jesus in een van sy illustrasies beskryf het nie. Hulle het gekla oor hoe hulle heer dié behandel het wat in die laaste uur begin werk het. – Matt. 20:8-15.

15. Is al die gesalfdes deel van “die getroue en verstandige slaaf” wat in Matteus 24:45-47 genoem word? Verduidelik.

15 Nie almal wat die hoop het om in die hemel te lewe, is deel van “die getroue en verstandige slaaf” nie. (Lees Matteus 24:45-47.) Net soos in die eerste eeu gebruik Jehovah en Jesus vandag ’n paar broers om baie te voed, of te leer. Net ’n paar gesalfde Christene in die eerste eeu is gebruik om die Christelike Griekse Geskrifte te skryf. Vandag het net ’n paar gesalfde Christene die verantwoordelikheid om God se volk “voedsel op die regte tyd te gee”.

16. Wat het jy in hierdie artikel geleer?

16 Wat het hierdie artikel ons geleer? Jehovah het besluit om vir die meeste van sy knegte ewige lewe op die aarde te gee en om lewe in die hemel te gee aan die klein groepie wat saam met Jesus sal regeer. Jehovah beloon al sy knegte – die “Jood” en die “tien manne” – en hy verwag dat hulle dieselfde wette moet gehoorsaam en getrou moet bly. Almal moet nederig bly. Almal moet hom saam dien en verenig wees. En ons almal moet ons bes doen om die vrede in die gemeente te behou. Terwyl ons nader aan die einde kom, laat ons almal Jehovah aanhou dien en Christus as “een kudde” volg. – Joh. 10:16.

^ par. 5 Hierdie jaar sal die Herdenking van Christus se dood op Dinsdag 7 April gehou word. Hoe moet ons dié beskou wat op hierdie aand van die brood eet en van die wyn drink? Moet ons bekommerd wees as die hoeveelheid mense wat die embleme gebruik, meer word? Ons sal die antwoorde op hierdie vrae in hierdie artikel vind, wat gebaseer is op ’n artikel in Die Wagtoring van Januarie 2016.

^ par. 2 Volgens Psalm 87:5, 6 sal God dalk in die toekoms die name van almal bekend maak wat saam met Jesus in die hemel regeer. – Rom. 8:19.

^ par. 8 Sien die venster “Die liefde ‘gedra hom nie onwelvoeglik nie’” in Die Wagtoring van Januarie 2016.

^ par. 14 Alhoewel Handelinge 2:33 wys dat heilige gees deur Jesus uitgestort word, is dit Jehovah wat elke persoon nooi.

^ par. 14 Vir meer inligting sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Mei 2007.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: Stel jou net voor hoe ’n klomp broers en susters by ’n streekbyeenkoms foto’s neem van ’n hoofkwartierverteenwoordiger en sy vrou. Hoe disrespekvol tog!